► Pres. Cyril Ramaphosa vra nasionale dialoog oor moontlikheid om pensioenfondse in bankrot staatsondernemings te belê – “Ons finansiële bronne is uitgeput, terwyl ons ontwikkelingsbehoeftes enorm is” ► Vraag op sosiale media: Hoekom kry regering nie die miljarde staatsgeld wat gesteel is terug nie, maar wil nou die pensioengeld vat van mense wat hard gewerk het daarvoor en toegewyd gespaar het? ► Menseregtekommissie oorweeg stappe teen Ernst Roets van AfriForum oor vertoon van vorige landsvlag op sosiale media, word as “verdelend” beskou ► Petroljoggies landswyd dreig om volgende week te staak oor salarisse, eis verhoging van 12%, maar werkgewers bied slegs 5% ► Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, moes gister meer as R10 miljoen aan Eskom pensioenfonds terugbetaal as onwettig ontvang, maar nog geen teken daarvan nie ► Veldbrand wat versprei tot in St. Francisbaai verwoes 12 huise tot die grond toe ► Storm oor aanranding van blanke kleuters deur swart personeel by Myne Maatjies Dagsorg Sentrum in Randfontein, ouers woedend, drie persone gearresteer, MRK swyg soos graf ► Lastereis van oud-minister Derek Hanekom van R500 000 teen oud-pres. Jacob Zuma, vandag in hooggeregshof in Durban aangehoor, eis omdat Zuma Hanekom “apartheidspioen” genoem het ► Curriebekerreeks word hierdie naweek voortgesit, met slegs Griekwas wat verseker is van plek in halfeindstryd ►

 

Eskom is op soek na ‘n nuwe uitvoerende hoof nadat die huidige posbekleër Phakamani Hadebe ná minder as ’n jaar die tuig neerlê vanweë stres. Sy voorgangers het óf weens persoonlike redes hul pos verlaat, was ontslaan of is onder ‘n wolk van korrupsie weg.

Energiekundige Ted Blom meen dat die bedanking van Hadebe nie as 'n verrassing gekom het nie, omdat hy as ‘n buitestander ingekom het en hoewel met goeie bestuurservaring, hy min kennis van die kragvoorsieningsbedryf gehad het. Daarom is hy nie geredelik deur die Eskom-establishment aanvaar nie.

Hadebe is in 2018 aangestel om die sukkelende staatsentiteit weer op sy voete te kry ná die sukses wat hy behaal het om die Landbank te herstel. Eskom is egter 'n bitter moeilike perd om te ry, omdat die kragvoorsiener tans nie genoeg krag verkoop om sy rentebetalings en enorme lopende bedryfskoste te dek nie. Dit spruit uit 'n nalatenskap van jare se wanbestuur en koste-oorskryding op nuwe aanlegte, wat 'n huidige skuldlas van minstens R440 miljard tot gevolg gehad het.

Enige iemand om in die Eskom-saal te klim? Ter wille van die hele Suid-Afrika móét Eskom net slaag!

Die ooglopende uitweg is eerder om die kragverskaffingsbedryf in SA te dereguleer en te ontbondel en die hernubare energiesektor kans te gee om spontaan te ontpop. Daarmee saam behoort die mense van die land in hul leefstyl radikaal “groen” te gaan.

Die een enkele groot uitdaging in hierdie verband is bekostigbare sonkrag. Hoe antwoord Suid-Afrikaners hierop?

Nuwe Parlementslede verdien jaarliks ’n salaris van R2,4 miljoen plus ruim byvoordele soos 'n gratis staatswoning, 2 amptelike voertuie, ‘n huiswerker en vliegtuigkaartjies vir hulle en hul wederhelftes. Dit kon selfs meer gewees het indien pres. Cyril Ramaphosa nie verlede jaar die aanbeveling van 4%-verhoging vir openbare ampsbekleërs afgeskiet het nie.

Ramaphosa se eie salaris beloop R3,6 miljoen en dié van adj.pres. David Mabuza R2 825 470, dieselfde as speaker Thandi Modise. Die adjunk-speaker verdien R1 977 795 per jaar, terwyl senior Parlementslede R1 600 467 per jaar huis toe neem, met junior LP’s 'n raps minder. Dit beteken dat meer as R50 miljoen per maand aan die salarisse van 400 Parlementslede bestee word.

