►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Die Gelofte van Bloedrivier is pas getoonset deur Johan Vorster en Christoph Kotzé van Inhoudhuis in ’n gewyde produksie. Dit word gesing deur Adam Tas, Appel, Ghapi en Juan Boucher – kliek hier om te luister.

Volgens dr. Danie Langner van die FAK is dit ʼn aangrypende lied wat wye aanklank onder Afrikaners gaan vind. Vorster was ook die komponis van die lied De La Rey en hy word later vanjaar vereer vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek.

Intussen werk Ditsem Nuus vanjaar vir die sewende agtereenvolgende jaar om vanjaar weer ʼn Geloftefeeskalender te publiseer van Geloftefeeste wat waar ook al gehou word. In 2013 was in die Kalender 109 Geloftefeeste gelys, in 2014  125, in 2015  139, in 2016   150en verlede jaar 162 Geloftefeeste.

Dag ná dag kom skokkende onthullings na vore voor die Zondo-kommissie na staatskaping en blyk dit dat onder oud pres. Jacob Zuma (2009 – 2017) hy en sy trawante in hoë poste Suid-Afrika uitsluitlik gebruik het om, in samewerking met die Gupta-familie, hul eie koninkryk te bou en die land te stroop. Die twee hoofluitenante van Zuma was klaarblyklik voormalige Vrystaatse premier Ace Magashule en voormalige Noordwes premier Supra Mahumapelo, wat elk hul onderskeie provinsies letterlik leeggesteel het.

Een van die aspekte wat in getuienis voor die kommissie uitgekom het, is dat R260 miljoen tussen 2011 en 2018 van die kommunikasiediens van die regering na die Gaupta-media “The New Age” en die TV-kanaal “ANN7” gekanaliseer is. Hiervan is R79 miljoen deur die Vrystaatse regering op hierdie media vir sg. amptelike advertensies gespandeer.

Inmiddels het Zuma gesê dat daar nie soiets was soos staatskaping nie en dat hy nog oorweeg of hy voor die Zondo-kommissie sal getuig. Die aandrang is egter, ook van regter Zondo, dat Zuma wel moet kom verduidelik.

Op sosiale media gons dit oor kommer oor moontlike grootskaalse Chinese belegging en vestiging in die Musina-Makhado ekonomiese sone naby Musina in Limpopo. Howel pres. Cyril Ramaphosa in die Parlement vrae oor ooreenkomste met China van miljarde der miljarde ontduik het, is daar hardnekkige berigte dat China beplan om in ʼn gebied van 60 km2 binne die sone hul eie onafhanklike kragstasie op te rig om grootskaalse ontginning van hoë graad steenkool, mangaan, ystererts en chroom te bedien.

Dit wil voorts voorkom asof die Chinese van plan is om hul eie arbeid in te voer en dat daar trouens planne is om ʼn Chinese stad groter as bv. Nelspruit te ontwikkel. Daar is selfs inligting dat China hierdie stad wil gebruik as een van sy hoofstede op die vasteland van Afrika.

Dit is uit die aard van die saak moeilik om in die huidige omstandighede die egtheid en ware omvang van hierdie berigte te verifieer, maar na berig word beloop die totale projekbedrag R150 miljard. Wat ook insiggewend is, is dat die grond vir hierdie projek tans grotendeels behoort aan Akkerland Boerdery, waarvoor die regering R20 miljoen aangebied het, maar waarvoor die eienaars R200 miljoen vra.

Tydens die mondelinge voorleggings voor die Parlementêre Hersieningskomitee oor moontlike wysigings aan die Grondwet vir doeleindes van grondonteiening 4 – 7 September 2018, het die volgende instansie en persone teen wysiging van die Grondwet gepraat:

