► Navorsing van Solidariteit toon dat die blanke bevolking van die land van 0-14 jaar met sowat 17 000 toegeneem het en dat totale blanke bevolking sedert verlede jaar met 130 000 mense gegroei het; dus groot behoefte aan werkskepping vir blankes ► Ditsem Nuus skep opwindende digitale markplein, DitsemMarkplein, vir Afrikaanssprekende- en Afrikaner-besighede op Telegram-program vir selfone – om te besoek en in te skakel, volg hierdie skakel ► Solidariteit kondig omvattende wettige belastingprotesveldtog aan, insluitende minstens ses regsaksies, teen staatsondernemings en belastingplunderaars, sê staat kan nie belasting gebruik om te steel nie ► Met ʼn skuld van R441 miljard toon Eskom bedryfsverlies vir 2018/19 finansiële jaar van R20,7 miljard in vergelyking van R2,3 miljard in 2017/18 finansiële jaar, dus styging van 800% in verlies; munisipale skuld by Eskom styg van R13,6 miljard na R19,9 miljard ► Minister van Openbare Ondernemings Pravin Gordhan kondig aan dat huidige voorsitter van raad van Eskom Jabu Mabuza ook aangestel is as waarnemende uitvoerende hoof ► Verslag van Stats SA toon dat werkloosheidskoers in SA van 27,6% in eerste kwartaal gestyg het na 29% in tweede kwartaal, na raming 17 miljoen werkloses in Suid-Afrika; vermoede dat werklike werkloosheid minstens 60% kan wees ► Diensbetogers te Petrus-Steyn brand uit frustrasie huis van ANC burgermeester Mamiki Mokoena van Nketoana Munisipaliteit af; geen drinkwater in die dorp nie ► In Pretoria staak munisipale werkers van SAMWU met looneis van 18% verhoging, terwyl inflasiekoers ongeveer 5% is; staking gepaard met vandalisme van infrastruktuur en intimidasie van publiek – kyk hierdie videogreep ► AfriForum beraadslaag met Marloth Park Belastingbetalersvereniging ten einde vestiging van steenkoolmyn van 18 000 ha op drumpel van Kruger Nasionale wildtuin by Krokodilbrughek teen te staan ► Groot verdeeldheid in ANC oor ʼn voormalige minister Derek Hanekom met Ace Magashule en Jacob Zuma wat sê hy was “apartheidspioen”, terwyl ANC-veterane en andere hom verdedig as gerespekteerde lid van ANC ► Kyk by hierdie videogreep hoe gemeenskapslede te Burgersfort volgens sosiale media SAPD-beamptes behandel ► Volgens Parlementêre antwoord van Minister van Maatskaplike Ontwikkeling Lindiwe Zulu, is pensioentrekkers en ander begunstigdes afgelope jaar uit maatskaplike toelaes van gesamentlik meer as R21 miljoen bedrieg, terwyl staatsamptenare op bedrieglike wyse R5,4 miljoen in sak gesteek het vir onbehoorlike siekte verlof ► Gereelde georganiseerde betogings en nagwake voor SA Hoë Kommissariaat in Ottawa, Kanada, teen geweldsmisdaad in SA insluitende teen boere, asook teen etniese suiwering, rassisme en korrupsie ► Op Vrouedag 9 Augustus Antieke & Versamelaarsmark by Voortrekkersmonument, Pretoria, 09:00 tot 15:00, alle stalletjie volbespreek, toegang R30 per voertuig, geen troeteldiere ►

Hongarye - land van die eenheid en hoop

  • Hierdie artikel is die eerste in 'n reeks deur 'n vryskutjoernalis in Hongarye, Bálint Mészáros (43), wat spesiaal vir Ditsem Nuus in Afrikaans skryf. Hy woon in die dorp Nagykanizsa en het besluit om Afrikaans te leer – iets wat hy in skryfformaat binne twee maande redelik onder die knie gekry het. Hierdie is sy eerste aflewering, net so hier en daar geredigeer.

Hongarye is my land. Dit beteken alles vir my en nou wil hulle dit van my en van van ons wegneem, alles waarvoor ons geveg het. Eers was dit Moskou en nou is dit Brussel. Ja, nou is dit die EU en hulle praat van verpligte kwotas vir immigrante, oor aanvaarding, integrasie, humanitêre optrede en as ons nie wil nie, dan sê hulle ons is xenofobies.

Hulle verstaan egter nie. Ons is reeds die eenheid en krag in Sentraal-Europa. Ons is die ware demokrate. Hongarye sien 'n Europese Unie wat nasionale identiteite, geskiedenis en godsdienstige erfenis respekteer. Ons regering onder eerste minister Viktor Orbán van die Fidesz Party, aan die stuur sedert 2010, wil sterk grense hê wat immigrante uit die Midde-Ooste en Afrka uithou en ons nasionale kultuur en erfenis beskerm.

