► “’n Monument van grootskaalse korrupsie” is hoe Noord-Kaapse premier dr. Zamani Saul nuwe psigiatriese hospitaal in Kimberley geopen het 13 jaar nadat konstruksie begin is @ R290 miljoen, maar nou eers voltooi is teen R2 miljard ►Appèlhof handhaaf beslissing van Noord-Gauteng hooggeregshof dat Cash Paymaster Services (CPS) R316 miljoen aan Sassa moet terugbetaal ►Transnet toon wins van R6 miljard vir finansiële jaar 2018/19; eerste staatsonderneming in baie lank tyd wat wins toon ►Plaasterreur 30 September, Malmesbury, twee aanvallers in plaashuis, huiseienaar skiet een dood ►Groot dele van die land vanaf Limpopo tot in die Wes-Kaap ondervind erge droogtetoestand met minder as 50% van die gemiddelde reënval in 2018/19 seisoen – sien by hierdie skakel hoe in Steytlerville-distrik droogte ervaar word; aan die ander kant sien by hierdie video hoe gejuig word oor goeie reën in distrik Beaufort-Wes ►Kampioen Boran stoetbul genaamd Mr. Million, gekoop vir R1 miljoen, se hakskeensenings deur veediewe op plaas by Brits afgekap, moes vankant gemaak word ►Intensiewe driedaagse-kursus oor in- en uitvoer en internasionale handel aangebied te Midrand, Kaapstad en Durban, kontak Ronell 073 291 0450 of events@norcaz.biz►

 

In die orkaan van woorde wat in en oor Suid-Afrika woed oor die grond wat blankes kwansuis van swart mense sou gesteel het, wil ons net een eenvoudige vraag vra – dit eintlik vir die soveelste keer herhaal: waar is die bewyse dat blankes grond in SA van swartes gesteel het? Dit is een ding om te beweer, maar dit is ʼn heel ander ding om die konkrete bewys op die tafel te plaas.

Ons sê die geskiedenis kan dag vir dag sedert 1652 nagegaan word ten einde te kan probeer uit wys waar grond betekenis vol van swart mense gesteel is. Daarom sê ons hierdie infame leuen moet nooit geglo word nie en daar moet nooit daaraan toegegee word nie.

Soos die geval met alle ander mense en bevolkings ter wêreld, is die blankes van SA nie sonder foute nie, maar grond geroof van andere – aikôna! Enige grondgryp in SA as sg. restitusie moet met alle reg en mag teen gestaan en beveg word.

Skep moed ook uit die kort liedjie by hierdie videogreep!

Groot belangstelling heers vir die 2018 Laver Tennisbeker spankompetisie tussen Europa en die res van die wêreld wat vandag in Chicago begin en Sondag eindig wat. Van die wêreld se beste mansspelers en legendariese oud-spelers is betrokke.

Span Europa bestaan uit Roger Federer, Alexander Zverev, Grigor Dimitrov, Novak Djokovic, David Goffin, Kyle Edmund en Jérémy Chardy, terwyl die Wêreldspan opgemaak word uit Kevin Anderson, John Isner, Diego Schwartzman, Jack Sock, Nick Kyrgios, Frances Tiafoe en Nicolás Jarry. Die kaptein van die Europeërs is Björn Borg en die van die Wêreldspan John McEnroe.

Die maatskappy AVBOB wat in 1918 gestig is as ʼn Afrikaner-onderneming in die begrafnis bedryf, vier vanjaar sy eeufees, maar as ʼn gediversifiseerde maatskappy met verspreide belange in die huidige SA. Die motivering vir die stigting van AVBOB 100 jaar gelede was die dodelike Spaanse griep ná die Eerste Wêreldoorlog wat gemaai het onder soldate en ook mense in SA.

Vandag is AVBOB ook in die besigheid van doodskisvervaardiging, ander begrafnisgoedere soos handgeverfde kranse en in begrafnisversekering. Voorts is AVBOB betrokke in verskeie maatskaplike opheffingsprojekte hoofsaaklik in sg. agtergeblewe gebiede.

Vir die 2017/2018 boekjaar het Transnet ‘n neto wins getoon van R4,9 miljard. Dit is in skerpe kontras met ander staatsondernemings soos die SAL, Eskom, PRASA, en Denel met hul konstante verliese van miljarde rand.