Volgens Africa Check kan ministers sowel as hul adjunkte elk twee amptelike voertuie aanskaf vir gebruik in Kaapstad en Pretoria, kabinetslede gratis in ’n staatswoning in die stad van hul keuse woon, geregtig wees op opknappingswerk aan die staatswoning, asook ’n huiswerker op staatsalaris in diens mag neem. Verder mag hulle en hul wederhelftes eersteklasvliegkaartjies vir amptelike internasionale reise koop, terwyl hulle binne SA geregtig is op 30 enkel besigheidsklaskaartjies per jaar. Hul afhanklikes word ook op staatskoste vervoer en hulle kry verhuisingskoste, selfone, tablette en draagbare rekenaars, asook verblyf in Akasia die Parlementêre dorp in Kaapstad.

Die Vrystaatse dorpie Steynsrus het die tyd erg onder ontwrigtende betogings deurgeloop uit protes teen die patetiese en meesal geen dienslewering van die Moqhaka Munisipaliteit. Hulle eis o.m. dat die hele munisipale topbestuur hul poste moet ontruim.

Wanorde was aan die orde van die dag, met skole gesluit en paaie geblokkeer. Oproeriges het chaos in die dorp gesaai en munisipale watertenks en selfs vragmotors aan die brand te steek. Talle motoriste het ook deurgeloop toe hul voertuie met klippe bestook is. Die SAPD het met groot moeite die betogers tot ‘n mate in bedwang gehou.

Steynsrus se buurdorp, Kroonstad, wat ook onder dieselfde munisipaliteit ressorteer, word sedert Maart voortdurend geteister deur onwettige betogings en die onrus het nou na Steynsrus uitgebrei. Hoe lank voordat dit Viljoenskroon, die derde dorp onder Moqhaka Munisipaliteit, gaan tref, is ‘n ope vraag.

Die sake-organisasie Sakeliga wys in ‘n mediaverklaring daarop die nuwe Wysigingswetsontwerp op Toerisme, die sg. AirBnB-wet, lyk dalk op die oog af nie omvattend nie, maar het verreikende gevolge vir korttermynverhuur-entrepreneurs. Die wetsontwerp gee die minister o.m. die mag om voor te skryf hoeveel gaste deur AirBnB-eienaars gehuisves mag word in ’n spesifieke area, hoeveel nagte gaste onthaal mag word en selfs watter tariewe gehef mag word.

Kommentaar op die wetsontwerp moet voor 12 Junie 2019 by die minister ingehandig word. Sakeliga beplan om twee konferensies vir rolspelers wat geraak word, te hou te Pretoria en Kaapstad en dan ʼn gesamentlike kommentaar by die minister in te dien.

Vir meer besonderhede kontak Gerhard van Onselen by 079 522 5764 of besoek www.sakeliga.co.za.

Die burgerregte-organisasie AfriForum besoek die VSA om steun te werf teen grondgrype en plaasmoorde in Suid-Afrika. Ernst Roets, adjunk-hoof van AfriForum en Mariandra Heunis, ma van drie kinders en wie se man Johann voor sy gesin doodgeskiet is, vorm deel van die afvaardiging, wat verteenwoordigers van die Amerikaanse Senaat en Huis van Verteenwoordigers in Washington ontmoet.

Heunis deel nie net haar verhaal nie, maar bied ook ‘n perspektief en insig van hoe slagoffers deur plaasaanvalle getraumatiseer word. Haar verhaal is des te meer relevant in die lig van die ontkenning van pres. Ramaphosa vroeër in die VSA dat plaasmoorde in SA bestaan. Sy ontkenning kom neer op ’n skending van die waardigheid van duisende slagoffers wat self op plase aangeval is of wat geliefdes op hierdie manier aan die dood moes afstaan.

