Van Niekerkshof Kennels

► Roemenië sluit aan by Hongarye, Pole Slowakye en Tsjeggiese Republiek om Moslem-migrante te verbied ► OB Busisiwe Mkhwebane gaan twee top ANC’s en voormalige Vrystaatse politici Ace Magashule en Mosebenzi Zwane ondersoek oor Vrede suiwelskandaal ► Inbraak by Valke-kantoor in Kaapstad – baie vrae daaroor ► Wreedaardige aanval op Mike Bonnette, boer van Chrissiesfontein, Midvaal-distrik – wonderbaarlik oorleef ► Mangaung Metro burgemeester weier openbare vergadering oor waterkrisis in die metro ► Britse regering skenk R858 miljoen aan pres. Cyril Ramaphosa ondanks of danksy sy voorneme om grond in SA te onteien sonder vergoeding ► Minister van Polisie Bheki Cele weier dat spesiale eenhede vir plaasveiligheid ingestel word ► Statebondsberaad in Londen met 53 staatshoofde; Brittanje nuwe bande vir Brexit ► Meer nuus op www.ditsem,net en Ditsem Facebook; teken in op DitsemBlits

burgerlike journalistiek banier  Photo and Frame Banier 2018

Ander misdaad (41)

Die vakbond Solidariteit het ʼn interdik in die Noord-Gautengse Hooggeregshof bekom teen die SA Polisiediens (SAPD) en wat lg. dwing om alle inligting rakende hul omstrede NSF-projek (“Non-Statutory Forces”-projek) op die ys te plaas en besonderhede daaromtrent bekend te maak.

Solidariteit sê hulle was genoodsaak om die hof te nader, nadat die SAPD voortgegaan het met ongrondwetlike bevordering van 628 MK-lede en die uitsluiting van 150 000 ander professionele SAPD-lede. Die aansoek van Solidariteit is met kostes toegestaan. Vir meer besonderhede, kontak Anton van der Bijl by 083 291 6855.

Die redes vir die blokkering gisteroggend van die N3 tussen KZN en Gauteng by die Mooirivier Toll Plaza en die gevolglike plundering en uitbranding van groot vragmotors is steeds onduidelik. Volgens die Minister van Polisie Bheki Cele wat die toneel inderhaas besoek het, het 'n paar taxi’s vroegoggend naby die tolhek stilgehou en 'n aantal passasiers afgelaai, wat toe begin het om vragmotors tot stilstand te dwing en die bestuurders gedwing het om uit te klim. Die rede was skynbaar dat van die bestuurders buitelanders is, wat dan poste van Suid-Afrikaners sou geneem het.

Daarop het 'n aantal plakkers van 'n nabygeleë gebied nader gestorm en die vragmotors begin plunder en daarna met petrolbomme aan die brand gesteek. Chaos het uitgebreek en die druk Paasverkeer vanaf KZN noordwaarts is ook tot stilstand gedwing, wat tot gevolg gehad het dat voertuie vir kilometers opgedam het. Later het die SAPD en ander betrokke instansies daarin geslaag om die wrakke weg te sleep, die toneel op te ruim en die pad te herstel, sodat die verkeer uiteindelik weer normaal kon vloei.

As nasleep van die verklarings deur pres. Cyril Ramaphosa en van sy kabinetskollegas dat grond in die land onteien gaan word sonder vergoeding en die daaropvolgende Parlementêre aanvaarding van die EFF/ANC voorstel dat implementering van onteiening sonder vergoeding gedurende die volgende ses maande ondersoek gaan word, is besetting van oop grond deur plakkers besig om landswyd uit te slaan. Hoewel die regering sedertdien teruggekrabbel het en gesê het dat onder huidige wetgewing is besetting onwettig, het die Polisie en munisipale wetstoepassers hul hande vol met onwettige plakkery.

Dit is duidelik dat politici en swart radikales 'n miernes oopgesteek het, wat moeilik weer toegemaak sal kan word. In die Wes-Kaap, Gauteng, Oos-Kaap en KZN o.a. het plakkers eenvoudig opgedaag en begin erwe uitmeet en boumateriaal aanry. Te Hermanus en Midrand het dit oorgeslaan in grootskaalse openbare geweld, die omvang waarvan op sosiale media baie erger geskets word as in die hoofstroommedia.

