►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane is Maandag geroskam in Pretoria se Hooggeregshof nadat daar bevind is dat sy haar plig versuim het om die Guptas se Estina-suiwelprojek by Vrede in Vrystaat behoorlik te ondersoek. Daar is onder meer bevind dat haar verslag oor die projek ongrondwetlik en ongeldig is. Die DA glo dat Mkhwebane se ondersoekende verslag ʼn toesmeerdery is, omdat politici wat daarby betrek is nooit uitgevra is oor hulle betrokkenheid en dus meer noukeurige ondersoek vrygespring het.

Mkhwebane het geen bevindings in haar verslag gemaak oor die rol van die vorige Vrystaatse premier, Ace Magashule, en die destydse LUR vir landbou, Mosebenzi Zwane, omrede dit nie deel van haar ondersoek uitgemaak het nie. Minstens R200 miljoen se staatsgeld, wat geoormerk was vir die ontwikkeling van opkomende swart boere in die Vrede-omgewing, is na Estina gekanaliseer, wat verbind word met die omstrede Gupta-familie. Van dié geld is glo selfs gebruik om in 2013 vir ʼn weelderige Gupta-troue van ongeveer R30 miljoen by Sun City te betaal.

Dit is die tweede keer dat ’n verslag van Mkhwebane verwerp word ná haar ondersoek na die reddingsboei vir die destydse Bankorp, wat later deur Absa gekoop is, ook nie aanvaar is nie. Dit is egter haar bedenklike Estina-verslag wat opposisiepartye laat aandring op die bedanking van Mkhwebane as Openbare Beskermer.

Go to top