► Navorsing van Solidariteit toon dat die blanke bevolking van die land van 0-14 jaar met sowat 17 000 toegeneem het en dat totale blanke bevolking sedert verlede jaar met 130 000 mense gegroei het; dus groot behoefte aan werkskepping vir blankes ► Ditsem Nuus skep opwindende digitale markplein, DitsemMarkplein, vir Afrikaanssprekende- en Afrikaner-besighede op Telegram-program vir selfone – om te besoek en in te skakel, volg hierdie skakel ► Solidariteit kondig omvattende wettige belastingprotesveldtog aan, insluitende minstens ses regsaksies, teen staatsondernemings en belastingplunderaars, sê staat kan nie belasting gebruik om te steel nie ► Met ʼn skuld van R441 miljard toon Eskom bedryfsverlies vir 2018/19 finansiële jaar van R20,7 miljard in vergelyking van R2,3 miljard in 2017/18 finansiële jaar, dus styging van 800% in verlies; munisipale skuld by Eskom styg van R13,6 miljard na R19,9 miljard ► Minister van Openbare Ondernemings Pravin Gordhan kondig aan dat huidige voorsitter van raad van Eskom Jabu Mabuza ook aangestel is as waarnemende uitvoerende hoof ► Verslag van Stats SA toon dat werkloosheidskoers in SA van 27,6% in eerste kwartaal gestyg het na 29% in tweede kwartaal, na raming 17 miljoen werkloses in Suid-Afrika; vermoede dat werklike werkloosheid minstens 60% kan wees ► Diensbetogers te Petrus-Steyn brand uit frustrasie huis van ANC burgermeester Mamiki Mokoena van Nketoana Munisipaliteit af; geen drinkwater in die dorp nie ► In Pretoria staak munisipale werkers van SAMWU met looneis van 18% verhoging, terwyl inflasiekoers ongeveer 5% is; staking gepaard met vandalisme van infrastruktuur en intimidasie van publiek – kyk hierdie videogreep ► AfriForum beraadslaag met Marloth Park Belastingbetalersvereniging ten einde vestiging van steenkoolmyn van 18 000 ha op drumpel van Kruger Nasionale wildtuin by Krokodilbrughek teen te staan ► Groot verdeeldheid in ANC oor ʼn voormalige minister Derek Hanekom met Ace Magashule en Jacob Zuma wat sê hy was “apartheidspioen”, terwyl ANC-veterane en andere hom verdedig as gerespekteerde lid van ANC ► Kyk by hierdie videogreep hoe gemeenskapslede te Burgersfort volgens sosiale media SAPD-beamptes behandel ► Volgens Parlementêre antwoord van Minister van Maatskaplike Ontwikkeling Lindiwe Zulu, is pensioentrekkers en ander begunstigdes afgelope jaar uit maatskaplike toelaes van gesamentlik meer as R21 miljoen bedrieg, terwyl staatsamptenare op bedrieglike wyse R5,4 miljoen in sak gesteek het vir onbehoorlike siekte verlof ► Gereelde georganiseerde betogings en nagwake voor SA Hoë Kommissariaat in Ottawa, Kanada, teen geweldsmisdaad in SA insluitende teen boere, asook teen etniese suiwering, rassisme en korrupsie ► Op Vrouedag 9 Augustus Antieke & Versamelaarsmark by Voortrekkersmonument, Pretoria, 09:00 tot 15:00, alle stalletjie volbespreek, toegang R30 per voertuig, geen troeteldiere ►

Alle vorige ANC-presidente van die land, behalwe Motlanthe, het bande met Guptas gehad – Mandela, Mbeti, Zuma en Ramaphosa

In 'n tyd waarin in Suid-Afrika sentimente, retoriek en aksies teen die Afrikaner ongekende vlakke bereik – trouens dit wil voorkom of 'n onverklaarde burgeroorlog teen die Afrikaner deur die regering en bondgenote gevoer word – het die FAK sopas aangedui dat dit oor tyd 100 nuwe Afrikanermonumente landswyd gaan oprig. Dit is beslis 'n sterk uitwaartse stap ter bevestiging van die volkskap van die Afrikaner, van die inheemsheid van die Afrikaner in die land en van die feit dat SA die enigste vaderland van die Afrikaner is.

In 'n mediaverklaring sê die FAK: “Die lys van Afrikanerbouers, met bewese en uitnemende prestasies, is baie lank. Dit is bouers wie se nalatenskap die toets van tyd deurstaan het en positiewe vrugte dra. Daarom gaan die die FAK 100 nuwe Afrikaner-monumente bou waarmee ons aan die vergete bouers van ons verlede die erkenning wil gee wat hulle toekom.

“Dit word beplan om die monumente oor die volgende paar jaar op te rig. Vanjaar fokus ons veral op die Anglo-Boere-oorlog vanweë die 120ste herdenking van die uitbreek van die oorlog en is pas die Penkopmonument op die terrein naby Parys onthul ter nagedagtenis van sowat 2 400 seuns tussen die ouderdomme 6 en 16 jaar wat aan die oorlog deelgeneem het en gely het, talle waarvan ten koste van die hoogste tol.

Die volgende monument wat onthul word, is by Irene konsentrasiekamp op 12 Oktober vanjaar. Volgende jaar gaan ons 'n monument vir Afrikanerdogters oprig, langs die Penkopbeeld by Parys. Ons beplan ook monumente vir ons Afrikaner-sporthelde, -sakemanne, -digters, ens.

“Teen die plan van die FAK word teenkanting uit sekere oorde ervaar, aan die wortel waarvan lê die verwagting dat Afrikaners hulle taal, geskiedenis, kultuur en tradisies moet onderwerp aan die meedoënlose rassetransformasie wat op die samelewing afgedwing word. Vir die uniekheid van kultuurgemeenskappe en hulle verhale is daar in die inklusiwiteitsbeskouing geen plek nie.

“Selfs al skep die Grondwet ruimte vir diversiteit en kulturele identiteit, irriteer dit die eksponente van onverdraagsame inklusiwiteit grensloos. Hierdie onverdraag-saamheid is egter voorspelbaar, want daarvolgens moet geskiedenis slegs beoordeel word aan die hand van 'apartheid', want anders kan rassetransformasie nie geregverdig word nie.

“Afrikaners durf nie trots wees op die prestasies van hulle voorouers nie, word geredeneer, want 'apartheid' het dan al die goeie bouwerk en uitnemende prestasies van die verlede tot niks gemaak. Afrikaners mag nie kinders van konsentrasiekampe vereer sonder 'n rits polities korrekte voorwaardes nie.