Immigrante is meesal Moslems wat nie bereid is om aan te pas nie. Islam gebruik vaardig die Wes-Europese liberale kultuur om na die vasteland 'n godsdiens te bring wat nie die individu respekteer nie. Al hierdie dinge kan lei tot die konfrontasie van Christelike en Moslem-geïnspireerde samelewings, ‘n herhaling van die botsing tussen Oos en Wes.

In die onlangse verkiesings vir die EU parlement het Hongarye deur die Fidesz Party verteenwoordigers na die EU gestuur om te veg teen immigrasiestroom, om die veiligheid van Europa weer op te kry, om die Europese Christelike kultuur te beskerm, en om die nasies te respekteer. Sentraal-Europese leiers verteenwoordig saam 62-63 miljoen mense.

Die Hongaarse volk staan meer verenig as ooit tevore. Dit maak pyn vir Brussel en die grootmagte wat hom help, maar Hongarye is 'n land van eenheid, vrede en hoop! Ja, die hoop van 'n Christelike Europa!

‘n Sportlegende in die ware sin van die woord het sopas gegroet met die heengaan van beroemde langafstandatleet Jackie Mekler op 87-jarige ouderdom. Hy het 10 goue medaljes in 12 Comrades verower, 5 waarvan as wenner – in 1958, 1960, 1963, 1964 en 1968.

Met sy oorwinning in 1958 het hy 45 minute voor die tweede atleet in Pietermaritzburg klaargemaak. In 1960 was hy die eerste atleet wat die op-wedloop vanaf Durban na Pietermaritzburg in minder as 6 uur kon voltooi (5:56).

Vroeër in 1954 het Mekler as Springbok marathonatleet by die Statebondspele in Vancouver, Kanada, silwer verower in die tweede plek. Hy was ook op sy dae die wêreldrekordhouer oor 30, 40 en 50 myl, asook oor 80 km, terwyl hy ook ‘n wenner was van die bekende Londen-na-Brighton wedloop.

As kind is Mekler op 9-jarige ouderdom in die Arcadia Kinderhuis in Johannesburg geplaas, waar hy soggens vroeg uitgeglip het om te gaan draf. Later het hy saam met sy pa in ʼn losieshuis gewoon, vanwaar hy op 16-jarige ouderdom homself as atleet by Germiston Callies ingeskryf het.

Vanjaar met die 2019 Comrades is die outobiografie van Mekler Running Alone bekendgestel en binne drie dae uitverkoop. Ander legendes van die padwedloopwêreld het Mekler gehuldig as een van die heel grootstes i.t.v. sportmanskap, karakter en integriteit. Bruce Fordyce het hom bestempel as ‘n “senior staatsman”, terwyl Allan Robb hom beskryf het as ‘n “ware heer”en “rolmodel”.

As ons so rondom ons gadeslaan, hoe ons mense wreed uitgemoor word, uitgeskel word, geblameer word vir alles wat nog verkeerd geloop het, gemarginaliseer word ekonomies en maatskaplik, ons kultuur en erfenis verkrag word, ens., dan kom ons onvermydelik tot die slotsom dat daar tans ‘n yslike vakuum vir politieke leiding vir spesifiek die Afrikaner bestaan. Iemand moet eenvoudig opstaan en geloofwaardig namens die Afrikaner sê ons gaan ons nie langer so laat moerak nie.

Om hierdie situasie te beredder, is dit ons beskeie mening dat die volgende 10 vereistes nagekom behoort te word:

  • Die Afrikaner moet sy volkskap herontdek en trots uitleef, sonder diskriminasie teen andere.
  • As ‘n volk ons in massa en individueel verootmoedig voor God-Drieënig.
  • Te sê ons is trotse Afrikaners, genoeg is genoeg en ons gaan ons nie langer met ons eie belastinggeld laat vertrap nie.
  • Die Afrikaner in groepsverband homself ekonomies daadwerklik bemagtig - ‘n effektiewe digitale markplein vir Afrikaners geskep word.
  • 'n Leierskap – en nie een enkele leier nie - uitdruklik verklaar dat selfbeskikking ingevolge artikel 235 van die Grondwet nagestreef en opgeneem word.
  • Fisiese grondgebied geïdentifiseer en gedefinieer word, waarop die Afrikaner selfbeskikking kan verwesenlik – Orania kan as vertrekpunt dien.
  • Gekoördineerde en gestruktureerde maatskaplike opheffing gedoen word onder honderdeduisende Afrikaners wat in armoede en swak moraliteit verval het.
  • Vir die Afrikaner eie onderwysinstellings op skole- en tersiêre vlak ontwikkel word.
  • Eie veiligheidstrukture en weerbaarheid so spoedig doenlik ontwikkel word, binne die perke van die reg.
  • Herverbintenis tot die Gelofte van Bloedrivier gedoen word.

