Print this page

Fratsdiëte – teenoor gesonde voeding

ʼn Fratsdieet is ʼn eetplan wat dramatiese gewigsverlies beloof en daarom maklik gepopulariseer word. ʼn Kenmerk van hierdie tipe diëte is dat dit ongesond is sonder om langtermyn gewigsverlies in stand te hou. Voorbeelde van populêre fratsdiëte is: Banting / Ketogenese dieet / Lae-koolhidraat / Lae-vet / Detoks / 3-dae / 17-dae / Bloedgroep / Pomelo / Suurlemoendieet, ens.

Gevaartekens waarvolgens hierdie tipe diëte uitgeken kan word, is o.a.:

Dit beloof vinnige gewigsverlies (quick fix).

Dit bevorder die gebruik van “tower-voedsels” of voedselkombinasies met ʼn boheemse effek, wat impliseer dit kan die liggaamschemie kul, om sodoende kilojoules / kalorieë te systap.

Beperking of uitskakeling van sekere gesonde en natuurlike voedsel, soos dié ryk aan koolhidrate (aartappels, growwe grane, ens. wat belangrike B-vitamiene en plantvesel vir gesonde spysvertering en metabolisme bevat) voorts word dikwels uitgesluit of beperk: Groente en vrugte is ryk aan vitamiene, minerale en ander plantchemikalieë en is belangrik vir instandhouding van die immuunsisteem en normale liggaamsmetabolisme; suiwelprodukte soos melk, joghurt en kaas is ryk aan minerale (soos kalsium en magnesium), vitamiene (bv. vet-oplosbare en B-vitamiene), asook ander substanse wat nodig is vir been- en algemene gesondheid.

Oormatige fokus op bv. vet- en proteïenryke voedsel (bv. lae-koolhidrate en banting voedsel) veroorsaak oorskryding van proteïeninname, met gevolglike las op die niere; en oorskryding van aanbevelings vir gesonde vetinname, met verskeie gesondheidsrisiko’s op die langtermyn.

Te streng reëls oor wat, hoeveel en wanneer geëet mag word en wat slegs op, gewigsverlies gefokus is en sodoende normale liggaamsmetabolisme teenwerk.

Gesondheidsrisiko’s wat fratsdiëte tot gevolg kan hê, is o.m. die volgende:

Verskillende grade van wanvoeding, afhangende van die graad van uitskakelings of beperkings wat toegepas word.

Gesonde eetgewoontes word nie aangeleer nie, met moontlik eetversteurings as gevolg.

Sintetiese vitamien- en mineraalaanvullings bied geensins ‘n oplossing vir fratsdiëte nie, aangesien die natuurlike voedselprodukte substanse bevat wat in geen kommersiële aanvullings voorkom nie.

Dus om saam te vat: Soos wat die mens geskape is, is die volgende basiese riglyne vir gesonde voeding en gewigbeheer:

Matige inname van ʼn groot verskeidenheid natuurlike voedselsoorte.

Sterk selfdissipline as dit by kos en maaltye kom – nie te veel op ʼn keer nie en nie onnodig tussenin peusel nie.

Gereelde en doelgerigte fisiese oefening vir energieverbranding.

Gebalanseerde leefstyl wat insluit genoeg slaap, ontspanning, nie stres of oorwerk nie en, les bes, ʼn intieme verhouding met God.

ʼn Positiewe selfbeeld en goeie interpersoonlike verhoudings.

Gradeer die artikel
(0 stemme)