► Abel Sithole as uitvoerende hoof van die Government Employees’ Pension Fund (GEPF) getuig voor Mpati-kommissie dat ʼn “belegging” van R4,3 miljard sonder sy medewete gemaak is uit die GEPF na die firma Ayo Technologies van omstrede Iqbal Survé; blykbaar kan of wil Ayo dit nou nie terugbetaal nie ► Mynmaatskappy Rio Tinto het sy Rössing Uraanmyn in Namibië, in produksie sedert 1976 en wat tans jaarliks sowat 4,6 miljoen pond uraan lewer, verkoop aan die China National Uranium Corporation (CNUC) vir $106,5 miljoen; Rio Tinto het sedert 2017 beleggings van $11,2 miljard uit Namibië onttrek ► Nuwe Minister van Water, Sanitasie en Menslike Nedersettings Lindiwe Sisulu sê in Parlement skade in die departement weens korrupsie en wanbestuur is feitlik “onmeetlik” en dat drastiese omdraaistrategie dringend nodig is ► Munisipaliteite skuld die nege waterrade en Dept. van Water R14 miljard vir waterdienste gelewer ► Adjunk-minister van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming Mcebisi Skwatsha sê in Parlement dat onteiening sonder vergoeding binnekort ʼn werklikheid gaan wees, “maar onwettige grondgryp nie toegelaat sal word nie” ► Vrystaat Landbou sê massiewe armoede in Lesotho bedreig wet en orde in Vrystaat en dat dit verskillende tipes misdaad in die provinsie veroorsaak ► Volgens verslag van PwC is vergoeding van ʼn uitvoerende hoof van mynmaatskappy in SA gemiddeld sowat R16,8 miljoen per jaar en dié van ʼn finansiële hoof sowat R6,9 miljoen per jaar ► Projek VatVyf gebaseer te Orania benodig borgskap vir twee behoeftige blanke leerlinge in Bloemfontein wat as prefekte gekies is om einde vanjaar elkeen ʼn oriënteringskamp by te woon – R1 000 vir seun in hoërskool en R500 vir dogter in laerskool – kontak projekvatvyf@gmail.com of 082 773 2150 ►

Statistiek Suid-Afrika maak bekend dat werkloosheid in die eerste kwartaal van vanjaar met 0,5 persentasiepunte toegeneem tot 27,6%. Die syfers bevestig ekonome se vermoede dat ekonomiese groei in die eerste kwartaal negatief was en werkloosheid nog steeds een van SA se grootste uitdagings is.

Die SA ekonomie het die jaar op ’n bitter noot begin met werkloosheid wat tot 27,6% opgeskiet het nadat dit in die vierde kwartaal van 2018 op 27,1% gestaan het. Die aantal mense in diens , is aansienlik minder as ’n jaar gelede en het met 86 000 mense, tot minder as 16,3 miljoen mense gedaal.

Daarteenoor het die getal werkloses met 3,7% tot 6,3 miljoen mense gestyg en die getal ontmoedigde werksoekers met 7,5% tot byna 3 miljoen. Dit beteken dat byna 9,2 miljoen Suid-Afrikaners van werkende ouderdom nie op skool is, studeer nie verder en is nie vrywilliglik sonder werk. Die syfers kom uit Statistieke SA se kwartaallikse indiensnemingsopname (QLFS) vir die eerste kwartaal van 2019, maar groeisyfers word eers in Junie uitgereik.

Volgens ekonoom Dawie Roodt is ekonomiese groei in SA te swak om genoeg werkgeleenthede te skep en beurtkrag deur Eskom help nie veel om werkskepping te steun. Nywerhede soos AngloGold Ashanti beplan hul uittog ten einde weg te kom van Eskom se onvoorspelbaarheid met kraglewering en tariefaanpassings , asook ingewikkelde arbeidsproblematiek.

Jongste kwartaallikse arbeidsyfers van Stats SA, wys landbousektor het in eerste kwartaal vanjaar geraamde 12 000 werksgeleenthede verloor.

Jongste syfers van Stats SA toon Oos-Kaap het in eerste kwartaal van vanjaar 90 000 werksgeleenthede verloor, wat uitgebreide werkloosheidkoers in provinsie op 48,3% te staan bring – dus elke tweede volwassene in Oos-Kaap sonder werk.

Boere in erg droogtegeteisterde dele van die Noord-en Oos-Kaap is in sak en as en word deur hul omstandighede gedwing om hulself te laat likwideer, hul plaashekke te sluit en werk te gaan soek. Ná jare van droogte is daar eenvoudig nie meer kapitaal of skuldruimte om voer te koop en vir die vervoer daarvan te betaal nie en is kuddes feitlik reeds tot niet.

Geen bystand word verleen deur die regering op provinsiale of sentrale vlak nie. Tog is daar boere in ander dele van die land wat diep delf in hul eie reserwes om die drooggeteisterdes te help en word konvooie voer aangery, met selfs talle mense wat R10 afknyp om ʼn private droogtehulpfonds te ondersteun.

Met die goeie reëns wat op hierdie tydstip wyd oor die sentrale binneland uitsak, word gebid dat dit ook in die droogtegebiede uitkoms sal bring en dat daar tog nog ‘n kans vir daardie boere sal wees. Wat sê ons lesers – het die huidige reëns ook die droogtegebiede bereik en, indien wel, wat is die effek?

Go to top