►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Vanjaar het 41 studente ingeskryf by die tegniese opleidingsentrum te Orania, Bo-Karoo Opleiding met verblyf in die Steenbok Herberg en die splinternuwe Huis Duiker. Die studente loop kursusse in bou en siviele konstruksie,elektrisiëns en loodgieters, terwyl gestruktureerde stuntelewe ook vir hulle geskep word.

 

Sopas is berig ontvang dat Rassie Erasmus wat die afrigter was van die seëvierende Springbokspan wat verlede jaar die Wêreldbeker verower het, op die kortlys is om die nuwe afrigter van die rugbyspan van Engeland te word. Na berig word was hy reeds in gesprek met die Engelse Rugbyunie wat hom na Twickenham wil lok om by die beleërde Eddie Jones oor te neem.

Jones het erge kritiek op die lyf geloop oor die Engelse se neerlaag teen die Springbokke in die WB-eindstryd, kritiek wat in ʼn storm ontaard het oor die loesing wat die Engelse ‘n week gelede by die Franse op die lyf geloop het. Die afgelope naweek het Engeland darem vir Skotland 13-6 geklop.

Nietemin is dit verstommend dat Erasmus homself klaarblyklik beskikbaar gestel het vir die Engelse pos. Dit lyk eenvoudig na oorloop na die kamp van die “vyand” ter wille van meer geld. Hoewel dit die era van beroepsport is en dikwels die hoogste bieër sy sin kry, behoort lojaliteit en nasionale trots darem die finale deurslag te gee.

Tans is Erasmus nog die direkteur van rugby van die SA Rugbyunie en is as sodanig die hoof van Jacques Nienaber wat hom onlangs opgevolg het as Springbokafrigter. Wat presies die omstandighede is agter hierdie nuus van Erasmus en die Engelse, is onbekend.

Reeds vir meer as ʼn dekade word gewaarsku teen die buitensporige bevoordeling van die klein minderheid Moslem-gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking d.m.v. die implementering van die halaalteken op feitlik alle voedselprodukte in die verbruikersmark. daar is bykans geen verpakte of ingemaakte voedselprodukte op die rakke van winkels in die land wat nie halaal-gesertifiseer is nie.

Die kruks van die saak is dat handelaars wetlik verplig is om ʼn persentasie van hul inkomste op verkope van halaal-gesertifiseerde produkte oor te betaal aan toegekende Moslem-instansies soos die Islamic Judicial Council en andere. Moslems maak ongeveer 3% van die SA bevolking uit, terwyl meer as 80% van die bevolking gereken word as Christene, wat beteken dat baie geld vanuit wat Christene in die land op kos spandeer, gaan aan ter bevoordeling van die minderheidsgroepie Moslems.

Syfers toon dat SA die vyfde grootste produsent van halaalprodukte in die wêreld is, wat beteken dat SA ruim 20% bydra tot die totale omset van die halaalbedryf in die wêreld van beraamde $2,6 triljard oftewel R364 triljard. Dit blyk voorts dat 80% van halaalprodukte wêreldwyd nie deur Moslem-lande geproduseer word nie, maar deur Westerse lande. Daar is geen versekering dat halaalgeld wat na Moslem-instansies vloei, nie uiteindelik aangewend word vir terrorisme deur Moslem-militantes om hul s.g. jihad te voer nie, trouens die aanduidings is dat dit wel gebeur.

So lank terug as 2012 het in SA ‘n koalisie van Christen-instansies onder die naam Christen Koalisie ʼn aansoek in die Noord-Gautengse hooggeregshof gebring teen die Minister van Handel en Nywerheid en waarin i.t.v. die Grondwet beswaar gemaak word teen onbillike diskriminasie teen Christene a.g.v. die halaalteken op kosprodukte. Sedertdien het daar oënskynlik nie iets substansieel van die hofaansoek gekom nie.

Die feit van die saak is dat in die praktyk is dit vir voedselprodusente baie moeilik om hul produkte in die ark en op winkelrakke te kry indien hulle nie inval by halaal-sertifisering nie. Verlede jaar in Oktober het die Wes-Kaapse promosiemaatskappy Wesgro in Kaapstad ʼn groot halaal-konferensie aangebied met die uitdruklike doel om die stad die hoofstad van halaal-sertifisering in Afrika te maak.

Dit lyk of die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners nie die enorme implikasies rondom die halaalteken op feitlik alle kosprodukte besef nie, ‘n verskynsel wat grootliks as alledaags geïgnoreer word. Op die keper beskou egter, word Suid-Afrikaners in hierdie opsig voor ʼn enorme uitdaging gestel.

Midde-in die gyselaarsituasie waarin Eskom die land met beurtkrag gevange hou met selfs die moontlikheid om die nasionale kragnetwerk in duie te laat stort, is die ware situasie rondom Eskom ontstellend indien enkele sleutelfeite toon dat beurtkrag inderwaarheid totaal onnodig is. Hierdie prentjie kom na vore indien verby die gewone fassade van Eskom en die regering gekyk word na die insigte van energiekundiges soos Chris Yelland, Ted Blom, Christo Viljoen, Mike Schussler, Mike Rossouw en andere.