Die stof het nog nie gaan lê oor die skynbare massiewe korrupsie wat plaasgevind het met die verkoop in Desember 2016 van die hele strategiese brandstofvoorraad.van Suid-Afrika van sowat 10,3 miljoen olievate teen $28 per vat - $10 onder markprys. Daar word beraam dat in hierdie proses die aankopers wins van ongeveer R2 miljard gemaak het.

In 2017 het destydse Minister van Energie Tina Joemat-Pettersson aan die Parlement gesê dat die voorraad nie verkoop is nie, maar bloot “gesirkuleer” is. Later het haar opvolger Mmamoloko Kubayi haar egter gerepudieer en gesê die voorraad is inderdaad verkoop en nie gehersirkuleer nie.

‘n Ondersoek is gelas, maar die huidige Minister van Energie David Mahlobo sê dat die departementele ondersoek op die ys geplaas is omdat 'n “slordige” verslag oor die aangeleentheid ontvang is. Nou het die DA ‘n formele versoek gerig dat die Valke die saak oorneem en ondersoek.

Daar word geraam dat dit die regering tans R5,6 miljard sal kos om die betrokke voorraad te vervang.  

Solidariteit het ʼn aansoek in die Noord-Gautengse Hooggeregshof gebring teen die SA Polisiediens oor beweerde ongrondwetlike en diskriminerende bevordering van huidige en oud-MK lede en vra daarin dat alle inligting t.o.v. die sg. “Non-Statutory Forces”-projek (NSF) geopenbaar word. Dit volg op ‘n SAPD-proses om sekere militêre veterane selektief onder die NSF-projek te hergradeer en te bevorder.

Volgens Solidariteit ontvang slegs lede wat deel vorm van sg. nie-statutêre magte oftewel “vryheidsvegters” bepaalde pensioenvoordele en bevorderings, terwyl lede wat deel gevorm het van gewone statutêre magte, soos die SA Weermag, nie daarvoor “kwalifiseer” nie. Die projek kom neer op blatante rassisme, was nooit bedoel onder die Grondwet nie en druis in teen verskeie internasionale konvensies waarby SA 'n party is, aldus Solidariteit.
 
Solidariteit sê dat terwyl gesê word dat die projek nog in ʼn onderhandelingsfase is, dit reeds geïmplementeer word en dit sonder dat relevante vakbonde soos Solidariteit gekonsulteer is. “Dit is weereens vir ons duidelik dat die SAPD slegs ʼn uitverkore groep werknemers se belange bevorder ten koste van ander.  Ons dra die belange van alle loopbaangerigte Polisielede op die hart en daarom gaan ons voort om vir ons lede in die SAPD te veg.”

Op ‘n wyer front is daar 'n sterk vermoede dat die NSF-projek 'n onderduimse poging van die ANC is om die SAPD vir sy eie doeleindes te kaap en daarom word die verloop van die hofaansoek met belangstelling gevolg.

Nog ‘n korrupte landbouprojek van die Vrystaatse regering in die provinsie het aan die lig gekom in die vorm van ‘n hoender- en groenteplaas op die plaas Wildehondekop in die Parys-distrik. Daar staan drie modern hoenderhuise al die afgelope vyf jaar onvoltooid elk groot 120 m en 15 m breed. Na raming kos dit ongeveer R3 miljoen om so ‘n gebou op te rig.

In die geboue lê ongebruikte toerusting wat na bewering verkeerdelik uit China bestel is. Langs die hoenderhuise is ‘n ry kweekhuise, wat bedoel was vir groenteverbouing in tonnels, die oprigtingskoste waarvan op R1,5 miljoen geraam word.

Blykbaar het die projek misluk weens kontrakteursprobleme en toe het die Vrystaatse regering ‘n tweede Chinese belegger gekontrakteer om ‘n verdere 60 hoenderhuise op te rig vir die grootmaak en slag van drie miljoen hoenders elke ses weke. ‘n Abattoir is ook deel van die beplanning, wat egter in geheel klaarblyklik skeef geloop het, want tans word geen bedrywighede op die plaas gesien nie.

Die omstrede Cash Paymaster Services (CPS) wat die afgelope jare die uitbetaling van welsynstoelaes namens die SA Social Services Agency (Sassa) gehanteer het – na sterk bewering op grond van 'n onregmatige kontrak – word tans deur Corruption Watch (CW) in die Noord-Gautengse hooggeregshof gedagvaar om onregmatige fooie ter waarde van R317 miljoen uit die kontrak aan die staat terug te betaal.