Volgens Roets, word daar nie van die VSA verwag om SA se probleme op te los , maar om in die openbaar standpunt in te neem teen ongeregtighede wat tans in SA plaasvind, ten einde sodoende druk op die SA regering uit te oefen om op te tree ter oplossing van die krisis. Die skakeltoer word in die komende week in New York voortgesit, met fokus op veral die media in die VSA.

Karoo Diesel as ‘n dieseldepot vir grootmaatverbruikers is pas geopen langs die R369, ongeveer 20 km vanaf Orania oppad na Vanderkloof, Petrusville en Luckhoff. Grootmaat aankope kan by die depot gedoen word, terwyl grootmaat aflewerings ook vir kliënte by hul persele gedoen word.

By die depot kan langafstandtrokke oornag met 24/7 sekuriteit – gratis vir trokke wat hervul. ʼn Kiosk met wegneemkos en ablusiegeriewe is ook by die depot beskikbaar.

Vir meer inligting skakel Nico van Aswegen by 079 482 9107.

  • Johan Terblanché, Christ Alone Ministries

In Markus sien ons 'n blinde man wat na uitroep na Jesus.  Jesus vra hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Die blinde man antwoord: “Dat ek mag sien.” En Jesus sê vir hom: “Gaan, jou geloof het jou gered.” En dadelik het hy gesien en Jesus op die pad gevolg. (Markus 10: 46-52)

Johannes 5: 5-9 vertel van 'n man wat 38 jaar lank by die bad van Bethesda gewag het om gesond te word. Jesus het hom gevra: "Wil jy gesond word?” Jesus sê toe vir hom: “Staan op, neem jou bed op en loop.”  En dadelik het die man gesond geword en sy bed opgeneem en geloop.

Ek sien steeds talle mense wat in blindheid voortploeter. Hulle val en struikel oor hul eie voete omdat hulle fisies of geestelik siek is, terwyl ander steeds lê en wag op ‘n wonderwerk.

Vandag vra die Here: "Wat wil jy hê ek moet vir jou doen? Wil jy gesond word?"  Die vrae blyk oppervlakkig en alledaags te wees, maar in werklikheid is die Here Jesus Christus ernstig. Trouens, die vrae behoort soos volg gelees te word: “Wat wil jy regtig hê ek moet ek vir jou doen? Wil jy regtig gesond word?"

Wel, as ons regtig wil, moet ons regtig begin glo in Jesus Christus en sy vermoë om te red, te verlos en te genees. Ons moet ophou om na die vyand te luister, wat twyfel, vrees en ongeloof saai.

Matteus 21:22: "Alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo."

As jy glo? As jy glo in wat? Dikwels glo ons dat die Here sekere dinge kan doen of ons die begeertes van ons harte kan gee, terwyl ons nie glo in wie Jesus is nie.

Sodra ons kan glo dat Jesus Christus die Seun van God is, die Alfa en die Oméga, die Een wat was en is en wat kom, die weg, die waarheid en die lewe, wat genade bewys en selfs die onaantasbare aanraak, dan het ons geloof - ware geloof.

Dan kan ons sê: "Ja, Here, ek wil regtig gesond word.”

Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane is Maandag geroskam in Pretoria se Hooggeregshof nadat daar bevind is dat sy haar plig versuim het om die Guptas se Estina-suiwelprojek by Vrede in Vrystaat behoorlik te ondersoek. Daar is onder meer bevind dat haar verslag oor die projek ongrondwetlik en ongeldig is. Die DA glo dat Mkhwebane se ondersoekende verslag ʼn toesmeerdery is, omdat politici wat daarby betrek is nooit uitgevra is oor hulle betrokkenheid en dus meer noukeurige ondersoek vrygespring het.

Mkhwebane het geen bevindings in haar verslag gemaak oor die rol van die vorige Vrystaatse premier, Ace Magashule, en die destydse LUR vir landbou, Mosebenzi Zwane, omrede dit nie deel van haar ondersoek uitgemaak het nie. Minstens R200 miljoen se staatsgeld, wat geoormerk was vir die ontwikkeling van opkomende swart boere in die Vrede-omgewing, is na Estina gekanaliseer, wat verbind word met die omstrede Gupta-familie. Van dié geld is glo selfs gebruik om in 2013 vir ʼn weelderige Gupta-troue van ongeveer R30 miljoen by Sun City te betaal.

