►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Volgens syfers van Statistieke SA het die Vrystaat gedurende 2016 'n rekordverlies van meer as 68 000 werksgeleenthede gehad – die hoogste vir 'n provinsie in die land. Die amptelike werkloosheidsyfer in die Vrystaat staan op 34,7%, wat beteken dat uit 'n arbeidsmag van 1,16 miljoen mense, meer as 485 000 mense in staat om te werk, werkloos is. Uit die verlies van 68 000 werksgeleenthede, is 64 000 uit die formele sektor.
Inmiddels broei daar 'n behuisingskandaal van meer as R1 miljard in die provinsie – geld wat aan kontrakteurs betaal is sonder dat tussen 11 000 en 14 000 gekontrakteerde huise gebou is. Hierdie uitbetalings is gedoen toe huidige Minister van Minerale Sake Mosebenzi Zwane nog die LUR vir Menslike Nedersettings was, terwyl by die kontrakteurs voormalige SABC-hoof Hlaudi Motsoeneng en die vrou van Minister van Sport Fikile Mbalula geïmpliseer word.
Intussen het die premier van die Vrystaat Ace Magashule, wat genoem word as kandidaat vir sekretaris-generaal van die ANC of selfs as 'n kompromiskandidaat vir die staatspresidentskap, gesê dat die Public Finance Management Act (PFMA) wat gesonde en deursigtige bestuur van staatsfondse verseker, oud-modies is en 'n struikelblok vir “radical economic transformation” is.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top