► In Mediumtermynbegroting van Minister van Finansies Tito Mboweni feitlik geen melding van landbou en die geweldige druk op boere oor wydverspreide droogte; op vraag van VF Plus pres. Cyril Ramaphosa ontwykend oor enige bystand aan kommersiële boere ► VF-Plus in Gauteng sê Gauteng Onderwysdepartement moontlik skuldig aan onreëlmatige besteding van R1,2 miljard i.v.m. skoolsvoedingsprojek, dít terwyl die LUR vir Onderwys Panyaza Lesufi Afrikaanse skole vir geringste vermoedelike oortredinge aanspreek ► Dit blyk of dorpe Dewetsdorp, Vanstadensrus en Wepener feitlik geen munisipale dienste ontvang vanaf Mangaung Metro onder wie hulle ingedeel is nie ► Adjunk-pres. David Mabuza op besoek aan China tydens sitting van SA-China Bilaterale Kommissie wys op die talle geïntegreerde tussen die twee lande o.a. dat 65 Chinese maatskappye R116 miljard in SA belê het (hierdie syfer soos genoem, Ditsem Nuus kan nie korrektheid verifieer nie) ► Stad Kaapstad ontvang R300 miljoen van Nederlandse regering om MyCiti snelbusdiens na Khayelitsha en Nyanga uit te brei ► Nederlandse man (35) en vrou (75) in Marlothpark, Komatipoort, vermoor deur versmoring deur hul monde toe te prop, man se vrou en dogter oorleef aanval ► Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers stem 232-196 ten gunste van verdere ondersoek of pres. Donald Trump in staat van beskuldiging geplaas moet word oor Oekraïne ► China Mobile in China maak bekend dat sy 5G-tegnologie, 100 keer vinniger as 4G, nou in 50 stede insluitende Beijing en Sjanghai beskikbaar is ►

ANC sê hulle gaan onteien sonder vergoeding

Dinsdagnag 31 Julie 2018 het Cyril Ramaphosa as leier van die ANC namens die organisasie in 'n TV uitsending aangekondig dat die ANC besluit het om nie meer te wag vir die uitkoms van die Parlementêre proses nie, maar stappe gaan neem om artikel 25 van die Grondwet te wysig met die oog op onteiening sonder vergoeding. Dit is opvallend dat Ramaphosa die aankondiging nie in sy hoedanigheid as staatspresident gedoen het nie en dit ook nie by 'n spesiale geleentheid of in die vorm van 'n boodskap aan die nasie gedoen het nie.

Die feite van die saak is dat die Parlementêre proses om die openbare mening te toets oor die moontlikheid om artikel 25 van die Grondwet te wysig by wyse van skriftelike voorleggings en openbare grondberade en die evaluasie van al die insette, nog nie afgehandel is nie. Daarmee word dit duidelik gemaak dat die openbare deelnameproses slegs 'n rookskerm is om teoreties deur die voorgeskrewe prosedure te gaan en dat die uitkoms reeds vooraf vas besluit was.

Wat die skriftelike voorleggings betref, wat meer kundigheid en vaardigheid vereis, was die meerderheid afkomstig van blankes en was dit gekant teen wysiging van die Grondwet. Daarenteen was die opkoms na die verskillende grondberade in die provinsies ooglopend gereël om massas swartes en tot 'n mate bruin mense daar te kry en was hulle polities opgesweep ten gunste van Grondwetwysiging en onteiening sonder vergoeding.

Trouens by die grondberade is die minderheid blankes meesal doodgeskree indien hulle teen onteiening was en ook beledig soos nog nie tevore in SA nie. Selfs 'n swart persoon soos Mosiuoa Lekota van Cope wat geldige punte teen onteiening geopper het, is uitgejou as 'n “sell-out” en selfs by geleenthede hardhandig behandel.

Afgesien van die radikale swart massa, is kritiek uit opposisiegeledere en van burgerlike instansies fel op die aankondiging van Ramaphosa. So bv. het DA leier Mmusi Maimane aangedring op 'n nooddebat in die Parlement, terwyl die VF Plus in 'n mediaverklaring soos volg sê: “Die aankondiging van pres. Cyril Ramaphosa is ʼn verdere bewys dat hy gekaap is deur die Zuma-faksie binne die ANC en dat hy die belange van Suid-Afrika ondergeskik stel aan die belange van die ANC.

“Die tydstip van die aankondiging maak ʼn klug van die openbare verhore oor die aangeleentheid, asook die verdere Parlementêre prosesse. Dit word van ʼn president van ʼn land verwag om uit te styg bo partypolitiek en in die beste belang van die land op te tree. Hierdie wysiging gaan potensiële beleggers verder afskrik wat tot gevolg gaan hê dat die ekonomie benadeel gaan word wat nog groter werkloosheid in Suid-Afrika gaan veroorsaak. In die land het dit die potensiaal om anargie en grondgrype soos in Zimbabwe te veroorsaak.

“Die VF Plus gaan nou amptelik ʼn klag indien by die VN Menseregtekommissie vir die oortreding van artikel 16 van die VN Handves en die Internasionale Deklarasie van Menseregte wat private eiendomsbesit beskerm en onteiening sonder vergoeding verbied.”

Die kommentaar van TLU SA: “Hierdie is ʼn wanhopige poging van ʼn korrupte regime om sy ondersteuners se eise na jare van valse politieke beloftes te ondervang. Die ANC se politieke korrupsie en ekonomiese plundering van die RSA se finansiële bates die afgelope 24 jaar is die hoofoorsaak vir die ekonomiese verval van die land.