Dit is die tweede keer dat ’n verslag van Mkhwebane verwerp word ná haar ondersoek na die reddingsboei vir die destydse Bankorp, wat later deur Absa gekoop is, ook nie aanvaar is nie. Dit is egter haar bedenklike Estina-verslag wat opposisiepartye laat aandring op die bedanking van Mkhwebane as Openbare Beskermer.

Op 19 Desember 2018 het die Algemene Vergadering van die VN die Global Compact for Safe, Orderly and Regular Migration aanvaar waardeur migrasie dwarsoor die wêreld dramaties vergemaklik kan word. Dit volg op ʼn reeks vooraf vergaderings en ooreenkomste.

Die resolusie van 19 Desember 2018 is aanvaar met 152 lande ten gunste, 5 daarteen, 12 buite stemming en 24 wat nie gestem het nie, Suid-Afrika het, soos verwag, daarvoor gestem.

Die volgende lande is op een of ander wyse nie ten gunste van die Pakt nie: Oostenryk, Australië, Bulgarye, Chili, Tsjeggiese Republiek, Dominikaanse Republiek, Estland,, Hongarye, Italië, Israel, Letland, Pole, Slowakye, Switserland en die VSA. Dan is daar ook lande waar daar intern tweespalt oor die Pakt is, soos Denemarke, Finland, ens.

Hierdie Globale Pakt vir Migrasie kan die lande wat dit onderteken, se onafhanklikheid, vryheid en identiteit in gedrang bring. Dit kan beteken dat grensbeheer effektief wegval en dat ‘n geweldige instroming van Derde Wêreldse elemente na ontwikkelde lande plaasvind – wêreldwyd het 750 miljoen mense aangetoon dat hulle graag “permanent” sal wil emigreer. Die VN beskou hierdie emigrasie as “onvermydelik, wenslik en noodsaaklik”.

Daar is egter ook lande wat die Migrasie Pakt teenstaan en reken dat die toestroming van meestal kwalik-geletterde en onopgeleide immigrante beswaarlik waarde kan toevoeg tot die ontwikkelde lande wat hulle in die visier het. Desondanks wil dit voorkom asof die globaliseringsgedagte reeds sό polities korrek geword het dat lande soos Brittanje, Ierland, Duitsland en Kanada, om enkeles te noem, bereid is om hul bevolkings op die altaar te plaas ter wille van globalisme.

Om die verborge agenda van die Pakt te verstaan, moet daarop gelet word dat in die formulering daarvan alle vorme van kritiek op die stelsel onwettig verklaar word, asook dat alle vorme van “diskriminasie” teen die immigrante uitgeskakel moet word, insluitende “haatspraak”. Die immigrante teen wie “gediskrimineer” word, moet boonop deur die gasheerlande van mediese- , regs- en psigo-maatskaplike hulp voorsien word.

Hoe raak dit Suid-Afrika? Gegewe die miljoene onwettige immigrante wat reeds in die land is, kan verwag word dat die regering die deure wyer sal wil oopgooi. Min van hierdie aankomelinge is kundig genoeg of opgelei om ‘n daadwerklike bydrae tot die land te maak, terwyl hul inskakeling by die belastingstelsel van die land ernstig bevraagteken word.

Waar laat dit die Boere-Afrikaner? Nie in ‘n gunstige posisie nie, om dit sag te stel. Nόg meer institusionele diskriminasie en toenemende “white privilege” marginalisering kan verwag word.

Daarom lyk selfbeskikking in volle konsekwensie die enigste volhoubare opsie en oplossing. Tesame daarmee is dit voor die handliggend dat die Boere-Afrikaner aansluiting vind by nasionalistiesgesinde lande en partye wat nie deur die globalisme van die Nuwe Wêreldorde (NWO) ingesluk en verorber wil word nie.

