► Die koste van SA regering om sy skuld te diens het toegeneem van R89,4 miljard in 2012 tot R202,2 miljard in 2019, wat beteken dat tans meer geld bestee word om regeringskuld te diens, as wat in totaal in een jaar bestee word aan die polisiediens (R104,2 miljard), staatssekuriteit en weermag (R50 miljard) en howe en gevangenisse (R48,4 miljard) ► Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum (SFS) administreer tans meer as 240 studiefondse ter waarde van R164 miljoen, waardeur meer as 4 000 studente se studies moontlik gemaak word ► Volgens statistiek van TLU SA gister vrygestel, is 1 125 plaasaanvalle tussen 1990 en 1999 aangemeld, 1 407 plaasaanvalle in 2000 – 2009 (styging van 22%) en 2 616 plaasaanvalle vanaf 2010 – 2 019 (toename van 60%) ► Volgens pasvrygestelde syfers van TLU SA het 637 plaasmoorde vanaf 1990 tot 1999 plaasgevind, 799 plaasmoorde tussen 2000 tot 2009, terwyl 2010 tot 2019 die syfer afgeplat het na 586 plaasmoorde ► In mediaverklaring wys VF Plus daarop dat in SA R8 uit elke R10 wat deur die staat bestee word vir salarisse gaan; salarisrekening van staat beloop R587 miljard per jaar; “staatsdiens is werkskeppingsagentskap vir ANC-kaders” ► Verslag van Transparency International getiteld Global Corruption Barometer (GCB) gedoen ná ondersoek in 35 Afrika lande toon dat 59% van mense reken dat korrupsie toeneem, terwyl in Suid-Afrika 70% van mense meen dat korrupsie toeneem ► Verslag van Transparancy International toon ook dat een uit vier mense in Afrika wat verlede jaar van openbare dienste gebruik gemaak het, omkoopgeld moes betaal het ► Kabinet gee goedkeuring dat wetsontwerp oor Nasionale Gesondheidsorgversekering (NGV) in Parlement te tafel gelê word; geen aanduiding van koste nie, maar vorige minister dr. Aaron Motsoaledi het geraai sowat R259 miljard ► Minister van Omgewingssake, Bosbou en Visserye Barbara Creecy sê in Parlement Suid-Afrika is een van die 30 vuilste en mees omgewingsbesoedelende lande ter wêreld ► Rowers kaap graafmasjien van 60 ton by sandmyn naby Hobhouse en ry daarmee deur Caledonrivier en verdwyn in Lesotho ► MetroRail onderneem tans slegs 40% van treinritte in voorstedelike gebiede as 4 jaar gelede ► Netbal Wêreldbekertoernooi begin vandag in Liverpool, Engeland, met Proteas agt blankes uit span van 12 wat kans gegun word om goud in te oes ►

Die Gauteng LUR vir Onderwys Panyaza Lesufi het met sy hatige en verbete anti-Afrikaanse en anti-Afrikaneraksies reeds vir homself 'n plek in die Afrikaner-geskiedenis verwerf as een van die mees gehate mense, op dieselfde vlak van 'n Alfred Milner. Die jongste verwikkelinge rondom hom word uitstekend soos volg saamgevat in 'n mediaverklaring van adv. Anton Alberts van die VF Plus:

“Die besluit van Gauteng premier David Makhura om Panyaza Lesufi terug te skuif na sy vorige portefeulje as LUR vir onderwys in dié provinsie, is ʼn klap in die gesig van minderhede, aangesien daar geen twyfel is nie dat hy sy vernietigingswerk met moedertaalonderrig en Afrikaans in besonder gaan voortsit.

“Lesufi het nog nooit ʼn geheim daarvan gemaak dat hy Afrikaans minag en Afrikaanse skole wil vernietig nie. In sy dienstyd as LUR het hy talle Afrikaanse skole laat transformeer na Engels en dit is kommerwekkend dat Makhura glo onder ‘openbare druk’ geswig het om die status quo met Lesufi te herstel.

“Lesufi se rekord getuig daarvan dat hy ʼn swak LUR was. Hy het nie genoeg skole gebou met sy toereikende begroting nie en gaan bloot aanhou met sy pogings om Afrikaanse skole te intimideer en te transformeer na Engels.

“Die Driehoek-tragedie het ook bewys dat hy nie omgee oor die onderhoud van skole se infrastruktuur nie. Sy enigste belang by dié skool en ander skole met onlangse inspeksies was om vas te stel hoe vol skole is en hoe plek gevind kon word vir bykomende leerders wat nie Afrikaanssprekend is nie.