Wat hierdie kundiges sê, kan soos volg opgesom word:

  • Eskom beskik oor ’n totale geïnstalleerde opwekvermoë van 45 000 MW, maar is meermale nie in staat om te voorsien in die spitsaanvraag van 27 000 MW nie, d.w.s. 18 000 MW se vermoë gaan gewoonlik verlore. Dit beteken dat Eskom slegs 60% van die geïnstalleerde vermoë kan lewer, pleks van die internasionale norm van 85% – dus yslike onderprestasie i.t.v. volle kapasiteit en klaar ‘n aanduiding dat beurtkrag nie nodig behoort te wees nie.
  • Eskom het teen 1994 op een na die goedkoopste elektrisiteit ter wêreld gelewer met ’n surplusvermoë van 25% – net Kanada met sy vele hidroëlektriese kragstasie was goedkoper. Volgens die Big Mac-wisselkoersindeks is Eskom-elektrisiteit tans die duurste ter wêreld.
  • Wat instandhouding betref het Eskom onlangs self erken dat voorkomende instandhouding die afgelope meer as twee dekades ernstig agterweë gelaat is, sodat die verouderde kragstasies, die meeste eenhede waarvan verby hul ekonomiese en tegnologiese leeftyd is. Breek ’n eenheid, is onderdele meestal onbekombaar en moet dit vervaardig word, met lang vertragings. Die kragvoorsiener beskik tans oor 15 steenkoolkragstasies, waarvan 9 ouer as 30 jaar is.
  • Die bedryfsvermoëns van Eskom is die afgelope 25 jaar drasties uitgekalwe en het reeds in 1996 begin toe beurse vir wit ingenieurstudente gestaak is. Die verblyf van die stroompie swart gegradueerde ingenieurs by Eskom was meestal kortstondig. Voorts het Eskom die gebruik afgeskaf dat elke kragstasie deur ’n professionele ingenieur bestuur moet word, terwyl professionele ingenieurs, tegnoloë en tegnici as gelykwaardig verklaar is – met jammerlike gevolge.
  • Massiewe korrupsie in die konstruksie van die twee nuwe mega kragstasies Kusile en Medupi was en is steeds katastrofaal. By Medupi het konstruksie in 2007 begin en sou teen 2015 voltooi gewees het – die verwagte voltooiïngsdatum is nou 2022, terwyl konstruksie by Kusile in 2008 begin het en teen 2018 voltooi sou gewees het – die verwagte voltooiȉngsdatum is nou 2024. Op ‘n stadium was die destydse finansiële frontmaatskappy van die ANC, Chancellor House Holdings, ook betrokke en het o.a. deur ‘n kontrak met Hitachi na bewering 5 000% wins gemaak. Hoe dit ook al sy, indien net één van hierdie twee projekte met ’n opwekvermoë van 4 800 MW elk betyds voltooi was, sou geen beurtkrag nodig gewees het nie.
  • Polities-gedrewe transformasie is teen alle beginsels in van gesonde finansiële bestuur tot uiterstes gevoer ten einde vir ‘n menigte van kaders op die betaalstaat voorsiening te maak. Gevolglik het die personeelkorps vanaf 35 000 in 2008 toegeneem na sowat 48 000 tans, maar desondanks het elektrisiteitsverkope in dieselfde tyd van 224 TWh na 212 TWh afgeneem. Die probleem is egter dat vakbonde aktivisties gekant is teen enige afleggings.
  • Ook staatskaping het bygedra tot Eskom se smarte, onder meer met steenkoolkontrakte met SEB-vennote wat steenkool van swak gehalte teen buitensporige pryse lewer. So bv. is voor die Zondo-kommissie getuig hoe langtermynkontrakte onder dwang geteken is met die Brakfontein-steenkoolmyn vir ondergraadse steenkool. Die kontrak van R2,9 miljard was 77,4% duurder as die vorige kontrakprys.
  • Om sake verder te vererger, beloop die koste van diesel by die twee oopsiklus-gasturbines van Eskom by onderskeidelik Ankerlig (Atlantis) en Gourikwa (Mosselbaai) tydens beurtkrag astronomies met ’n beraamde opwekkoste van sowat R3 per kWh, vergeleke met die Eskom-groothandelverkoopprys van 90c/kWh. Die enorme hoeveelhede diesel wat tydens beurtkrag aangekoop moet word, beloop teen ’n verbruikstempo van 12 liter per sekonde sowat R192 per sekonde.
  • Interessant is dat pres. Cyril Ramaphosa reeds in 2015 as destydse adjunk-president belowe het hy gaan Eskom regruk, toe hy deur destydse pres. Jacob Zuma aangestel is om Eskom, die SAL en Poskantoor “om te keer”. Ramaphosa het toe dadelik ’n “oorlogskamer” gestig en in die Parlement belowe: “Oor twee jaar sal julle die drie ondernemings nie herken nie.” Die res is egter spreekwoordelik geskiedenis.
  • Vir die 2019 finansël jaar het Eskom ‘n bedryfsverlies van R20,7 miljard gerapporteer. Terselfdertyd kos beurtkrag die SA ekonomie sowat R2 miljard per dag. Dit is syfers wat hul eie storie vertel.
  • Boonop tans met ’n leningskuld van R460 miljard en gepaardgaande moordende rentelas kan Eskom eenvoudig nie op sy finansiële bene kom nie. Wat in die proses verswarend inwerk, is dat munisipaliteite (wat 60% van Eskom-klandisie is) en ander gebruikers in die land die kragvoorsiener in totaal bykans R36 miljard agterstallig skuld, waarvan Soweto alleen bykans R18 miljard skuld. Dan word nie eens gepraat van die wydverspreide onwettige aftappings uit die netwerk nie.
  • Die kern van die saak is dat sedert die vorige regeringsbedeling ‘n monopolie aan Eskom toegeken is t.o.v. kragvoorsiening in die land en dat hierdie reëling ontaard het in die aaklige wurggreep waarin Eskom die land tans het. As alternatief was daar reeds vier rondtes van aansoeke vir verskaffing van hernubare energie, in die vorm van son, wind en hidro, maar dit het slags 2 000 MW tot die nasionale kragnetwerk bygedra. Tans word die vierde rondte op die ys gehou, wat na raming ‘n verdere 5 000 MW sou kan byvoeg. Dit bly egter ‘n druppel in die emmer.
  • Ironies is die feit dat totale elektrisiteitsverbruik in die land die afgelope paar jaar afgeneem het, hoofsaaklik vanweë die verswakkende ekonomie, verbeterde tegnologiese kragverbruik, ens. Op sy toppunt het die aanvraag na kragverbruik in die land sowat 47 000 MW beloop, maar na raming sal op ‘n laer kerf, sê, 40 000 MW, indien dit standhoudend gelewer sou kan word, steeds geen beurtkrag vereis nie.
  • Die ooglopende oplossing vir die Eskom-krisis is natuurlik die ontbondeling van die kragvoorsiener in eenhede vir onderskeidelik opwekking, instandhouding en transmissie, die privatisering van hierdie eenhede en die oopstelling vir toetrede van hernubare energieverskaffers op ‘n mededingende basis. Die probleem is weereens die vakbonde wat as stemvee die ANC gyselaar hou, asook die mag en die enorme finansiële geleenthede wat gemonopoliseerde kragvoorsieningt vir die regerende party meebring.

