► Gister 16 Junie is Jeugdag amptelik in SA gevier ter herdenking van die Sharpville-opstand in 1960, maar dit is ook die herdenking van 16 Junie 1900 toe Lord Roberts proklamasie onderteken het vir inwerkingstelling van beleid van verskroeide aarde wat tot die lyding en dood van sowat 30 000 Boervroue, -kinders en bejaarde mans gelei het – kyk hierdie video ► Vir presies hoe die Anglo-Boere-oorlog 1899 – 1902 verloop het en hoe die Britse oormag die lyding van vroue en kinders misbruik het om die Boerekrygers tot oorgawe te dwing, volg hierdie skakel ► Ambassadeur vir SA in Denemarke Zindzi Mandela skel SA blanke burgers op Twitter uit vir “cowards” en “land thieves” en sê dr. Chris Barnard “learned the basics of heart surgery from his black gardener” ► AfriForum vra Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerkinge Naledi Pandor om Zindzi Mandela onmiddellik terug te roep en af te dank ► Furore oor Twitter-geskel van Zindzi Mandela omdat sy veronderstel is om alle Suid-Afrikaners te dien en sy betaal word met belastinggeld van alle Suid-Afrikaners ► Volgens konsepwetgewing tans voor Parlement Broad Based Black Economic Empowerment Amendment Bill word begunstiging van blanke vroue uitgehaal omdat hulle in die praktyk van die sg. benadeelde groepe die vinnigste in die SA ekonomie vorder – volg hierdie skakel vir meer besonderhede ► Met spanning in Midde-Ooste rondom Iran skiet goudprys op na $1 350/ons, hoogste in 14 maande ► Vakunie Association of Mineworkers and Construction Union (AMCU) kondig aan dat dit met onderhandelinge vir lone in platinumbedryf later vandeesmaand gaan vra vir basiese salaris van R17 000; AMCU verteenwoordig sowat 60 000 lede ► Berig dat SABC slegs salarisse betaal en nie meer enige diensteheffings aan Stad van Johannesburg en City Power betaal nie, vraag of SAUK volgende maand nog in bedryf sal wees ► Vragmotorbestuurder Bernard Groenewald wat by Touwsrivier so deur aanvallers met brandbomme bestook is, is in hospitaal aan sy wonde oorlede ► Die Voortrekkers o.l.v. dr. Danie Langner onthul op plaas naby Parys nuwe standbeeld van Die Penkop tesame met twee borde met name van 2 466 seuns tussen ses en 16 jaar wat dié oorlog oorleef het ► EPR veiligheidsbeampte, Christo Myburgh, te Krugersdorp oorval op perseel deur drie gewapende aanvallers vermoedelik zamas zamas en drie keer geskiet ► Vind by hierdie skakel passievolle pleidooi vir moedertaalonderrig, ook in Afrikaans, deur Johnell Pelser op sosiale media ►

Van al die onlangse nuus in ʼn snelveranderende Suid-Afrika is die enkele gevaarlikste verwikkeling, dié omtrent die finansieel wankelende Eskom. Volgens die nasionale kragvoorsiener self gaan die onderneming vir die 2018/19 boekjaar ʼn verlies van R11,2 miljard ly en dit bo-op sy reeds bestaande skuld van R419 miljard – ʼn syfer wat oor die volgende drie jaar kan oploop na R650 miljard.

Wat nou gebeur, is dat Eskom geld leen om rente op sy skuld te betaal, m.a.w. dit is ʼn afwaartse spiraal in dieper skuld in. Die redes hiervoor is infrastruktuur wat oor 25 jaar nie opgegradeer is nie, begrotingsberamings vir die nuwe Medupi en Kusile kragsentrales wat totaal handuitgeruk het en die kragvoorsiener wat deur grootskaalse korrupsie en wanbestuur as ʼn melkkoei vir persoonlike selfverryking misbruik is.

Hieroor kan natuurlik in meer detail ingegaan word, maar die punt is, soos wat tans gesien kan word, daar geen omdraaipunt in sig is vir die afwaartse skuldspiraal van Eskom nie. Terwyl ʼn mens positief moet bly en positiewe woorde moet spreek, moet die realiteit in die oë gekyk word dat indien Eskom as nasionale kragvoorsiener sou vou, dit letterlik nag in SA kan wees soos nog nooit tevore nie.

Dit kan beteken geen elektrisiteit vir yskaste, kasregisters, petrolpompe, Internet – noem maar op – en die maatskaplike en misdadige gevolge wat daaruit kan spruit. Dit is ʼn aaklige scenario, waarvoor proaktief effektiewe gebeurlikheidsbeplanning en implementering spoedeisend gedoen behoort te word.

Na ons mening kan nie langer gewag word vir die regering en Eskom om die situasie te beredder nie. Daar moet bv. private alternatiewe energie-opwekking op grootskaal geïmplementeer word, om strategie uitgewerk en in plek gestel word, ens. Ons het nie al die oplossings nie, maar dat daar wel unieke oplossings moet kom, terwille van beskawing, oorlewing en voortbestaan, veral ook vir die Afrikaner en die swakkes in die samelewing, is verseker.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top