►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Halfweghuis vir gevangenes gestop

Die beplande halfweghuis in Universitas, Bloemfontein, wat die nuwe tuiste vir 12 gevangenes op parool sou wees, is gestop nadat ontevrede inwoners ernstige beswaar aangeteken het. Meer as 300 inwoners van Universitas het verlede Woensdagaand by die huis in Scholtzstraat 17B byeengekom en eenstemmig by die DKD en die eienaar van die huis hul besware aangeteken.

Die Dept. van Korrektiewe Dienste (DKD) het alreeds ’n kontrak aangegaan met die huiseienaar Busisiwe Ntsele van Ruby Red Busi Holdings. Ingevolge die kontrak sou gerehabiliteerde gevangenes huisvesting ontvang vir ’n bepaalde tydperk sodat hul geïntegreer kan word in die gemeenskap. Ntsele het by navraag gesê sy is baie geskok oor die inwoners se negatiewe reaksie op die voorgenome sentrum.

Tjaart van der Walt, ’n DA-raadslid, sê daar was geen raadpleging met die gemeenskap voor die kontrak geteken was tussen die DKD en diensverskaffer Ruby Red nie, die regte proses is ook nie gevolg nie en die Mangaung Metro se grondgebruikaansoeke moet eers afgehandel wees alvorens die halfweghuis sy deure kan oopmaak.

André Grobler, GPF-voorsitter van dié sektor, sê misdaadbekamping in Universitas is reeds onder druk en onaanvaarbaar hoog. Talle inwoners is bekommerd omdat misdaadelemente veral studente en bejaardes teiken. Daarby is daar verskeie skole in die omgewing.

Henry Austen, prokureur van Ntsele, het intussen bevestig dat die projek opgeskort is en dat hulle nou na alternatiewe behuising kyk.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top