In vele opsigte verteenwoordig die Eskom-krisis die groter krisis waarin SA as land sigself tans bevind. Hoe om daaruit te kom en die beste oplossing te vind, is die politiek van die dag. Die feit bly staan: Beurtkrag is totaal onnodig.

Nadat Thabang Moroe en meelopers die administrasie van krieket in die land feitlik eiehandig verwoes het en die rampspoedige toer deur Indië verlede jaar, is vroeg vanjaar sterk moed geskep met die aanstelling van Graeme Smith as waarnemende uitvoerende hoof van Krieket SA, Mark Boucher as Protea-afrigter en Jacques Kallis as kolfafrigter. Dit is nou benewens Enoch Nkwe as hulpafrigter en Charl Langeveldt as boulafrigter. Desnieteenstaande word die rassetromme op sosiale media geslaan oor “transformasie en te veel wittes.”

Aanvanklik met die toer van Engeland het plaaslik, het die Proteas die eerste meerdagtoets gewen, maar daarna in die ander drie lelik in die hek geduik. Die keuse van die spanlede het egter aan kwotavereistes voldoen, maar toe is weer van die ander kant gesê spelers van kleur is nie noodwendig die beste beskikbaar nie.

Die meerdagtoetsreeks is opgevolg deur die eendagreeks, met Quinton de Kock wat Faf du Pessis as kaptein vervang het. Skielik was daar meer lewe in die Proteas en het hulle die Engelse tot dusver afgeransel.

Die tendens wat in die proses deurkom is drieledig: In die eerste plek wys ouer blanke spelers wat voorheen nie vir die Proteas gekies is nie, maar wat nou op ouderdom 30 plus kans kry om op internasionale vlak hul staal te wys, dat hulle al lankal ryp was vir die hoogste geselskap. Dit geld spelers soos Rassie van der Dussen, Dwaine Pretorius en Pieter Malan.

Tweedens, is daar wel spelers van kleur wat ook met sukses op internasionale vlak die Proteas verteenwoordig – spelers soos Temba Bavuma, Andile Phehlukwayo, Lutho Sipamla, Bjorn Fortuin en andere. Dit wys net daar is geen plaasvervanger vir meriete nie.

