Print this page

Listeriose-krisis mensgemaak

Al die aanduidings is dat die listeriose-krisis wat die land getref het, grootliks die gevolg is van swak administratiewe staatsbeheer, eerstens, gebrekkige munisipale gesondheidskontroles en, tweedens, onbeheerde invoer van sg. witslym vanaf Brasilië as vulsel vir rooiworsies en polonie. Die besmette verwerkte vleisprodukte het al die lewens van sowat 180 mense in die land geëis, in wat deur die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) bestempel word as die ergste van sy soort ooit in die wêreld.

In reaksie op die epidemie sê die VF Plus in 'n mediaverklaring: “Listeriose is een van die simptome van ‘n regering wat nie meer in staat is om behoorlike dienste te lewer nie. Die land se gesondheidsdienste is ʼn goeie voorbeeld en onnodige sterftes is nie ‘n vreemde verskynsel in dié departement nie.

“Dit het normaal geword dat mense wat in staatshospitale beland meestal soontoe gaan om te sterf weens ʼn gebrek aan dienslewering. Onlangs was daar die Esidimeni-tragedie en nou die grootste listeriose-epidemie in die wêreld se geskiedenis.

“Alhoewel dit nou vir die regering gerieflik is om vingers na 'n sekere maatskappy te wys, is dit duidelik dat daar 'n patroon van sterftes is wat voortspruit uit verwaarlosing en die gebrek aan dienslewering op baie regeringsvlakke.”

Op hul beurt het die DA ook striemende kritiek gelewer op die oorsake van die uitbreek van listeriose en wys o.a. daarop dat volgens die WGO beskik SA oor slegs 'n derde van die aantal gesondheidsinspekteurs waaroor dit behoort te beskik. In die DA-mediaverklaring word ook gewys op hoe pateties en smerig toestande by Mafikeng provinsiale hospitaal tydens 'n besoek bevind is.

Gradeer die artikel
(1 Vote)