Wanneer argumente opdroog, word die holruggeryde cliché dat Afrikaners na 'apartheid' terughunker, roekeloos rond-geslinger. Die slot is altyd dieselfde - wit mense word as sondebokke ontmasker en Afrikaner-organisasies wat nie gedienstig en skuldig die nek onder die juk van die meesterverhaal buig nie, word as rassiste verdoem.

“Laat dit vir eens en altyd duidelik gestel word: Die FAK glo aan 'n ruimteskeppende en medemenslike Suid-Afrika. Inklusiwiteit beteken vir die FAK om saam te werk aan sake van gemeenskaplike belang en saam te bou aan 'n beter toekoms vir al Suid-Afrika se kinders. Die FAK weier volstrek om swart rassisme met wit rassisme te beantwoord en glo dat die meerderheid wit, swart en bruin Suid-Afrikaners mekaar nie haat nie.

Inklusiwiteit beteken vir die FAK dat verdraagsame, ontspanne ruimtes geskep word waarbinne die veelvoud van kultuur-gemeenskappe in Suid-Afrika kan floreer. In 'n verdraagsame verstaan van inklusiwiteit is daar vryheid - vryheid om saam te werk en om self te doen. Dit is nie nodig om alles vir almal te probeer wees nie.

“Die FAK is ontspanne oor die feit dat daar verskillende perspektiewe op die geskiedenis is. 'n Verdraagsame inklusiwiteit soek balans tussen eenheid en verskeidenheid - balans wat bevorderlik is vir sosiale kohesie.

“Die FAK probeer nie met die bou van nuwe Afrikanermonumente iemand 'n punt bewys nie, kraak geen kultuurgroepe af nie, probeer niemand verneder, of ander se kulturele identiteit te misken nie. Niemand word gedwing, voorgesê of omgekoop om met die Afrikanermonumente te assosieer nie.

“ Die Afrikanermonumente word beplan op veilige plekke waar dit beskerm, bewaar en waardeer kan word. Dit word ook nie gebou met staatsgeld of belastinggeld nie, maar met die hulp van gewone Afrikaners wat vrywillig tot die FAK Geskiedenisfonds bydra.

“Dit is Afrikaners wat sê ons mag trots wees op wie ons is en op die bouwerk van ons voorouers. Dit is Afrikaners wat nie net monumente bou nie, maar ook toekomsgerigte organisasies, besighede, skole en 'n nuwe Afrikaanse universiteit ontwikkel.”

Om by te dra tot die FAK Geskiedenis-fonds, besoek www.fak.org.za/vat-ons-geskiedenis-terug.

Wat betref die polemiek in die media en op sosiale media rakende beweerde finansiële onreëlmatighede in die Orania Beweging, word Ditsem Nuus as Orania-gebaseerde koerant deur lesers om kommentaar gevra. Daarom kan ons die situasie nie ignoreer nie en lewer derhalwe soos volg kommentaar:

  • Eerstens dien daarop gewys te word dat die Orania Beweging en Orania twee verskillende Identiteite is, wat struktureel losstaan van mekaar. Die Orania Beweging met sy besondere geskiedenis funksioneer vandag met sy eie personeel en finansies as ʼn selfstandige promosieliggaam van Orania. Die dorp as sulks word besit en bestuur deur Vluytjeskraal Aandeleblok (VAB), wat as amptenary het die Orania Dorpsraad en wie se finansies afsonderlik staan van die Orania Beweging. Dan is daar nog die Orania Verteenwoordigende Raad (OVR) as oorkoepelende plaaslike owerheid oor Orania dorpsgronde plus verskillende aangrensende gebiede bekend as die Groter Oraniagebied. Dus is die Orania Beweging slegs ʼn kleiner eenheid binne die groter Orania-opset.
  • Tweedens, wat die beweringe rakende Orania Beweging betref, sê ons die volle finansiële prentjie moet openbaar word ter wille van volkome deursigtigheid. Sou daar negatiewe reperkussies uitkom, moet die reg sy gang gaan, sonder aansiens des persoons. Dit is al hoe die huidige polemiek te ruste gelê sal kan word.
  • Derdens, vir die rekord, Ditsem Nuus is ʼn onafhanklike koerant onder alleeneienaarskap sedert sy ontstaan in 2008 en het tans sy kantoor te Orania.

Dit lyk of MultiChoice/DStv-debakel vonk van nasionalisme by Afrikaners wakker gemaak het – sien musiekvideo 'Hoor jy die Stemme' in die verband

Die nuwe regulasies van die Gautengse Onderwysdepartement  wat bepaal waar leerlinge aanstaande jaar d.m.v. ʼn aanlynproses geplaas kan word ongeag taal of voorkeur, was duidelik ʼn poging deur LUR Panyaza Lesufi, bekende anti-Afrikaanse aktivis, om Afrikaanse skole in die provinsie nek om te draai. Die nuwe regulasies vir die inskrywing van leerders vir aanstaande jaar, geskeduleer om op 13 Mei te geopen het, stel taal glad nie meer as ʼn vereiste oor waar kinders ingeskryf mag word nie.

Die vereistes wat nou voorop gestel word, is o.m. die skool naaste aan die woonplek van die leerders en of daar reeds in 'n skool familielede van die leerders is wat aansoek doen. Die aanlynproses is anoniem en leerders wat aansoek doen, moet eenvoudig die uitslag van hul aansoek sonder voorbehoud aanvaar.

Leerders kan dus nie meer aansoek by 'n spesifieke skool doen nie, terwyl 'n skool gedwing kan word om voorsiening te maak vir onderrig in die taal van keuse van die nuwe leerders. Of daar plek in 'n skool is, sal ook nie meer noodwendig as 'n rede vir weiering kan geld nie.

Die VF Plus sê tereg in ʼn mediaverklaring: “Taal is nie meer ter sprake nie, en die voorskrifte is volgens die VF Plus ongrondwetlik aangesien dit enkelmediumskole duidelik sal dwing om leerders van ander tale te akkommodeer. Die geldigheid van hierdie regulasies sal in ʼn hof getoets moet word, aangesien dit geen ruimte laat vir enkelmedium-moedertaalonderrig nie.”

Die nuwe aansoekstelsel kan dus hoogs nadelig wees vir tradisionele Afrikaanse skole. Die wortel van die probleem is ooglopend tweeledig: Aan die een kant, het die Gautengse Dept. van Onderwys gefaal om genoeg nuwe skole en klaskamers te bou vir die ontploffende getalle leerders en nou word, in die tweede plek, die bal aangegee na hoogsfunksionele Afrikaanse skole om hoofsaaklik swart nuwe leerders te akkommodeer.