Te midde van 'n landbousektor in die land in krisis vanweë plaasmoorde, droogtes, vyandige regering, dreigende grondgryp en swak algemene ekonomiese groeikoers, het die 2019 Nampo Oesdag bewys hoe innoverend, veerkragtig en toegewyd die SA boerderysektor is. ’n Rekordgetal van sowat 85 000 besoekers het gedurende die vier dae 14-17 Mei deur die reuse ekspo beweeg, terwyl net op die eerste dag 48 helikopters en 192 vliegtuie op die aanloopbaan neergestryk het.

Die ekspo, wat jaarliks ​in Mei naby Bothaville in die Vrystaat gehou word, word beskou as een van die grootste privaatgeorganiseerde uitstallings in die wêreld en is die grootste landbou-, masjinerie- en veeskou in die Suidelike Halfrond. Die tema vanjaar was Platform vir jou landboutoekoms, met die fokus op samewerking, gesprekvoering en die gebruik van die beste toerusting.

Op hierdie massiewe uitstalgeleentheid word alles aangetref wat enigsins “plaas” is – vanaf monstertrekkers tot stoetvee en vanaf melktert tot boerepatente en nog veel meer. Die getal uitstallers het vanjaar toegeneem tot 775 teenoor verlede jaar se 746.

Vanjaar is Nampo se bywoning van mense wat per vliegtuig en helikopter besoek gebring het is meer as vorige jare en grondpersoneel moes bontstaan om lugverkeer te reël, daar het letterlik ’n gemiddeld van een vliegtuig of helikopter elke minuut op die aanloopbaan geland.

Volgens Danie Minnaar, voorsitter van Nampo Ooesdag, groei die ekspo jaarliks in gewildheid en bied dit 'n vertoonvenster waarop alle Suid-Afrikaners met reg trots kan wees.

Die beplande halfweghuis in Universitas, Bloemfontein, wat die nuwe tuiste vir 12 gevangenes op parool sou wees, is gestop nadat ontevrede inwoners ernstige beswaar aangeteken het. Meer as 300 inwoners van Universitas het verlede Woensdagaand by die huis in Scholtzstraat 17B byeengekom en eenstemmig by die DKD en die eienaar van die huis hul besware aangeteken.

Die Dept. van Korrektiewe Dienste (DKD) het alreeds ’n kontrak aangegaan met die huiseienaar Busisiwe Ntsele van Ruby Red Busi Holdings. Ingevolge die kontrak sou gerehabiliteerde gevangenes huisvesting ontvang vir ’n bepaalde tydperk sodat hul geïntegreer kan word in die gemeenskap. Ntsele het by navraag gesê sy is baie geskok oor die inwoners se negatiewe reaksie op die voorgenome sentrum.

Tjaart van der Walt, ’n DA-raadslid, sê daar was geen raadpleging met die gemeenskap voor die kontrak geteken was tussen die DKD en diensverskaffer Ruby Red nie, die regte proses is ook nie gevolg nie en die Mangaung Metro se grondgebruikaansoeke moet eers afgehandel wees alvorens die halfweghuis sy deure kan oopmaak.

André Grobler, GPF-voorsitter van dié sektor, sê misdaadbekamping in Universitas is reeds onder druk en onaanvaarbaar hoog. Talle inwoners is bekommerd omdat misdaadelemente veral studente en bejaardes teiken. Daarby is daar verskeie skole in die omgewing.

Henry Austen, prokureur van Ntsele, het intussen bevestig dat die projek opgeskort is en dat hulle nou na alternatiewe behuising kyk.

Die Geloftevolk Koördineringskomitee (GKK) het in samewerking met die Assosiasie en Koalisie vir die Herstel van die Boererepublieke (AKHBR) as regspersoon 'n aansoek by die Kaapstadse hooggeregshof ingedien om die regsgeldigheid te betwis van die besluit van die Parlement op 27 Februarie 2018 oor grondonteiening sonder vergoeding en wysiging van die Grondwet. Kennisgewing van die hofaansoek is deur die balju beteken op die Parlement en in ontvangs geneem. Die respondente is die voorsitters van onderskeidelik die Nasionale Vergadering, die Gesamentlike Grondwetlike Hersieningskomitee en die Nasionale Raad van Provinsies.

