► Volgens SA in Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) toon jongste misdaadstatistiek vir SAPD tesame met vorige statistiek dat sedert 1994 in SA sowat 500 000 moorde gepleeg is en 1 miljoen verkragtings ► Prof. Rudolph Zinn van Unisa sê uit navorsing blyk dit dat van die misdadigers voer tot 107 misdrywe uit voordat hulle gearresteer word ► Solidariteit Netwerk loods nuwe Sol-Tech kampus in Pretoria teen koste van R300 miljoen, sal huidige kampus vir 1 200 studente verdubbel en sal na verwagting deure open in Januarie 2021 ► Kyk by hierdie video hoe top bevelvoerders van SA Vloot en Lugmag in Parlement getuig hoe vloot en lugmag op rand van ineenstorting is ► Vrou (55) in Oos-Vrystaat gisteraand terwyl sy gebad op ‘n plaas aangeval en verkrag, aanvaller vlug en niks gesteel nie ► Op die Economic Freedom of the World (EFW) 2019 verslag val Suid-Afrika 54 plekke na nr. 101 uit 162 lande, vanaf plek 47 in 2000 – volg hierdie skakel vir meer inligting ►Dit lyk of Britse premier Boris Johnson ‘n deurbraak met Brexit kan maak na ooreenkoms oor grensbeheer met Ierse Democratic Unionist Party (DUP) ► Voormalige Bok-afrigter Peter de Villiers sê hy gaan nie Springbokke vanjaar by Wêreldbeker ondersteun nie, omrede vroeëre betrokkenheid van Eben Etzebeth by onderonsie met twee bruin mense in Langebaan ►

 Omdat Ditsem Nuus hierdie inligting as hoogs relevant vir die Afrikaner van vandag beskou, word hierdie verkorte artikel deur die FAK gepubliseer.

Vanjaar is die 120ste herdenking van die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. Lord Roberts se proklamasie van die verskroeide aardebeleid op 16 Junie 1900 verteenwoordig ‘n tragiese wending wat vir geslagte daarna Suid-Afrikaanse geskiedenis op een of ander wyse sou beïnvloed. Roberts se opdrag was duidelik. Plase moet afgebrand en dorpe ontruim word. Huise en veestapels moet sistematies vernietig word.

Die burgerlike bevolking moet met treintrokke, ossewa of per voet na konsentrasiekampe weggevoer word. As die Britte nie die Boerekrygers in die veld kan oorwin nie, sal hulle deur middel van vroue en kinders se lyding hulle moed breek en tot oorgawe dwing.

Die gevolg van die onmenslike beleid was die dood van meer as 22 000 kinders. Afrikaners kon na die oorlog die heldedade van De la Rey en De Wet besing, droogte, winterkoue, armoede en swaarkry verduur, die verlies van die Republieke verwerk, maar skaars oor die dood van hulle kinders praat. Die seer was te diep en te groot. Vir geslagte koester Afrikaners die nagedagtenis van hierdie konsentrasiekampkinders

Daar is ook ’n ander verhaal. Die verhaal van kinders wat die oorlog oorleef het. Kinders behoort in hulle vormingsjare geluk, geborgenheid en stabiliteit in ouerhuise en ondersteunende gemeenskap te ervaar. Vir die geslag kinders was dit nie beskore nie. Die verskroeide aarde het gesinne uit mekaar geskeur, gemeenskappe vernietig en kinders van jongs af met trauma gekonfronteer. Afrikaners skryf graag oor die oorlog, maar min oor die jare na die oorlog. Oor die groot terugkeer. Die land het getreur. Die landskappe was op baie plekke van horison tot horison tot as verbrand. Veekrale was stil. Groot- en kleinwild is uitgeskiet deur honger soldate en bittereinders. Kerkgeboue verniel. Dorpe en infrastruktuur vernietig. Brûe en treinspore opgeblaas. Die winter van 1902 was die koudste sedert temperature opgeteken is. In die somer het reën weggebly. ’n Witwarm droogte het die verskroeide aarde tot ’n harde kors drooggebak. ’n Sprinkaanplaag het die laaste groen weggevreet.

Dit het maande geneem voor die oorlewendes met hulle gesinne herenig is. Sommige is nooit herenig nie. In sommige gevalle is die weeskinders weggegee aan enige een wat hulle oor die kind wou ontferm. Dit het onuitwisbare emosionele letsels gelaat.

Was Jan F Celliers se graf in die gras en vallende traan al wat vir Afrikaners na 16 Junie 1900 oorgebly het? Op die oog af, ja, maar wie gedink het dit is onmoontlik om die land te herbou, het nie rekening gehou met die kinders van die land nie.

Die land het kinders oor dekades geleer van moed en deursettingsvermoë. Van selfverdediging en bouwerk. Van swaarkry en opstaan. Hulle was immers die kleinkinders en agterkleinkinders van die Groot Trek-geslag wat skaars ses dekades vantevore die Kaapkolonie verlaat het.