Derdens, probeer Graeme Smith en kie kennelik om die beste moontlike Proteaspan op die veld te kry – spelers soos AB de Villiers, Rilee Rossouw, Kyle Abbott, Dale Steyn, almal wat lyk of hulle binnekort weer hul buiging vir die Proteas kan maak. Feitlik almal van hulle het blykbaar vroeër padgegee oor die kwotaprobleem en ook omdat hulle elders in die wêreld goeie geld uit krieket kon verdien.  

Hopelik kom die Proteas nou in 'n nuwe bedeling waarin hul met hul beste span kan kragte meet teen die bestes van ander lande en nie hoef te baklei met jou regterhand agter jou rug vasgebind nie. Buitendien soos oud-Protea Makhaya Ntini sê: “Die kwotastelsel verswak prestasies van swart krieketspelers en bevraagteken alles wat jy bereik.”

In 'n tyd waar Afrikaans en Afrikanerkultuur swaar trek in skole, het die FAK pas ’n opwindende en uitdagende nasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade geloods in die vorm van ’n aanlyntoets vir leerders van graad 8 tot 12. Die olimpiade bestaan uit drie hoofafdelings, nl. Afrikaanse taalgeskiedenis, Afrikanergeskiedenis en Westerse geskiedenis.

 

Die olimpiade, wat reeds oop is vir inskrywings, word oor twee rondtes beslis. Die eerste rondte behels ’n aanlyn vraestel wat bestaan uit 150 punte met 150 multikeusevrae – 50 punte vir elke afdeling.

Afdeling 1, Afrikaanse taalgeskiedenis, het vrae hê oor digters (bv. wie het “Winternag” geskryf? Wie is die digter wat in die see in geloop het?), die oorsprong van Afrikaans, die prestasies van Afrikaans (bv. eerste gedig, eerste gedrukte boek, eerste Afrikaanse Bybelvertaling), Afrikaanse liedjies en Afrikaanse boeke. Afdeling 2, Afrikanergeskiedenis sal vrae insluit oor die VOC-tydperk, die Groot Trek, die Anglo-Boereoorlog, Republiekwording, asook 1994 en daarna. Afdeling 3, Westerse geskiedenis, sal die kennis toets oor ontdekkingsreisigers, ontdekkers, die Reformasie, oorloë en rewolusies en leiers.

Diegene wat deurdring na rondte 2, skryf ’n aanlynvraestel waar standpuntstelling, beredenering en algemene kennis getoets word. Om deur te dring na rondte 2, moet ’n kandidaat minstens 80% in rondte 1 behaal het.

Alle deelnemers ontvang ’n deelnemersertifikaat. Almal wat deurdring na die tweede rondte, ontvang ’n medalje sowel as ’n erkenningsertifikaat.

Die aantreklike pryse is soos volg: Algehele wenner - R10 000; tweede prys - R5 000; derde prys - R2 500. Daar is ook 'n prys vir die wenskool - R10 000 - wat bepaal word na aanleiding van die hoeveelheid leerders per skool wat deelneem en ’n sekere persentasie ontvang. Voorts is daar ook ’n FAK-Wisseltrofee vir die beste individuele presteerder in geskiedenis.

Leerders kan nou reeds vir die olimpiade inskryf by webwerf www.olimpiade.fak.org. Dit gee leerders kans om sleutelbronne, soos by www.afrikanergeskiedenis.co.za, deur te werk en hul kennis te toets.

Meer besonderhede ook by Seugnet van Zyl by 012 361 1768 / 079 554 2542 / Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..">Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Te midde van ‘n kritieke tekort aan woonakkommodasie, asook ‘n tekort aan sakepersele, is die Orania Dorpsraad tans besig met die ontwikkeling van Fase 4 van die Karoosiggebied en wat behels 65 nuwe woonerwe, met later nuwe sake- en nywerheidserwe in die pyplyn. Die terrein is geleë aan die suidekant van Soetdoringlaan.

Op die foto ‘n blik op die terrein wat tans voorberei word en waar dienste aangelê word. Erfgroottes wissel - volgens die advertensiebord by die terrein beloop pryse vanaf R245 000 tot R375 000.

 

KS ontwikkelin0

Inmiddels is in in die vorige fase van die Karoosig-ontwikkeling noord van Soetdoringlaan van die 53 erwe wat daar uitgesit en gediens is, reeds 14 nuwe woonhuise en een meenthuiskompleks met vyf eenhede voltooi en bewoon, terwyl ses woonhuise en een woonstelblok in aanbou is.

Op die foto van die voltooide woonhuise in hierdie ontwikkeling.

Volgens inligting deur die Orania Dorpskantoor verskaf, is ‘n selfstandige ontwikkelingsmaatskappy vir Orania, die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, onlangs tot stand gebring. Dit is ‘n inisiatief van die Solidariteit Beweging “met die doel om Orania sterker uit te bou om saam met die inwoners en instellings van Orania ‘n toekoms vir die Afrikaner te verseker.”

Volgens die inligting sal die uitvoerende hoof van die Dorpsraad, mnr Frans de Klerk, op 30 Junie vanjaar sy huidige pos verlaat “om verantwoordelikheid te neem vir die werksaamhede van die nuwe maatskappy.”