Die applikante verlang (a) ‘n bevel dat die redes van die respondente vir hul besluit van 27 Februarie 2018 om artikel 25 van die Grondwet te wysig, teenstrydig is met artikel 9 van die Grondwet en daarom ongrondwetlik verklaar moet word; (b) ‘n bevel om die besluit op te hef wat die respondente geneem het op 15 November 2018 om artikel 25 van die Grondwet te wysig; en (c) ‘n bevel dat die respondente in die toekoms dienooreenkomsig en in lyn met artikel 9 van die Grondwet handel wanneer hulle wysiging aan die Grondwet oorweeg.

Die aansoek berus basies daarop dat die redes wat die respondente gebruik het vir hul besluit om artikel 25 te wysig, neerkom op onbillike differensiasie tussen groepe en individue met gevolglike onregverdige diskriminasie. Dit is strydig met artikel 9 (gelykheidsbeginsel) van die Grondwet.

Die respondente het die aansoek geopponeer en moet hul beantwoordende verklaring ingedien word voor of op 24 Mei 2019. Vir meer besonderhede besoek www.boererepubliek.org.

Indien hierdie hofaansoek objektief verhoor word en suiwer op regstegniese meriete beoordeel word en dit slaag, kan dit beteken dat die hele Parlementêre proses oor grondonteiening soos sedert 27 Februarie, onregmatig verklaar word en dat dit van meet af weer, op die korrekte basis, aangepak moet word, indien die Parlement so sou wou.

Nasionale kragvoorsiener Eskom gaan na berig word einde vandeesmaand R15 miljard benodig om lopende koste te dek, waaronder R7 miljard vir infrastruktuur en R4 miljard vir salarisse - dít terwyl die staatsentiteit tans feitlik geen fondse in sy bankrekening het nie. Eskom wat al hoe meer geld moet leen om sy skuld te diens, gaan binne twee weke genoop wees om weer vir geld te moet soebat, meen die bedryfskenner Ted Blom.

Eskom het Vrydag in ’n verklaring op die JSE nuusdiens aangedui dat sy likiditeitsposisie einde April op R7.7 miljard te staan gekom het ná reddingsboei van R17,6 miljard deur die regering. Met ’n werkersmag wat bereken word op 48 600, benodig die instelling R4 miljard per maand vir salarisse, asook R7 miljard kapitale koste vir projekte en infrastruktuur, welke bedrag kan verhoog tot R10 miljard vir dieselverskaffers.

Hoof van krediet by Futuregrowth, Olga Constantatos, sê dit is nie duidelik of die R17,6 miljard van die regering al ontvang is nie, maar verduidelik dat die kragvoorsiener wil ideaalgesproke ’n likiditeitsposisie van R15 miljard tot R20 miljard handhaaf.

Vir ‘n naam vir die besigheid het Horison Motorfietse ‘n prys van R500 uitgeloof vir die beste voorstel en uit die talle wat ontvang is, was die eenparige besluit van die eienaars dat Horison Motorfietse die beste is. Die voorstel is ingedien deur Bennie Taljaard.

Op die foto oorhandig Gert van Coppenhagen van Horison Motorfietse die prys aan Taljaard, tesame met ‘n geraamde sertifikaat.

Foto: Ditsem Nuus

Die situasie waarin die NG Kerk tans is met dié dat besluite dat homoseksualisme aanvaarbaar is en dat dit selfs op die kansel toelaatbaar is, op die kerk afgedwing is deur 'n appélhofuitspraak, is vir baie behoudende lidmate onaanvaarbaar. Dit is natuurlik heel begryplik - ook onsself as NG lidmate beskou in ooreenstemming met die Bybel homoseksualisme as sonde.

Soos alle sonde moet dit bely word, is daar deur Christus vergifnis voor en is ook verlossing daarvan by Hom moontlik. Hieroor is die Bybel baie duidelik.

Diegene wat die homo-voorstel by die NG Kerk ingebring het – Fritz Gaum en sy seun Laurie tesame met ander - dwaal grootliks en dien as sodanig uitgewys te word. Die kerk behoort aan die Here en aan niemand anders nie en daarom kan onder geen omstandighede toegelaat word dat die kerk gekaap word nie.