Weens 'n agterstand in instandhouding moet skole in Gauteng, soos ook in die res van die land, handel met verouderde en verslegtende skoolinfrastruktuur. Daarvan is die Driehoek-brugtragedie vroeër vanjaar in Vanderbijlpark sprekende 'n voorbeeld en ten opsigte waarvan Lesufi en sy departement strafregtelike aanklagte in die gesig staar.

Die Gauteng onderwysdepartement begroot jaarliks R1 miljard vir die opknapping en opgradering van openbare skole, maar die behoefte in hierdie verband in terme van geldwaarde, beloop alreeds ʼn massiewe R5 miljard. Volgens 'n ondersoek deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) is daar jaarliks ’n toename van ongeveer 85 000 leerders in Gauteng , wat huidig 'n tekort van 142 nuwe skole meebring, waaronder 85 primêr en 57 sekondêr.

Hoe dit ook al sy, AfriForum en Fedsas het gesamentlik ernstig beswaar gemaak teen die nuwe aanlynregistrasiebeleid en dreig om dit hoftoe te neem, waarop Lesufi gedeeltelik toegegee het en die opening van die aanlynproses met 'n week uitgestel het. Vanoggend 20 Mei 2019 om 08:00 is die aanlynstelsel egter in werking gestel en het reeds meer as 250 000 Gr. 1 en Gr. 8 aansoeke plaasgevind.

Inmiddels het Lesufi gespog dat hy sy ideaal verwesenlik het “deur alle voor-1994 spore van apartheidskole uit te wis en dat dit nou net geïntegreerde en gelykgemaakte onderwys is wat geld.” Daarmee is moontlik die doodskoot gegee vir eens trotse Afrikaanse skole.

In nasionale verband kan volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge minstens 75% van skole in SA as wanfunksioneel beskou word en tot 80% van graad 4’s as funksioneel ongeletterd. Daar is wetenskaplik bevind dat ʼn meerderheid kinders uit SA staatskole nie op die vereiste opvoedkundige vlak is vir hul graad of ouderdom nie en dat dit hulle swak voorbereid laat vir tersiêre studie en die werksplek.

Die nuwe stelsel en beleid in Gauteng laat die rooiligte flikker vir onderwysowerhede in die res van die land, veral wat betref die voortbestaan van Afrikaanse skole. Derhalwe behoort sulke onregmatige en rampspoedige beleidsrigtings in die kiem gesmoor te word voordat onberekenbare skade aangerig word.

Plastiek het ’n bedreiging van epidemiese omvang in die wêreld se oseane geword en volgens wetenskaplikes van die Verenigde Nasies word na raming 100 miljoen ton plastiek in die see gestort wat seelewe ernstig benadeel, tot op diepste diepte van sowat 10 kilometer. SA lê 11de op die wêreldranglys van lande wat die oseane met plastiek besoedel.

Victor Vescovo, ’n afgetrede vlootoffisier en ontdekkingsreisiger van Texas, het onlangs met ’n miniduikboot amper 11 km (10 928 m) die diepste tot nog toe geduik –tot op die bodem van ’n punt in die Mariana-trog in die Stille Oseaan. Tydens sy ekspedisie is nuwe spesies ontdek maar ongelukkig ook afval produkte onder andere plastiek en metaal. Vescovo hoop om met sy ontdekking die bewusmaking te verskerp oor die storting van afval produkte in die oseane en vra dat die regerings moet ingryp deur bestaande regulasies daarteen te verskerp of nuwes in te stel.

Altesaam 80% van alle plastiek wat weggegooi word, beland in oseane en volgens die SA se departement van omgewingsake word minstens 267 verskillende spesies nadelig geraak weens verstrengeling of die inneem van mariene afval, dit sluit seevoëls, karetskilpaaie, robbe, walvisse en visspesies in. Die Ellen MacArthur-stigting voer aan dat ongeveer 8 miljoen ton plastiek elke jaar in die see beland en na raming 13 000 stukke plastiekafval in elke vierkante kilometer oseaan ronddryf. Sonder drastiese optrede sal daar in die toekoms meer plastiek as visse in die wêreld se oseane wees.

Statistiek Suid-Afrika maak bekend dat werkloosheid in die eerste kwartaal van vanjaar met 0,5 persentasiepunte toegeneem tot 27,6%. Die syfers bevestig ekonome se vermoede dat ekonomiese groei in die eerste kwartaal negatief was en werkloosheid nog steeds een van SA se grootste uitdagings is.

Die SA ekonomie het die jaar op ’n bitter noot begin met werkloosheid wat tot 27,6% opgeskiet het nadat dit in die vierde kwartaal van 2018 op 27,1% gestaan het. Die aantal mense in diens , is aansienlik minder as ’n jaar gelede en het met 86 000 mense, tot minder as 16,3 miljoen mense gedaal.

Daarteenoor het die getal werkloses met 3,7% tot 6,3 miljoen mense gestyg en die getal ontmoedigde werksoekers met 7,5% tot byna 3 miljoen. Dit beteken dat byna 9,2 miljoen Suid-Afrikaners van werkende ouderdom nie op skool is, studeer nie verder en is nie vrywilliglik sonder werk. Die syfers kom uit Statistieke SA se kwartaallikse indiensnemingsopname (QLFS) vir die eerste kwartaal van 2019, maar groeisyfers word eers in Junie uitgereik.

Volgens ekonoom Dawie Roodt is ekonomiese groei in SA te swak om genoeg werkgeleenthede te skep en beurtkrag deur Eskom help nie veel om werkskepping te steun. Nywerhede soos AngloGold Ashanti beplan hul uittog ten einde weg te kom van Eskom se onvoorspelbaarheid met kraglewering en tariefaanpassings , asook ingewikkelde arbeidsproblematiek.

Jongste kwartaallikse arbeidsyfers van Stats SA, wys landbousektor het in eerste kwartaal vanjaar geraamde 12 000 werksgeleenthede verloor.

Jongste syfers van Stats SA toon Oos-Kaap het in eerste kwartaal van vanjaar 90 000 werksgeleenthede verloor, wat uitgebreide werkloosheidkoers in provinsie op 48,3% te staan bring – dus elke tweede volwassene in Oos-Kaap sonder werk.

Die omstrede standbeeld van oud pres. MT Steyn van die Vrystaatse Republiek, gaan van die UV se Bloemfontein-kampus na die Oorlogsmuseum verskuif na hul aansoek om ’n permit geslaag het. Die besluit kom in die nasleep van die FeesMustFall-betogings in 2015 en 2016 waar ’n groep studente geëis het dat die standbeeld verwyder moet word omrede studente aanstoot neem van die erfenis stuk wat apartheid en onderdrukking simboliseer.

