Print this page

“NGV beteken Nasionale Gesondheids verwoesting”

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) sê in 'n verklaring dat “indien die omstrede Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) deurgevoer word, alle hospitale aan gehalte-kriteria gelykstaande aan die meeste privaat hospitale sal moet voldoen om vir die NGV te kwalifiseer. Tans presteer slegs 25 uit 3 500 openbare gesondheidsorginstellings goed genoeg om te kwalifiseer om deel te vorm van die NGV, wat beteken dat ʼn groot aantal werknemers by openbare hospitale waarskynlik hul werk gaan verloor omdat dié hospitale ʼn twyfelagtige toekoms tegemoet gaan.”

“Dit kan tussen 30 000 en 40 000 poste in die privaat mediese befondsingsbedryf in gedrang bring, terwyl realisties gesproke slegs vyf privaat mediese skemas die oorgang gaan oorleef. Die NGV gaan waarskynlik van alle spesialiste vereis om hul praktyke op te gee ten einde by hospitale te werk. Dit wil voorkom asof spesialiste nie meer dienste buite ʼn hospitaal sal kan lewer nie en dat daar geen duidelike meganisme gaan wees waarvolgens spesialiste direk gekontrakteer sal word nie. Pasiënte sal eers siek genoeg moet wees om gehospitaliseer te word voordat hul ʼn spesialis sal kan sien.

“Voorts sal algemene praktisyns ook negatief deur die NGV geraak word indien die wetsontwerp deurgevoer word. Algemene praktisyns sal slegs op ʼn kapitasiegrondslag vergoed word en hierdie vergoedingsbasis sal deur die administrateurs van die NGV bepaal word. Dit beteken dat algemene praktisyns geen inspraak gaan hê om kapitasie te beding nie en sal hulle uitgelewer wees aan fondsbestuurders wat geensins die siektelas van ʼn betrokke area in ag gaan neem nie, maar slegs die aantal mense in die area.

“Algemene praktisyns gaan ook geen verweer hê as hulle nie betaling ontvang nie aangesien die NGV nie voorsiening maak vir ʼn wetlike remedie wat die nodige beskerming aan die praktisyns bied nie. Waar regulasie 6 van die Wet op Mediese Skemas in die verlede ʼn regsremedie aan algemene praktisyns gebied het, sou hulle nie binne 30 dae hul betaling ontvang nie, is daar geen wetlike beskerming met betrekking tot die NGV sou die fonds versuim om hulle binne ʼn redelike tyd te betaal nie.

“Ten spyte van die feit dat die NGV 95% van die gesondheidsdienste gaan moet verskaf, gaan die NGV se raad ʼn ernstige tekort aan deskundige vaardighede hê. Die NGV advieskomitee oor voordele oftewel Benefit Advisory Committee sal bv. nie ʼn enkele mediese dokter as lid hê nie, wat beteken dat alle riglyne vir behandeling moontlik opgestel kan word sonder die insae en kennis van ʼn gekwalifiseerde dokter. Daarby sal die advieskomitee van belanghebbendes oftewel Stakeholder Advisory Committee wat uit 18 raadslede sal bestaan, nie ʼn enkele gesondheidspraktisyn, verteenwoordiger van ʼn mediese fonds of ander mediese kenners as lede hê nie.


“Laastens gaan die werksomstandighede van gesondheidspraktisyns onder ʼn NVG-bedeling moeilik wees en sal hulle nie meer die vryheid van keuse hê om te besluit waar hulle wil praktiseer en hoeveel hulle vir hul dienste wil vra nie. Vir praktisyns sal die NGV eenvoudig ʼn ramp wees. Die NGV kom op niks anders neer as de facto nasionalisering van die gesondheidsorgstelsel in SA nie.

“Indien die wetsontwerp goedgekeur word, gaan die NGV die grootste staatsinstelling in die geskiedenis van Suid-Afrika word. Om dit in perspektief te stel, sal die NGV groter wees as Eskom en die SAL saam en geoordeel aan die huidige stand van sake by sowel Eskom as die SAL, wag nag.”

Vir meer besonderhede, kontak Morné Malan by die SNI by 066 224 0368.

 
 

Intussen word berig dat 'n NGV loodsprojek by Elim Distrikshospitaal en Waterval Kliniek in Limpopo misluk het a.g.v. ‘n tekort aan fondse en dit het by herhaling vrae laat ontstaan oor die praktiese en finansiële haalbaarheid van die NGV.

Gradeer die artikel
(0 stemme)