Wat sê ons lesers van hierdie mondvol?

 Omdat Ditsem Nuus hierdie inligting as hoogs relevant vir die Afrikaner van vandag beskou, word hierdie verkorte artikel deur die FAK gepubliseer.

Vanjaar is die 120ste herdenking van die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. Lord Roberts se proklamasie van die verskroeide aardebeleid op 16 Junie 1900 verteenwoordig ‘n tragiese wending wat vir geslagte daarna Suid-Afrikaanse geskiedenis op een of ander wyse sou beïnvloed. Roberts se opdrag was duidelik. Plase moet afgebrand en dorpe ontruim word. Huise en veestapels moet sistematies vernietig word.

Die burgerlike bevolking moet met treintrokke, ossewa of per voet na konsentrasiekampe weggevoer word. As die Britte nie die Boerekrygers in die veld kan oorwin nie, sal hulle deur middel van vroue en kinders se lyding hulle moed breek en tot oorgawe dwing.

Die gevolg van die onmenslike beleid was die dood van meer as 22 000 kinders. Afrikaners kon na die oorlog die heldedade van De la Rey en De Wet besing, droogte, winterkoue, armoede en swaarkry verduur, die verlies van die Republieke verwerk, maar skaars oor die dood van hulle kinders praat. Die seer was te diep en te groot. Vir geslagte koester Afrikaners die nagedagtenis van hierdie konsentrasiekampkinders

Daar is ook ’n ander verhaal. Die verhaal van kinders wat die oorlog oorleef het. Kinders behoort in hulle vormingsjare geluk, geborgenheid en stabiliteit in ouerhuise en ondersteunende gemeenskap te ervaar. Vir die geslag kinders was dit nie beskore nie. Die verskroeide aarde het gesinne uit mekaar geskeur, gemeenskappe vernietig en kinders van jongs af met trauma gekonfronteer. Afrikaners skryf graag oor die oorlog, maar min oor die jare na die oorlog. Oor die groot terugkeer. Die land het getreur. Die landskappe was op baie plekke van horison tot horison tot as verbrand. Veekrale was stil. Groot- en kleinwild is uitgeskiet deur honger soldate en bittereinders. Kerkgeboue verniel. Dorpe en infrastruktuur vernietig. Brûe en treinspore opgeblaas. Die winter van 1902 was die koudste sedert temperature opgeteken is. In die somer het reën weggebly. ’n Witwarm droogte het die verskroeide aarde tot ’n harde kors drooggebak. ’n Sprinkaanplaag het die laaste groen weggevreet.

Dit het maande geneem voor die oorlewendes met hulle gesinne herenig is. Sommige is nooit herenig nie. In sommige gevalle is die weeskinders weggegee aan enige een wat hulle oor die kind wou ontferm. Dit het onuitwisbare emosionele letsels gelaat.

Was Jan F Celliers se graf in die gras en vallende traan al wat vir Afrikaners na 16 Junie 1900 oorgebly het? Op die oog af, ja, maar wie gedink het dit is onmoontlik om die land te herbou, het nie rekening gehou met die kinders van die land nie.

Die land het kinders oor dekades geleer van moed en deursettingsvermoë. Van selfverdediging en bouwerk. Van swaarkry en opstaan. Hulle was immers die kleinkinders en agterkleinkinders van die Groot Trek-geslag wat skaars ses dekades vantevore die Kaapkolonie verlaat het.

Diegene wat die oorlog oorleef het, het nie in die sinkgat van slagofferskap verval nie. Hulle het nie bakhand by Milner vir aalmoese gepleit of die bedelstaf by koning Edward opgeneem nie. Geloof het gehelp dat die meeste van hulle nie in bitterheid en haat verval nie.

Die oorwonne Afrikaners was ook nie slawe van die oorwinnaars nie. Dit is waar dat sommige Afrikaners na die oorlog hulself tot ‘loyal British subjects’ getransformeer het deur die identiteit, taal en idioom van die veroweraars gedwee te internaliseer. Verreweg die meeste Afrikaners het egter nie hierby ingeval nie.

Die na-oorlogse geslag was nie slagoffers of slawe nie, maar bouers. Brandarm ouers het CNO-skole in plaasskure, stalle en onder bome gevestig. Hulle kinders het verder gebou. Universiteite. Skeppende kultuurorganisasies. Nuwe infrastruktuur is ontwikkel en landerye aangelê. Ou dorpe is herbou en nuwe dorpe se grense vasgestel.