Steyn was van 1896 tot 1902 die president van die voorheen onafhanklike Oranje-Vrystaat en sy standbeeld wat op 29 September 1929 op die plein voor die Grey-universiteitskollege se hoofgebou onthul is, sal op 11 Oktober, presies 120 jaar ná die uitbreek van die Boereoorlog, op sy nuwe staanplek by die Oorlogsmuseum onthul word.

Die Afrikanerbelange-organisasie en burgerregte waghond AfriForum het egter appelleer teen die besluit en vra indien die beeld verskuif word, of Afrikaanse studente en personeel nog welkom op die kampus is. Hulle beklemtoon ondermeer dat die verskuiwing eerder studente sal polariseer as om respek en samehorigheid onder hulle te bevorder.

Prof. Francis Petersen, rektor en visekanselier van die UVS voer aan dat hoewel die verskuiwing van die standbeeld die potensiaal het om verdeeldheid in die universiteitsgemeenskap te saai, het die openbare prosesse die potensiaal getoon om ʼn vlak van verdraagsaamheid te skep.

AfriForum versoek lede van die publiek wat die appèl teen die permit en verskuiwing van die standbeeld wil ondersteun om die beswaarskrif by https://www.afriforum.co.za/steyn-moet-bly/ te onderteken, of om “Steyn” na 42315 te SMS (R1).

Die NYSE-genoteerde AngloGold Ashanti het aangekondig dat dit beplan om die Mponeng-aanleg, sy enigste oorblywende goudmyn in SA asook die diepste ter wêreld, te verkoop, tesame met al sy ander bates in die land. Sou dit wel gestand kom, beteken dit dat AngloGold moontlik geen belange in die land gaan hê nie en die einde aangebreek het van die eens veelgeroemde Anglo-American goudryk van die Oppenheimers in SA.

Mponeng-goudmyn, geleë naby Carletonville, is meer as 4 km diep en volgens AngloGold se uitvoerende hoof, Kelvin Dushnisky kan die myn nog vir die volgende agt jaar goud lewer, maar dit gaan beduidende investering benodig om sy leeftyd te verleng. Dushnisky sê daar is egter ander projekte in sy portefeulje wat aantrekliker vir die maatskappy is om kapitaal in te belê.

AngloGold Ashanti, wat gewaardeer word teen R70 miljard en wat gelys is op die FTSE / JSE Top 40-indeks, het sy SA portefeulje alreeds in 2017 drasties afgeskaal ná die verkoop van Moab Khotsong-myn aan Harmony Gold en die Kopanang-myn aan Hong Kong se Heaven Sent-maatskappy. Die verkope kom ná opbrengste nie winsgewend genoeg was a.g.v. 10% stygende koste, terwyl die maatskappy se werkersmag van 6 000 ook ‘n factor is in die negatiewe balansstaat en moes verlede jaar noodgedwonge 2 000 van die werksmag afgelê word tydens ’n herstruktureringsproses.

AngloGold-aandele het verlede Donderdag op die JSE 1,44% laer op R168,74gesluit.

Die KykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou het Sondagaand kykers geskok met hul nuwe inskrywing toe die name van die 10 boere bekendgemaak is wat vanjaar in die 12de reeks van dié gewilde program sal poog om die ideale pasmaat te vind. Hierdie seisoen is nege boere op soek na die perfekte vroulike metgesel, met een boer opsoek na sy ideale man.

Die sangeres en aktrise Leah keer terug as die aanbieder van die program en kykers sal van Oktober die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het se liefdesreis op KykNET kan volg. Tydens die eerste episode word 10 boere deur Leah aan die kykers bekendgestel.

Die hele proses van die reeks word verduidelik en kykers word uitgenooi om te skryf vir die boere. Vanjaar se oes is tussen 26 en 51 jaar oud en het vyf boere van die Wes-Kaap, twee van die Noord-Kaap, twee van die Oos-Kaap en een van Gauteng opgelewer.

Na die aankondiging van die eerste gay boer, het talle aanhangers van die program kommentaar op Boer Soek 'n Vrou se digitale platforms gelewer. Een aanhanger het die program bedank dat hul die lesbies, gay, biseksueel en transgender (LGBTQ gemeenskap) deel maak van die program, maar die meerderheid aanhangers is glad nie gelukkig met die aankondiging van die eerste gay boer nie en is teleurgesteld in die program .

Wat is jou kommentaar oor Boer soek ’n man? Lewer gerus jou mening oor die nuwe verwikkeling.

Die klagte van die Nelson Mandela Stigting en die Menseregtekommissie (MRK) voor die Gelykheidshof dat die vorige landsvlag as haatspraak verklaar moet word en dat die vertoon daarvan selfs in private huise strafregtelik vervolgbaar gemaak moet word, kom neer op die ernstigste aantasting nóg van die kultuurerfenis en karakter van die Afrikaner as volk in eie reg. Word egter gelet op die tersaaklike feite, dan is dit duidelik dat hierdie poging nie net berus op gruwelike onwaarhede nie, maar dat dit ook behels skreiende dubbele standaarde en erge diskriminasie.

Wat is die tersaaklike feite? Dit blyk indien kortliks gelet word op die onderskeie geskiedenisse van die volgende drie vlae: Die vorige landsvlag, die huidige landsvlag en die Kommunistiese vlag oftewel die hamer-en-sekel. Wat het in die geskiedenis van elk van hierdie drie vlae gebeur, m.a.w. wat is die verhaal van elkeen?

 

Die vorige landsvlag:

