► Pres. Cyril Ramaphosa vra nasionale dialoog oor moontlikheid om pensioenfondse in bankrot staatsondernemings te belê – “Ons finansiële bronne is uitgeput, terwyl ons ontwikkelingsbehoeftes enorm is” ► Vraag op sosiale media: Hoekom kry regering nie die miljarde staatsgeld wat gesteel is terug nie, maar wil nou die pensioengeld vat van mense wat hard gewerk het daarvoor en toegewyd gespaar het? ► Menseregtekommissie oorweeg stappe teen Ernst Roets van AfriForum oor vertoon van vorige landsvlag op sosiale media, word as “verdelend” beskou ► Petroljoggies landswyd dreig om volgende week te staak oor salarisse, eis verhoging van 12%, maar werkgewers bied slegs 5% ► Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, moes gister meer as R10 miljoen aan Eskom pensioenfonds terugbetaal as onwettig ontvang, maar nog geen teken daarvan nie ► Veldbrand wat versprei tot in St. Francisbaai verwoes 12 huise tot die grond toe ► Storm oor aanranding van blanke kleuters deur swart personeel by Myne Maatjies Dagsorg Sentrum in Randfontein, ouers woedend, drie persone gearresteer, MRK swyg soos graf ► Lastereis van oud-minister Derek Hanekom van R500 000 teen oud-pres. Jacob Zuma, vandag in hooggeregshof in Durban aangehoor, eis omdat Zuma Hanekom “apartheidspioen” genoem het ► Curriebekerreeks word hierdie naweek voortgesit, met slegs Griekwas wat verseker is van plek in halfeindstryd ►

Volgens die Bemarkingskantoor van die Oorlogsmuseum word ʼn “Rockfees” op die terrein van die Oorlogsmuseum en Vrouemonument in Bloemfontein in Oktober vanjaar beplan ter 120ste herdenking van die uitbreek van die Anglo-Boere-oorlog. Hierdie fees word beplan in samewerking met die “Aasvoëlklub” in Bloemfontein.

Teen hierdie beplande fees teken die Front Nasionaal (FN) beswaar aan by die Vrouemonumentkommissie en sê in ‘n mediaverklaring o.a.: “Ons het volle begrip daarvoor dat dit belangrik is vir monumente en museums om alternatiewe planne te maak om voete te lok en die geskiedenis lewend te hou. Ons voel egter dat dit darem met die nodige respek gedoen behoort te word.

“Die oorlogswonde lê nog rou by baie van ons volksgenote. Dit is ‘n natuurlike proses by ‘n volk om, oor verloop van ʼn lang tyd, vrede te maak met die wonde wat hom toegedien is op die wyse waarop dit ons volk toegedien is. Die Vrouemonument is nie net ‘n monument nie. Dis ‘n laaste rusplek.

“Dis nie die plek of die geleentheid vir ‘n “Rockfees” met ‘n kontantkroeg nie. Dis nie aanvaarbaar om te sê: ‘Ja maar ons gaan kerse brand en ‘n minuut van stilte handhaaf om die 30 000 vroue en kinders in konsentrasiekampkerkhowe te herdenk… en daarna verkoop ons drank en rock ons’ nie.

Ons is ‘n beskaafde volk. ‘n Beskaafde volk huldig sy erfenis met respek, met deernis, met ootmoed en met waardigheid. Vir rockfeeste is daar sale en dansklubs en stadions die hele Vrystaat vol.”

Vir meer besonderhede oor hierdie aangeleentheid kan Daniël Lötter van FN gekontak word by 076 024 0333 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

ROCKFEES BY DIE VROUEMONUMENT, OORLOGSMUSEUM. FRONT NASIONAAL RIG BRIEF AAN PROF PIET STRAUSS

Geagte professor Strauss

Re: Beplande Rockfees by die Oorlogsmuseum Bloemfontein: Oktober 2019

Front Nasionaal het met ‘n groot mate van kommer kennis geneem van ‘n advertensie wat uitgestuur is deur die Bemarkingskantoor van die Oorlogsmuseum waarin daar planne bekend gemaak word vir ‘n “Rockfees” by die Oorlogsmuseum in Oktober vanjaar om die 120e jaartal sedert die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog te herdenk. Hierdie fees word beplan in samewerking met die “Aasvoëlklub” in Bloemfontein. Die advertensie en inligting soos verskaf is hierby aangeheg.