Die kinders het met gedigte, kompetisies en toneelstukke die woordeskat van ’n nuwe taal uit Afrika ontwikkel. Met sikspense en pennies, pannekoekverkopings en konserte het hulle monumente gebou. Die Bybel is in Afrikaans vertaal en so is in geloof die een baken na die ander opgerig.

Ons moet vir altyd die kinders wat gesterf het in herinnering roep en hulle nagedagtenis eer. Terselfdertyd moet die bouwerk van die kinders wat oorleef het, ons en ons kinders in ons eie gebroke konteks inspireer. Om dié rede het die FAK in die historiese herdenkingsjaar op 16 Junie ’n Penkopmonument op ons kultuurplaas naby Parys opgerig en dienooreenkomstig word verder beplan. Dit was aangrypend om te sien hoe die jong Voortrekkers van Parys na die onthulling van die Penkopmonument dadelik die name en vanne van hulle oupagrootjies op die borde begin soek. Hulle is immers ook kinders van die land. Toekomsbouers in eie reg.

Die huidige stryd tussen OB, Busisiwe Mkhwebane, en Minister van Openbare Ondernemings Pravin Gordhan oor skynbaar regstegniese wedsoortredings wat laasgenoemde sou begaan het, terwyl bewese groot staatskapers soos Jacob Zuma, Ace Magashule en kie nie aktief deur die OB ondersoek word nie, wys dat staatskaping in SA nog lank nie verby is nie. Die hele saga dui daarop dat dit ʼn deursigtige poging is om staatskaping van die verlede te verbloem en terselfdertyd die deur oop te hou vir verdere aksies in hierdie verband.

Die aanstelling van meelopers in staatskaping in die invloedryke poste van voorsitters van Parlementêre portefeuljekomitees is ʼn bevestiging van hierdie siening. Aan die ander kant is daar lig in die vorm van die Zondo- en Mpati-kommissies wat staatskaping meedoënloos blootlê, terwyl daar ook denkende swartes is wat gekant is teen korrupsie en nepotisme.

Die stryd is dus nog lank en nie iets van die verlede nie en daar kan net gebid en gewerk word dat reg en geregtigheid in SA uiteindelik sal seëvier!

Weens toenemende bendegeweld in en rondom tradisionele bruin en swart woonbuurte in Kaapstad, word die Wes-Kaap nou bestempel as ’n oorlogsone, met die afgelope ses maandes 1 875 mense vermoor. Misdaad vier hoogty, inwoners leef in vrees en die jeug word aangeval a.g.v. ’n tekort aan polisiëring, gebrek aan doeltreffende wetstoepassing en,misdaadintelligensie.

Wes-Kaapse premier Alan Winde sê dat volgens die forensiese dienste-eenheid van die Departement van Gesondheid, is daar verlede maand 331 moorde in die Wes-Kaap aangeteken - meer as 10 moorde per dag. Van die 331 moorde, is 171 geskiet en 116 is met 'n skerp voorwerp gesteek. Altesame 271 van die moorde is in die metrogebied aangeteken, met die oorblywende 60 in landelike gebiede.

Volgens Winde is ‘n groot rede die tekort aan aan polisiëring - die verhouding is slegs een polisielid vir 509 inwoners in die Wes-Kaap en een tot 560 in Kaapstad. Winde het n.a.v onsuksesvolle vertoë tot minister van polisie Bheki Cele,   ’n dispuut met die nasionale regering verklaar.

Cele het egter sopas aangedui dat die SAPD ‘n spesiale anti-bende-eenheid vir die Kaapse Vlakte op die been gebring met die oog op drastiese ingryping.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) sit met ’n R9,2 miljard ondiensbare lening en het die regering gevra vir ’n verdere reddingsboei van R4 miljard omrede ’n R3,5 miljard korttermynlening einde vandeesmaand verval. Raadslid Martin Kingston sê dat die lugredery enorme finansiële uitdagings in die gesig staar weens enorme skuld, maar indien hulle die R3,5 miljard terug betaal, sal dit deure oopmaak vir addisionele likiditeit.

Die bedryfskostes van die redery beloop ongeveer R450 miljoen per maand en word die staatsonderneming sedert 2011 teen ’n verlies bedryf, met totale uitstaande skuld wat alreeds meer as R20 miljard beloop. Die inkomste gedurende 2016-17, het R30,4 miljard opgelewer, terwyl bedryfskoste R30,9 miljard bedra het. Finansieringskoste beloop tans R835 miljoen, terwyl die bedryfsverlies R533 miljoen te staan gekom het. Verliese op die lopende bedryfsrekening word voortgesit met 'n verlies van R734 miljoen aangeteken in die eerste maand van die 2017-18 finansiële jaar.