  1. Agri Business
  2. Graan SA
  3. Alliance for Rural Development
  4. Prof Elmien du Plessis - Regsfakulteit NWU
  5. Land Accountability and Research Centre – Dr   Aninka Claassens – UCT
  6. Department of Public Law – University Stellenbosch – Prof B.V. Slade
  7. Phuhlisani NPC – Dr Richard Satge
  8. PLAAS – Poverty, Land and Agrarian Studies – University Western Cape –
    Prof Ruth Hall
  9. COSATU
  10. Hope of Glory Tabernacle Church
  11. AgriSA – Dr Annelize Crosby
  12. In Transformation Initiative – Dr Mohammed Babha (Roelf Meyer)
  13. SA Institute of Race Relations
  14. SA Institute of Black Property Practioners (SAIBPP)
  15. Apostolic Faith Mission (AFM) – Dr Weideman
  16. Orania Beweging – Carel Boshoff
  17. Afrikanerbond – Jaco Schoeman – Pieter Vorster – Jan Bosman
  18. Indigenous First Nation Advocacy SA (IFNASA) – Anthony Williams
  19. Every Nation Churches –Denis Neville
  20. Chidi Attorneys –Matome Chidi
  21. SA Human Rights Commission – (SAHRC)
  22. Helen Suzman Foundation
  23. National House of Traditional Leaders
  24. SA Catholic Bishops Conference – Adv Mike Pothier
  25. AfriForum – Ernst Roets
  26. Witzenberg PALS
  27. Banking Association SA (BASA) – Cas Coovadia
  28. Business Unity SA (BUSA) - Tanya Cohen
  29. NEDBANK – Mike Brown CEO
  30. John Langalibalele Dube Institute (JLD) – Dr T Ngcobo
  31. Sake Liga – Piet le Roux – Prof Koos Malan
  32. Vumelana Advisary – Peter Setou
  33. Legal Resource Centre – Sheldon Magardie

Die volgende persone en instansie was ten gunste van wysiging:

  1. National African Farmers UNION (NAFU) - Motsepe Matlala
  2. Black Lawyers Association – Bayethe Maswazi
  3. National Association of Democratic Lawyers (NADEL)
  4. Black First Land First (BLF) – Andile Mngxitama
  5. Dr Marc Wegerif (Human Economy Programme) - University Pretoria
  6. Foundation of Human Rights (Funded by Dept of Justice)
  7. Limpopo Communal Institute – LB Mabuela

Totaal: 40; teen = 33 of 82%; vir = 7 of 12%

Bron: Dr. Corné Mulder, VF Plus

Pres. Donald Trump het 'n hoogs betekenisvolle stap geneem deur bekende konserwatiewe regter Brett Kavanaugh te genomineer het om die plek van uittredende regter Anthony Kennedy in die Amerikaanse hooggeregshof in te neem. Evangeliese Christene is hieroor opgewonde omdat Trump 'n verkiesingsbelofte gestand gedoen het om meer behoudende regspraak t.o.v. maatskaplike kwessies terug te bring.

Die nominasie van Kavanaugh dien tans voor die Senaat, met Demokrate en liberale politici wat die nominasie hewiglik teenstaan.

Gebaseer op ‘n baanrekord van 22 jaar is Nova Refrigeration van OR Tambostraat 186 (voorheen Kerkstraat), Oranjesig, Bloemfontein, vandag ‘n markleier in kommersiële verkoeling en verskaffing van spysenierstoerusting in sentraal-Suid-Afrika en selfs wyer. Die besigheid is in 1996 deur Pieter le Roux gestig en sedertdien het dit stelselmatig gegroei tot waar dit tans die volgende lewer:

  • Verskaffing en installering van nuwe kommersiële verkoelingstoerusting
  • Verskaffing en installering van kommersiële vrieskaste, glydeur-yskaste en eiland- en jumbovrieskaste
  • Verskaffing en installering van koel- en vrieskamers
  • Opgradering van toerusting vir winkelsentrums
  • Onderhoud en diens van alle kommersiële verkoeling
  • Verskaffing van verskeidenheid van spysenierstoerusting

Volgens Le Roux spesialiseer Nova in koste- en energiedoeltreffende toerusting, terwyl hulle ook 'n hoë premie plaas op omgewingsvriendelikheid. By die vertoonlokaal van Nova Refrigeration te OR Tambostraat 186 kan van hul produkte eerstehands besigtig word, terwyl hul uitstekende webwerf by www.nova-refrigeration.co.za ook volle besonderhede met foto’s verskaf. Die telefoonnommer is 051 030 0072 (ure) of 082 553 7072 (alle ure).  

Planne is in 'n gevorderde stadium om die bestaande Karoosig Huis vir Bejaardes in Orania op te gradeer en dan met 'n splinternuwe ontwikkeling oorkant die straat uit te brei na die Karoosig Aftree-oord met kapasiteit vir sowat 350 bejaardes. Die terrein vir die nuwe ontwikkeling aangrensend aan Smaragstraat is reeds geoormerk en opgemeet.