Dit is so dat daar onder sommige inwoners van Orania bedenkinge bestaan of die Solidariteit Beweging inderdaad die doel van uiteindelik ‘n onafhanklike en vrye Afrikanervolkstaat steun.

Die mees negatiewe nuus die afgelope week is dat die ANC-legotla onlangs te Kimberley besluit het nie net moet in die praktyk die grond van blankes sonder vergoeding onteien/gesteel word nie, maar dat hulle deur die regering sommer self daarmee gaan moet help. Dit blyk uit die afsluitingstoespraak van Ramaphosa by die legotla dat die aanbeveling van die ANC ondersteun word dat “die mag om die bedrag vir onteiening sonder vergoeding te bepaal, by die uitvoerende gesag moet berus”.

Dit beteken in effek dat die regering en nie die howe nie oor die “prys” van onteiende (gesteelde) grond moet beslis. Sodoende word die regte van grondeienaars en burgers van die land afgesny wat betref hul regte voor die regbank. Dit kan lei tot behoorlike diefstal en grondgryp, eg-Kommunisties, die politieke kommissarisse besluit sommer self.

Op 1 Februarie verlede jaar is adv. Shamila Batohi met groot akklamasie aangestel as hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NDPP), met die landswye verwagting dat sy en haar kantoor nou ook hoëprofiel staatkapers in die hof gaan kry en hulle laat verhoor vir hul wandade. Vandag ʼn jaar later is nog geeneen van betekenis aangekla en ter verhoor gebring nie.

Dít ondanks die feit dat die Zondo-kommissie die een verstommende mega-korrupsie na die ander onthul. Waar is Batohi en haar span? Of is die politieke druk, misdaadnetwerke en ander toutjies agter die skerms net te sterk vir reg en geregtigheid?

Daar is tans kennelik ernstige woelinge in die swart politiek in die land, met interne ANC-polarisasie tussen die Ramaphosa- en Magashule- / Zuma-kamp. Laasgenoemde kamp moet klaarblyklik keer dat die Zondo-kommissie nie daartoe lei dat hulle wel hulle dag in die hof gaan kry en sodoende hul magsgreep verloor nie. Kan dit gebeur dat die ANC gaan skeur tussen die radikales en gematigdes? Dit beteken nie noodwendig dat Ramaphosa deur blanke Suid-Afrikaners hoegenaamd te vertrou is nie.

Aan die opposisiekant is die jongste aanduidings dat Mmusi Maimane en Herman Mashaba as voormalige DA-voorbokke elk hul eie nuwe politieke party gaan stig – Maimane die Movement for One South Africa en Mashaba die People’s Dialogue. Watter steun sou dit kan trek en hoe sou dit die swart politieke magsindeling affekteer?

Baie mense in Suid-Afrika smag na ‘n beter samelewing waarin daar vir hulle genoegsame bewegingsvryheid, beskerming teen misdaad, gelyke kanse op meriete, aanwending van belastinggeld vir hul welstand, ens. kan wees en hiervoor bid ook Christene in die land. Hoe kan egter genade en guns van God-Drieënig verwag word indien dinge soos die volgende aan die orde is:

  • Selfdegeslagverhoudings wat wetlik afgedwing word reëlreg teen Bybelse verordeninge. So bv. verwys die twee manlike homo’s in Johannesburg wat onlangs ʼn babaseuntjie by ʼn surrogaat ma laat verwek het, die bohaai oor die vroulike gaypaar wie se “huweliksbevestiging” deur die onthaalvenue Beloftebos by Hermanus geweier is op geloofsgronde, ens.
  • Sondagsport wat klakkeloos op nasionalevlak bedryf word, bv. die huidige kriekettoetse tussen die Proteas en Engeland, die rugbywedstryde verlede Sondag tussen onderskeidelik die Bulle en die Leeus en die Haaie en die Stormers, ens.
  • Die land staan die afgelope 25-jaar onder ‘n ateïstiese regering, wat die een na die ander goddelose wet op die land van toepassing maak.

Hoe hanteer Christene hierdie dilemma wat hul toekoms ten nouste raak, sonder om te emigreer? Ons kan net bid tot en glo in die God van die Bybel, doen wat ons hand vind om te doen en deur dik en dun by Hom te staan ongeag wat.

Te midde van baie pessimisme oor Suid-Afrika en die stroom emigrante na die buiteland, kom die woorde van Springbokstut en mediese dokter Jannie du Plessis wat pas ná jare in Frankryk teruggekeer het om vir die Leeus in Gauteng te speel, soos ‘n vars bries:

“Net om weer in die son te kan oefen en speel is wonderlik. Ja, ek weet daar is dinge soos beurtkrag en nat steenkool, maar ek voel dit is my nat steenkool en my land waar dit gebeur. Daarom pla my dit ook glad nie as al die robotte van hier tot by die huis nie werk nie.

“Ek is weer terug in my land en kan my taal praat. Europa is wonderlik, maar Suid-Afrika is waar my hart is.”