Ekonoom Mike Schussler meen dat die lugredery nou so in skuld verval het dat die einde in sig is en meen dat 'n verdere staatsreddingsboei aan SAL ‘n afgradering kan bespoedig van die kredietwaardigheid van die land deur agentskappe soos Moody’s.

Intussen peul in getuienis voor die Zondo-kommissie na staatskaping die wurms uit die kas van die skrikbewind wat voormalige voorsitter van die SAL-direksie Dudu Myeni by die redery gevoer het en waartydens letterlik miljarde rand in korrupsie en wanbestuur verkwis is. Volgens hierdie getuienis het sake selfs verder verswak toe Malusi Gigaba minister van staatsondernemings geword het.

As ons so rondom ons gadeslaan, hoe ons mense wreed uitgemoor word, uitgeskel word, geblameer word vir alles wat nog verkeerd geloop het, gemarginaliseer word ekonomies en maatskaplik, ons kultuur en erfenis verkrag word, ens., dan kom ons onvermydelik tot die slotsom dat daar tans ‘n yslike vakuum vir politieke leiding vir spesifiek die Afrikaner bestaan. Iemand moet eenvoudig opstaan en geloofwaardig namens die Afrikaner sê ons gaan ons nie langer so laat moerak nie.

Om hierdie situasie te beredder, is dit ons beskeie mening dat die volgende 10 vereistes nagekom behoort te word:

  • Die Afrikaner moet sy volkskap herontdek en trots uitleef, sonder diskriminasie teen andere.
  • As ‘n volk ons in massa en individueel verootmoedig voor God-Drieënig.
  • Te sê ons is trotse Afrikaners, genoeg is genoeg en ons gaan ons nie langer met ons eie belastinggeld laat vertrap nie.
  • Die Afrikaner in groepsverband homself ekonomies daadwerklik bemagtig - ‘n effektiewe digitale markplein vir Afrikaners geskep word.
  • 'n Leierskap – en nie een enkele leier nie - uitdruklik verklaar dat selfbeskikking ingevolge artikel 235 van die Grondwet nagestreef en opgeneem word.
  • Fisiese grondgebied geïdentifiseer en gedefinieer word, waarop die Afrikaner selfbeskikking kan verwesenlik – Orania kan as vertrekpunt dien.
  • Gekoördineerde en gestruktureerde maatskaplike opheffing gedoen word onder honderdeduisende Afrikaners wat in armoede en swak moraliteit verval het.
  • Vir die Afrikaner eie onderwysinstellings op skole- en tersiêre vlak ontwikkel word.
  • Eie veiligheidstrukture en weerbaarheid so spoedig doenlik ontwikkel word, binne die perke van die reg.
  • Herverbintenis tot die Gelofte van Bloedrivier gedoen word.

Wat sê ons lesers van hierdie mondvol?

ʼn Nuwe term wat die afgelope week in openbare debat opgeduik het, is Dag Zero vir die nie-betaling van salarisse van amptenare in die openbare sektor. Dit is veral n.a.v. die verdoemende verslag wat Ouditeur-generaal Kimi Makwetu Woensdag gepubliseer het oor die stand van munisipaliteite in Suid-Afrika, met slegs 18 van 257 munisipaliteite wat ʼn skoon oudit gekry het.

Voorts blyk uit die verslag dat munisipaliteite in SA in werklikheid slegs gebruik, of misbruik, word vir selfverryking en stroping deur ANC-kaders. Onbevoegdes en skurke word in topposte teen astronomiese vergoeding aangestel en hulle het nie ʼn saak met dienslewering nie.

Die meeste van hierdie posbekleërs deel die tenders van miljoene rande van hul munisipaliteite uit soos kaarte in ʼn kaartspel rondom ʼn tafel. ʼn Klassieke voorbeeld hiervan is die geval wat die OG uitgelig het van die Oranjeville sportkompleks, waar R21,7 miljoen reeds bestee is van die begrote R21,9 miljoen, maar op die perseel staan nog net ʼn heining. Die gevolg is noodwendig dat soos in vandag by maandeinde sowat 30 munisipaliteite erg sukkel om hul personeelsalarisse te betaal.

Daar word ook gelet op deurlopende getuienis voor die Zondo-kommissie van massiewe korrupsie by staatsondernemings soos Eskom en SAL waar dit in miljarde getel word. In die lig daarvan kan begryp word waarom die SABC, Denel en andere ook soos in vandag kwalik hul salarisse kan betaal.

