►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

VF Plus bemiddel vir kinderhuise in Gauteng

‘n Selfverduidelikende mediaverklaring van die VF Plus Gauteng lui soos volg: “Kinderhuise in Gauteng wat staatmaak op finansiële ondersteuning in die vorm van provinsiale toelaes om hul deure oop te hou en om daagliks na hawelose kinders om te sien, was die afgelope maand in die donker na die vertraging in die uitbetaling van toelaes deur die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling vir die 2018/19-finansiële jaar.

“Hierdie kinderhuise kon nie hul water- en ligterekeninge betaal nie, wat veroorsaak het dat verskeie munisipaliteite die betrokke dienste na die kinderhuise gestaak het. Die instansies kon ook nie enige kos aankoop nie en menigte kinders het hongerte in die gesig gestaar. Salarisse aan werknemers was ook in die gedrang.  Van hierdie instansies het hul gewend na die VF Plus vir hulp om die toelaes uitbetaal te kry.

“Philip van Staden van die VF Plus Gauteng het op 25 Mei 2018 direk geskakel met die kantoor van die LUR van maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, Mayathula-Khoza en die departement het dadelik opgetree om die probleem by te lê.  Die departement het onmiddellik alle kinderhuise in Gauteng geskakel om hul kontrakte vir 2018/19 te onderteken sodat uitbetalings kon geskied.

“Aanvanklik sou alle fondse op 4 Junie 2018 uitbetaal gewees het, maar dit het nie gebeur nie. Ons het toe weer die afgelope Dinsdag tydens 'n sitting van die Gautengse Wetgewer direk in gesprek getree met die LUR oor die probleme met die uitbetaling van die fondse. Die LUR het aangedui dat sy hard werk om die probleme op te los en ons verseker dat uitbetalings spoedig sal plaasvind.

“Ons is kort hierna ingelig dat uitbetalings plaasgevind het en van die kinderhuise het ook bevestig dat die fondse reeds in die onderskeie rekeninge reflekteer. Die probleme met die uitbetalings was onder meer dat kontrakte nie onderteken was nie en dat kontrakte wat wel onderteken was, nog dokumentasie benodig het. Verskeie van hierdie organisasies het ook probleme met oudits gehad.

“Wat kommerwekkend is, is dat die departement van maatskaplike ontwikkeling nie met die kinderhuise gekommunikeer het om die probleme op te los nie. Eers nadat die VF Plus die LUR se kantoor gekontak het, is daar met kinderhuise gekommunikeer. Ons hoop dat die LUR se kantoor en die departement in die toekoms beter met kinderhuise in Gauteng sal kommunikeer.”

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top