  • Onder hierdie vlag is God-Drieënig erken as die Albeskikker en is die land basies ooreenkomstig Bybelse riglyne van geregtigheid, billikheid, vrede, omgee en dienslewering regeer. Ja, alles was nie volmaak nie, maar dit was ʼn ander bedeling waarin die lewegewende vereistes van die Skepper van die mens erken en gerespekteer is.
  • Die beleid onder die eerste ministerskap van dr. HF Verwoerd 1958-66 was afsonderlike ontwikkeling, d.w.s. volledige vrymaking van individuele swart volke op hul eie grondgebied en nie diskriminerende “apartheid” nie. Daarvan getuig o.a. die state en regeringstrukture soos Transkei, Bophuthatswana, Ciskei en andere wat met hoofsaaklik blanke belastingbetalergeld tot stand gebring is.
  • In die vroeë sestigerjare het die BBP van SA jaarliks teen 'n koers van 6% gegroei, terwyl die inflasiekoers 2% was. Die land was selfversorgend vir sy voedsel, terwyl hy 'n vername uitvoerder van vrugte en graanprodukte geword het.
  • Met die stigting van Sasol en die verkryging van brandstof uit steenkool, was die land besig om hom van sy afhanklikheid van die buitelandse oliemark te speen. Sy verdedigingsmag het een van die doeltreffendste ter wêreld geword, terwyl op die gebied van wetenskap en kernnavorsing Suid-Afrika 'n wêreldleidende rol begin speel het.
  • Slegs 5% van die swart bevolking was teen 1966 nog werkloos. In 1970 verdien swart werkers 'n totaal van R1 751 miljoen oftewel 25,5% van die totale loongeld in SA, 'n syfer wat styg tot R17 238 miljoen in 1984 (1 000% groei).
  • Die begrotingsbedrag vir swart onderwys styg jaarliks vanaf 1970 met bykans 30% meer as enige ander staatsdepartement. Van 1955 tot 1984 styg die aantal swart skoliere van 35 000 tot 1 096 000, d.w.s. 31-voudig.
  • Teen 1972 besit swartmense in SA 360 000 voertuie - meer as in al die swart state van Afrika saam. In die laat tagtigs was daar in Soweto alleen meer as 2 300 geregistreerde firmas, 1 000 taxi-ondernemers en 50 000 motoreienaars.
  • In Soweto het die blanke regering 'n reuse hospitaal vir swart mense, Baragwanath, gebou met 3 000 beddens - een van die grootste en modernste ter wêreld. Sy 23 operasieteaters is voorsien van die heel modernste toerusting en word swart mense teen 'n nominale koste van R2 vir 'n onbeperkte tydperk behandel. Die hospitaal het 8 000 personeellede in diens gehad, waaronder 450 voltydse dokters wat jaarliks 112 000 binne-pasiente en 1,62 miljoen buite-pasiente behandel.
  • In 1978 bou die SA regering die hoogs moderne opleidingshospitaalkompleks, Medunsa, op die grens van die destydse onafhanklike Bophuthatswana teen R70 miljoen op 35 ha. Hierdie “stad” in die kleine het woongeriewe vir manlike en vroulike studente bevat waar swart dokters, tandartse, veeartse en paramediese personeel opgelei kon word - die enigste gespesialiseerde universiteit van sy soort in Afrika. Praktiese opleiding het plaasgevind in die nabygeleë Garankuwa Hospitaal waar die hele spektrum van menslike kwale behandel is.
  • In die 1986/1987 boekjaar betaal blankes R9 000 miljoen belasting, swartes R171 miljoen, Indiërs R257 miljoen en Kleurlinge R315 miljoen.
  • In 1985 was 42 000 swart studente aan SA universiteite ingeskryf, met 5 swart universiteite en 28 inrigtings vir hoër onderwys, almal staatsgefinansier.
  • SA het in die graanbehoeftes van sy buurlande en wyer voorsien - in 1980 word 250 000 ton mielies na Zambië uitgevoer, 150 000 ton mielies en 50 000 ton koring na Mosambiek, 128 000 ton mielies na Kenia en 100 000 ton mielies na Zimbabwe. Verder ontvang ook Angola, Ivoorkus, Malawi, Mauritius, Tanzanië en Zaïre SA graan.
  • SA is aangekla deur die wêreld dat dit 'n polisiestaat is, maar in SA was 1,4 polisiemanne vir elke 1 000 mense, teenoor die ooreenstemmende syfer van 2,2 vir Brittanje, 3,5 vir Israel, 4,3 vir New York, en 10 vir Moskou.
  • In die loop van die tagtigerjare het die SA Weermag die Grensoorlog in die noorde van die destydse SWA / Angola teen die Russiese en Kubaanse invalsmagte gewen en het dit 'n sleutelrol gespeel in die uiteindelike val van die Sowjetryk. Teen hierdie weermag het die ANC-Umkhonto we Sizwe geen kans gestaan nie en ook geen veldslag gewen nie.
  • Die vorige SA regering, veral onder oud-pres. PW Botha het sterk probeer om deur politieke “hervormings” by radikale en buitelandse eise aan te pas, maar in sy woorde: “Hoe meer hervorming ons deurvoer, hoe meer word ons verdoem. Hoe meer ons wegbeweeg van apartheid, des te woedender word die internasionale veldtog teen ons…”
  • Natuurlik was alles in die vorige bedeling nie maanskyn en rose nie en het daar ook slegte dinge gebeur. Die punt is egter dat daar in die vorige bedeling, onder die vorige landsvlag, veel was wat goed was en waarin die Afrikaner die leidende rol gespeel en die oorwig van die las gedra het.
  • Trouens onder die vorige landsvlag was daar baie om op trots te wees, inderdaad soveel so dat hierdie vlag integraal en simbolies deel van die DNA en van die kultuurerfenis van die regsinnige Afrikaner geword het.

Die huidige landsvlag:

