►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

BEURTKRAG: Dis só onnodig!

Midde-in die gyselaarsituasie waarin Eskom die land met beurtkrag gevange hou met selfs die moontlikheid om die nasionale kragnetwerk in duie te laat stort, is die ware situasie rondom Eskom ontstellend indien enkele sleutelfeite toon dat beurtkrag inderwaarheid totaal onnodig is. Hierdie prentjie kom na vore indien verby die gewone fassade van Eskom en die regering gekyk word na die insigte van energiekundiges soos Chris Yelland, Ted Blom, Christo Viljoen, Mike Schussler, Mike Rossouw en andere.

Wat hierdie kundiges sê, kan soos volg opgesom word:

  • Eskom beskik oor ’n totale geïnstalleerde opwekvermoë van 45 000 MW, maar is meermale nie in staat om te voorsien in die spitsaanvraag van 27 000 MW nie, d.w.s. 18 000 MW se vermoë gaan gewoonlik verlore. Dit beteken dat Eskom slegs 60% van die geïnstalleerde vermoë kan lewer, pleks van die internasionale norm van 85% – dus yslike onderprestasie i.t.v. volle kapasiteit en klaar ‘n aanduiding dat beurtkrag nie nodig behoort te wees nie.
  • Eskom het teen 1994 op een na die goedkoopste elektrisiteit ter wêreld gelewer met ’n surplusvermoë van 25% – net Kanada met sy vele hidroëlektriese kragstasie was goedkoper. Volgens die Big Mac-wisselkoersindeks is Eskom-elektrisiteit tans die duurste ter wêreld.
  • Wat instandhouding betref het Eskom onlangs self erken dat voorkomende instandhouding die afgelope meer as twee dekades ernstig agterweë gelaat is, sodat die verouderde kragstasies, die meeste eenhede waarvan verby hul ekonomiese en tegnologiese leeftyd is. Breek ’n eenheid, is onderdele meestal onbekombaar en moet dit vervaardig word, met lang vertragings. Die kragvoorsiener beskik tans oor 15 steenkoolkragstasies, waarvan 9 ouer as 30 jaar is.
  • Die bedryfsvermoëns van Eskom is die afgelope 25 jaar drasties uitgekalwe en het reeds in 1996 begin toe beurse vir wit ingenieurstudente gestaak is. Die verblyf van die stroompie swart gegradueerde ingenieurs by Eskom was meestal kortstondig. Voorts het Eskom die gebruik afgeskaf dat elke kragstasie deur ’n professionele ingenieur bestuur moet word, terwyl professionele ingenieurs, tegnoloë en tegnici as gelykwaardig verklaar is – met jammerlike gevolge.
  • Massiewe korrupsie in die konstruksie van die twee nuwe mega kragstasies Kusile en Medupi was en is steeds katastrofaal. By Medupi het konstruksie in 2007 begin en sou teen 2015 voltooi gewees het – die verwagte voltooiïngsdatum is nou 2022, terwyl konstruksie by Kusile in 2008 begin het en teen 2018 voltooi sou gewees het – die verwagte voltooiȉngsdatum is nou 2024. Op ‘n stadium was die destydse finansiële frontmaatskappy van die ANC, Chancellor House Holdings, ook betrokke en het o.a. deur ‘n kontrak met Hitachi na bewering 5 000% wins gemaak. Hoe dit ook al sy, indien net één van hierdie twee projekte met ’n opwekvermoë van 4 800 MW elk betyds voltooi was, sou geen beurtkrag nodig gewees het nie.
  • Polities-gedrewe transformasie is teen alle beginsels in van gesonde finansiële bestuur tot uiterstes gevoer ten einde vir ‘n menigte van kaders op die betaalstaat voorsiening te maak. Gevolglik het die personeelkorps vanaf 35 000 in 2008 toegeneem na sowat 48 000 tans, maar desondanks het elektrisiteitsverkope in dieselfde tyd van 224 TWh na 212 TWh afgeneem. Die probleem is egter dat vakbonde aktivisties gekant is teen enige afleggings.
