► Pres. Cyril Ramaphosa vra nasionale dialoog oor moontlikheid om pensioenfondse in bankrot staatsondernemings te belê – “Ons finansiële bronne is uitgeput, terwyl ons ontwikkelingsbehoeftes enorm is” ► Vraag op sosiale media: Hoekom kry regering nie die miljarde staatsgeld wat gesteel is terug nie, maar wil nou die pensioengeld vat van mense wat hard gewerk het daarvoor en toegewyd gespaar het? ► Menseregtekommissie oorweeg stappe teen Ernst Roets van AfriForum oor vertoon van vorige landsvlag op sosiale media, word as “verdelend” beskou ► Petroljoggies landswyd dreig om volgende week te staak oor salarisse, eis verhoging van 12%, maar werkgewers bied slegs 5% ► Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, moes gister meer as R10 miljoen aan Eskom pensioenfonds terugbetaal as onwettig ontvang, maar nog geen teken daarvan nie ► Veldbrand wat versprei tot in St. Francisbaai verwoes 12 huise tot die grond toe ► Storm oor aanranding van blanke kleuters deur swart personeel by Myne Maatjies Dagsorg Sentrum in Randfontein, ouers woedend, drie persone gearresteer, MRK swyg soos graf ► Lastereis van oud-minister Derek Hanekom van R500 000 teen oud-pres. Jacob Zuma, vandag in hooggeregshof in Durban aangehoor, eis omdat Zuma Hanekom “apartheidspioen” genoem het ► Curriebekerreeks word hierdie naweek voortgesit, met slegs Griekwas wat verseker is van plek in halfeindstryd ►

Die Gauteng LUR vir Onderwys Panyaza Lesufi het met sy hatige en verbete anti-Afrikaanse en anti-Afrikaneraksies reeds vir homself 'n plek in die Afrikaner-geskiedenis verwerf as een van die mees gehate mense, op dieselfde vlak van 'n Alfred Milner. Die jongste verwikkelinge rondom hom word uitstekend soos volg saamgevat in 'n mediaverklaring van adv. Anton Alberts van die VF Plus:

“Die besluit van Gauteng premier David Makhura om Panyaza Lesufi terug te skuif na sy vorige portefeulje as LUR vir onderwys in dié provinsie, is ʼn klap in die gesig van minderhede, aangesien daar geen twyfel is nie dat hy sy vernietigingswerk met moedertaalonderrig en Afrikaans in besonder gaan voortsit.

“Lesufi het nog nooit ʼn geheim daarvan gemaak dat hy Afrikaans minag en Afrikaanse skole wil vernietig nie. In sy dienstyd as LUR het hy talle Afrikaanse skole laat transformeer na Engels en dit is kommerwekkend dat Makhura glo onder ‘openbare druk’ geswig het om die status quo met Lesufi te herstel.

“Lesufi se rekord getuig daarvan dat hy ʼn swak LUR was. Hy het nie genoeg skole gebou met sy toereikende begroting nie en gaan bloot aanhou met sy pogings om Afrikaanse skole te intimideer en te transformeer na Engels.

“Die Driehoek-tragedie het ook bewys dat hy nie omgee oor die onderhoud van skole se infrastruktuur nie. Sy enigste belang by dié skool en ander skole met onlangse inspeksies was om vas te stel hoe vol skole is en hoe plek gevind kon word vir bykomende leerders wat nie Afrikaanssprekend is nie.

“Dit is hoogs problematies dat ʼn persoon, wat aandadigheid moet aanvaar vir die tragedie, weer in beheer geplaas gaan word van ʼn omgewing waar kinders se veiligheid aan sy nalatige optrede oorgelaat gaan word. Die VF Plus onderneem om Lesufi aggressief teen te staan en te sorg dat hy sy mandaat op ʼn nie-diskriminerende grondslag uitvoer ingevolge die Grondwet, wat wel die beskerming van moedertaalonderrig waarborg. Druk sal ook op hom geplaas word om moedertaalonderrig en Afrikaans te beskerm, om meer skole te bou, om te sorg dat infrastruktuur onderhou word en dat gemeenskappe nie teen mekaar afgespeel word met onderwys as politieke speelbal nie, ” aldus Alberts.

Christelike Afrikaanse onderwys is onder beleg a.g.v. verskeie daadwerklike bedreigings, waarvan veral twee van aardskuddende belang is, nl., eerstens, die beoogde invoer van Comprehensive Sexual Education (CSE) in SA staatskole vanaf volgende jaar en, tweedens, implementering van die aanlynregistrasiestelsel in Gauteng vir alle nuwe skolierapplikante.

Die aanlynregistrasiestelsel bring mee dat o.a. nuwe Afrikaanssprekende skolierapplikante nie meer kan gaan na die Afrikaanse skool van hul voorkeur nie, maar moet inskryf by die skool vir hulle aangewys. Terselfdertyd kan Afrikaanse skole verplig word om watter taalsprekende skolier ookal na hulle verwys word, in te neem, of hulle nou plek het of nie.

Hierdie beleid is die produk van die veldtog wat uitgesproke anti-Afrikaanse aktivis en LUR vir Onderwys in Gauteng Panyaza Lesufi al vir jare teen Afrikaanse skole voer. Dit kan enorme implikasies hê vir Afrikaanse skole landswyd, sou die stelsel so uitgebrei word. Daar is 23 719 staatskole in SA, waarvan 1 279 enkelmedium Afrikaans is oftewel 5%, maar steeds moet in Gauteng van hulle gedwing word om andertalige aansoeke te akkommodeer

Aan die ander kant kan diaboliese CSE, soos dit uiteengesit is in die voorbladartikel van hierdie uitgawe, eenvoudig verwoestend wees op die psige van jong kinders. Woorde kan kwalik die vernietigende gevolge beskryf van voortydige blootstelling van onontwikkelde kinders aan seksuele wanpraktyke deur persone met bose agendas.

