► In Mediumtermynbegroting van Minister van Finansies Tito Mboweni feitlik geen melding van landbou en die geweldige druk op boere oor wydverspreide droogte; op vraag van VF Plus pres. Cyril Ramaphosa ontwykend oor enige bystand aan kommersiële boere ► VF-Plus in Gauteng sê Gauteng Onderwysdepartement moontlik skuldig aan onreëlmatige besteding van R1,2 miljard i.v.m. skoolsvoedingsprojek, dít terwyl die LUR vir Onderwys Panyaza Lesufi Afrikaanse skole vir geringste vermoedelike oortredinge aanspreek ► Dit blyk of dorpe Dewetsdorp, Vanstadensrus en Wepener feitlik geen munisipale dienste ontvang vanaf Mangaung Metro onder wie hulle ingedeel is nie ► Adjunk-pres. David Mabuza op besoek aan China tydens sitting van SA-China Bilaterale Kommissie wys op die talle geïntegreerde tussen die twee lande o.a. dat 65 Chinese maatskappye R116 miljard in SA belê het (hierdie syfer soos genoem, Ditsem Nuus kan nie korrektheid verifieer nie) ► Stad Kaapstad ontvang R300 miljoen van Nederlandse regering om MyCiti snelbusdiens na Khayelitsha en Nyanga uit te brei ► Nederlandse man (35) en vrou (75) in Marlothpark, Komatipoort, vermoor deur versmoring deur hul monde toe te prop, man se vrou en dogter oorleef aanval ► Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers stem 232-196 ten gunste van verdere ondersoek of pres. Donald Trump in staat van beskuldiging geplaas moet word oor Oekraïne ► China Mobile in China maak bekend dat sy 5G-tegnologie, 100 keer vinniger as 4G, nou in 50 stede insluitende Beijing en Sjanghai beskikbaar is ►

Grondgryp met gesplete tong

Nadat die ANC en EFF verlede maand 'n Parlementêre mosie laat aanvaar het om die metodiek van grondgryp sonder vergoeding te ondersoek, krabbel die regering kamma krampagtig terug en sê dat onteiening net in sekere gevalle beplan word en dat dit bes moontlik binne die perke van art. 25 van die Grondwet sal geskied. Aan die anderkant sê Minister van Minerale Gwede Mantashe die eerste grond sonder vergoeding wat gevat wil word, is dele van groot kommersiële plase, terwyl Minister van Grondsake en Landelike Ontwikkeling Maite Nkoana-Mashabane sê hulle gaan nie noodwendig wag vir die uitkoms van die Parlementêre proses nie.

Intussen sak hordes plakkers in Midrand, KZN, Hermanus en ander plekke op onbesette grond toe, meet “erwe” uit en karwei boumateriaal aan. Munisipaliteite en grondeienaars worstel met uitsettingsbevele, terwyl die Polisie in die middel die kastaiings uit die vuur probeer krap. Die Polisie moet plek-plek onlusbeheer toepas, terwyl hulle soms bloot staan en toekyk en in gevalle selfs weier om klagtes te aanvaar.

Te midde van die mensgemaakte chaos is een geval dié van ʼn gesin van ʼn kleinhoewe naby Dannhauser in Noord-KZN – Leon Ackerman en sy vrou en familie – wat in vrees leef nadat sowat 300 mense hul grond onwettig betree het en bokke, skape, hoenders en gereedskap geroof het. Twee plaaslike Polisiemanne en ʼn ANC-raadslid het bloot gestaan en toekyk, terwyl die Polisiekantoor op Dannhauser glo geweier het om ʼn klag te aanvaar .

Die situasie is plofbaar en die gesin word daagliks met die dood gedreig en is sewe dae “kennis gegee” om hul grond te verlaat.

Die gesin het die plaaslike Veediefstaleenheid genader, waarna van die vee teruggevind is en ʼn aantal mense is in hegtenis geneem, maar weer vrygelaat, na bewering in opdrag van ʼn senior Polisie-offisier. Intussen is plaaslike veiligheidsnetwerke van die boere geaktiveer om die Ackermans te help indien nodig, terwyl die VF Plus die geval op hoogste vlak opneem.

Oor Gauteng sê die provinsiale VF Plus in 'n mediaverklaring: “Die EFF se betrokkenheid by onlangse grondbesettingpogings in Gauteng moet ondersoek word. Dit volg nadat sowat 1 500 mense tydens twee afsonderlike gevalle grond van die Universiteit van die Witwatersrand probeer beset het naby Marlboroweg in Johannesburg en later ook by die luukse Waterfall Landgoed in Midrand. Die SAPD het vyf mense in hegtenis geneem vir opsetlike saakbeskadiging en kon in beide die gevalle die skare stuit nadat die grondeienaars ‘n hofbevel verkry het.

“Talle mense in EFF-drag het prominente rolle tydens die verrigtinge gespeel, met EFF-leier Julius Malema op rekord dat mense grond van hul keuse moet beset. Dit beteken dat die Onafhanklike Verkiesingskommissie die EFF tot verantwoording behoort te roep. Die etiese gedragskode vir geregistreerde politieke partye verbied uitdruklik taalgebruik en optrede wat kan lei tot geweld en die oortreding van landswette.”

Op hul beurt sê TLU SA in ‘n mediaverklaring: “Die parlement se besluit om ‘n mosie te aanvaar ten gunste van onteiening sonder vergoeding, het direk daartoe gelei dat twee Europese projekte in SA landbou skipbreuk gelei het.  Die projekte sou etlike miljoene rand vir die land beteken het, terwyl dit ‘n paar duisend werksgeleenthede sou skep. Daarbenewens was TLU SA besig met onderhandelings om ‘n finansieringsmodel daar te stel wat meer bekostigbare finansiering aan landbou sou stel, en is daardie onderhandelings deur die internasionale groep gestop na die bekendmaking van die ANC se standpunt oor onteiening sonder vergoeding.

“Die regering moet besef dat die internasionale gemeenskap nie dom is nie. Hulle het gesien wat in Oos-Europa gebeur het en in die Sowjet-Unie, en het reeds die vergelyking begin tref dat die onteiening in wese die begin is van nasionalisering, wat kan lei tot ‘n sosialistiese, en uiteindelik kommunistiese stelsel. Die wêreld sal belê waar opbrengste behaal kan word, en is nie bereid om waagkapitaal in te bring om ‘n mislukte ideologie te probeer in stand hou nie. Dit is in enige beskaafde land diefstal, en om dit grondwetlik te probeer regverdig, bly steeds diefstal.”

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top