► Pres. Cyril Ramaphosa vra nasionale dialoog oor moontlikheid om pensioenfondse in bankrot staatsondernemings te belê – “Ons finansiële bronne is uitgeput, terwyl ons ontwikkelingsbehoeftes enorm is” ► Vraag op sosiale media: Hoekom kry regering nie die miljarde staatsgeld wat gesteel is terug nie, maar wil nou die pensioengeld vat van mense wat hard gewerk het daarvoor en toegewyd gespaar het? ► Menseregtekommissie oorweeg stappe teen Ernst Roets van AfriForum oor vertoon van vorige landsvlag op sosiale media, word as “verdelend” beskou ► Petroljoggies landswyd dreig om volgende week te staak oor salarisse, eis verhoging van 12%, maar werkgewers bied slegs 5% ► Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, moes gister meer as R10 miljoen aan Eskom pensioenfonds terugbetaal as onwettig ontvang, maar nog geen teken daarvan nie ► Veldbrand wat versprei tot in St. Francisbaai verwoes 12 huise tot die grond toe ► Storm oor aanranding van blanke kleuters deur swart personeel by Myne Maatjies Dagsorg Sentrum in Randfontein, ouers woedend, drie persone gearresteer, MRK swyg soos graf ► Lastereis van oud-minister Derek Hanekom van R500 000 teen oud-pres. Jacob Zuma, vandag in hooggeregshof in Durban aangehoor, eis omdat Zuma Hanekom “apartheidspioen” genoem het ► Curriebekerreeks word hierdie naweek voortgesit, met slegs Griekwas wat verseker is van plek in halfeindstryd ►

Die balju het beslag gelê op die Mafube Munisipaliteit se roerende en onroerende bates ná jare se wanbestuur, growwe nalatigheid, korrupsie en swak prestasie. Inwoners van die gebied onder die disfunksionele munisipaliteit moet nou self inklim en dienste lewer nadat munisipale werkers al amper ’n jaar lank staak.

Die Mafube Munisipaliteit ( Frankfort, Villiers, Tweeling en Cornelia) is bankrot met laste wat bates ver oorskry en skuld van R400 miljoen, waarvan R47 miljoen verskuldig aan Eskom, R83 miljoen aan Rural Maintenance en R35 miljoen aan pensioenfondse. Te midde van die finansiële krisis is steeds ruim voorsiening gemaak vir verhoging in salarisrekening tot R110 miljoen - 62% van die bedryfsbegroting terwyl nasionale Tesourie se riglyn 32% is.

Volgens die plaaslike VF Plus-raadslid loop rou riool in die strate af weens verstoppings en is strate en paaie vervalle a.g.v. geen instandhouding, terwyl oop ruimtes en straathoeke as stortingsterreine gebruik word. Op hul beurt voer die DA in die Vrystaatse Wetgewer aan dat die situasie met Mafube Munisipaliteit deel is van die nalatenskap van voormalige Vrystaatse premier en huidige ANC sekretaris-generaal Ace Magashule met sy omvattende kaderontplooiing en korrupsienetwerk.

Verslae van protesaksies in verskillende dele van Suid-Afrika gister is ontvang soos wat die onwettige betogers in massas opgeruk het. Die doel is duidelik, om deur skade aan hul omgewing, veral waar dit blankes raak, die publieke aandag te vestig op hul griewe oor dienslewering, wat gewoonlik haglik is.

Tshwane, Somerset-Wes, Khayelitsha, Kroonstad, Orange Grove en Vanderbijlpark is maar enkele van die gebiede wat geraak word. In meeste van die gevalle moes spesiale Polisie-eenhede die betogers met rubberkoeëls en traangas onder beheer bring en uitmekaarjaag.

Die gevolg is dat verkeer tot stilstand kom en sakebedrywighede ontwrig word. Brandende buitebande is aan die orde van die dag op plekke soos Soshanguve, Mabopane, Hammanskraal, terwyl veral Van der Hoffweg en Bremerstraat voor die Daspoorttonnel in die Pretoria Tuine-gebied liefs heeltemal vermy moet word.

Ook tydens sg. diensleweringsbetogings gister in Pretoria het betogers die Nederduitsch Hervormde kerk Wesmoot geplunder, loodglasvensters uitgegooi, kerkbanke omgegooi en boeke en Bybels rondgestrooi. in reaksie hierop sê die VF Plus in ‘n mediaverklaring: “Ons beskou die aanval, nie as ‘n aanval op ‘n gebou van klip en sand nie, maar as ‘n simboliese aanval op die Kerk as ‘n heilige instelling vir die Afrikaner waaraan die Afrikanervolk deur die geskiedenis groot waarde geheg het.”

Intussen het pandemonium ook losgebars in die Wes-Kaap met berigte dat verskeie paaie by Somerset-Wes, Kaapstad en Khayelitsha geblokkeer word met brandende bande en groot klippe, terwyl selfs skole gesluit word.   Radikale elemente in die Wes-Kaap is op rekord dat hulle die DA-beheerde provinsie onregeerbaar wil maak.

Daar is ‘n beweging wat onder die vaandel Total Shutdown skynbaar daarna streef om verlammende betogings landswyd uit te brei. Hoe lank die Polisie anargie sal kan afweer, is ‘n ope vraag.

Go to top