Print this page

SA Kommersiële plase: fortuin werd

In ‘n opsienbare artikel in Moneyweb Today word die menings aangehaal van twee prominente landboudeskundiges dat die waarde van kommersiële plaasgrond in Suid-Afrika minstens 10 keer hoër is as die amptelike syfers. Dit volg op ‘n dokument wat die Dept. van Landbou, Bosbou en Visserye onlangs gepubliseer het onder die titel Economic Review of the South African Agriculture 2014 en waarin die waarde van alle kommersiële landbougrond in die land gestel word op R192 miljard.
Hierdie dokument waardeer ook totale lewende hawe op R110 miljard en voertuie en implemente op R57 miljard, wat die totale gekapitaliseerde waarde van plase in SA op R359 miljard te staan bring – ‘n waarde gelykstaande aan die gekapitaliseerde markwaarde van MTN.
In die artikel van Moneyweb Today word dan gevra of die syfer van R192 miljard realisties is, veral as in anmerking geneem word dat dit ongeveer dieselfde is as die gekapitaliseerde markwaarde van Old Mutual en minder is as die gekombineerde projekkoste van die Medupi en Kusile kragstasies.
Die voorsitter van FirstRand Laurie Dippenaar was die eerste om die R192 miljard waardasie te bevraagteken. Hy het daarop gewys dat dit nie veel meer is as die R155 miljard wat die regering vanjaar op maatkaplike toelaes en administrasie spandeer nie.
Dippenaar verwys ook na navorsing wat Intellidex onlangs in die Financial Mail gepubliseer het en waarin daarop gewys is dat swart ekonomiese bemagtigingstransaksies van die top 100 maatskappye op die JSE ‘n waarde van R317 miljard vir begunstigdes geskep het. Hierdie waarde verdwerg die R192 miljard en is kwalik minder as die R359 miljard waardasie. Andersom gestel, volgens die rekords van die regering het die privaatsektor SEB waarde geskep bykans gelykstaande aan die waarde van alle kommersiële plase in die land.
Daarenteen het twee onafhanklike bronne wat deur Moneyweb Today geraadpleeg is elk op hul eie by ‘n totale bedrag van tussen R2 triljard en R2,5 triljard uitgekom as die totale waarde van kommersiële landbougrond in SA - dus 10 keer hoër as die amptelike R192 miljard.
Die twee onafhanklike bronne is, eerstens, Petrus Viljoen, hoofuitvoerende beampte van die Agri Land Group as een van die grootste waardeerders van landbougrond in SA en ‘n konsultant wat al meer as 20 000 waardasies van individuele plase in die land gedoen het. Sy berekeninge is gegrond op werklike afmetings van verskillende landbougrondsegmente d.m.v. satelliettegnologie en werklike verkoopspryse van landbougrond.
Sy slotsom is dat die totale waarde van landbougrond in die land sowat R2 580 miljard beloop of R2,58 triljard. Dit verteenwoordig dubbeld die gekapitaliseerde markwaarde van die Sasol groep van maatskappye.
Die tweede bron wat deur Moneyweb Today geraadpleeg is, is prof. Johann Kirsten, hoof van die Dept. van Landbou-ekonomie, Voorligting en Landelike-ontwikkeling by die Universiteit van Pretoria. Sy metodologie is basies dieselfde as dié van Viljoen, hoewel hy ‘n syfer van 86,2 miljoen ha as die totale landbougrond in die land noem en dan by ‘n totale waarde van rondom R2 triljard uitkom.
Wat natuurlik ook ‘n kritieke faktor is wanneer dit kom by die waarde van kommersiële landbougrond in die land, is die sleutelaspek van die voedselketting in die nasionale sosio-ekonomiese opset. In ‘n land wat nog grootliks selfvoorsienend is wat voedselproduksie betref, is die intrinsieke waarde van die voedselketting veel hoër as die blote markwaarde.
Vir meer agtergrond oor die waarde van kommersiële landbougrond in die land, kan dokumentasie van die bronne hierbo genoem op die Internet nagegaan word, hoewel inligting van die Dept. van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming nie maklik bekombaar is nie.
Interessant is dat beide Kirsten en Viljoen sê dat navorsing toon dat die teiken van die regering om 30% van die geteikende 30 miljoen ha grond in die land na swart eienaars oor te dra, alreeds behaal is.
Viljoen konstateer verder dat ‘n bedrag van R6 miljard al uitbetaal is as vergoeding aan begunstigdes van grondhervorming en wat grond van sowat 10 miljoen ha verteenwoordig.
Dit is teen die agtergrond van hierdie feite dat die beleid van die regering staan dat kommersiële boere 50% van hul grond aan hul werknemers moet oordra. Soos ‘n leser van Ditsem Nuus dit gestel het: “Wat die Chinese waarskynlik sê, is: ‘Kry die grond en dan praat ons besigheid.’”
Dit is dus duidelik dat daar ‘n slinkse verborge agenda agter die grondkwessie in SA is - ’n aspek wat skynbaar nie deur ‘n groot deel van georganiseerde landbou begryp word of begryp wil word nie. Wat wel soos ‘n paal bo water staan, is dat kommersiële landbougrond in SA ‘n fortuin en meer werd is.

Gradeer die artikel
(0 stemme)