Derhalwe moet gelowige lidmate wat kinderlik vashou aan die Bybel as die onfeilbare Woord van God-Drieënig, vasstaan in die kerk – en ook in die NG Kerk – en dit nie verlaat nie. In die kerkorde is die remedies voorgeskryf, soos tug en sensuur en dus sê ons: Staan vas en bestry tot oorwinning dit wat van die Bose is.

So ook is die besluit van die Moreletapark Gemeente in Pretoria, met meer as 20 000 lidmate, om bande met die NG Kerk op te skort, begryplik, maar is ons boodskap steeds dieselfde: Moenie toelaat dat die kerk gekaap word nie, staan vas en beveg, m.b.v. die almagtige Koning van die kerk, die Bose en sy dwalers.

 

Die Worsman wat onlangs as gespesialiseerde en toegewyde vleishandelaar in die Horison Nywerheidskorf, Orania, geopen het, het hul amptelike openingsviering op Saterdag I Junie 2019 by die winkel. Volgens eienaars Danie Strydom en sy dogter Verhona Coetzee gaan dit ‘n hele feestelike geleentheid wees met braaivleis, stalletjies, springkastelele en speletjies vir die kinders, ens.

Die publiek word genooi on die oggend vanaf 09:00 ‘n draai te maak en sommer die groot verskeidenheid gespesialiseerde produkte van Die Worsman te kom uittoets.

Danie kan geskakel word by 082 411 9917.

Gener8 Sustainable Energy Solutions, ʼn landswye franchisegroep met hoofkantoor te Witbank, bied franchise-geleenthede vir geskikte en ondernemende entrepreneurs in die Suid-Vrystaat en Bo-Karoo. Gener8 verskaf die volle reeks van produkte: Geisers, pompe, panele, kontroleerders, omsetters, kragopwekkers, UPS, windkragoplossings. energiebestuur, ens.

Maklike verpligtinge geld vir suksesvolle betroubare applikante, terwyl deeglike opleiding verskaf word. Winsdeling is moontlik van meet af.

Vir meer besonderhede skakel die eienaar Oscar Loreti 082 337 7068 / 013 692 5962

Volgens die Bemarkingskantoor van die Oorlogsmuseum word ʼn “Rockfees” op die terrein van die Oorlogsmuseum en Vrouemonument in Bloemfontein in Oktober vanjaar beplan ter 120ste herdenking van die uitbreek van die Anglo-Boere-oorlog. Hierdie fees word beplan in samewerking met die “Aasvoëlklub” in Bloemfontein.

Teen hierdie beplande fees teken die Front Nasionaal (FN) beswaar aan by die Vrouemonumentkommissie en sê in ‘n mediaverklaring o.a.: “Ons het volle begrip daarvoor dat dit belangrik is vir monumente en museums om alternatiewe planne te maak om voete te lok en die geskiedenis lewend te hou. Ons voel egter dat dit darem met die nodige respek gedoen behoort te word.

“Die oorlogswonde lê nog rou by baie van ons volksgenote. Dit is ‘n natuurlike proses by ‘n volk om, oor verloop van ʼn lang tyd, vrede te maak met die wonde wat hom toegedien is op die wyse waarop dit ons volk toegedien is. Die Vrouemonument is nie net ‘n monument nie. Dis ‘n laaste rusplek.

“Dis nie die plek of die geleentheid vir ‘n “Rockfees” met ‘n kontantkroeg nie. Dis nie aanvaarbaar om te sê: ‘Ja maar ons gaan kerse brand en ‘n minuut van stilte handhaaf om die 30 000 vroue en kinders in konsentrasiekampkerkhowe te herdenk… en daarna verkoop ons drank en rock ons’ nie.

Ons is ‘n beskaafde volk. ‘n Beskaafde volk huldig sy erfenis met respek, met deernis, met ootmoed en met waardigheid. Vir rockfeeste is daar sale en dansklubs en stadions die hele Vrystaat vol.”

Vir meer besonderhede oor hierdie aangeleentheid kan Daniël Lötter van FN gekontak word by 076 024 0333 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Bladsy 4 van 5
Go to top