Print this page

Tydperk vir grondvoorleggings verleng

Die Gesamentlike Komitee oor Grondwethersiening het aangekondig dat die sluitingsdatum vir skriftelike voorleggings oor die beplande wettiging van grondonteiening sonder vergoeding verleng is tot 15 Junie 2018. Voorts sal openbare vergaderings oor die aangeleentheid vanaf 26 Junie tot 6 Augustus 2018 in alle provinsies gehou word.

Die voorsitter van die komitee, Vincent Smith, het gesê dat soveel voorleggings en kommentare teen onteiening sonder vergoeding ontvang is dat dit die “proses verstop het”. Hy het ook gesê dat vermoed word dat instansies soos AfriForum misbruik die geleentheid om hul eie agenda te bevorder.

Om kommentaar te lewer op die voorstel, is egter nie maklik nie en lewer 'n Google-soektog nie veel op nie. Die beste skyn te wees, om die webwerf www.ruraldevelopment.gov.za te besoek.

Inmiddels het die Dept. van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming bekendgemaak dat tot op datum 80 664 grondeise teen sowat R40 miljard geskik is. Daardeur is 2,1 miljoen begunstigdes op sowat 3,5 miljoen ha bevoordeel. Die plan is om in 2018/19 nog 1 151 grondeise teen sowat R2 miljard te skik.

Die departement sê ook dat deur die program vir die herverspreiding van grond sedert 1994 'n bykomende 4,8 miljoen ha grond teen sowat R17 miljard aangekoop is. Daarbenewens is sowat 1 675 plase (sowat 1,5 miljoen ha) ook teen 'n koste van R4,8 miljard geherkapitaliseer.

In reaksie hierop sê dr. Pieter Groenewald van die VF Plus: “Die regering het in die Parlement erken dat in 93% van gevalle waar grondeise toegestaan is, die begunstigdes verkies het om eerder geld te neem, en nie die grond nie. Waar die staat bv. R5 miljoen vir ʼn plaas betaal, moet hy ʼn verdere R5 miljoen aan die eiser gee wat nie die grond wil hê nie. Dit beteken dat R10 miljoen van belastingbetalersgeld eindelik vir die grond betaal word wat net R5 miljoen werd is.

“Die regering mislei die mense van Suid-Afrika verder deur te sê onteiening sonder vergoeding sal grondhervorming bespoedig. Die waarheid is dat die staat erken hy besit tans 4 000 plase. Waarom word hierdie plase nie eerste aan die mense gegee nie? Met die eerste restitusie-proses wat in 1998 gesluit het, is 80 000 eise ingedien. Dit is nou twintig jaar later en van hierdie eise is steeds nie afgehandel nie.

“Daarbenewens het die staat erken hy besit 17 miljoen ha grond in SA - waarom gee die staat nie hierdie grond, buiten die 4 000 plase in sy besit, vir die mense wat grond wil hê nie? Die regering het ook erken dat 90% van vorige herverdelingsprogramme misluk het. Hierdie plase, wat reeds in die staat se besit is, kan ook gebruik word.”

Gradeer die artikel
(0 stemme)