In geheel is dit duidelik dat die SA staatskas by die nasionale Tesourie nie ver van boomskraap af is nie. Wat dit alles op neerkom is dat Dag Zero vir staatsalarisse ʼn werklike moontlikheid geword het, met die enorme implikasies wat dit inhou.

Die nuustoneel in SA die afgelope 10 dae is gekenmerk deur die Staatsrede van pres. Cyril Ramaphosa met die opening van die 6de Parlement, die kritiek en insette van opposisiepartye daarop en weer die repliek van Ramaphosa. Behalwe dat die radikales in die ANC ‘n slag geslaan het met die aanwysing van staatskapers en korrupte politici as voorsitters van Parlementêre portefeuljekomitees, is die politieke debat gekenmerk deur die toespraak van VF Plus leier Pieter Groenwald en die reaksie van die staatspresident daarop.

Groenewald het naamlik vir Ramaphosa uitgedaag om iets te sê oor die wreedheid van aanhoudende plaasmoorde en hom selfs genooi na ‘n begrafnis van ‘n slagoffer van ‘n plaasmoord, maar Ramaphosa swyg steeds soos die graf.

Wat sê dit? Dat Ramaphosa weet van die koverte betrokkenheid van regeringselemente by plaasmoorde – dus van medepligtigheid? Hierdie implikasie, wat nie ligtelik gemaak word nie, sny diep - ook vir die bepaling van die toekomskoers van die Afrikaner in hierdie land.

Die Gauteng LUR vir Onderwys Panyaza Lesufi het met sy hatige en verbete anti-Afrikaanse en anti-Afrikaneraksies reeds vir homself 'n plek in die Afrikaner-geskiedenis verwerf as een van die mees gehate mense, op dieselfde vlak van 'n Alfred Milner. Die jongste verwikkelinge rondom hom word uitstekend soos volg saamgevat in 'n mediaverklaring van adv. Anton Alberts van die VF Plus:

“Die besluit van Gauteng premier David Makhura om Panyaza Lesufi terug te skuif na sy vorige portefeulje as LUR vir onderwys in dié provinsie, is ʼn klap in die gesig van minderhede, aangesien daar geen twyfel is nie dat hy sy vernietigingswerk met moedertaalonderrig en Afrikaans in besonder gaan voortsit.

“Lesufi het nog nooit ʼn geheim daarvan gemaak dat hy Afrikaans minag en Afrikaanse skole wil vernietig nie. In sy dienstyd as LUR het hy talle Afrikaanse skole laat transformeer na Engels en dit is kommerwekkend dat Makhura glo onder ‘openbare druk’ geswig het om die status quo met Lesufi te herstel.

“Lesufi se rekord getuig daarvan dat hy ʼn swak LUR was. Hy het nie genoeg skole gebou met sy toereikende begroting nie en gaan bloot aanhou met sy pogings om Afrikaanse skole te intimideer en te transformeer na Engels.

“Die Driehoek-tragedie het ook bewys dat hy nie omgee oor die onderhoud van skole se infrastruktuur nie. Sy enigste belang by dié skool en ander skole met onlangse inspeksies was om vas te stel hoe vol skole is en hoe plek gevind kon word vir bykomende leerders wat nie Afrikaanssprekend is nie.

“Dit is hoogs problematies dat ʼn persoon, wat aandadigheid moet aanvaar vir die tragedie, weer in beheer geplaas gaan word van ʼn omgewing waar kinders se veiligheid aan sy nalatige optrede oorgelaat gaan word. Die VF Plus onderneem om Lesufi aggressief teen te staan en te sorg dat hy sy mandaat op ʼn nie-diskriminerende grondslag uitvoer ingevolge die Grondwet, wat wel die beskerming van moedertaalonderrig waarborg. Druk sal ook op hom geplaas word om moedertaalonderrig en Afrikaans te beskerm, om meer skole te bou, om te sorg dat infrastruktuur onderhou word en dat gemeenskappe nie teen mekaar afgespeel word met onderwys as politieke speelbal nie, ” aldus Alberts.

‘n Hele reeks groot wêreldsportgeleeenthede vind vandeesmaand en volgende maand plaas en waaraan Suid-Afrika ook deelneem, soos o.a.:

  • Die Krieket Wêreldbeker word tans op verskillende velde in Engeland en Wallis tussen 10 nasionale spanne beslis. Die Proteas het ongelukkig hul eerste drie wedstryde verloor.
  • In Frankryk word die Sokker Wêreldbeker vir Vroue tans beslis, met 24 deelnemende nasionale spanne. Die Banyana Banyana het ondanks ‘n dapper poging hul eerste wedstryd 1-3 teen Spanje verloor.
  • In Argentinië word die Rugby Onder 20 Wêreldbeker tans gespeel, met 10 spanne. Die Junior Bokkies het hul eerste twee groepwedstryde gewen.
  • Op Wimbledon volgende maand sal SA seker in die mansenkelspel twee verteenwoordigers hê, nl. Kevin Anderson (tans nr. 8 in die wêreld) en die opkomende Lloyd Harris (tans nr. 87 in die wêreld).