Ons het volle begrip daarvoor dat dit geweldig belangrik is vir monumente en museums om alternatiewe planne te maak om voete te lok en die geskiedenis lewend te hou. Ons voel egter dat dit darem met die nodige respek gedoen behoort te word.

Die oorlogswonde lê nog rou by baie van ons volksgenote. Dit is ‘n natuurlike proses by ‘n volk om, oor verloop van ‘n lang tyd, vrede te maak met die wonde wat hom toegedien is op die wyse waarop dit ons volk toegedien is. Genesing is ‘n proses wat soms geslagte lank duur. Daar is vandag nog wonde in Amerika oor die Burgeroorlog. Daar is vandag nog wonde in Nederland en Frankryk en in Pole oor die Tweede Wêreldoorlog.  Daar is nog rou wonde oor hierdie Oorlog en die uitvloeisel daarvan wat ons so intens beleef in die politieke situasie van die dag. As dit nie was vir die uitwissing wat daar plaasgevind het nie, was ons nie vandag ‘n handjievol mense wat in ons geboorteland vertrap, misken en verdruk word nie. Dan was ons baie meer.

Inderdaad wil ek vir u sê: In my eie familie is daar grootooms en –tantes wat in ongemerkte konsentrasiekampkerkhowe begrawe lê. Hulle is ewig kinders – ontroof van die geleentheid om op te groei en te leef. Hulle enigste grafsteen is die gedenkmuur by die museum, waar ek op 17 Desember verlede jaar lank vertoef het om hulle offer te gedenk.

Die Vrouemonument is nie net ‘n monument nie. Dis ‘n laaste rusplek. Ek het daar ook vertoef by die grafte van president Steyn, generaal De Wet, ds Kestell en Emily Hobhouse. Lank vertoef, want die stilte daar bring jou tot besinning oor watter prys gevra is, en in watter gesindheid dit betaal is.

Professor Strauss, dis nie die plek of die geleentheid vir ‘n Rockfees met ‘n kontantkroeg nie. Dis nie aanvaarbaar om te sê: “Ja maar ons gaan kerse brand en ‘n minuut van stilte handhaaf om die 30 000 vroue en kinders in konsentrasiekampkerkhowe te herdenk…. en daarna verkoop ons drank en rock ons” nie. En verseker stuur dit ‘n baie verwronge boodskap aan die wêreld oor hierdie volk se begrip van eerbied en respek. Ek kan my gewoon nie voorstel dat ‘n Rockfees gehou sal word by Gettysburg of Oradour-sur-Glane nie. Waarom moet ons dit dan hier doen? Oorlogswonde genees nie deur daarop te dans nie.

Die gedagte daaraan het my enersyds met ‘n diep emosionele pyn vervul ter wille van hulle vir wie daardie ‘n laaste rusplek is, maar ook met intense weersin by die gedagte daaraan dat die vorm van die vieringe so lynreg indruis teen die boodskap wat daar versinnelbeeld word.

Ons is ‘n beskaafde volk. ‘n Beskaafde volk huldig sy erfenis met respek, met deernis, met ootmoed en met waardigheid. Vir rockfeeste is daar sale en dansklubs en stadions die hele Vrystaat vol.

Ons is dit met u volkome eens dat die uitbreek van die Oorlog 120 jaar gelede herdenk moet word en dat dit die ideale geleentheid is om opnuut belangstelling te wek in daardie spesifieke gedeelte van ons geskiedenis. Ons wil egter ‘n dringende beroep op u doen om hierdie herdenking op ‘n meer gepaste, meer waardige en meer eerbiedige wyse te vier. En daarmee sal ons u bystaan met alles wat ons moontlik kan bydra. Front Nasionaal sal ons mense aanmoedig om deel te vorm daarvan. Ons sal u ondersteun net waar ons kan.

Dit is egter nie vir ons aanvaarbaar dat ‘n Rockfees met drankverkope by ‘n plek gehou word wat opgerig is om die ellende van die Oorlog en die offers, die lyding, smart en verlies te gedenk nie. En sekerlik nie waar die laaste rusplek van ons volkshelde is nie.

Ons wil u dan net ook vriendelik daarop wys dat die advertensie aandui dat die Afrikaanse sanger, Adam Tas, by die feesgeleentheid gaan optree. Ons het ondertussen ‘n boodskap van hom ontvang waarin hy ontken dat hy ooit genader is om op te tree en geen kennis dra van enige betrokkenheid by die gemelde Rockfees nie.

Ons verneem graag van u in hierdie verband.

Met beste wense

Daniël Lötter

Go to top