Print this page

Agri SA loods Watersentrum

Agri SA het bekendgemaak dat dit ‘'n toegewyde Watersentrum geloods het ten einde regverdige toegang tot water vir SA boere te verseker. Volgens Agri SA is die inisiatief in reaksie op talle uitdagings wat watergebruikers in die landbousektor in die gesig staar, insluitende uiterste droogte, klimaatverandering en gebrekkige instandhouding van waterinfrastruktuur. Hierdie situasie word gekompliseer deur beleidsvoorstelle van die regering wat die koste van water opjaag en terselfdertyd die geredelike beskikbaarheid van water op die spel plaas.

Die Agri SA Watersentrum sal o.m. fokus op waterbeleid en wetgewende voorstelle soos die Nasionale Water- en Sanitasiemeesterplan, asook die Nasionale Waterhulpbronstrategie. Daar word ook verwag dat wysigings aan die Nasionale Waterwet die koste van water vir landbougebruikers drasties kan affekteer en dat gevolglik dit nodig is om in deurlopende oorleg met die regering te wees. Dit geld ook navorsingprioriteite wat betref die Waternavorsingskommissie.

Aan die hoof van die Agri SA Watersentrum sal Janse Rabie, 'n omgewingsprokureur en hoof van die Agri SA Natuurlike Hulpbronnesentrum staan, bygestaan deur Gregory Smith, ‘'n waterwetenskaplike. Die Watersentrum is bedoel om 'n eenstop-diens vir lede van Agri SA te dien. Vir meer besonderhede of navrae kan Rabie gekontak word by 074 451 9601 of Smith by 084 214 1151. 

Gradeer die artikel
(0 stemme)