► Pres. Cyril Ramaphosa vra nasionale dialoog oor moontlikheid om pensioenfondse in bankrot staatsondernemings te belê – “Ons finansiële bronne is uitgeput, terwyl ons ontwikkelingsbehoeftes enorm is” ► Vraag op sosiale media: Hoekom kry regering nie die miljarde staatsgeld wat gesteel is terug nie, maar wil nou die pensioengeld vat van mense wat hard gewerk het daarvoor en toegewyd gespaar het? ► Menseregtekommissie oorweeg stappe teen Ernst Roets van AfriForum oor vertoon van vorige landsvlag op sosiale media, word as “verdelend” beskou ► Petroljoggies landswyd dreig om volgende week te staak oor salarisse, eis verhoging van 12%, maar werkgewers bied slegs 5% ► Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, moes gister meer as R10 miljoen aan Eskom pensioenfonds terugbetaal as onwettig ontvang, maar nog geen teken daarvan nie ► Veldbrand wat versprei tot in St. Francisbaai verwoes 12 huise tot die grond toe ► Storm oor aanranding van blanke kleuters deur swart personeel by Myne Maatjies Dagsorg Sentrum in Randfontein, ouers woedend, drie persone gearresteer, MRK swyg soos graf ► Lastereis van oud-minister Derek Hanekom van R500 000 teen oud-pres. Jacob Zuma, vandag in hooggeregshof in Durban aangehoor, eis omdat Zuma Hanekom “apartheidspioen” genoem het ► Curriebekerreeks word hierdie naweek voortgesit, met slegs Griekwas wat verseker is van plek in halfeindstryd ►

Die situasie waarin die NG Kerk tans is met dié dat besluite dat homoseksualisme aanvaarbaar is en dat dit selfs op die kansel toelaatbaar is, op die kerk afgedwing is deur 'n appélhofuitspraak, is vir baie behoudende lidmate onaanvaarbaar. Dit is natuurlik heel begryplik - ook onsself as NG lidmate beskou in ooreenstemming met die Bybel homoseksualisme as sonde.

Soos alle sonde moet dit bely word, is daar deur Christus vergifnis voor en is ook verlossing daarvan by Hom moontlik. Hieroor is die Bybel baie duidelik.

Diegene wat die homo-voorstel by die NG Kerk ingebring het – Fritz Gaum en sy seun Laurie tesame met ander - dwaal grootliks en dien as sodanig uitgewys te word. Die kerk behoort aan die Here en aan niemand anders nie en daarom kan onder geen omstandighede toegelaat word dat die kerk gekaap word nie.

Derhalwe moet gelowige lidmate wat kinderlik vashou aan die Bybel as die onfeilbare Woord van God-Drieënig, vasstaan in die kerk – en ook in die NG Kerk – en dit nie verlaat nie. In die kerkorde is die remedies voorgeskryf, soos tug en sensuur en dus sê ons: Staan vas en bestry tot oorwinning dit wat van die Bose is.

So ook is die besluit van die Moreletapark Gemeente in Pretoria, met meer as 20 000 lidmate, om bande met die NG Kerk op te skort, begryplik, maar is ons boodskap steeds dieselfde: Moenie toelaat dat die kerk gekaap word nie, staan vas en beveg, m.b.v. die almagtige Koning van die kerk, die Bose en sy dwalers.

 

Met die volgende kommentaar wil ons die volgende uitstaande gebeure die laas week kortliks aanraak:

  • Die besluit van die algemene moderatuur van die NG Kerk om nie te appelleer teen die hofuitspraak dat homoseksualisme in die kerk goedgekeur word en dat homoseksuele predikante toegelaat word in die bediening: Hierdie is egter volgens die Bybel ʼn groteske dwaling en wat dus vir baie lidmate van die kerk totaal onaanvaarbaar is. Hoe gaan die NG Kerk uit hierdie hoek kom waarin dit sigself geverf het?
  • Die klug van die week en sekerlik een van die grootste klugte nog in SA, is die bevinding van die MRK dat die uitlating van Julius Malema dat “we are not calling for the slaughtering of white people – at least not yet” nie haatspraak is nie. Verdere kommentaar oor hierdie skreiende dubbele standaarde is oorbodig. ʼn Troos darem is dat AfriForum die saak in die hof verder gaan beveg.
  • Die openbaring voor die Zondo-kommissie dat Andile Ramaphosa, seun van die president, sowat R2 miljoen van Bosasa ontvang het waaronder R500 000 uit die persoonlike sak van Gavin Watson. Inmiddels het pres. CR vroeër in die Parlement eers ontken dat sy seun geld van Bosasa ontvang het en toe gesê het dat dit vir dienste gelewer was. Dit beteken dat die staatspresident vir die Parlement gelieg het. Dit is ʼn uiters ernstige oortreding – wie gaan iets daaromtrent doen?
  • Die jag wat in Afrikaner-geledere gemaak word op Ernst Roets van AfriForum. Hy staan op vir reg en geregtigheid vir die Afrikaner, teen plaasmoorde en teen die gevaar van beoogde grondgryp, maar tog word hy in Rapport, subtiel deur die VF Plus en ander liberale Afrikaners geteiken as ʼn gevaar vir die Afrikaner. Wat skuil hieragter?
  • Die Solidariteit Groep word opmerklik ʼn al groter faktor in Afrikaner-geledere: Benewens op al die terreine waar die groep met sy filiale optree, het Solidariteit die afgelope week deur Helpende Hand die hoofborg geword van Afrikaans is Groot, dit vervul ʼn groot finansiële rol in Orania en dit het beheer oorgeneem oor die jaarlikse KragDag ekspo naby Pretoria.
Go to top