►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Dreigende grondgryp te Heidedal, Bloemfontein

Die situasie rakende dreigende grondgryp te Heidedal, Bloemfontein, blyk uit die volgende selfverduidelikende mediaverklaring van die VF Plus Vrystaat:

“Die ANC se onverantwoordelike uitsprake oor grondonteiening sonder vergoeding en die EFF se radikale aanhitsing daarvan maak die deur oop vir talle grondgryp-kansvatters, soos die wat tans besig is om grond in die Heidedal-woongebied te Bloemfontein te beset. Lede van die plaaslike gemeenskap het pas ‘n oop stuk grond beset weens ongelukkigheid omdat hulle steeds nie huise van die regering ontvang het nie.

“Die vraag ontstaan of die regering nie dalk hierdie onverantwoordelike uitsprake doelbewus maak om, veral in informele woongebiede, die gemeenskap te motiveer om die heersende behuisingsprobleem, wat die regering in 25 jaar nie in staat was om op te los nie, self aan te spreek.  Sodoende kan onverantwoordelike en onbevoegde politici terugsit terwyl die gemeenskap hul lewens op die spel plaas in misleide pogings om vir hulself ‘n waardige heenkome te skep. 

“Die besettings gaan met ‘n groot mate van geweld en saakbeskadiging gepaard en besetters stel nie net hul eie lewens in gevaar nie, maar ook dié van die res van die gemeenskap. Die VF Plus sal die LUR van Polisie versoek dat die Polisie proaktief optree om uitgebreide grondbesettings in die Metrogebied te voorkom.

“Die ANC-regering moet ophou om onverantwoordelike en ondeurdagte uitsprake te maak oor die sinnelose plan om eiendom sonder vergoeding te onteien en eerder daarop fokus om hul grondwetlike plig en hul beloftes soos dié van behoorlike behuising teenoor die burgers van SA na te kom.”

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top