► In Mediumtermynbegroting van Minister van Finansies Tito Mboweni feitlik geen melding van landbou en die geweldige druk op boere oor wydverspreide droogte; op vraag van VF Plus pres. Cyril Ramaphosa ontwykend oor enige bystand aan kommersiële boere ► VF-Plus in Gauteng sê Gauteng Onderwysdepartement moontlik skuldig aan onreëlmatige besteding van R1,2 miljard i.v.m. skoolsvoedingsprojek, dít terwyl die LUR vir Onderwys Panyaza Lesufi Afrikaanse skole vir geringste vermoedelike oortredinge aanspreek ► Dit blyk of dorpe Dewetsdorp, Vanstadensrus en Wepener feitlik geen munisipale dienste ontvang vanaf Mangaung Metro onder wie hulle ingedeel is nie ► Adjunk-pres. David Mabuza op besoek aan China tydens sitting van SA-China Bilaterale Kommissie wys op die talle geïntegreerde tussen die twee lande o.a. dat 65 Chinese maatskappye R116 miljard in SA belê het (hierdie syfer soos genoem, Ditsem Nuus kan nie korrektheid verifieer nie) ► Stad Kaapstad ontvang R300 miljoen van Nederlandse regering om MyCiti snelbusdiens na Khayelitsha en Nyanga uit te brei ► Nederlandse man (35) en vrou (75) in Marlothpark, Komatipoort, vermoor deur versmoring deur hul monde toe te prop, man se vrou en dogter oorleef aanval ► Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers stem 232-196 ten gunste van verdere ondersoek of pres. Donald Trump in staat van beskuldiging geplaas moet word oor Oekraïne ► China Mobile in China maak bekend dat sy 5G-tegnologie, 100 keer vinniger as 4G, nou in 50 stede insluitende Beijing en Sjanghai beskikbaar is ►

Diepe verdeeldheid in blanke geledere oor grond

Dit blyk dat diepe verdeeldheid heers onder blankes beide in SA en in die buiteland oor grondonteiening sonder vergoeding en dat hierdie polarisasie waarskynlik onomkeerbaar is. Nadat die Parlement op 27 Februarie vanjaar besluit het dat ondersoek gedoen moet word of wysiging van die Grondwet nodig is om grondonteiening sonder vergoeding te kan doen en Cyril Ramaphosa op 30 Julie namens die ANC gesê het grondonteiening sonder vergoeding gaan uitgevoer word, was die reaksie in blanke geledere aanvanklik dat dit neerkom op gronddiefstal en verkragting van menseregte.

Instansies soos AfriForum het op besoek aan die VSA by die Amerikaanse regering sterk voorbrand gemaak teen hierdie beplande grondgryp, terwyl buitelandse TV joernaliste soos Lauren Southern en Katie Hopkins met uitgesproke kritiek teen grondgryp en plaasmoorde in SA baie gedoen het om internasionale steun op te wek. Ook in ander Europese lande en in Australië is die ANC-EFF veldtog gesien vir wat dit is en is ondersteuning vir veral blanke boere in SA uitgespreek.

Die vet was verder in die vuur toe AfriForum op Sondag 12 Augustus op hul webwerf 'n lys van sowat 190 plase gepubliseer het wat na bewering reeds geïdentifiseer is vir onteiening sonder vergoeding, welke lys na bewering gesirkuleer is binne die Dept. van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming. Dit blyk dat die eerste twee plase op lys is van Akkerland Boerdery (Edms.) Bpk., waaronder Makhado Steenkoolrif geleë is ter waarde van sowat R170 miljard. Die slotsom is onvermydelik dat die hele kwessie oor sg. “grond” in SA inderwaarheid eintlik gaan oor die ongelooflike ryk mineraalneerslae van die land – sien die kaart by hierdie berig.

Hoewel die regering by monde van verskeie woordvoerders die egtheid van hierdie lys ontken het, het dit skokgolwe deur die land en ook oor die wêreld gestuur. Die feit van die saak is dat vroeër in 'n verslag die internasionale navorsingsinstansie Citibank bevind het Suid-Afrika beskik oor die rykste minerale- en metaleneerslae ter wêreld met waarde van sowat R37,5 triljard, met gesamentlik tweede Rusland en Australië elk met beraamde reserwes van sowat R24 triljard.  

In SA self het verdeeldheid onder Afrikaners aan die lig begin kom met veral Agri SA wat louwarm gereageer het op die dreigende grondgryp. Ná samesprekings die afgelope Maandag tussen Agri SA president Dan Kriek en pres. Cyril Ramaphosa, asook Dinsdag tussen 'n afvaardiging van Agri SA en Agbiz met 'n ANC afvaardiging o.l.v. adjunk-pres. David Mabuza, is in 'n gesamentlike mediaverklaring gesê “faksies wat moedswillig die gemeenskap oor die grondkwessie polariseer, moet teengestaan word.”

Intussen het die Nieu-Suid-Walliese parlement in Australië 'n sterk resolusie aanvaar teen plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding in SA, terwyl die kat behoorlik in die duiwehok gegooi is deur 'n twiet van pres. Donald Trump van die VSA waarin hy gesê het dat hy sy minister van buitelandse sake Mike Pompeo opdrag gegee het om grondonteiening en plaasmoorde in SA diepgaande te ondersoek. Daarmee is die kloof tussen blankes wat betref grondonteiening sonder vergoeding drasties op die spits gedryf.

Aan die een kant is daar diegene soos Agri SA en oud-minister Roelf Meyer wat sê dat retoriek oor grondonteiening jaag net onnodig spoke op en dat die saak deur volgehoue onderhandelinge met die ANC besleg sal kan word. Aan die ander kant is bv. AfriForum, die VF Plus, die SA Instituut vir Rasse-aangeleenthede, Cope, die ACDP en die DA wat sê dat onteiening sonder vergoeding kan die doodsklok vir sosio-ekonomiese stabiliteit in SA lui.

Daar is voorts talle behoudende Afrikaner-kommentators wat van mening is dat onteiening sonder vergoeding deel is van ‘n onverklaarde burgeroorlog teen blankes in die land, in effek uitvoering van die kommunistiese Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) van die ANC en dat dienooreenkomstig voorberei moet word.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top