Die oorheersende gedagte en emosie wat by ons opkom aan die begin van 2020 is dat die jaar tyd is vir die Afrikaner om as volk te konsolideer en op te staan vir hul reg van selfbeskikking. Na ons beskeie mening is al hoe Afrikaners in die hoogsbedreigde omstandighede waarin hul tans verkeer, gaan oorleef en voortbestaan, is om by mekaar te kom en saam te staan.

Ons weet dit is ʼn mondvol, maar in die woorde van toenmalige Amerikaanse president Teddy Roosevelt: “If we don’t hang together, we will all hang separately”. Dit is die lank en die kort van die storie – uitdruklik bygesê geldend vir alle regsinnige nasionalistiese Afrikaners – hulle vir wie volkskap nog belangrik is. Dit is ook in ooreenstemming met wat dr. DF Malan in 1949 met die inwyding van die Voortrekkermonument gesê het: “Bring bymekaar wat bymekaar hoort”.

Die leierskap wat die Afrikaner nodig het, is uitdruklik nie om onbepaald vir die Afrikaner in die huidige Suid-Afrikaanse opset met die korrupte ANC-dominansie ʼn plek te beding nie, maar stapsgewys die Afrikaner te lei na eie volhoubare grondgebied en die vestiging van ʼn nuwe eie staatstruktuur op die weg na staatkundige onafhanklike, ekonomiese selfstandigheid en vryheid.

Dit is weereens ʼn mondvol, maar as dit nie die strewe van die regsinnige Afrikaner aan 2020 is nie, in geloof in God-Drieënig, dan dink ons dit kan ikabod vir die Afrikaner wees. Indien egter gekyk word na die rekordgetalle opkoms by die Geloftevieringe op 16 Desember 2019 en in besonder die duisende wat by die Voortrekkermonument hartroerend Die Stem gesing het, dan glo ons daar is werklik hoop.

Die vraag is, gaan ons vanjaar begin om hierdie siening en oproep ʼn werklikheid te maak? Mag hierdie tog ʼn vonk daartoe wees!

WERKSGELEENTHEID NOU BESKIKBAAR

Beskik jy tans oor verblyfsreg , is jy opsoek na ʼn nuwe werksgeleentheid of uitdaging in die konstruksie bedryf .

Glasmeester aluminium en glas het tans ʼn pos beskikbaar vir ʼn bekwame persoon wat sal verantwoordelik wees vir opmeting en installasie van ons wye reeks produkte en dienste . Asook ander verpligtinge wat met tyd sal bepaal word .

ʼn Geldige rybewys is ʼn verpligting , en indien jy reeds ondervinding het in die bedryf sal dit in jou guns tel. Opleiding sal wel verskaf word .

Ons het reeds al verskeie projekte afgehandel en daar is ʼn klomp in die pyplyn , en is dus genoodsaak om nog ʼn paar hande by te kry .

Indien jy belangstel bring jou CV na ons winkel by die groot wit store oorkant die Stoortjie of epos hom vir my na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

My kontaknommer is 061 520 8819

1.jpg 2.jpg

CHRIS LINDEQUE , TAKBESTUURDER , GLASMEESTER ORANIA , TE AANDEELBLOK 17 , NYWERHEIDGEBIED , OORKANT DIE STOORKIE , BESIGHEIDSURE IS VANAF 7:00 TOT 17:00

Eskom strompel voort met beurtkrag op kort kennisgewing en verskaf allerlei redes daarvoor. Intussen blyk dit dat korrupsie by die kragvoorsiener op megaskaal steeds aan die orde van die dag is. Die werklike feite omtrent Eskom blyk uit verklarings van energiekenners soos Chris Yelland en Ted Blom asook van prof Christo Viljoen wie se artikel hieronder gelees kan word.

As daar één persoon in hierdie land is wat Eskom vestaan, is dit Prof Christo Viljoen (lees die voetnota hieronder*).  In hierdie artikel, uit vandag se Die Burger, bied hy 'n kristalhelder disseksie van waarom die eens magtige en trotse instelling nou tot grint verniel is.

Pres Cyril Ramaphosa, wat reeds in 2015 belowe het hy gaan Eskom regruk, moet ook pa taan vir die krisis by die Elektrisiteitsverskaffer

Dit is verstommend hoe suksesvol die ANC-regering is om telkens aandagafleiers te benut om die fokus weg te lei van die werklike probleme by Eskom en die voortdurende kragonderbrekings.

In 2006, net voor die eerste instelling van beurtkrag, kondig min. Alec Erwin aan dat saboteurs ’n bout in ’n opwekker by die Koeberg-kernkragstasie geplaas het. Ná deeglike ondersoek deur die polisie is daar 13 jaar later nog geen “saboteur” geïdentifiseer nie. Niemand is ook nog in hegtenis geneem nie.