Albei hierdie verwikkelinge het dus implikasies van waarskynlik die doodsklok vir Christelike Afrikaanse onderwys en derhalwe poog Ditsem Nuus om maksimale teenaksie te mobiliseer in sowel die gedrukte uitgawe van die koerant as op sy digitale platforms. In hierdie uitgawe val die klem op die stop van CSE, met in hierdie rubriek drie onderwysinstansies wat hiertoe met spesifieke insette hul steun toesê.

Die nuwe regulasies van die Gautengse Onderwysdepartement  wat bepaal waar leerlinge aanstaande jaar d.m.v. ʼn aanlynproses geplaas kan word ongeag taal of voorkeur, was duidelik ʼn poging deur LUR Panyaza Lesufi, bekende anti-Afrikaanse aktivis, om Afrikaanse skole in die provinsie nek om te draai. Die nuwe regulasies vir die inskrywing van leerders vir aanstaande jaar, geskeduleer om op 13 Mei te geopen het, stel taal glad nie meer as ʼn vereiste oor waar kinders ingeskryf mag word nie.

Die vereistes wat nou voorop gestel word, is o.m. die skool naaste aan die woonplek van die leerders en of daar reeds in 'n skool familielede van die leerders is wat aansoek doen. Die aanlynproses is anoniem en leerders wat aansoek doen, moet eenvoudig die uitslag van hul aansoek sonder voorbehoud aanvaar.

Leerders kan dus nie meer aansoek by 'n spesifieke skool doen nie, terwyl 'n skool gedwing kan word om voorsiening te maak vir onderrig in die taal van keuse van die nuwe leerders. Of daar plek in 'n skool is, sal ook nie meer noodwendig as 'n rede vir weiering kan geld nie.

Die VF Plus sê tereg in ʼn mediaverklaring: “Taal is nie meer ter sprake nie, en die voorskrifte is volgens die VF Plus ongrondwetlik aangesien dit enkelmediumskole duidelik sal dwing om leerders van ander tale te akkommodeer. Die geldigheid van hierdie regulasies sal in ʼn hof getoets moet word, aangesien dit geen ruimte laat vir enkelmedium-moedertaalonderrig nie.”

Die nuwe aansoekstelsel kan dus hoogs nadelig wees vir tradisionele Afrikaanse skole. Die wortel van die probleem is ooglopend tweeledig: Aan die een kant, het die Gautengse Dept. van Onderwys gefaal om genoeg nuwe skole en klaskamers te bou vir die ontploffende getalle leerders en nou word, in die tweede plek, die bal aangegee na hoogsfunksionele Afrikaanse skole om hoofsaaklik swart nuwe leerders te akkommodeer.

Weens 'n agterstand in instandhouding moet skole in Gauteng, soos ook in die res van die land, handel met verouderde en verslegtende skoolinfrastruktuur. Daarvan is die Driehoek-brugtragedie vroeër vanjaar in Vanderbijlpark sprekende 'n voorbeeld en ten opsigte waarvan Lesufi en sy departement strafregtelike aanklagte in die gesig staar.

Die Gauteng onderwysdepartement begroot jaarliks R1 miljard vir die opknapping en opgradering van openbare skole, maar die behoefte in hierdie verband in terme van geldwaarde, beloop alreeds ʼn massiewe R5 miljard. Volgens 'n ondersoek deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) is daar jaarliks ’n toename van ongeveer 85 000 leerders in Gauteng , wat huidig 'n tekort van 142 nuwe skole meebring, waaronder 85 primêr en 57 sekondêr.

Hoe dit ook al sy, AfriForum en Fedsas het gesamentlik ernstig beswaar gemaak teen die nuwe aanlynregistrasiebeleid en dreig om dit hoftoe te neem, waarop Lesufi gedeeltelik toegegee het en die opening van die aanlynproses met 'n week uitgestel het. Vanoggend 20 Mei 2019 om 08:00 is die aanlynstelsel egter in werking gestel en het reeds meer as 250 000 Gr. 1 en Gr. 8 aansoeke plaasgevind.

Inmiddels het Lesufi gespog dat hy sy ideaal verwesenlik het “deur alle voor-1994 spore van apartheidskole uit te wis en dat dit nou net geïntegreerde en gelykgemaakte onderwys is wat geld.” Daarmee is moontlik die doodskoot gegee vir eens trotse Afrikaanse skole.

In nasionale verband kan volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge minstens 75% van skole in SA as wanfunksioneel beskou word en tot 80% van graad 4’s as funksioneel ongeletterd. Daar is wetenskaplik bevind dat ʼn meerderheid kinders uit SA staatskole nie op die vereiste opvoedkundige vlak is vir hul graad of ouderdom nie en dat dit hulle swak voorbereid laat vir tersiêre studie en die werksplek.

Die nuwe stelsel en beleid in Gauteng laat die rooiligte flikker vir onderwysowerhede in die res van die land, veral wat betref die voortbestaan van Afrikaanse skole. Derhalwe behoort sulke onregmatige en rampspoedige beleidsrigtings in die kiem gesmoor te word voordat onberekenbare skade aangerig word.

Go to top