Die nuwe ontwikkeling word beplan om te bestaan uit 68 meenthuise, 36 woonstelle, 66 enkelkamers en 25 dubbelkamers, almal waarvan te koop aangebied sal word. Elke wooneenheid word ook beplan met sy eie uitgang en toegang tot grasperk en tuine.  

Ingesluit by die beplanning van die kompleks, is 'n versorgingseenheid met 34 kamers, 'n eetsaal met industriële kombuis, sentrumsaal, biblioteek, kapel, lapa met braaiplek, wandellaan, rolbalbaan, voëlparkie en voldoende onderdak parkering vir inwoners sowel as parkering vir besoekers.

Die oord sal bedien word deur opgeleide mediese en versorgingspersoneel, terwyl interne sowel as eksterne veiligheid van die oord topprioriteit is. Die terrein van die oord is ook aangrensend aan die perseel van die moderne veiligheidsentrum van AfriForum wat tans in aanbou is.

Vir meer besonderhede insake, kan Bianca Beyers gekontak word by 084 815 5051 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Panyaza Lesufi, die omstrede Gautengse LUR vir onderwys, het sy veldtog teen skole met effektiewe beheerliggame voortgesit nadat hy 'n hofloesing in die Overvaal-saak op die lyf geloop het. Sy voorgestelde wysigings aan die toelatingsregulasies van leerlinge by Gautengse skole is op 30 Julie 2018 in die Staatskoerant gepubliseer en word gesien as bloot ‘n manier om die Overvaal-uitspraak te omseil en sy transformasieagenda verder te voer.

In reaksie hierop beywer die Skoleondersteuningsentrum (SOS), Solidariteit en AfriForum hulle om duisende bekommerde ouers, onderwysers en lede van die publiek teen die regulasies te mobiliseer. Indien dié regulasies ingestel word, sal ouers nie meer kan kies in watter skool hulle hul kinders wil plaas nie. Ná die aanlyn-aansoekproses sal die LUR vir onderwys (Lesufi) alleen kan besluit watter kind in watter skool sal wees.


Skole sal dus nie meer kan aandui hoeveel kinders hulle kan akkommodeer nie en sal die funksie na die LUR vir onderwys oorgaan. Beheerliggame kon voorheen die kapasiteit bepaal en daarvolgens werk, maar die nuwe regulasies stel Lesufi in staat om skole te dwing om leerlinge in te neem, ongeag of daar kapasiteit is of nie. Voorts sal in praktyk alle skole dan uiteindelik enkelmediumskole met Engels as onderrigtaal word. Beheerliggame se besluitnemingsmag oor skole se taalbeleid word hierdeur effektiewelik weggeneem.

Inmiddels het die VF Plus ‘n klag rakende minagting van die Grondwet ingedien by die Integriteitskommissaris van die Gautengse Wetgewer teen LUR vir Onderwys Lesufi. Die klag, wat 389 bladsye beslaan, dui aan hoe Lesufi in die tydperk van 2014 tot 2018, Artikel 29 van die Grondwet verbreek en geminag het. Hy is ook aangekla in terme van Artikel 135 van die Grondwet, gelees saam met Bylae 2, Artikel 5. 

Die privaatwetsontwerp van die leier van die VF Plus dr. Pieter Groenewald, wat sekere wysigings voorstel aan die bestaande Wet op Vuurwapenbeheer wat die hernuwing van vuurwapenlisensies sal reguleer, is gister in die Staatskoerant gepubliseer. Die wetsontwerp is ingedien om oplossings te bring ná die omstredenheid en onsekerheid wat geskep is met die uitspraak van die Grondwethof oor die geldigheid van die  hernuwing van vuurwapenlisensies.

Volgens Groenewald is daar net een uitweg om die probleem op te los en dit is om die wet só te wysig dat vuurwapeneienaars ‘n billike geleentheid gebied word om hul lisensies te hernu selfs nadat die lisensie verval het en dit sonder om die eiendomsreg op hul vuurwapens te verloor. Hy sê dit is onaanvaarbaar dat eienaars hul vuurwapens verloor bloot weens ‘n administratiewe oorsig wat reggestel kan word deur ʼn boete te betaal en die lisensies te hernu - die doel van die wetsontwerp is om dit reg te stel.