“Dit is hoogs problematies dat ʼn persoon, wat aandadigheid moet aanvaar vir die tragedie, weer in beheer geplaas gaan word van ʼn omgewing waar kinders se veiligheid aan sy nalatige optrede oorgelaat gaan word. Die VF Plus onderneem om Lesufi aggressief teen te staan en te sorg dat hy sy mandaat op ʼn nie-diskriminerende grondslag uitvoer ingevolge die Grondwet, wat wel die beskerming van moedertaalonderrig waarborg. Druk sal ook op hom geplaas word om moedertaalonderrig en Afrikaans te beskerm, om meer skole te bou, om te sorg dat infrastruktuur onderhou word en dat gemeenskappe nie teen mekaar afgespeel word met onderwys as politieke speelbal nie, ” aldus Alberts.

Christelike Afrikaanse onderwys is onder beleg a.g.v. verskeie daadwerklike bedreigings, waarvan veral twee van aardskuddende belang is, nl., eerstens, die beoogde invoer van Comprehensive Sexual Education (CSE) in SA staatskole vanaf volgende jaar en, tweedens, implementering van die aanlynregistrasiestelsel in Gauteng vir alle nuwe skolierapplikante.

Die aanlynregistrasiestelsel bring mee dat o.a. nuwe Afrikaanssprekende skolierapplikante nie meer kan gaan na die Afrikaanse skool van hul voorkeur nie, maar moet inskryf by die skool vir hulle aangewys. Terselfdertyd kan Afrikaanse skole verplig word om watter taalsprekende skolier ookal na hulle verwys word, in te neem, of hulle nou plek het of nie.

Hierdie beleid is die produk van die veldtog wat uitgesproke anti-Afrikaanse aktivis en LUR vir Onderwys in Gauteng Panyaza Lesufi al vir jare teen Afrikaanse skole voer. Dit kan enorme implikasies hê vir Afrikaanse skole landswyd, sou die stelsel so uitgebrei word. Daar is 23 719 staatskole in SA, waarvan 1 279 enkelmedium Afrikaans is oftewel 5%, maar steeds moet in Gauteng van hulle gedwing word om andertalige aansoeke te akkommodeer

Aan die ander kant kan diaboliese CSE, soos dit uiteengesit is in die voorbladartikel van hierdie uitgawe, eenvoudig verwoestend wees op die psige van jong kinders. Woorde kan kwalik die vernietigende gevolge beskryf van voortydige blootstelling van onontwikkelde kinders aan seksuele wanpraktyke deur persone met bose agendas.

Albei hierdie verwikkelinge het dus implikasies van waarskynlik die doodsklok vir Christelike Afrikaanse onderwys en derhalwe poog Ditsem Nuus om maksimale teenaksie te mobiliseer in sowel die gedrukte uitgawe van die koerant as op sy digitale platforms. In hierdie uitgawe val die klem op die stop van CSE, met in hierdie rubriek drie onderwysinstansies wat hiertoe met spesifieke insette hul steun toesê.

Met die jongste weergawe van die Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale wat tans voor die Parlement dien, het Afrikaans, wat tans op verskillende fronte aanslae moet verduur, voor sy grootste uitdaging nog te staan te kom.

Die wetsontwerp in sy huidige formaat bepaal dat nasionale staatsdepartemente drie tale moet gebruik, waarvan twee sg. voorheen-benadeelde Afrikatale moet wees. Dit beteken dat staatsdepartemente moet kies tussen Afrikaans en Engels om naas twee “benadeelde Afrikatale” te gebruik om dienste aan die publiek te lewer. Dit sluit o.a. in kommunikasie met die publiek, amptelike kennisgewings, staatspublikasies en kommunikasie binne en tussen departemente.

In gevolge hierdie voorneme tel Afrikaans saam met Engels onder die tale wat “voorheen bevoordeel” is.

In die oorgangsgrondwet van 1994 is bepaal dat die posisie van geen taal swakker mag wees as wat dit tevore was nie, maar hierdie bepaling is nie in die Grondwet van die RSA van 1996 opgeneem nie. Artikel (6)1 van die Grondwet stipuleer: “Die amptelike tale van die Republiek is Sepedi, Sesotho, Setswana, siSwati, Tshivenda, Xitsonga, Afrikaans, Engels, isiNdebele, isiXhosa en isiZulu.

Dit is dus duidelik dat die wetsontwerp wat tans dien, ongrondwetlik is, want dit neem regte van burgers van die land weg. Afrikaans is 'n amptelike taal en moet as sodanig konsekwent erken word, ook in alle staatskommunikasie.