“TLU SA verwerp die besluit ten sterkste en sal steeds voortgaan om alle middele aan te wend om die eiendomsreg van produserende kommersiële boere in SA te beskerm. Dit het tyd geraak dat rasioneel denkende mense wat wil seker maak dat die regte dinge gedoen word om die ekonomie te laat groei bymekaar moet kom en kragte saamsnoer om hierdie vernietigende pad wat die ANC inslaan, te stuit.”

Op hul beurt sê Die Afrikanerbond in 'n verklaring: “Dit is lankal reeds duidelik dat die ANC met sy rug teen die muur staan wat grondhervorming en ander beleidsaspekte aanbetref. Dekades se wanbestuur, mislukkings, korrupsie, beleidsommekerings, ideologiese verwarring en verwerping van enige goedbedoelde advies en duidelike en bewese grondvoorstelle het die ANC in ʼn posisie geplaas waaruit hy nie meer kan ontsnap nie. Die enigste ontsnaproete is om ʼn moontlike konstitusionele krisis te skep deur wysigings aan die Grondwet aan te bring.

“Met hierdie besluit het die ANC alle ondernemings en versekeringe tot niet gemaak en Parlementêre prosesse gesystap en futiel gemaak.  Tradisionele leiers moet ook nie meer te seker wees van enige ondernemings wat op ʼn kantlyn aan hulle gemaak is nie.

“Wat duidelik geword het met die aankondiging is dat die ANC ʼn onomkeerbare proses van politieke herskikking begin het om mnr. Malema en die EFF aan boord te bring. Hiermee word ʼn boodskap aan elke Suid-Afrikaner gestuur dat geen waarborg in die Grondwet meer veilig is nie want politieke belang weeg swaarder as konstitusionele belang en grondwetlike regte en waardes. Eiendomsreg is die eerste grondwetlike reg om te sneuwel.

“Politieke herskikking van die hele politieke landskap is nou onafwendbaar. Die ANC en sy politieke kornuite het gekies om die Vryheidsmanifes met sy verouderde waardes en ideale bo die Grondwet te stel. Ons politieke herskikking gaan nou duidelik wys met die Vryheidsmanifes- (Charteriste) volgelinge aan die een kant en dié wat die grondwetlike waardes ondersteun aan die ander kant. Hierdie nuwe demokratiese front ten gunste van die Grondwet kan nie anders as om oor gevestigde politieke lyne te beweeg en die Suid-Afrika te bevorder wat in 1994 voorsien is nie en sal sowel Parlementêre as buite-Parlementêre instellings insluit.”

Die volgende omvattende kommentaar van Front Nasionaal spreek vanself: “Daar is een sinnetjie, so half in die middel van die toespraak, wat amper ongemerk verby gegaan het en wat ‘n mens soos ‘n skoot koue water tref as jy dit oordink: Ramaphosa het gesê: ‘…to transform the unjust spatial realities in urban areas…’

“Wat beteken dit? In praktyk beteken dit presies dieselfde as wat in stedelike en voorstedelike gebiede in elke ander Kommunistiese lande gebeur het. Dit gaan nie meer aanvaarbaar wees dat ‘n swart gesin van 6 in ‘n drievertrek opslaanhut moet woon wat ‘n paar meter van die volgende hut af staan, terwyl ‘n afgetrede egpaar of ‘n enkellopende persoon ‘n huis op ‘n erf in ‘n voorstad of kompleks bewoon nie.

“Presies hoe hulle beplan om dit reg te stel, weet ‘n mens nie. Gaan hulle met die onteiening van eiendom die huiseienaar forseer om ander mense in te neem soos wat gebeur het in St Petersburg en Moskou na die Kommunistiese oorname? Gaan hulle die huis onteien en aan drie gesinne gee terwyl die huiseienaar verskuif word na ‘n eenvertrekwoonstel iewers soos wat hulle in Warskou en Riga gedoen het na Kommunistiese oorname?

“Gaan hulle toestemming gee aan plakkers om hulle hutte op die erf op te slaan omdat die erf onteien is, soos wat gebeur het in Boekarest en Dobrovnik en Boedapest na die Kommuniste oorgeneem het? Seer sekerlik sal daar gekyk word na mense wat ‘n tweede eiendom besit – die dorpshuis of strandhuis of woonstel wat uitverhuur word vir ‘n ekstra inkomste. Gaan dit eenvoudig afgeneem en aan plakkers gegee word om te bewoon soos wat in Havana en Caracas en Krakau gedoen is na Kommunistiese oorname?

“Ons weet nie. Al wat ons wel weet, is dit: ‘Urban areas’ is spesifiek vermeld. Die onteieningsplan is nie net die plaasboere se krisis nie. Dis elkeen van ons wat ‘n huis besit se krisis. Dit beteken letterlik dat stedelike woonbuurte die oplossing sal moet bied vir die oorbevolking in plakkerskampe.

“Nou vra mense: Ja maar wat van ons wat verbande het op eiendomme? Wat van ons verbande? Nee, dit weet niemand ook nie, al wat ons weet is dit: As hulle jou huis wil vat gaan hulle beslis nie slapelose nagte hê oor hoe jy jou skuld gaan betaal nie. Gaan vra maar enige Zimbabwiër of Mugabe destyds aangebied het om sy verband af te los.

“Dit is bitter ontstellend as jy die implikasie van hierdie plan besef. Cyril Ramaphosa het Dinsdagaand die doodsklok gelui vir die Suid-Afrikaanse ekonomie, vir vryheid en geregtigheid en bowenal vir enige moontlikheid van vreedsame en vooruitstrewende naasbestaan in Suid-Afrika.”

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top