  • Ook staatskaping het bygedra tot Eskom se smarte, onder meer met steenkoolkontrakte met SEB-vennote wat steenkool van swak gehalte teen buitensporige pryse lewer. So bv. is voor die Zondo-kommissie getuig hoe langtermynkontrakte onder dwang geteken is met die Brakfontein-steenkoolmyn vir ondergraadse steenkool. Die kontrak van R2,9 miljard was 77,4% duurder as die vorige kontrakprys.
  • Om sake verder te vererger, beloop die koste van diesel by die twee oopsiklus-gasturbines van Eskom by onderskeidelik Ankerlig (Atlantis) en Gourikwa (Mosselbaai) tydens beurtkrag astronomies met ’n beraamde opwekkoste van sowat R3 per kWh, vergeleke met die Eskom-groothandelverkoopprys van 90c/kWh. Die enorme hoeveelhede diesel wat tydens beurtkrag aangekoop moet word, beloop teen ’n verbruikstempo van 12 liter per sekonde sowat R192 per sekonde.
  • Interessant is dat pres. Cyril Ramaphosa reeds in 2015 as destydse adjunk-president belowe het hy gaan Eskom regruk, toe hy deur destydse pres. Jacob Zuma aangestel is om Eskom, die SAL en Poskantoor “om te keer”. Ramaphosa het toe dadelik ’n “oorlogskamer” gestig en in die Parlement belowe: “Oor twee jaar sal julle die drie ondernemings nie herken nie.” Die res is egter spreekwoordelik geskiedenis.
  • Vir die 2019 finansël jaar het Eskom ‘n bedryfsverlies van R20,7 miljard gerapporteer. Terselfdertyd kos beurtkrag die SA ekonomie sowat R2 miljard per dag. Dit is syfers wat hul eie storie vertel.
  • Boonop tans met ’n leningskuld van R460 miljard en gepaardgaande moordende rentelas kan Eskom eenvoudig nie op sy finansiële bene kom nie. Wat in die proses verswarend inwerk, is dat munisipaliteite (wat 60% van Eskom-klandisie is) en ander gebruikers in die land die kragvoorsiener in totaal bykans R36 miljard agterstallig skuld, waarvan Soweto alleen bykans R18 miljard skuld. Dan word nie eens gepraat van die wydverspreide onwettige aftappings uit die netwerk nie.
  • Die kern van die saak is dat sedert die vorige regeringsbedeling ‘n monopolie aan Eskom toegeken is t.o.v. kragvoorsiening in die land en dat hierdie reëling ontaard het in die aaklige wurggreep waarin Eskom die land tans het. As alternatief was daar reeds vier rondtes van aansoeke vir verskaffing van hernubare energie, in die vorm van son, wind en hidro, maar dit het slags 2 000 MW tot die nasionale kragnetwerk bygedra. Tans word die vierde rondte op die ys gehou, wat na raming ‘n verdere 5 000 MW sou kan byvoeg. Dit bly egter ‘n druppel in die emmer.
  • Ironies is die feit dat totale elektrisiteitsverbruik in die land die afgelope paar jaar afgeneem het, hoofsaaklik vanweë die verswakkende ekonomie, verbeterde tegnologiese kragverbruik, ens. Op sy toppunt het die aanvraag na kragverbruik in die land sowat 47 000 MW beloop, maar na raming sal op ‘n laer kerf, sê, 40 000 MW, indien dit standhoudend gelewer sou kan word, steeds geen beurtkrag vereis nie.
  • Die ooglopende oplossing vir die Eskom-krisis is natuurlik die ontbondeling van die kragvoorsiener in eenhede vir onderskeidelik opwekking, instandhouding en transmissie, die privatisering van hierdie eenhede en die oopstelling vir toetrede van hernubare energieverskaffers op ‘n mededingende basis. Die probleem is weereens die vakbonde wat as stemvee die ANC gyselaar hou, asook die mag en die enorme finansiële geleenthede wat gemonopoliseerde kragvoorsieningt vir die regerende party meebring.

In vele opsigte verteenwoordig die Eskom-krisis die groter krisis waarin SA as land sigself tans bevind. Hoe om daaruit te kom en die beste oplossing te vind, is die politiek van die dag. Die feit bly staan: Beurtkrag is totaal onnodig.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Meer in die kategorie:

Go to top