Nietemin vorm hierdie wetsontwerp 'n uiters gevaarlike stap in 'n groter patroon om Afrikaans op elke moontlike wyse te ondermyn. Dit sluit o.a. in Afrikaanse onderrig op skool, waar die Afrikaans-mediumskole die afgelope 18 jaar met bykans 80% gekrimp het.

Op universiteitsvlak is daar nie meer 'n enkele enkelmedium Afrikaanse universiteit oor nie en is Afrikaanssprekende studente by bestaande universiteite genoodsaak om dele van hul kursusse in Engels te loop. Van die sowat 10 Afrikaanse technikons en 150 Afrikaanse beroepskolleges wat voor 1990 bestaan het, het daar nie 'n enkele Afrikaanse technikon of Afrikaanse enkelmediumkollege oorgebly nie..

Op die programme van die “SABC” as openbare uitsaaier word Afrikaans erg afgeskeep.

Nog 'n ernstige gevaarlig wat tans flikker, is die uitspraak van die Suid-Gautengse hooggeregshof einde verlede jaar dat 'n provinsiale onderwysdepartement die mag het om te besluit oor die getal leerlinge by 'n openbare skool en dat hierdie mag nie by die beheerliggaam van die skool lê nie. Dit kan beteken dat skoolbeheerrade verplig is om Engelssprekende leerlinge toe te laat al is dit 'n Afrikaans-medium skool wat getallegewys selfs nie meer plek het nie.

Teenoor hierdie bedreigde situasie staan die volgende feite soos 'n paal bo water:

Afrikaans is 'n 100% Afrikataal want dit is op hierdie vasteland waar dit gebore en getoë is en tot volwassenheid gekom het.

In terme van literêre vereistes is Afrikaans met sy uitdrukkingsvermoë, wetenskaplike dokumentering en kulturele prestasies 'n taal van wêreldgehalte is.

Die literêre standaard en prestasies van Afrikaans staan kop en skouers uit bo die ander amptelike inheemse tale van SA, Engels uitgesluit maar vergelykbaar daarmee.

Daar is sowat 6,2 miljoen Suid Afrikaners met Afrikaans as moedertaal, terwyl daar aansienlike groepe Afrikaanstaliges is in lande soos Namibië, die Verenigde Koninkryk, Australië en selfs lande soos Nieu-Seeland, Botswana ens.

Matriekuitslae bevestig jaar na jaar dat leerders wat moedertaalonderrig ontvang, beter vaar as diegene wat hulle onderrig in ’n tweede of derde taal ontvang. Dit word grootliks gereflekteer in die matriekuitslae van Afrikaans-mediumskole relatief tot skole waar leerlinge nie in hul moedertaal onderrig word nie.

Volgens amptelike mediasyfers is Afrikaanssprekendes verantwoordelik vir 24% van die totale persoonlike inkomste in SA – dus 'n kwart van die mark.

Afrikaans het 'n sleutelrol gespeel in die ontwikkeling van SA die afgelope 100 jaar tot die voorste ekonomiese, politieke, maatskaplike en tegnologiese land op die vasteland van Afrika.

Teen hierdie agtergrond vra die geweldige uitdaging wat tans in die gesig gestaar word, van elkeen wat trots is op Afrikaans as sy of haar moedertaal, om op te staan en te doen wat binne sy of haar vermoë is om Afrikaans te bevorder, suiwer te hou en te sorg dat dit sy amptelike status volwaardig in die land behou – want, doodkry is min!

Ondanks al die diskriminasie teen Afrikaans as taal en die pogings van die regering en ander owerhede om Afrikaans om elke hoek en draai in te kort of af te sny, styg Afrikaans ver uit bokant enige ander taal in die land insluitende Engels. So is die meeste boeke wat in SA verkoop word, in Afrikaans en floreer die Afrikaanse uitgewersbedryf; die Afrikaans sprekende samelewing in samewerking met rolspelers in die skoolstelsel is besig om primêre en sekondêre onderwys in Afrikaans uit te bou; die Afrikaanse universiteitswese word in die private sektor weer van onder af opgebou.; die Afrikaanse media aan die regse spektrum wen al meer veld; en aanhoudend sien die een na die ander Afrikaanse film die lig.

Afrikaans is dus steeds besig om as ʼn lewenskragtige taal in gehalte van wêreldklas van krag tot krag te gaan en bewys daagliks dat dit tops is.

Go to top