Transnet het egter desondanks slegs ʼn gekwalifiseerde ouditmening van sy eksterne ouditeure ontvang weens gevalle van onreëlmatige besteding, terwyl van die topamptenare van die maatskappy geskors is op aanklagte van korrupsie. Transnet maak sy geld uit die vervoer van steenkool, ystererts en ander grondstowwe vanaf myne na hawens vir verskeping na lande soos China en Japan.

Nadat Louis Siemens (54), besturende direkteur van CityMed daghospitaal, in die Preller Plein parkeergarage trompop doodgeskiet is, sloer die ondersoek na die saak steeds. Hoewel dieselfde dag ʼn bekende tussenganger in sakekringe, Kibi Stanley Bakili (36), dieselfde dag in hegtenis geneem is vir die moord, het dit lank gevat voordat in September ʼn speurder van die SAPD en hofordonnans ook in hegtenis geneem is.

Dit is bekend dat Siemens vir ongeveer vier jaar gesukkel het om ʼn lisensie vir uitbreiding aan die CityMed daghospitaal te bekom by die Vrystaatse Dept. van Gesondheid en dat hy klaarblyklik ten einde laaste in totaal sowat R6 miljoen aan omkoopgeld aan Bakili oorbetaal het. Blykbaar het dit nog steeds nie die gewenste resultate gelewer nie en moes Siemens skynbaar in die proses met sy lewe boet.

Daar word berig dat die moord slegs die oortjies van die seekoei is van ʼn massiewe omkoperynetwerk in die Vrystaat en wat strek tot op die hoogste regeringsvlak in die provinsie. Skynbaar moet miljoene rand in omkoopgeld van hande verwissel voordat sekere staatstenders toegeken word en is vrees vir die oopvlek hiervan die rede waarom die ondersoek na die Siemens-moord so sloer.

Nadat Kallie Kriel en ander senior lede van AfriForum en Solidariteit ongeveer twee maande gelede met koning Goodwill Zwelithini van die Zoeloes by sy paleis te Ulundi oor grondbesit en die moontlikheid van onteiening vergader het en klaarblyklik ooreengekom het om dieselfde standpunt te huldig, het Kriel en Ernst Roets onlangs op uitnodiging van Zwelithini die jaarlikse rietdansseremonie te Ulundi bygewoon.

Die samewerking is veral betekenisvol in die lig van die onverbiddelike standpunt van Zwelithini oor eienaarskap van die Zoeloes oor die 3 miljoen ha grond van die Ingonyama Trust en die botsing wat Zwelithini met pres. Cyril Ramaphosa oor die kwessie gehad het. Dit het die hele saak van tradisionele stamgronde in SA te berde gebring en die moontlike dubbele standaarde wat daaruit mag spruit indien die regering hierdie gronde uitlos, terwyl grond in blanke besit egter onteien word.

Die Vryemarkstigting, gereken as een van die gesaghebbende instansies in die land, is uitgesluit uit die Parlementêre proses oor voorgestelde onteiening van grond sonder vergoeding. Terwyl bykans elke ander instansie oor die spektrum van die samelewing toegelaat is om insette in die proses te maak en nou weer mondelinge vertoë voor die Parlementêre komitee te kon maak, is die aansoek van die Stigting om te getuig van die hand gewys.

Die rede vir hierdie weiering is nie duidelik nie. Die Stigting is bekend vir hul uitgesproke teenstand teen onteiening sonder vergoeding en dat so ʼn maatreël katastrofiese gevolge vir die ekonomie en vir die maatskaplike situasie in die land kan hê.

Vir meer inligting besoek www.freemarketfoundation.com of kontak Joan Evans by 011 884 0270 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

 

Groot kontroversie heers tans in en oor die NG Kerk oor botsende standpunte oor homoseksualiteit. Die jongste rondte het begin toe 12 NG-lidmate die hoogsgeregshof in Pretoria genader met ‘n aansoek dat die amptelike standpunt van die NG Kerk teen eengeslagverhoudinge tersyde gestel word omdat dit na bewering teen die Grondwet van die land is.

