Print this page

Luukse veilingskraal by Frankfort

Een van die modernste en mees doelontwerpte veilingskrale in die land, die Royal Auction Centre, is pas by Frankfort in die Noord-Vrystaat in gebruik gestel. Dit beslaan sowat 5 500 m2 onderdak en is toegerus met ‘n paviljoen met luukse sitplekke, private losies vir kopers, afslaersgeriewe en die ring van 1 000 m2 waar die diere opgeveil word. Die veilingskraal het kapasiteit om 1 700 beeste en 300 skape tegelyk te hanteer, terwyl 350 mense ‘n veiling kan bywoon waar 15 lugversorgers die binnenshuise temperatuur reguleer. Die luukse afslaerslokaal beskik oor ‘n klankstelsel en kringtelevisie. Voorts is daar ‘n groot goedtoegeruste kombuis, ‘n gerieflike eetsaal met balkon en uitsig oor die Vaalrivier, asook ‘n lapa en braaiplek. Die entrepreneurs vir die beplanning, oprigting en bedryf van die Royal Auction Centre is twee plaaslike boere Michael de Klerk en Louwrens Bibbey, wat vooraf deeglike navorsing gedoen het en talle veilingskrale besoek het. Vir die nabye toekoms beplan hulle om die veilingskraal verder op te gradeer vir wildveilings.

Gradeer die artikel
(0 stemme)