Diegene wat die oorlog oorleef het, het nie in die sinkgat van slagofferskap verval nie. Hulle het nie bakhand by Milner vir aalmoese gepleit of die bedelstaf by koning Edward opgeneem nie. Geloof het gehelp dat die meeste van hulle nie in bitterheid en haat verval nie.

Die oorwonne Afrikaners was ook nie slawe van die oorwinnaars nie. Dit is waar dat sommige Afrikaners na die oorlog hulself tot ‘loyal British subjects’ getransformeer het deur die identiteit, taal en idioom van die veroweraars gedwee te internaliseer. Verreweg die meeste Afrikaners het egter nie hierby ingeval nie.

Die na-oorlogse geslag was nie slagoffers of slawe nie, maar bouers. Brandarm ouers het CNO-skole in plaasskure, stalle en onder bome gevestig. Hulle kinders het verder gebou. Universiteite. Skeppende kultuurorganisasies. Nuwe infrastruktuur is ontwikkel en landerye aangelê. Ou dorpe is herbou en nuwe dorpe se grense vasgestel.

Die kinders het met gedigte, kompetisies en toneelstukke die woordeskat van ’n nuwe taal uit Afrika ontwikkel. Met sikspense en pennies, pannekoekverkopings en konserte het hulle monumente gebou. Die Bybel is in Afrikaans vertaal en so is in geloof die een baken na die ander opgerig.

Ons moet vir altyd die kinders wat gesterf het in herinnering roep en hulle nagedagtenis eer. Terselfdertyd moet die bouwerk van die kinders wat oorleef het, ons en ons kinders in ons eie gebroke konteks inspireer. Om dié rede het die FAK in die historiese herdenkingsjaar op 16 Junie ’n Penkopmonument op ons kultuurplaas naby Parys opgerig en dienooreenkomstig word verder beplan. Dit was aangrypend om te sien hoe die jong Voortrekkers van Parys na die onthulling van die Penkopmonument dadelik die name en vanne van hulle oupagrootjies op die borde begin soek. Hulle is immers ook kinders van die land. Toekomsbouers in eie reg.

Die FAK stel as deel van hulle 90ste verjaarsdag ’n Geskiedenisfonds bekend met die doel om Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, verduidelik dat die nuwe geskiedenisfonds nie ’n “teen-fonds” is nie, maar ’n “vir-fonds”. “Afrikaners wil, in die woorde van Herman Giliomee, soos enige ander kultuurgemeenskap net ’n normale geskiedenis hê. ’n Geskiedenis met heldeverhale waarop ons kinders trots kan wees, maar ook met foute waaruit ons kan leer.”

Die Geskiedenisfonds het die volgende oogmerke: Bevordering van Afrikanergeskiedenis / Herstel en bewaring van bestaande Afrikanermonumente / Bou van nuwe monumente om ons geskiedenis te vier / Ondersteun gemeenskappe en kultuurorganisasies met geskiedenisprojekte in hulle omgewing / Uitbou van die Internetmuseum vir Afrikanergeskiedenis / Betrokkenheid by geskiedenisnavorsing, publikasies en konferensies / Ondersteun Geloftekomitees / Vier van belangrike Afrikanerfeesdae en historiese gebeure.

  

Die FAK was die afgelope vyf jaar betrokke by die viering van verskeie historiese geleenthede, onder andere: Die Groot Trek se 175ste herdenking / Afrikaanse Bybel 80 / Vrouemonument 100 / 1914-Rebellie 100ste herdenking / Vrystaat 160 / Helpmekaar 100 / Die Stem 100.

Tesame met die herdenkingsgeleenthede het die FAK suksesvol verskeie geskiedenisprojekte geloods om Afrikanergeskiedenis te bewaar en te bevorder: Die herstel van pres. Jan Brand van die Vrystaat se familiekerkhof, in samewerking met Vrystaatse kultuurorganisasies / ’n Transportwa vir die Tolhuis in George / Betrokke by Vegkopdireksie / Afrikanergeskiedenisdagboek van Jaap Steyn en verskeie ander kindervriendelike historiese publikasies / Geskiedenisplakkaatreeks vir skole / Geskiedenisdagboek op sosiale media / Verskeie historiese DVD-projekte / Ontwikkeling van die Afrikanergeskiedenis internetmuseum / Ontwikkeling van ’n Afrikanergeskiedenis-toepassing / Aanbied van verskeie geskiedeniskonferensies / Publikasie van verskeie historiese artikels elke jaar / Versameling en bewaring van Afrikanerkultuurgoedere en historiese materiaal soos die Anton Hartmann-klavier en argivale materiaal van kultuurorganisasies / Instandhouding van die serwituut op die sterfkamer van pres. Paul Kruger in Clarens, Switserland / Skep van nuwe Afrikanermonumente / Herstel van pres. Kruger se gevandaliseerde graf.

Persone wat die FAK-Geskiedenisfonds wil ondersteun kan ’n SMS met die kodewoord FONDS stuur na 45730 (R1,50). Navrae: Johan Jansen van Vuuren 083 265 5533 / 012 301 1777 / Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..">Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Go to top