  • Onder die huidige landsvlag het in 1994 'n Grondwet en staatkundige bedeling in werking getree waarin God-Drieënig as die Albeskikker geïgnoreer en buite orde gestel is en dit aan die mens as die skepsel oorgelaat is om self sy heil uit te werk. Met die bewindsaanvaarding van die ANC het hierdie sekulêre en voorheen terroristiese organisasie in effek die hoogste gesag geword – met wat later geblyk het uiters rampspoedige gevolge te wees.
  • Die aanvanklike euforie van die kunsmatige samevoeging van die SA bevolkingsverskeidenheid het spoedig plek gemaak vir ontnugtering met die eensydige en eskalerende bevoordeling van slegs die regeringselite oftewel kaderbegunstiging. Dit het begin met massiewe korrupsie van die sg. wapenskandaal – voorspel tot die voorheen ondenkbare hoofstukke van staatskaping wat sou volg met Eskom, Transnet, OBK, SAID en andere en wat behels het die blatante uitverkoop van SA en sy burgers aan buitelandse rampokkers in ruil vir persoonlike wins.
  • Onder die ANC-bewind het nepotisme, korrupsie en onbevoegdheid hande gevat om alle staatsondernemings te laat verval in verliese van miljarde rand, is feitlik alle munisipaliteite in die land geplunder tot leë doppe en wanfunksionaliteit en het voorheen trotse dorpe en stede gekrepeer tot vuil lokasies. Die geldvloei van die staatskas het via staatsdepartemente, provinsiale regerings en die nasionale Tesourie in der mate agteruitgeboer dat dit tans permanent in die rooi loop.
  • As voorbeeld op provinsiale vlak toon 'n verslag van die Instituut vir Rasseverhoudinge hoe die Vrystaat as provinsie onder premierskap van Ace Magashule verskroeide aarde gemaak is – meeste geld in gekaapte projekte, hoogste werkloosheid, minste beleggings van buite, grootste tekort aan HOP-huise, swakste munisipaliteite en laagste lewensverwagting.
  • Die nasionale ekonomiese groeikoers het gekrimp tot 0,9 %, werkloosheid het oorhand toegeneem tot na prakties raming meer as 50% gemiddeld en op plekke selfs meer as 90% en die aantal afhanklikes van staatstoelaes het opgeskiet tot sowat 17 miljoen – meer as die aantal belastingbetalers.
  • 'n Sleutelkomponent in die nuwe bedeling is die eskalerende implementering van sg. regstellende aksie en SEB om die swart meerderheid teen die blanke minderheid te beskerm – meer neo-apartheid op die wetboek as ooit voorheen – met rampspoedige gevolge vir die land i.t.v. vaardighede, entrepreneurskap en produktiwiteit.
  • Op onderwysvlak het rampspoedige leerplanne en grootlikse wegdoen met moedertaalonderrig daartoe gelei dat slegs sowat 30% van graad 1 leerders uiteindelik Matriek maak en dat van laasgenoemde minder as 1% 'n universiteitsgraad behaal. Met die wegdoen van lyfstraf en behoorlike dissipline het skoolterreine in talle gevalle slagvelde vir geweld, dwelms en swangerskappe geword. Daarby volgens die Nasionale Raad vir Mense met Gestremdhede (NCPD) gaan minstens 500 000 gestremde leerlinge glad nie skooltoe nie.
  • Op mediese en gesondheidsgebied is dit ellende in staathospitale en klinieke, met talle wat al eenvoudig gesluit moes word. Pasiënte moet daagliks in lang toue sit en wag om dalk êrens gehelp te word. Een voorbeeld van die situasie: 'n Onlangse besoeker aan die eens trotse Baragwanath Hospitaal sien toevallig duisende nuwe hospitaalbeddens onbenut opgestapel op 'n oop perseel – dit terwyl honderde selfs duisende pasiënte in staatshospitale in Gauteng en elders op matrasse op vloere moet lê.
  • Die tragiese gevolg is dat plakkerskampe oral soos paddastoele opskiet en dat dit oorhand uitbrei, met haglike sosio-ekonomiese gevolge en 'n swart en bruin jeugmassa in die land wat óf halfopgelei óf onopgeleid is vir enige betekenisvolle werk. Dit lei weer tot desperate sg. diensleweringsbetogings, wat as net een enkele voorbeeld in Pretoria ontaard het in betogers wat die kerk van die Hervormde Gemeente Wesmoot geplunder het, loodglasvensters uitgegooi, kerkbanke omgegooi en boeke en Bybels rondgestrooi het.
  • Misdaad in die land vier hoogty en in 2018 is volgens SAPD-syfers 20 336 mense vermoor oftewel gemiddeld 57 per dag. Word gelet op die praktyk, dan blyk dit dat in gevalle van moorde op blankes, dit feitlik 99% swart op wit is, met slegs enkele gevalle waar swartes die lewe laat a.g.v. blankes. Dit geld veral die onophoudelike stroom plaasaanvalle en –moorde die afgelope 25 jaar – net vir vanjaar volgens statistiek van ToekomsVonk was daar in SA van 1 Januarie tot 30 April 162 plaasaanvalle en 16 plaasmoorde - wat beteken ʼn plaasaanval elke dag en ʼn plaasmoord elke 7,5 dae.
  • Hierdie totale situasie het gekulmineer in internasionale afgradering van Suid-Afrika na amptelik rommelstatus - en dit alles onder die huidige landsvlag. Die rekord in hierdie verband spreek dus vanself.

 

Onder die Kommunistiese vlag:

  • Onder die hamer-en-sekel is van die grootste en onmenslikste menseslagtings in die geskiedenis van die wêreld gepleeg en het in Rusland en China onder Kommunistiese rewolusies konserwatief beraam meer as 100 miljoen mense omgekom. Behalwe vir die lewensverlies, was menslike lyding onbeskryflik, terwyl lande letterlik verwoes is.
  • Hoewel beraamde getalle van navorsers wissel, word in die gesaghebbende en internasionaal-erkende boek The Black Book of Communism: Crimes, Terror, Repression deur Stéphane Cotois en ander Europese akademici, die volgende sterfte onder Kommunistiese diktatuur gelys: China 65 miljoen, die Sowjet-unie 20 miljoen, Kambodja 2 miljoen, Noord-Korea 2 miljoen, Ethiopië 1,7 miljoen, Afganistan 1,5 miljoen, Oos-Europa 1 miljoen, Viëtnam 1 miljoen, Latyns-Amerika 150 000 en in nog ander lande 10 000 plus nog ongenoemdes.
  • Sterftes onder Kommunisme was breedweg summiere teregstellings, massahongersnode, volksmoorde, ontberings in strafkampe, ens.
  • Vandag in China word Kommunistiese diktatuur sterker as ooit toegepas, met o.a. meedoënlose vervolging van die reeds ondergrondse maar snelgroeiende Christelike Kerk. In die gekolonialiseerde provinsie Xinjiang, in oppervlakte drie keer groter as Frankryk, word meer as 1 miljoen inheemse Uyghurs in konsentrasiekampe aangehou vir doeleindes van sg. heropvoeding. Te Hong Kong word nasionalistiesgesinde leiers lang tronkstrawwe opgelê deur die Chinese owerheid.
  • Wat Kommunistiese Noord-Korea betref, word in ‘n onlangse nuusbrief van Geopende Deure weereens gewys op die ergste vervolging van Christene ter wêreld, waar Christene en hul families tot selfs in die vierde geslag tereggestel word, maar desniteenstaande is daar steeds sowat 300 000 ondergrondse Christen-gelowiges in die land. Nagenoeg 50% van die bevolking van 25,5 miljoen is ondervoed.
  • Ongeag hierdie bloedige verhaal sonder presedent in die geskiedenis van die wêreld mag in SA die bose hamer-en-sekel vryelik wapper.

Teen hierdie agtergrond kan tot die volgende slotsom gekom word:

  • Wat opbouendheid betref, staan tussen die drie vlae die vorige landsvlag kop en skouers uit, trouens daar is eintlik nie 'n vergelyking nie.
  • Die vorige landsvlag is vir die Afrikaner as volk 'n eiendomlikheid wat gekoester en beskerm moet word.
  • Die huidige landsvlag is grondwetlik tans die amptelike vlag, wat as sulks vireers erken en gerespekteer moet word.
  • Gegee die geskiedenisse van die drie vlae, kom dit neer op gruwelike dubbele standaarde om die vorige landsvlag te wil verbied, maar die hamer-en-sekel vryelik toe te laat.
  • Daar is ‘n bose verborge agenda agter die huidige dryf om die vorige landsvlag te kriminaliseer en derhalwe behoort dit met alle mag teengestaan te word.
  • Die aanslag teen die vorige landsvlag is inderwaarheid 'n aanslag teen die wese van die Afrikaner.
  • Die vertoon van die hamer-en-sekel behoort eintlik in enige vrye land gekriminaliseer te word.

