► In Mediumtermynbegroting van Minister van Finansies Tito Mboweni feitlik geen melding van landbou en die geweldige druk op boere oor wydverspreide droogte; op vraag van VF Plus pres. Cyril Ramaphosa ontwykend oor enige bystand aan kommersiële boere ► VF-Plus in Gauteng sê Gauteng Onderwysdepartement moontlik skuldig aan onreëlmatige besteding van R1,2 miljard i.v.m. skoolsvoedingsprojek, dít terwyl die LUR vir Onderwys Panyaza Lesufi Afrikaanse skole vir geringste vermoedelike oortredinge aanspreek ► Dit blyk of dorpe Dewetsdorp, Vanstadensrus en Wepener feitlik geen munisipale dienste ontvang vanaf Mangaung Metro onder wie hulle ingedeel is nie ► Adjunk-pres. David Mabuza op besoek aan China tydens sitting van SA-China Bilaterale Kommissie wys op die talle geïntegreerde tussen die twee lande o.a. dat 65 Chinese maatskappye R116 miljard in SA belê het (hierdie syfer soos genoem, Ditsem Nuus kan nie korrektheid verifieer nie) ► Stad Kaapstad ontvang R300 miljoen van Nederlandse regering om MyCiti snelbusdiens na Khayelitsha en Nyanga uit te brei ► Nederlandse man (35) en vrou (75) in Marlothpark, Komatipoort, vermoor deur versmoring deur hul monde toe te prop, man se vrou en dogter oorleef aanval ► Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers stem 232-196 ten gunste van verdere ondersoek of pres. Donald Trump in staat van beskuldiging geplaas moet word oor Oekraïne ► China Mobile in China maak bekend dat sy 5G-tegnologie, 100 keer vinniger as 4G, nou in 50 stede insluitende Beijing en Sjanghai beskikbaar is ►

Die klug van grondhervorming 2

Die afgelope tyd het die klug van grondhervorming nog duideliker na vore gekom met die onthulling dat die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) bevind het dat die grondhervormingsproses van die staat die afgelope sowat 10 jaar vrot van korrupsie was en steeds is. O.a. is bevind dat talle van die sg. ‘begunstigdes’ nog nooit eens op ʼn plaas was nie, weet hulle nie eens hulle besit nou plase nie, of het van hulle reeds afgesterf voordat hulle eienaars geword het.

In ander gevalle het amptenare van die Dept. van Grondhervorming plase aan hulself of hul familie en vriende toegeken en is die aansoekvorms nie eens volledig ingevul nie. ʼn Totaal van 58 plase ter waarde van sowat R150 miljoen is teruggegee aan die staat en ʼn verdere 37 is onder kuratorskap geplaas hangende ondersoeke. Die koerante onthul ook dat die SOE-verslag al 11 maande op die lessenaar van Pres. Cyril Ramaphosa lê, sonder dat iets wesentlik daar omtrent gedoen is.

In samehang met die SOE-verslag is daar natuurlik al lankal met die nodige syfers bewys dat daar soveel onbenutte grond in staatsbesit is, dat onteiening sonder vergoeding glad nie nodig sal wees nie. Nog feite wat op die tafel geplaas is, is dat sowat 90% van “grondbegunstigdes eerder kontant bo grond verkies, terwyl die mislukkingskoers onder begunstigde boere 90% plus is.

Daarby het dr. Corné Mulder van die VF Plus einde verlede jaar in 'n voorlegging in die Parlement in detail uiteengesit hoe die resultate van die openbare deelnameproses oor die voorstel van grondonteiening sonder vergoeding op ondemokratiese en gekontamineerde wyse deur die Parlement gestoomroller is. Verlede maand is voor die Zondo-kommissie getuig dat die voorsitter van die Grondwet Hersieningskomitee, Vincent Smith, ʼn begunstigde van Bosasa was, 'n feit wat sy integriteit in ʼn sleutelproses ernstig inkrimineer.

Dit alles is natuurlik bo en behalwe die feit dat geen bewyse nog op die tafel geplaas is van sg. diefstal deur blankes van grond van swartmense nie. Al hierdie feite behoort saamgelees te word met artikel 5(5)(b) van die Wetsontwerp op Onteiening, wat stipuleer dat onder eiendom moet verstaan word alle eiendom en roerende bates.

Die slotsom uit hierdie breë prentjie is onvermydelik dat die hele grondhervormingsaangeleentheid in SA ʼn kunsmatige klug en 'n onregmatige en korrupte slenter is gemik daarop om blankes in die land van hul eiendom te vervreem en hulle inderwaarheid uit die land te dwing. Daarom behoort hierdie situasie gesien te word vir wat dit werklik is en behoort blankes juridies, regmatig en moreel vas te staan en die proses met alle mag te beveg.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top