Die topbestuur van Agri SA o.l.v. president Dan Kriek en uitvoerende hoof Omri van Zyl vergader vanoggend met die topses van die ANC oor “beste oplossing vir grondhervorming” in die Riverside lokaal, Leriba Lodge, Centurion. Dit is te midde van fel kritiek uit behoudende landbougeledere dat gegee die reeds verklaarde voorneme van die ANC en wat hul korrupte baanrekord is, daar niks konstruktief uit 'n sg. gesamentlike oplossing kan kom nie en dat die hele geval inderwaarheid na 'n nuwe “kodesa-uitverkoop” ruik.

Dit volg op die skerp kritiek wat Agri SA gehad het op die veldtog van AfriForum teen plaasmoorde en grondonteiening sonder vergoeding en AfriForum van destabilisering beskuldig het. Agri SA het gevolglik self met ambassadeurs van Westerse lande in SA gesprek gevoer en klaarblyklik 'n repudiërende boodskap t.o.v. AfriForum oorgedra, sonder om name te noem.

Wat dink jy is die hoofrede dat die Bokke Saterdag teen die Wallabies in die hek geduik het?

Wat is jou mening oor wat Ersnt Roets van AfriForum in die Parlement voor die Hersieningskomitee gesê het?

Ditsem Nuus vra eenvoudig vraag: Ge vir ons die bewyse dat blankes grond in SA gesteel het?

Komende Sondag is algemene verkiesing in Swede, met die verwagting dat die anti-immigrante en anti-EU Sweedse Demokrate (SD) onder leiding van Jimmie Akesson hul steun van 13% na 20% gaan vergroot, ten koste van die regerende Christen Demokrate van premier Stefan Löfven. Die ander prominente partye soos die Senter Party en die Liberale Party sal na verwagting nie genoeg steun trek om 'n sterk koalisieregering te kan vorm nie.

Die uitslag van die verkiesing word gesien as 'n belangrike barometer van hoe sterk die nasionalistiese winde in Europa waai.

Die Orania Beweging het namens Orania op 5 September 2018 ook mondelinge getuienis voor die Parlementêre Hersieningskomitee gelewer oor moontlike wysigings m.b.t. onteiening sonder vergoeding. Dit volg op 'n vroeëre skriftelike voorlegging.

Volgens die mondelingse getuienis, wat deur die president van die Orania Beweging Carel Boshoff gelewer is, kom standpunte ten gunste van onteiening sonder vergoeding “neer op die drastiese miskenning van ’n volk wat in die loop van meer as drie eeue in Suider Afrika ontstaan het en baan dit die weg vir vyandige optrede en haatmisdaad deur bevolkingsdele wat hulself as die ‘ware Afrikane’ beskou.”

Die getuienis van Boshoff lui verder o.m.: “Hierdie spiraal van onverdraagsaamheid en konflik kan egter gebreek word deur te aanvaar dat Afrikaners ’n permanente deel van die breër samelewing is en dus billike toegang tot grond verdien. Nie net artikel 25 van die SA Grondwet nie, maar ook artikel 235 wat vir selfbeskikking voorsiening maak, sowel as die destydse Minister van Staatkundige Ontwikkeling Mohammed Vali Moosa se verklaring dat ’n landstreek tussen die Oranjerivier en die Weskus as Heimat vir die Afrikaner kan dien, kan die huidige skaakmatsituasie help ontknoop.”

Met die feitlike en op die man af voorlegging van Ernst Roets van AfriForum in die Parlement gister 6 September en die reaksie daarop – presies 52 jaar nadat dr. HF Verwoerd in dieselfde lokaal vermoor is en die geskiedenis van Suid-Afrika verander is soos nog nooit nie - is die teerling vir die Afrikaner gewerp. Die lyn is getrek: Die Afrikaner het nie grond gesteel nie, glo in eiendomsreg en is bereid om te veg vir sy eiendom.

Ons sluk nie die groot leuen nie en as teen ons opgestel word al die politieke partye in die Parlement plus al die Afrikaner-oorlopers en meelopers, dan is ons reg vir julle. Ons soek nie baklei nie, maar as julle ons dwing, gaan ons ons verdedig – tot oorwinning toe

Die vonke het gister behoorlik gespat in die Parlement toe verdere mondelinge voorleggings deur instansies gemaak is voor die Hersieningskomitee oor moontlike wysiging van die Grondwet vir onteiening van grond sonder vergoeding. Dit was toe Ernst Roets van AfriForum sy inset gelewer het, met die reaksie van politieke partye daarop ‘n absolute openbaring’


Wat gebeur het, is uitstekend verwoord in ‘n mediaverklaring deur Front Nasionaal, wat vervolgens in verkorte vorm aangehaal word:


“In dieselfde ou Volksraadsaal waar dr. Verwoerd gister 52 jaar gelede vermoor is, het Ernst Roets van AfriForum ʼn sterk bewoorde, met bewyse voorlegging gedoen. Hy het die Kommunistiese agenda van die ANC/EFF uitgewys, beklemtoon dat grond nooit deur wittes gesteel is nie, maar deur ooreenkomste en verdrae en besetting van onbenutte grond bekom is en uiteindelik heeltemal korrek daarop gewys dat Parlementslede dronk is van ideologie wat geskoei is op rassehaat.