Op die internasionale front is die grootste verwikkeling die handelstariefoorlog waarin die VSA en China tans indryf, met die VSA wat sy algemene invoertariewe op Chinese goedere verhoog vanaf 10% na 25%. Dít nadat intense onderhandelinge tussen die twee moondhede misluk het. Die volgende twiet van pres. Donald Trump sê dit alles: “We have lost 500 Billion Dollars a year, for many years, on Crazy Trade with China. NO MORE!” – Trump 10 Mei 2019.

Inmiddels, soos die spreekwoord lui, as die olifante stoei, dan moet die gras ly – wêreldwyd sidder internasionale geldmarkte, terwyl die pryse van kommoditeite soos klere styg. Dit geld ook vir Suid-Afrika.

Met die stemme feitlik klaar getel, is die volgende na ons mening die vernaamste gevolgtrekkings om op hierdie stadium te maak:

  • Nasionaal het die ANC 57.5% behaal, die DA 20.8%, die EFF 10.8%, die IVP 3,51% en die VF Plus 2,32%, met die res in ʼn bondel agterna.
  • Dit is verstommend dat die ANC ondanks aaklige staatskapings en massiewe korrupsie steeds die meerderheids- en regeringsparty is. Dit toon politieke onvolwassenheid by ʼn groot deel van die bevolking. Maatskaplike toelaes aan sowat 16 miljoen mense is ook ‘n faktor.
  • Die grootste verloorder is waarskynlik die DA, wat veel meer munt moes geslaan het uit die kwesbaarheid van die ANC, maar dit nie kon doen weens gebrekkige leierskap nie.
  • Die EFF het sterk na vore getree met verhoogde stemtotale en het die DA onttroon in Noordwes en Mpumalanga as die amptelike opposisie. Hulle is ook in Limpopo steeds die amptelike opposisie.
  • Die ANC het in agt van die nege provinsies loshande bo uitgekom en hoef nie in koalisie te gaan nie.
  • Die DA het, danksy soliede Kleurlingstem, beheer oor die Wes-Kaap behou, met die EFF wat voor die GOOD-party en die VF Plus geëindig het.
  • Die IVP het stukke beter gevaar as in die vorige verkiesing en so ook die VF Plus, albei waarvan hulle nou meer setels en sterker verteenwoordiging sal kry.
  • Partye soos die ACDP (0,86%), UDM (0,48%) en COPE (0,27%) in besonder sou beter wou gevaar het as wat hulle gedoen het en as wat hul profiel in die media is.
  • Die enigste ander blanke/Afrikaner party is Front Nasionaal, wat slegs 0,04% kon trek.
  • Die grootbek BLF het genadiglik in die hek geduik met 0,11%, wat hulle waarskynlik nie ʼn setel in die Parlement sal gee nie.
  • Daar was talle klagtes van onreëlmatighede in die stemmery met bv. ʼn LP van COPE wat gesê het dat sy vyf keer sonder ʼn probleem gestem het. Die OVK het egter gesaghebbend verklaar dat ondersoek getoon het dat daar nie ernstige defekte was nie. Dit lyk ook of die groter partye hiermee tevrede is.

Waar laat dit alles die Boere-Afrikaner van Mei 2019? Onbepaald die toekoms in onder verdrukkende en diskriminerende ANC-bewind, of wonderbaarlike saamstaan van regsinniges om selfbeskikking op eie grondgebied en meerderheidsbesetting te bewerkstellig? Dit is die kernvraag wat beantwoord moet word as die Boere-Afrikaner met sy kultuurerfenis en vryheidsaspirasies as volk wil voortbestaan.

Nadat die organisasie Black First Land First (BLF) deur die Gelykheidshof beveel is om skriftelike verskoning te bied aan alle Suid-Afrikaners omdat hul slagspreuk Land or Death neerkom op haatspraak, het hulle by monde van hul leier Andile Mngxitama botweg geweier om daaraan gehoor te gee. Die BLF, wat ook berug is vir slagspreuke soos Kill the Boer en One settler, one bullet weier ook om die slagspreuk te verwyder van hul sosiale mediaplatforms, webwerf en ander promosiemateriaal.

Die BLF, wat in 2015 gestig is deur Mngxitama as voormalige EFF-lid, se hoofbeleid is grondonteiening sonder vergoeding in blanke besit, al moet dit gepaard gaan met bloedvergieting . Mngxitama was verlede jaar ook in die moeilikheid by die Gelykheidshof nadat hy moord op blankes, insluitende vroue en kinders, blatant aangehits het

Inmiddels lyk dit of die BLF power vaar in die verkiesing van 8 Mei en is dit te betwyfel of hulle êrens ‘n enkele setel sal inpalm. Die legitimiteit van hul deelname aan die verkiesing word in elk geval betwis nadat die Gelykheidshof die VF Plus gelyk gegee het dat die OVK wetlik oortree het deur die BLF as politieke party te registreer, omdat die organisasie volgens sy grondwet slegs vir swart mense oop is.

Terwyl die nasionale kragvoorsiener spartel om aan die groeiende aanvraag van elektrisiteit te voorsien, is daar potensieel ’n alternatiewe oplossing vir die Noord-Kaapse dorp Kathu. Dit is in die vorm van die grootste sonplaas in SA naby die dorp, wat elektriese krag kan lewer van 100 MW, genoeg vir sowat 179 000 huishoudings ononderbroke krag.

Die Kathu Solar Park (KSP) projek, wat in 2016 begin ontwikkel is, is 'n 100 MW Greenfield Gekonsentreerde Sonkrag (CSP) projek met paraboliese trog en gesmelte soutstoortegnologie. Die aanleg, wat 600 ha beslaan, bestaan uit ʼn totaal van 384 000 panele.

Die aanleg is anders as enige ander sonplaas, want krag word in ’n reuse stel batterye opgegaar om te verseker dat krag beskikbaar is selfs op reënerige of bewolkte dae. Die stoorstelsel maak dit voorts moontlik om 4.5 ure van hitte-energie te berg ten einde die gevolge van onreëlmatige sonlig te absorbeer en selfs om elektrisiteit op te wek ná sonsondergang.

