Print this page

Veiligheidsberade skop af in die Vrystaat

Die eerste van ’n reeks veiligheidsberade wat die SAPD in samewerking met Vrystaat Landbou in die Vrystaat hou, het op 21 September 2016 by Bobbiespark in Bloemfontein afgeskop. Die berade het ten doel die bevordering van landelike veiligheid in die provinsie. ’n Veiligheidsberaad van hierdie aard is reeds verlede jaar te Bothaville aangebied, terwyl ’n beraad oor veediefstal verlede maand te Harrismith gehou is. Die hooffokus van die berade is om landelike veiligheidskwessies openlik te bespreek, terwyl samewerking binne die raamwerk van die Landelike Beveiligings Plan (LBP) teen misdaad ook hoog op die agenda is.  Van die besprekingspunte wat tydens die beraad te Bloemfontein uitgelig is, sluit in: Aksieplanne en inoefeninge van landelike veiligheidsinisiatiewe / Profielbepalings van plase en die vloei van inligting / Landelike veiligheidsvergaderings en die belangrikheid van bywoning deur alle rolspelers / Gebrekkige mannekrag en toerusting soos bv. voertuie by veral landelike Polisiestasies / Vertrouensverhoudinge tussen boere en die SAPD / Misdaadvoorkomingsoperasies. Nog twee berade word vir die jaar beplan, met die ander vroeg volgende jaar. Vir meer inligting, skakel Tommie Esterhuyse by 082 782 0668. 

Gradeer die artikel
(0 stemme)