►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Meer vrae oor voorgenome onteiening sonder vergoeding

Dit blyk dat daagliks meer vrae na vore kom oor die verklaarde voorneme van die ANC, EFF en ander swart radikaliste om grond in SA te onteien sonder vergoeding en die negatiewe effek wat dit op sakevertroue het. So word daar gesê dat die regering tans sit met 'n totaal van 4 323 plase wat al by blanke eienaars uitgekoop is, maar waarvan die aktes nie oorgedra is aan die swart begunstigdes nie? Hoekom is dit so?

Volgens eie erkenning deur regeringswoordvoerders beloop die mislukkingskoers van nuwe swart boere op hierdie grond minstens 90%, terwyl gesaghebbend bereken word dat die regering al sowat R300 miljard vrugteloos spandeer het om nuwelingboere te vestig. Voorts word verwys na altesaam ongeveer 195 000 eiendomme in staatsbesit ter waarde van sowat R400 miljard wat nog nie deur die regering i.t.v. produktiwiteit in landsbelang verreken is nie.

In 'n mediaverklaring oor voorgenome onteiening sonder vergoeding sê die Afrikanerbond in 'n verklaring: “Eiendomsreg is een van die pilare van stabiliteit in menige land wat suksesvol is. Dit kan nie soos suigstokkies gevat word by party en bloot uitgedeel word aan ander net op grond van ras nie. Dit kan ook nie geïmpliseer word in uitsprake en beleidsraamwerke nie.

“Geen grond is deur witmense gesteel nie. Geen grond behoort aan ander, bloot net omdat jy swart is en in Afrika woon nie. Grond en eiendom word verkry deur harde werk, deursettingsvermoë, deur ontwikkeling, beplanning, bestuur en produktiwiteit. Wit Suid Afrikaners word allerweë as van die beste boere in die wêreld, ook deur leiers in Afrika, erken. Dit is net so geldig vir die trotse swart eienaars van suksesvolle plase in Suid Afrika en wat skouer aan skouer met wit boere kos produseer en bydra tot voedselsekerheid.

“Volgens prof. Mohammad Karaan, dekaan van die fakulteit Agri Wetenskappe by die Universiteit van Stellenbosch is ongeveer R300 miljard gemors in pogings om mense in boerdery te bring. Dit spreek boekdele en behoort ʼn dringende boodskap aan die regering te stuur. Skep en bevorder eerder ʼn model wat werk en suksesvol is.

“Daar is meer as genoeg grond in die mark om  te voldoen aan die behoefte vir werklike grond. Daar is baie suksesverhale van vennootskappe, mentorskappe en bewyse van goeie samewerking tussen bestaande boere en opkomende boere in inisiatiewe van grondvlak af.

“Die beste man/vrou vir die werk en gesonde markbeginsels sal self die uitkomste bepaal. Gee aan elke Suid Afrikaner die geleentheid om die argitek van sy eie lewe te word en hou die besoedelde hande van politieke  koppelaars weg van die Suid- Afrikaners wat bereid is om in die aansien van sweet hulle eiendom te wil verdien en  besit. Die droom van ‘n nuwe dagbreek deur ‘n President wat hoop skep, kan ongelukkig vinnig ʼn nagmerrie word as grondbesit en eiendomsreg soos ʼn skaakspel gespeel word deur slegs van wit of slegs van swart blokke gebruik te maak.”

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top