Print this page

Mynopsies op sentraal-SA

Dit blyk dat verskeie voornemende ontginningsmaatskappye inklim in groot dele van sentraal-SA en bykans 2 miljoen ha al onder sg. ontginningsreg geplaas is.

Reeds in 2015 het Rhino Oil & Gas die omgewingskonsultante SLR Consulting aangestel om ondersoek te doen na die ontginning van aardgas in die Noordoos-Vrystaat en Noord-KZN. Die betrokke gebied in die Vrystaat sluit in plase in die distrikte van Kroonstad, Heilbron, Frankfort, Edenville en Oranjeville, asook ‘n groot opvangsgebied van water vir verskeie riviere. Die soektog na aardgasse in die Vrystaat en KZN word met teenkanting begroet omdat inwoners hidrobreking vermoed.

Tans het Motuoane Energy die konsultante Environmental Impact Management Services aangestel om bepaalde ontginningspotensiaal te ondersoek in dele van die Noordoos-Vrystaat, plus plase in die distrikte van Kroonstad, Hennenman, Theunissen en Ventersburg. Volgens Vrystaat Landbou word minstens 1,2 miljoen ha deur hierdie ondersoeke geraak. In reaksie word monstervergaderings tans deur Vrystaat Landbou met boere op verskillende plekke gehou.

Voorts soek Sungu Sungu Gas, ‘n ontginningsmaatskappy, tans na olie en gas op sowat 565 000 ha oftewel ongeveer 1,3 miljoen rugbyvelde aan die voet van die Drakensberge vanaf Memel en Swinburne in die Vrystaat tot by Winterton en Watersmeet in KZN. Dit blyk dat die totale gebied in die visier van Sungu Sungu Gas beslaan sowat 100 000 km2.

Inmiddels word berig van voorgenome planne van ’n Australiese mynmaatskappy, Lukisa, wat deur ’n Russiese maatskappy befonds word om uraan in die Karoo te ontgin. Die maatskappy het 750 000 ha grond in die Wes-, Noord- en Oos-Kaap bekom en beplan ook om ’n reuse- sentrale prosesseringsaanleg buite Beaufort-Wes op te rig. Blykbaar is die eksplorasieproses en omgewingimpakstudie afgehandel en kan Lukisa nou vir ’n mynlisensie aansoek doen. In reaksie hierop het AfriForum in ’n petisie aan die Minister van Minerale Hulpbronne verklaar dat die projek tot die vernietiging van ’n groot deel van die Karoo-ekostelsel kan lei.

Vir meer besonderhede kan o.m. www.frackfreesa.org.za besoek word.

Gradeer die artikel
(0 stemme)