Die saak sloer al sedert Maart 2015, maar as gevolg van verskeie operasionele faktore word verwag dat die saak binne die volgende maand bereg sal word. Intussen doen Minister van Maatskaplike Ontwikkeling Bathabile Dlamini alles in haar persoonlike vermoë om CPS vir die Sassa uitbetalings te behou, ondanks 'n kabinetsbesluit dat die SA Poskantoor dit voortaan moet hanteer.

Vir meer besonderhede, kontak Corruption Watch by 011 242 3900 of 083 763 3472 of volg hierdie twee skakels:  

twitter.com/Corruption_SA en facebook.com/CorruptionWatch.

SA is geruk deur die onverwagse gewapende aanval op die Ngcobo Polisiestasie naby Queenstown waarin vyf Polisielede en ʼn oud-soldaat doodgeskiet is 'n aantal vuurwapens is wel tydens die voorval gebuit, maar dit op sigself verskaf nog nie aanduiding van motief nie.

In kommentaar op die voorval sê die VF Plus in 'n mediaverklaring: “Dit is ‘n bewys dat misdadigers nie meer bang is vir die Polisie nie en dat georganiseerde misdaad besig is om handuit te ruk. Dit is ook ʼn bewys dat die land nou die prys betaal vir die verbrokkeling van misdaadintelligensie-strukture wat veronderstel is om georganiseerde misdaad en sindikate te ontbloot.

“Dit is ook kommerwekkend dat misdadigers so gespesialiseerd kan optree dat hulle sonder vrees ʼn Polisiekantoor aanval, Polisielede vermoor, al die wapens en ʼn Polisievoertuig roof en boonop twee lede ontvoer wat later tereggestel is. Hierdie moet ʼn wekroep wees vir die regering en vir die Polisie.”

Die jongste is dat ‘n gesaamlike taakmag Vrydag 22 Feb. 2018 op ‘n bende van sowat 20 verdagtes toegeslaan het en sewe doodgeskiet het en 10 inhegtenis geneem het, terwyl skynbaar sowat 10 ontsnap het en voortvlugtig is.

Hoewel dit nie so uitdruklik gesê word nie, word in beriggewing in sowel hoofstroom- as sosiale media geïmpliseer dat voormalige pres. Jacob Zuma in die laaste dae van sy ampsbekleding probeer het om die steun van die SA Nasionale Weermag te verkry ten einde hom in sy pos te help hou. Dit sou neerkom op 'n militêre staatsgreep, wat die afkondiging van krygswet tot gevolg kon hê.

Blykbaar het Minister van Verdediging en Militêre Veterane Nosiviwe Mapisa-Nqakula en die Hoof van die Weermag genl. Solly Shoke geweier en gesê dat hulle bly getrou aan die Grondwet. Dít en die feit dat die ANC oorwegend nie geskrik het vir dreigemente van Zuma om skandale van die party sedert 1994 te openbaar nie, het blykbaar die deurslag gegee vir sy finale bedanking.

'n Mediaverklaring van die VF Plus lui o.m. soos volg: “Uit die voortslepende gewelddadige protesoptrede van inwoners van Sicelo op die R59 provinsiale pad wil dit blyk of  betogers meer regte geniet as wetsgehoorsame burgers en inwoners. Ons veroordeel nie net die voortslepende betogings op die pad in die sterkste terme nie, maar is geskok oor die anargie wat heers en die gepaardgaande Verdraagsaamheid van die plaaslike owerhede jeens die betogers. Daar is bloot nie onderskeid te tref tussen betogers en misdadige elemente nie.

"Hierdie gewelddadige protesoptrede ontneem wetsgehoorsame landsburgers en gemeenskappe hul regte en is ʼn direkte gevolg van swak politieke leierskap en onvoldoende polisiëring. Ons het ʼn versoekskrif met bykans 900 handtekeninge oor die situasie aan burgemeester Bongani Baloyi oorhandig en daarmee saam ook voorgestelde veiligheidsmaatreëls met betrekking tot protesoptrede.

“Die burgemeester het nog glad nie op die versoek gereageer nie of daarop geantwoord of dit onder die aandag van die betrokke komitee gebring nie. Die tyd het aangebreek dat hierdie gewelddadige optrede as misdaad beskou word en die betrokke gemeenskapsleiers in hegtenis geneem en vervolg word.”

Bladsy 1 van 3

VVK2 banier