Verlede maand met die kies van die nasionale senior netbalgroep vir die Wêreld toernooi volgende maand in Liverpool, Engeland het Netbal SA (NSA) sowel as die spanafrigter Norma Plummer gesê vir die eerste keer in jare het geen kwotavereistes gegeld nie. In die groep van 12 spelers is daar net vier van kleur, insluitende die ervare kaptein Bongiwe Msomi.

“Ek het volle vertroue in die afrigter, haar tegniese span en al die spelers. Ek wens hulle die beste toe,” het Cecilia Molokwane, NSA president gesê.

Ongeveer drie weke later verklaar AfriForum tydens 'n mediakonferensie egter dat op skolevlak 'n totaal van 56 blanke meisies al weens ras uit verteenwoordigende skolenetbalspanne gelaat is, ondanks die feit dat hulle op meriete wel gekwalifiseer het. Volgens AfriForum toon die puntestate van keurders vir Gautengse o.12- tot o.18 skolenetbalspanne dat op hierdie wyse teen hierdie meisies gediskrimineer is.

In reaksie hierop het SA Skolenetbal gesê dit is jammer dat kinders nou deur volwassenes gebruik word om politieke agendas te bevorder, maar op hul beurt het NSA in hul kommentaar gesê dat dit onregverdig sou wees indien netbalspelers op skolevlak uitsluitlik op grond van ras uit verteenwoordigende spanne gelaat word.

AfriForum het namens die ouers van die benadeelde meisies ’n amptelike klag by SA Skolenetbal, Gauteng Skolenetbal en NSA ingedien.   Indien die saak nie bevredigend uitgesorteer word nie, beplan AfriForum om dit by die Internasionale Netbalfederasie aanhangig te maak, want die reëls van die Internasionale Netbalfederasie, asook dié van die Internasionale Olimpiese Komitee en die Statebondspele Federasie, belet uitdruklik enige vorm van rassediskriminasie in sport.

Dit wil tog voorkom asof vordering gemaak word om rassekwotas uit SA sport te weer.

Terrorisme breek los op nasionale snelweë feitlik landswyd met vragmotors wat met brandbomme bestook word, o.a. op N3 in KZN, R59 by Vereeniging, N2 by Port Elizabeth, N11 by Ermelo, N1 by Touwsrivier in Wes-Kaap; o.a. Bernard Groenewald vragmotorbestuurder erg verbrand toe hy met brandbom in kajuit gegooi is terwyl hy slaap

Volgens berig op sosiale media is sedert Mei 2018 1 300 vragmotors op hoofpaaie in die land aan die brandgesteek

 

Die Skatkis klerewinkel in die Horison Nywerheidskorf het opwindende nuwe wintersvoorraad ingekry, vir mans sowel as dames, asook kinderklere - truie, baadjies, skoene, onderklere en sweetpakke, onder andere.

Wat ook spesiaal genoem moet word, is jagbaadjies vir mans, terwyl daar ook nuwe skoenreekse is wat nog nie voorheen op Orania beskikbaar was nie. Eienares Magda sê egter voorrade verkoop vinnig uit en mense moet opskud indien hulle die beste keuses wil maak.

Die Skatkis met sy groot vloeroppervlak bied uitstekende geleentheid om rustig te snuffel, terwyl aanpaskamers ook beskikbaar is. In die tweede helfte van Junie word weer groot nuwe voorraad ingeskeep.

Teen alle verwagtinge in het die Proteas tot dusver in die hek geduik met die Krieket Wêreldbeker in Engeland en die eerste drie wedstryde op ‘n streep verloor – teen Engeland, Bangladesh en Indië. Daar kan aanvaar word dat die spelers hul bes gegee het en moet hulle nie te kras veroordeel word nie, maar wat is die redes vir die swak prestasie?