“Die ANC het onmiddellik reageer deur Roets daarvan te beskuldig dat hy swartes haat en dat sy haat vir die ANC en EFF sy denke oorheers. Dis maar die geykte ou retoriek van 25 jaar – “Julle haat ons omdat ons swart is, sies, julle rassiste!” Roets is verder van arrogansie beskuldig.

“ Die UDM het gesê dat AfriForum die land na ‘n staat van oorlog wil neem en dat blankes die harte van swartes verhard. Hulle sê dat hulle na die voorlegging oorweeg om die ANC en EFF te steun in die onteieningsplan.

“Die IVP het heftig op Ernst Roets se voorlegging reageer en gesê dat dit berus op woede eerder as feite. Daarna het die IVP uitgestap.

“Die EFF het, tipies, teruggeval op geykte retoriek oor gesteelde grond en vermoorde swartes en gesê dat hulle gereed is vir oorlog as Afrikanerrassiste uit Pretoria dit wil hê.

Van Cope wat die afgelope maande na blanke stemme vry in ʼn pragmatiese politieke foefie, sou steun vir Roets se voorlegging verwag kon word. Die beste waarmee hulle egter kon kom, was: ‘Het jy enige ander oplossing om aan die hand te doen as onteiening?’


“ Die DA het gewoon gesê dat hulle hulself van die voorlegging distansieer, wat nie verbasend is nie, want dit is mos nie in pas met hulle nuwe beleid om ‘wit bevoorregting’ te beveg nie.


“Die ACDP was die mees uitgesproke teen Roets se voorlegging. Hulle sê wat Roets daar gesê het, is nie ’n positiewe bydrae tot nasiebou nie en getuig van arrogansie.


“ Die VF Plus het aangedui dat hulle niks wil sê nie. Wat ʼn skitterende geleentheid is daardeur verpas om Roets te steun, die feite wat hy genoem het te bekragtig en te sê: Ons staan hier vir ons witmense se belange.

“Dit laat ʼn mens skaam kry! Ernst Roets en die Afrikanerdom is gister openlik verraai deur dieselfde mense wat voorgee om hulle politieke beskermers te wees

“Front Nasionaal sê: Roets het kaalkop die waarheid gepraat en ons stem saam met hom.: Gister het vir ons opnuut gewys dat die Parlement vol nuttelose partye is en dat niks gaan verander so lank as wat hulle daar sit nie.

“Stem vir selfbeskikking sodat ons by daardie Parlement kan instap, die onaangename deel kan afhandel en daar uitstap vir altyd. Dis al wat vir ons kan werk.”

Op die algemene jaarvergadering van die Afrikaanse Taalraad (ATR) gehou op 25 Augustus 2018 in die Paarl het die klem sterk geval op inklusiwiteit en relevansie. Sterk voorbrand vir Afrikaans oor alle grense heen is gemaak en vir die bevordering van Afrikaans in ’n meertalige verband.

Japie Gouws, voorsitter van die ATR, beskou die ATR as die mees verteenwoordigende Afrikaanse taalorganisasie in terme van ras, geslag, geografie en die variëteite van die taal. “Maar ons wil nog beter doen en sal ons diversiteit en die uiteenlopende spektrum van idees wat reeds in die ATR uitgebou word in die loop van die jaar aansienlik uitbrei,” sê hy.

“Die ATR loods dus ʼn werwingsveldtog wat veral kunstefeeste en gemeenskapsorganisasies se betrokkenheid by die organisasie wil verhoog. Ons het selfs ʼn meganisme geskep waarvolgens veral gemeenskapsorganisasies wat om finansiële redes sukkel om deel te neem, gehelp kan word,” sê Gouws.

Vir meer besonderhede, besoek www.afrikaansetaalraad.co.za.

Bladsy 17 van 99
Go to top