Die saak is op 22 Augustus 2018 in die hof aangehoor en uitspraak word nou enige dag verwag. Intussen het die moderator van die NG Kerk, ds. Nelis Janse van Rensburg, in ʼn artikel in Kerkbode hom uitgespreek ten gunste van die aanvaarding van eengeslagverhoudinge as normale praktyk. Hy sê dat hy weet dat sy persoonlike siening nie strook met die huidige amptelike siening van die NG Kerk nie.

In sy artikel in Kerkbode skryf Van Rensburg o.m. “ Ek is oortuig dat seksuele oriëntasie ʼn goeie gawe uit God se hand is wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester. Gay mense moet versoen word met die gawe van hul seksuele oriëntasie. Hulle is net so deel van God se skepping soos heteroseksuele mense.”

Inmiddels sê dr. Chris van Wyk, ʼn lid van die moderatuur, dat Van Rensburg nie meer met oortuiging die besluite van die NG Kerk kan oordra nie. Van Wyk sê dat die beskrywing van Van Rensburg van selfdegeslagoriëntasie ten diepste in stryd is met die boodskap van die Bybel en die sinode.

Die moderatuur van die NG Kerk het verklaar dat die uitspraak van die hof rigtinggewend sal wees ten opsigte van sy toekomstige standpunt in die verband. In die geledere van die NG Kerk op voetsoolvlak word hierdie standpunt egter bevraagteken en word gevra hoe die kerk ʼn hofuitspraak hoër kan ag as die standpunt in die Bybel.

Die politieke toneel in die eland het behoorlik regop gesit toe Kallie Kriel van AfriForum en Mosiuoa Lekota van Cope aangekondig het dat hulle saamstem dat grond onteiening sonder vergoeding katastrofies vir die land kan wees en dat hulle gaan saamwerk om hierdie boodskap uit te dra, ook by regerings in die buiteland. Lekota het hom reguit uitgespreek dat grondgryp en sosialisme nie dit was waarvoor hy en ander ANC-leiers soos Nelson Mandela op Robbeneiland opgeoffer het nie.

Hy sê dat waarvoor hulle oorspronklik geveg het, was dat SA ʼn land vir al sy inwoners moet wees, dat almal gelyke kanse moet hê en dat die beginsels van grondbesit en ʼn vrye markekonomie moet geld. Daarom skroom hy nie om vir wat hy reken reg en geregtigheid is, op te staan, al beteken dit dat hy saam met blankes moet werk en teen swart radikales kant kies.

Voortdurende berigte het dit dat Christiana, die eens rustige landboudorp op die oewer van die Vaalrivier in Noordwes, blykbaar ontaard het in ʼn dwelmnes. Volgens inwoners strek die spoor van dwelmmisbruik regdeur die plaaslike gemeenskap van alle velkleure en vanaf armes en rykes tot sakemanne, winkeleienaars en selfs boere.

Christiana het ʼn bevolking van sowat 20 000 inwoners en volgens van hulle is alle dwelms, vanaf dagga tot pille, vanaf Mandrax tot tik, nyope en cat vryelik en goedkoop beskikbaar. Dit is veral blykbaar Nigeriese dwelmsmouse wat hoogty vier en ook talle vroue in prostitusie netwerke ingetrek het.

Hoekom juis Christiana so verval het, is nie duidelik nie en ook of dit die lot is van ander plattelandse dorpe.

Ná jare van onderhandeling en twis het die Kabinet pas weer ʼn nuwe weergawe van die Mynbouhandves goedgekeur. Die nuwe weergawe sal nou aan die Mineraleraad van SA en die res van die Mynbousektor voorgelê word vir oorweging en kommentaar. Daar word algemeen gehoop dat ʼn aanvaarbare Mynbouhandves stabiliteit en heropbou in die mynbedryf sal meebring, veral in die lig daarvan dat die aandeel van mynbou in die BNP gekrimp het vanaf 21% in 1987 tot 6,8% in 2018.

Sanral het aangekondig dat beplanning op koers is om in Februarie 2019 met konstruksie te begin aan ʼn kabelbrug oor die Msikabakloof naby Lusikisiki in KZN – wanneer voltooi sal dit die langste van sy soort in SA wees. Die tender bedrag beloop R1.65 miljard.

