Print this page

Aanbeveling Grondwetwysiging vir onteiening sonder vergoeding

Op die SA nuusfront is die grootste en belangrikste gebeurtenis die afgelope week die aankondiging van die Grondwetlike Hersieningskomitee dat artikel 25 van die SA Grondwet gewysig moet word ten einde voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding. Daarmee is beslis ʼn nuwe hoofstuk in die tragiese geskiedenis van SA sedert 1994 ingelui.

Om mee te begin, is dit na ons mening duidelik uit die formulering van die SA Grondwet in sy huidige vorm dat die bedoeling in 1994 was dat privaatregtelike besit van eiendom grondwetlik verskans moet wees en dat hierdie hoeksteen van ʼn vrye ekonomie onaantasbaar moet staan. Om nou die Grondwet te wil verander ter wille van onteiening, kom inderwaarheid neer op ook ʼn verbreking van die gees van die destydse Codesa-ooreenkoms vir magsoorname.

Voorts dien deeglik in gedagte gehou te word, dat tydens die openbare deelnameproses vroeër vanjaar. die meerderheid skriftelike voorleggings aan die Hersieningskomitee gekant was teen wysiging van die Grondwet. Daarenteen was op die openbare verhore oor die saak, gehou grotendeels op veneus in swart woongebiede, populistiese en militante swart massas oorwegend ten gunste van die wysiging van die Grondwet.

Daarby is dit opmerklik dat sopas die ANC in die Parlement geweier het dat politieke partye en belanghebbende instansies die inhoud van voorleggings aan die Hersieningskomitee bespreek en het die Komitee soos ʼn stoomroller sy aanbeveling gemaak. Daarmee is die siening bevestig dat die uitkoms van de Komitee lank vooraf deur die ANC, EFF en hul meelopers bepaal is en dat die komitee in werklikheid net  ʼn rookskerm was.

Tans is opposisiepartye in die Parlement, insluitende die DA, VF Plus, ACDP en andere, tesame met ʼn wye reeks van belanghebbende instansies, eensstemmig dat weens die onregmatigheid en kontaminasie van die proses, die stryd oor Grondwetwysiging vir doeleindes van grondonteiening sonder vergoeding nou eers begin het. Dit is duidelik dat daar baie sterk teenkanting teen die wysiging van die Grondwet en onteiening sonder vergoeding is en dat kompromie nie ʼn opsie is nie.

Dit is ons mening dat hierdie saak eenvoudig neerkom op staatsgesanksioneerde eiendomsdiefstal en dat dit ʼn groot stap sou wees om in SA ʼn Kommunistiese bestel te skep. Daarom moet dit teengestaan word met alle mag en ten alle koste.

Gradeer die artikel
(1 Vote)