Sopas, nadat hy teruggekeer het van sy kitsbesoek aan Egipte (net voordat fase 6 beurtkrag vir die eerste keer toegepas is), kondig pres. Cyril Ramaphosa aan dat “sabotasie” by die Tutuka-kragstasie tot die verlies van 2 GW opwek-vermoë gelei het.

Dit werk. Die ware oorsake van Eskom se onbeholpenheid word geïgnoreer. Koerantopskrifte fokus op die “sabotasie” as hoofoorsaak van fase 6 beurtkrag.

Eskom beskik tans oor ’n totale geïnstalleerde opwekvermoë van 45 GW, maar is meermale nie in staat om te voorsien in die spitsaanvraag van 27 GW nie – 18 GW se vermoë het verlore gegaan. Dit beteken dat Eskom slegs 60% van die geïnstalleerde vermoë kan lewer, pleks van die internasionale norm van 85%. Daarvan is die verlies van 2 GW by Tutuka slegs ’n fraksie, naamlik 4,4% van die geïnstalleerde opwekvermoë en kon dit nie die hoofoorsaak wees vir fase 6 beurtkrag nie. (Toegegee, Ramaphosa het genoem dat dié verlies ’n bydraende faktor tot kragonderbreking was).

Sedertdien word fase 4-beurtkrag toegepas. Dit beteken dat 4 GW se gebruikers telkens ontkoppel moet word om te verhoed dat die netwerk ineenstort.

Geeneen van die twee nuwe kragstasies, Kusile en Medupi, is ten volle operasioneel of voltooi nie. Elkeen sal beskik oor 6 opwekkers met ’n totale opwekvermoë van 4,8 GW.
Konstruksie by Medupi het in 2007 begin en sou teen 2015 voltooi gewees het – die verwagte voltooiïngsdatum is nou 2020. Konstruksie by Kusile het in 2008 begin en sou teen 2018 voltooi gewees het – die verwagte voltooiȉngsdatum is nou 2022.

As net één van dié twee projekte met ’n opwekvermoë van 4,8 GW elk,betyds voltooi was, was geen beurtkrag nodig nie.

Eskom het teen 1994 op een na die goedkoopste elektrisiteit ter wêreld gelewer met ’n surplusvermoë van 25% (net Kanada, met sy vele hidroëlektriese kragstasies, se elektrisiteit was goedkoper). Volgens die Big Mac-wisselkoersindeks, is Eskom se elektrisiteit tans reeds die duurste ter wêreld, en vra Eskom vir ’n verdere verhoging van 16%.

Eskom se agteruitgang is die resultaat van ‘n kwarteeu van kumulerende bydraende faktore.
Dit is nie net dat Medupi en Kusile nog nie voltooi is jare ná die oorspronklike amptelike voltooiingsdatums nie. Albei gaan ook mank aan ernstige ontwerps- en konstruksiegebreke, wat verhinder dat die eenhede volkrag kan lewer.

Eskom se bestuurs- en bedryfsvermoëns is in die afgelope 25 jaar drasties uitgekalwe. Dit het reeds in 1996 begin toe Eskom beurse vir wit ingenieurstudente gestaak het. Die stroompie swart gegradueerde ingenieurs wat sedertdien by Eskom aangesluit het, se verblyf daar was meestal kortstondig.

Eskom het die gebruik dat elke kragstasie deur ’n professionele ingenieur bestuur moes word, afgeskaf en die professionele ingenieurs, tegnoloë en tegnici as gelykwaardig verklaar. Reeds in 1998 is beraam dat Eskom ’n duisend nuwe gegradueerde ingenieurs per jaar benodig; tans is daar steeds ’n netto uitvloei van professionele ingenieurs. Die nodige tegnologiese vaardighede ontbreek grootliks.
Reeds in 2006 het Eskom daarmee gespog dat sy personeelkorps die “mees getransformeerde” in Suid-Afrika is, danksy grootskaalse kaderontplooiing in senior bestuursposte met onbekwame lojaliste wat min van tegnologie- of sakebestuur weet. Een vorige HUB was vroeër ‘n joernalis, sonder enige bestuurservaring hoegenaamd.

Politieke inmenging het reeds in die middel van die 1990’s by Eskom begin: in 1998 plaas die kabinet ’n moratorium op Eskom vir die bou van nuwe kragstasies, in die hoop dat die private sektor sou toetree om dit te doen. Dit het die uittog van professionele personeel verhaas, maar geen private kragstasie is gebou nie. Toe dié verbod teen 2004 opgehef is, was die meeste professionele personeel reeds weg en is ’n ernstige tekort aan personeel vir langtermyn- tegnologiese beplanning ondervind.

Politieke inmenging duur lustig voort: Pravin Gordhan het ’n verbod op Eskom geplaas om sy personeel met ’n broodnodige derde te verminder, ten spyte daarvan dat Eskom nie ’n wins maak nie en sy personeelgetalle in die dekade sedert 2008 van 35 000 na 48 000 toegeneem het, terwyl sy elektrisiteitsverkope in dieselfde tyd van 224 TWh na 212 TWh afgeneem het.

