Print this page

Eskom-staking sloer voort

Die staking van Eskom werknemers wat aan verskeie vakunies behoort en wat aandring op hoër lone vir die feitlik bankrot staatsonderneming wat dit nie kan bekostig nie, sloer steeds voort. In die proses word lewering deur die nasionale kragvoorsiener op die spel geplaas en is volgens die jongste inligting die volgende die situasie by Eskom-kragstasies:

  • Lethabo, Vrystaat - toegang versper, geen toegang vir werkers nie
  • Kandal, Mpumalanga – ook geen toegang vir werkers nie
  • Hendrina - geen toegang vir werkers nie, SAPS skiet rubberkoeëls onder oproeriges
  • Kriel - Slegs TPM en enkele werkers teenwoordig
  • Camden - geen toegang nie, werkers staan buite
  • Komati - ditto
  • Matla - altwee hekke gesluit, geen toegang nie
  • Kusile - werkers gebruik suidelike hek, noordelike hek geblokkeer
  • Duvha - geen toegang nie, werkers staan buite.


By al hierdie kragstasies is die Polisie teenwoordig en probeer ander verkeer laat vloei. Inmiddels het Solidariteit aangekondig dat dit die loonaanbod van Eskom van ’n 7,5% verhoging vir vanjaar aanvaar het, ʼn 7% verhoging vir jaar twee en drie met ʼn gewaarborgde verhoging gelykstaande aan die VPI op behuising, tesame met ʼn eenmalige kontantbetaling van R5 000 na belasting en dat dit gevolglik alles in hul vermoë gaan doen om die kragnetwerk te stabiliseer. 

Solidariteit doen ʼn beroep op beide Eskom en die SAPD om drasties op te tree teen kriminele elemente wat die infrastruktuur saboteer en werkers intimideer. “Solidariteit-lede het die afgelope week onder moeilike omstandighede gehelp om Suid-Afrika se ligte aan te hou, ten spyte van dreigemente van aanranding en dat hul motors en huise aan die brand gesteek sal word en het hulle selfs in kragstasies geslaap.


“Die feit dat R19 miljard van Eskom-geld vermors is en niemand daarvoor vervolg word en nie ʼn sent van die geld verhaal word nie, is ʼn kookpot in Eskom wat onder andere in die vorm van arbeidsonrus oorspoel,” aldus Solidariteit.  

Gradeer die artikel
(1 Vote)