Die torings waaraan die kabels vir die brug geheg gaan word, gaan 127 m hoog wees. Die brug sal 580 m lank wees en sal 195 m bo die bodem van die vallei wees. Dit sal dan die derde hoogste brug in Afrika wees naas Bloukrans (216 m hoog) en Mtempu (223 m hoog).

Te midde van groot politieke woelinge en korrupsieskandale in Brasilië as die grootste land in Suid-Amerika word ʼn presidentsverkiesing op 7 Oktober 2018 gehou. Die ironie is dat die gewildste kandidaat tans in die tronk is – Luiz Inacio Lula da Silva, voormalige president wat tronkstraf uitdien van 12 jaar weens korrupsie.

Da Silva is die kandidaat van die Werkersparty, maar die verkiesingshof het egter beslis dat hy nie aan die verkiesing mag deelneem nie. Hy was vanaf 2003-2010 president en is steeds die gewildste politikus in Brasilië.

Onder die ander 13 presidentskandidate is die voorloper die regse Jair Bolsonaro van die Sosiaal Liberale Party (SLP). Sy styl van politiek word vergelyk met dié van pres. Donald Trump van die VSA, maar hy is tans ná 'n mesaanval tydens 'n politieke saamtrek steeds in die waakeenheid van 'n hospitaal.

Dit is dus duidelik dat die Brasiliaanse verkiesing gekenmerk word deur onstabiliteit en dat die uitslag ná 7 Oktober deurslaggewend kan wees vir die toekoms van die land. Dit geld veral sy plek en rol in die Brics-alliansie saam met Rusland, China, Indië en Suid-Afrika.

Na berig word, het 20 mense weens cholera in Harare gesterf, terwyl meer as 2 000 siek is as gevolg van die siekte. Die stadsraad van Harare sukkel al vir jare om skoon drinkwater te verskaf en is inwoners aangewese op gemeenskaplike putte en boorgate.

Die probleem word vererger deurdat riool uit lekkende afvoerpype in boorgate en putte beland en het die regering gevolglik ‘n noodtoestand afgekondig. Die cholera–uitbreking is moontlik die ergste sedert 2008 toe 4 000 mense aan die siekte gesterf het en tienduisende daarteen behandel is.

Op die keper beskou, die volgende twee redaksionele opmerkings oor die huidige snelveranderende politieke, ekonomiese en maatskaplike toestande in Suid-Afrika:

  • Suid-Afrikaners wat steeds heul met die ANC-regering oor 'n sg. oplossing vir die konsep van grondonteiening sonder vergoeding, maak hulself eintlik medepligtig aan hierdie voorgenome misdaad van die ANC, asook aan al die ongelooflike korrupsie wat daarmee gepaardgaan.
  • Daar is tans 'n poging aan die gang tussen sekere Afrikaners en die ANC om die korrupte bewind in die saal te hou en sodoende die land weer uit te verkoop soos wat in die negentigerjare die geval was - die land as ‘t ware weer te “kodesa”. Ons wil uitdruklik waarsku dat die realiteite gesien moet word en dat SA en Afrikaners nie weer verraai en uitverkoop moet word nie.

Die tyd het na ons mening lankal aangebreek dat blankes in die land en besonder Afrikaners ophou om so bedees en gedienstig wees onder die verskriklike uitskel en kriminalisering van ons identiteit en kultuurerfenis. Die tyd het aangebreek vir opstaan, trots wees op ons identiteit en prestasies en reguit praat – sg. polities inkorrek wees.

Hierdie siening goed verwoord deur ʼn gewone Afrikanervrou by hierdie stemgreep.

In die orkaan van woorde oor grond in Suid-Afrika, ʼn kwessie wat verdeeldheid in die land sonder weerga geskep het, wil ons een eenvoudige vraag vra: Waar is die bewyse dat blankes grond in SA gesteel het? Ons sê moenie net wilde bewerings maak en ekstremistiese eise stel nie – bring die bewyse!

Dit is opmerklik dat daar geskree word dat blankes grond gesteel het en dit sonder vergoeding moet terug gee, maar niemand het nog daadwerklike bewyse op die tafel geplaas nie. Voordat hierdie bewyse nie voorgelê word nie, kan volgens ons die gronddebat nie voortgaan nie.

Bladsy 13 van 96
Go to top