Eskom erken onlangs self dat voorkomende instandhouding die afgelope dekade agterweë gelaat is, sodat die verouderde kragstasies (die meeste is verby hul ekonomiese en tegnologiese leeftyd) se eenhede onbetroubaar is. Breek ’n eenheid, is onderdele meestal onbekombaar en moet dit vervaardig word, met lang vertragings.

In die verwagting dat Medupi teen 2015 en Kusile teen 2018 ten volle voltooi sou wees, is van die ou onekonomiese kragstasies afgeskakel en 11 opwekkers is aan diens onttrek by die Hendrina-, Grootvlei- en Komati-kragstasies.
Omdat Medupi en Kusile onvoltooid is en albei, net soos van die ouer steenkoolkragsentrales, ten beste teen 40% van vermoë funksioneer, is die veilige marge tussen die beskikbare opwekvermoë en spitsverbruik te klein.
Eskom se ingenieurs het reeds in 1998 voorspel dat Suid-Afrika teen 2008 nie oor genoeg opwekvermoë sal beskik veral om die uitgediende steenkoolkragstasies mettertyd te vervangnie. (Die voorspelling het waar geblyk te wees toe beurtkrag in November 2007 ingestel is.) Dit sou ’n toename van gemiddeld 1,2 GW/jaar in opwekvermoë vir die daaropvolgende 20 jaar vereis.

Dit beteken dat een Koeberg elke twee jaar of een steenkoolkragstasie van gemiddelde grootte elke drie jaar gebou moet word. Geen nuwe kragstasie is sedertdien suksesvol voltooi nie.

Ook staatskaping het bygedra tot Eskom se smarte, onder meer met steenkoolkontrakte met SEB-vennote wat steenkool van swak gehalte teen buitensporige pryse lewer.
Gert Opperman, bestuurder van die steenkoolverskaffingseenheid by Eskom, het byvoorbeeld in Maart voor die Zondo-kommissie getuig dat langtermynkontrakte onder dwang geteken is met die Brakfontein-steenkoolmyn vir ondergraadse steenkool. Die kontrak van R2,9 miljard was 77,4% duurder as die vorige kontrakprys.

Die ekonoom Mike Schüssler het bereken dat die prys wat Eskom vir steenkool betaal sedert 2007, met 385% toegeneem het teenoor die internasionale toename (in randwaarde) van 127%.

Die gebruik van diesel by Eskom se oopsiklus-gasturbines by Ankerlig (Atlantis) en Gourikwa (Mosselbaai) tydens beurtkragtye is uiters duur, met ’n beraamde opwekkoste van sowat R3 per kWh (vergeleke met Eskom se groothandelverkoopprys van 90c/kWh). Dit het Eskom se kontantvloeiprobleme vererger weens die enorme hoeveelhede diesel wat gekoop moet word (teen ’n verbruikstempo van 12 liter per sekonde en ’n koste van R192 per sekonde). Soms het albei eenhede stilgestaan weens ’n tekort aan diesel.

Eskom se probleme is velerlei en die krisis is die akkumulatiewe gevolg van swak bestuur en swak politieke besluite oor dekades heen.
Daarvoor moet pres. Cyril Ramaphosa persoonlik medeverantwoordelikheid aanvaar: Hy is in 2014 deur oudpres. Jacob Zuma aangestel om Eskom, die SAL en Poskantoor “om te keer”.

Ramaphosa stig dadelik ’n “oorlogskamer” en belowe in Februarie 2015 in die parlement: “Oor twee jaar sal julle die drie ondernemings nie herken nie.” Hy herhaal die belofte voor die Raad van Provinsies in September 2015: “Oor 18 maande tot twee jaar sal julle vergeet het van die uitdagings wat ons gehad het in verband met krag en energie en Eskom, en dat dit ooit gebeur het.”

Met ’n leningskuld van R460 miljard kan Eskom steeds nie ’n wins maak om rente en delging van die lenings diens nie. Ironies ook dat die brose Eskom tans moet rugsteun op ou kragstasies uit die bedeling van voor 1994.

* Christo Viljoen is ‘n afgetrede ingenieur en akademikus, en voormalige lid van die Elektrisiteitsraad (tans die Eskom direksie) sowel as die Elektrisiteitbeheerraad (die Nasionale Energiereugleerder, tans bekend as Nersa).

Die verspreider van Ditsem Nuus in Bloemfontein die afgelope vyf jaar, mnr. Jaap Hattingh (74), is op 29 Oktober 2019 skielik ná ʼn kort siekbed van enkele dae aan kanker oorlede. ‘n Entrepreneur in hart en siel, het Hattingh verskeie besighede suksesvol geïnisieer en van hulle bedryf tot en met sy afsterwe.

In sy laaste jare woonagtig in Westerbloem, sal hy onthou word vir sy integriteit en gemoedelike geaardheid. Hy word oorleef deur sy vrou Marie en 'n seun en dogter.

Ditsem Nuus salueer ‘n gewaardeerde kollega.

Bladsy 1 van 98
Go to top