Daar word verklaar dat die Kathu-aanleg binne 20 jaar 6 miljoen ton CO2 in die atmosfeer sal spaar. In die konstruksiefase van die projek is sowat 1 700 werksgeleenthede geskep.

Die projek dien ter bevestiging van die siening dat die Noord-Kaap die mekka van sonkrag in SA is – ʼn potensiaal wat nog ver van behoorlike benutting is. Die sleutelvraag is hoe om die monopolistiese knelgreep van Eskom te verbreek.

Omstrede LUR vir Onderwys in Gauteng Panyaza Lesufi, bekend vir sy aanvalle op Afrikaanssprekende skole en hul taal-en toelatingsbeleid, het bedank uit sy pos. Die LUR, aktief op Twitter, het na aanleiding van sy aankondiging op sosiale media 'n uitstorting van kommentaar ontvang waarin sy aanhangers hom ondersteun en ander weer juig oor sy vertrek.

Tydens die ampstermyn van Lesufi moes die Gauteng onderwys departement handel met verouderde en verslegtende skoolinfrastruktuur veroorsaak juis deur gebrekkige of geen instandhoudingswerk. Daarvan is die Driehoek-brugtragedie vroeër vanjaar in Vanderbijlpark sprekende getuienis en ten opsigte waarvan Lesufi en sy voormalige departement strafregtelike aanklagte in die gesig staar.

Die Gauteng regering begroot jaarliks R1 miljard vir die opknapping en opgradering van openbare skole, maar die behoefte in hierdie verband in terme van geldwaarde, beloop alreeds ʼn massiewe R5 miljard. Dit beteken ʼn krisis met geen einde in sig nie.

Lesufi het voorts tydens sy termyn ʼn groot aantal enkelmedium Afrikaanse skole in Gauteng gedwing om tot dubbelmedium-onderrig oor te skakel deur meer swart leerlinge in te neem, dit ten spyte van die feit dat naby hulle Engelsmediumskole met ruimte vir hulle was. Volgens die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) is daar jaarliks ’n toename van ongeveer 85 000 leerders in Gauteng , hoofsaaklik a.g.v. migrasie. Indien die onderwysdepartement genoeg skole sou gebou het, was daar nie nou die kritieke tekort van 142 nuwe skole, waaronder 85 primêr en 57 sekondêr.

In nasionale verband kan volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge minstens 75% van skole in SA as wanfunksioneel beskou word en tot 80% van graad 4’s as funksioneel ongeletterd. Daar is wetenskaplik bevind dat ʼn meerderheid kinders uit SA staatskole nie op die vereiste opvoedkundige vlak is vir hul graad of ouderdom nie en dat dit hulle swak voorbereid laat vir tersiêre studie en die werksplek.    

Onder Lesufi se onderwysbewind is daar min of geen verbeteringe aan die onderwysstelsel in Gauteng aangebring, wat hom in geen posisie gelaat het om so jag te maak op Afrikaanse skole en in die proses sy hatigheid en anti-blanke en anti-Afrikaanse politieke agenda so te laat uithang het nie. Vir die toekoms is die vrae wie gaan Lesufi opvolg as LUR en wat gaan van hierdie aktivis word?

Die gedeeltelike lening van R7 miljard wat deur China vir Eskom geoormerk is, word na berig word deur die Chinese eers teruggehou vanweë vrees dat die bankrot staatsentiteit die geld kan gebruik vir die aankoop van diesel, asook vir dag-tot-dag lopende koste, soos salarisse en ander bedryfsuitgawes. Die R33 miljard lening was oorspronklik beloof in die veronderstelling dat Eskom die fondse sou gebruik vir die voltooiing van Medupi en Kusile kragstasies en om dringende herstelwerk te verrig om die nasionale kragnetwerk stabiel te hou om sodoende algehele ineenstorting te voorkom.

Die nasionale kragvoorsiener, wie se skuld tans op R420 miljard beraam word, bevind sigself in diep water weens die toestand van kragstasies wat nie in stand gehou word nie en nuwe kragstasies wat nie op dreef kom nie. Medupi en Kusile wat oorspronklik geskeduleer was om in 2015 ten volle operasioneel te wees, is steeds agter skedule en om albei nou in volle werking te kry, gaan na raming ʼn enorme R18 miljard kos.

Eskom, wat midde in staatskaping was, sukkel ooglopend om in die aanvraag van elektrisiteit te voorsien. Sy werkersmag word bereken op 48 600, wat volgens die Wêreldbank 16 000 te veel is vir die omvang en kapasiteit van die maatskappy.

Voorts word die afgelope dekade jaarliks nagenoeg R47 miljard spandeer op dieselaankope die afgelope 10 jaar ten einde turbines optimaal te probeer hou. Verlede maand is berig dat Eskom reeds sowat R5 miljard in slegs een jaar op dieselaankope bestee het.

Die Gelykheidshof het verlede Maandag ʼn aansoek van die Nelson Mandela Stigting en die Menseregtekommissie aangehoor dat die vorige landsvlag as haatspraak beskou moet word en selfs in private wonings verban moet word. Die “motivering” is dat die vlag rassisties is, rassehaat simboliseer en ʼn teruggryp na ʼn “bose” verlede sou wees.

Die NMS het die aansoek aanvanklik teen AfriForum gebring nadat daar aangevoer is dat lede van die burgerregte-organisasie die ou vlag tydens Swart Maandag-protesoptogte teen plaasmoorde in 2017 vertoon het. AfriForum staan die aansoek teen, ontken die aantygings en voer aan dat ’n verbod op die vorige vlag ongrondwetlik sou wees en sal neerkom op inbreuk op spraakvryheid. Volgens die NMS gebruik hul die reg om die sinnelose tentoonstelling van “apartheidsimbole” te ontmoedig. Hulle erken egter dat die vlag deel van die geskiedenis is, maar sê dit hoort in museums, dokumentêre en kreatiewe katariswerke.

Blanke Suid-Afrikaners, in besonder regsinnige Afrikaners, is egter onbeskaamd trots op die vorige vlag, sonder om die huidige vlag te misken en wys daarop dat die vorige vlag orde, beskawing, vooruitgang, vryheid, respek vir kulturele verskille en ʼn Christelike bestel simboliseer het. Onder dié vlag het Suid-Afrika ʼn republiek geword en ʼn ongekende bloeitydperk op ekonomiese, maatskaplike en militêre gebied beleef, terwyl onder hierdie vlag Kommunistiese Kuba en Rusland in die Grensoorlog verslaan is. Vir emosie en patriotisme oor die vorige vlag, sien hierdie musiekvideo.

Bladsy 1 van 96
Go to top