►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Eskom finansiële resultate haglik

Die ander nuus wat die saketoneel oorheers is die Bekendmaking van die finansiële resultate van Eskom as nasionale kragvoorsiener en wat daarop dui dat die instansie wankel. In die eerste plek het Eskom die afgelope boekjaar 'n verlies van R2,4 miljard gely, teenoor 'n wins van R888 miljoen in die vorige jaar. Skuld het tot R386,67 miljard gestyg teenoor R327,55 miljard 'n jaar gelede. Totale laste beloop R568 miljard.

Onreëlmatige besteding sedert 2012 het die verbysterende bedrag van R19,6 miljard bedra – verlede jaar was hierdie syfer “slegs” R3 miljard. Die totale werknemers van Eskom is 48 628, waarvoor in die laaste boekjaar salarisse en voordele R29 miljard betaal is.

In 'n latere mediaverklaring het die ANC uit Luthuli Huis self te kenne gegee dat hierdie toedrag van sake met Eskom glad nie volhoubaar is nie en dat oorweeg word om die staatsmaatskappy in drie eenhede op te deel en te bedryf. Van die kant van die privaatsektor word aangedring op die privatisering van Eskom, asook versnelling van die ontwikkeling van alternatiewe energiebronne.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top