Die redes kan moontlik soos volg aangestip word:

  • Hoewel Krieket SA en die spanafrigter Ottis Gibson gesê het met die kies van die huidige span het geen kwotas gegeld nie en is slegs op meriete gekies, moet die huidige spansamestelling tog teruggevoer word na vorige jare waar kwotas streng toegepas is. So bv. het wêreldklasspelers soos Kyle Abbott en Rilee Rossouw in die slag gebly en het hulle verkies om eerder graafskapkontrakte te sluit as om langer vir hoop in die nasionale span rond te hang. Dit is sulke spelers wat in die huidige span die verskil tussen wen en verloor kon gemaak het.
  • Te veel krieket. Feitlik die hele huidige span het tot ‘n week of wat voor die Wêreldbeker nog hoogs mededingende krieket in die Indiese Premierliga gespeel, ooglopend vir die groot geld, maar dit het onvermydelik sy fisiese tol geëis. Van die spelers ly tot ‘n mate aan uitbranding, soos die geval met Dale Steyn wat met sy beseerde skouer voortydig huiswaarts moes keer.
  • Met die uiteindelike spankeuse is moontlik ook nie so raakgevat nie en reken bv. ‘n kenner soos Fanie de Villiers dat Hashim Amla (35) verby sy beste is en dat effe stadiger reaksie die rede is waarom hy teen Engeland teen die kop raakgeboul en beseer is en so moontlik die Proteas se kans op oorwinning ontspoor het.
  • De Villiers is ook van mening dat die ondersteunende spanbestuur, soos die fisioterapeut, biokinetikus, sielkundige berader, ens. nie opgewasse vir hul taak is nie. Dit wil lyk of hy 'n punt beet het. Watter rol kon kwotas in hierdie verband gespeel het, kan gevra word?

Hoe dit ookal sy, daar kan steeds maar net vorentoe gekyk word en hopelik geleer word uit foute van die verlede.

Verlede jaar het Ditsem Nuus berig dat planne opgetrek is om ʼn groot en volledige aftree-oord op Orania te bou op die terrein oorkant die bestaande Karoosig woonbuurtontwikkeling en suid van Smaraglaan (sementpad), maar volgens betrokkenes met wie Ditsem Nuus gepraat het, is hierdie beplanning egter eers op die langebaan geskuif. In plaas daarvan word beplan om die bestaande Karoosig Tehuis vir Bejaardes uit te brei met ʼn aantal wooneenhede en wel op die oop ruimte tussen die tehuis en die gebou van die Poskantoor en OVD Veiligheid.

Wat egter soos ʼn paal bo water bly staan, is dat daar buitendien steeds ʼn geweldige behoefte te Orania is vir ʼn doelontwerpte en moderne aftree-oord met verblyffasiliteite oor die spektrum vanaf woonstelle tot plek vir verswakte bejaardes. As sulks bied dit ʼn uitstekende beleggings- en ontwikkelingsgeleentheid vir entrepreneurs gespesialiseerd in aftree-oorde.

Daar is groot behoefte en aanvraag buite Orania vir mense om in Orania in veiligheid en rustigheid en met betroubare versorging te kom aftree. Die gaping is dus daar, dit is net ʼn vraag of die projek – of selfs meer as een – deur entrepreneurskap van buite Orania aanmekaargesit sal kan word.  

Die enigste troeteldierwinkel in die Bo-Karoo waar diereliefhebbers ‘n uitlaatklep vir hul passie kan vind, is Troeteldier en Hengel Paradys te Orania, in die Stokkiesdraai Avontuurpark. Daar staan eienares Elizabeth Solomon reg om kliënte met raad en daad te bedien.

Elizabeth sê sy is met ʼn passie vir diere gebore en het nog altyd daarvan gehou om met diere te werk. Voordat sy verlede jaar saam met haar ouers na Orania verhuis het, het sy op ʼn renosterplaas naby Klerksdorp gewerk, waar sy babarenosters versorg het. Te Orania het sy en haar pa, Cornelius, besluit om die leemte in die streek vir ʼn spesialis troeteldierwinkel te vul.

Elizabeth sê om ʼn troeteldier of diere aan te hou, vereis intensiewe sowel as omvattende versorging – dit is nie net kos en water nie, maar ook fyn let op die gesondheid van die dier, die hok gereeld skoonmaak, kyk dat diere nie mekaar afknou of beseer nie, ens. Kinders veral moet deeglik bewus wees van hierdie vereistes en verantwoordelikheid.

Troeteldier en Hengel Paradys spesialiseer in ʼn wye reeks visse, voëls en hamsters, maar hou ook hondjies en hasies aan. Hulle bied ook ʼn wye reeks produkte vir troeteldiere, vanaf hokke en kos tot speelgoed en allerlei hulpmiddels – dit is nou benewens die hengelgerei-afdeling in die winkel.

Elizabeth probeer ook sover moontlik voldoen aan enige spesiale versoeke rakende troeteldiere. Sy kan geskakel word by 084 225 6669.

Bladsy 2 van 5
Go to top