► Pres. Cyril Ramaphosa vra nasionale dialoog oor moontlikheid om pensioenfondse in bankrot staatsondernemings te belê – “Ons finansiële bronne is uitgeput, terwyl ons ontwikkelingsbehoeftes enorm is” ► Vraag op sosiale media: Hoekom kry regering nie die miljarde staatsgeld wat gesteel is terug nie, maar wil nou die pensioengeld vat van mense wat hard gewerk het daarvoor en toegewyd gespaar het? ► Menseregtekommissie oorweeg stappe teen Ernst Roets van AfriForum oor vertoon van vorige landsvlag op sosiale media, word as “verdelend” beskou ► Petroljoggies landswyd dreig om volgende week te staak oor salarisse, eis verhoging van 12%, maar werkgewers bied slegs 5% ► Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, moes gister meer as R10 miljoen aan Eskom pensioenfonds terugbetaal as onwettig ontvang, maar nog geen teken daarvan nie ► Veldbrand wat versprei tot in St. Francisbaai verwoes 12 huise tot die grond toe ► Storm oor aanranding van blanke kleuters deur swart personeel by Myne Maatjies Dagsorg Sentrum in Randfontein, ouers woedend, drie persone gearresteer, MRK swyg soos graf ► Lastereis van oud-minister Derek Hanekom van R500 000 teen oud-pres. Jacob Zuma, vandag in hooggeregshof in Durban aangehoor, eis omdat Zuma Hanekom “apartheidspioen” genoem het ► Curriebekerreeks word hierdie naweek voortgesit, met slegs Griekwas wat verseker is van plek in halfeindstryd ►

Die KragDag Ekspo wat jaarliks in Augustus op die plaas Diamantvallei oos van Pretoria gehou word, met die datum vir vanjaar 8-10 Augustus, bied ’n vertoonvenster vir energie- en ander selfstandigheidsoplossings oor die samelewingspektrum. Dit sluit in entrepreneurskap in veelvuldige skakerings, ʼn opvoedkunde sub-ekspo en ’n volwaardige landbou-ekspo.


Dit alles word saamgevat onder die leuse Doen Jou Eie Ding! en staan in die teken van 'n vryword-lewe deur volhoubare en selfstandigheidsoplossings gekoppel aan doen-dit-self planne - alles wat jou terselfdertyd minder uitgelewer en afhanklik van ’n staatsbepaalde lewe maak. Hierin speel dinge soos hernubare en alternatiewe energie ʼn sentrale rol, maar daar word ook voorsiening gemaak vir ander aspekte wat ʼn lewe van selfbehoud en selfbeskik moontlik maak.


By KragDag word oplossings gevind vir die uitdagings van energie, water, veiligheid, gesondheid, voedselproduksie, opvoedkunde, verve, konstruksie en veel meer. Terselfdertyd word ʼn platform verskaf waar ondernemers en die publiek kan sinergiseer ten einde by nog beter konsepte uit te kom.


Die atmosfeer by KragDag is getooi in ‘n karnavalatmosfeer waarin lekker kuier deuretyd hoog op die agenda is.Tydens die ekspo is daar in die KragDag Raadsaal ook gratis lesings en paneelbesprekings deur bekendes en kenners, terwyl op die landbou-ekspoterrein o.l.v. TLU SA indringend aandag gegee word aan die velerlei aspekte van die boerderbedryf. Dit sluit 'n slaglamkompetisie en die Toyota Afslaers streekskampioenskappe in.


Aktiwiteite in die arena sluit in vertonings met perde en berede oorlogvoering, veerastentoonstellings, hommeltuigdemonstrasies en ’n grassnyerresies.


Samevattend kan by die KragDag Ekspo o.m. die volgende te wagte wees: 330 selfstandigheidstema uitstallers / 165 landbou-uitstallers / 30 opvoedkunde-uitstallers / 20 makerbeweging uitstallings / 50 junior entrepreneurs / ’n snuffelmark / massiewe verskeidenheid verversings / pretpark en vermaak wat enige iets insluit tussen ossewa- en helikopterritte.


KragDag is gebore uit ʼn beskeie private inisiatief en deur die jare het dit, gekenmerk deur Afrikaanse en Afrikanerkultuur, van krag tot krag gegroei tot ʼn gebeurtenis wat nie misgeloop moet word deur elkeen wat met geloof en persoonlike dryfkrag vorentoe wil gaan nie. Veral vir die Afrikaner wat toenemend uit die hoofstroom ekonomie gemarginaliseer word, bied KragDag ʼn uitmuntende geleentheid om hom- of haarself ten volle uit te leef.

Go to top