► In Mediumtermynbegroting van Minister van Finansies Tito Mboweni feitlik geen melding van landbou en die geweldige druk op boere oor wydverspreide droogte; op vraag van VF Plus pres. Cyril Ramaphosa ontwykend oor enige bystand aan kommersiële boere ► VF-Plus in Gauteng sê Gauteng Onderwysdepartement moontlik skuldig aan onreëlmatige besteding van R1,2 miljard i.v.m. skoolsvoedingsprojek, dít terwyl die LUR vir Onderwys Panyaza Lesufi Afrikaanse skole vir geringste vermoedelike oortredinge aanspreek ► Dit blyk of dorpe Dewetsdorp, Vanstadensrus en Wepener feitlik geen munisipale dienste ontvang vanaf Mangaung Metro onder wie hulle ingedeel is nie ► Adjunk-pres. David Mabuza op besoek aan China tydens sitting van SA-China Bilaterale Kommissie wys op die talle geïntegreerde tussen die twee lande o.a. dat 65 Chinese maatskappye R116 miljard in SA belê het (hierdie syfer soos genoem, Ditsem Nuus kan nie korrektheid verifieer nie) ► Stad Kaapstad ontvang R300 miljoen van Nederlandse regering om MyCiti snelbusdiens na Khayelitsha en Nyanga uit te brei ► Nederlandse man (35) en vrou (75) in Marlothpark, Komatipoort, vermoor deur versmoring deur hul monde toe te prop, man se vrou en dogter oorleef aanval ► Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers stem 232-196 ten gunste van verdere ondersoek of pres. Donald Trump in staat van beskuldiging geplaas moet word oor Oekraïne ► China Mobile in China maak bekend dat sy 5G-tegnologie, 100 keer vinniger as 4G, nou in 50 stede insluitende Beijing en Sjanghai beskikbaar is ►

Ander misdaad (69)

Die grootskaalse vernietiging van infrastruktuur in die Wes-Kaap en onophoudelike gewelddadige betogings dui daarop dat 'n georkestreerde en doelgerigte terreurveldtog gevoer word om die DA-beheerde Wes-Kaap onregeerbaar te maak. In die eerste plek is daar die aanhoudende aan die brand steek van passasierswaens van Metrorail – slegs vanjaar sover bekend reeds meer as 20 waens uitgebrand of ernstig beskadig teen 'n verlies van sowat R500 miljoen.

Dit is onbekend presies watter effek dit op die besigheidsvloei van Metrorail het nie, maar feitelik heers daar tans ongebreidelde anargie op die Kaapse voorstedelike vervoerstelsel met waens wat aan die brand gesteek word, misdaad wat op treine floreer, infrastruktuur wat in duie stort en feitlik geen sprake meer is van betroubare tydroosters nie. Wat wel bekend is, is dat Metrorail vanaf Oktober 2016 tot Oktober 2017 reeds ʼn derde van sy passasiers verloor het - van 15,4 miljoen tot 10,9 miljoen.

Tweedens, is daar gedurende die afgelope wintervakansie in die Wes-Kaap 'n totaal van 27 skole deur opsetlike brandstigting in meerdere of mindere mate beskadig, teen 'n skade van baie miljoene rand. Derdens is daar op talle plekke voortdurende gewelddadige betogings oor dienslewering en grond vir behuising, soos bv. te Hermanus, waar die Polisie sukkel om die losbreek van anargie onder bedwang te hou.

Daar is op sosiale media en ook in sekere hoofstroommedia redelike eenstemmigheid dat in aldrie bogenoemde opsigte daar goedgeorganiseerde en doelgerigte beplanning en optrede betrokke is, dat dit so ernstig van aard is dat dit nie anders geklassifiseer kan word as terreur nie en dat die oorhoofse doel is destabilisering van die Wes-Kaap as gemeenskap, die provinsiale regering en die Kaapstadse Metro.  

By Huis Davidtsz vir Bejaardes in die middestad van Pretoria met sy sewe verdiepings het 'n aaklige krisis ontstaan toe swart personeel weens loongeskille gestaak het en uit intimidasie selfs ontlasting in die kamers en gange uitgegooi het. Vrywilligers wat wou help en kinders wat hul ouers wou ontruim, is toegang tot die gebou geweier.

Uiteindelik het Solidariteit Helpende Hand ʼn dringende hofbevel gekry en na verdere onderhandelings het lede van Helpende Hand, die VF Plus en die Boerelegioen toegang tot die tehuis verkry en die gemors begin opruim. Vir verhongerde bejaardes is kos voorsien en is in die proses hulp verleen aan inwoners ongeag velkleur.

In die jare na 2009 toe Ace Magashule premier van die Vrystaat geword het, was Mathabo Leeto die uitvoerende burgemeester van Matjhabeng Munisipaliteit te Welkom en dr. Benny Malakoane die munisipale bestuurder en tydens hul termyn is korrupsie van sowat R2 miljard in die munisipaliteit gepleeg. Verskillende persone binne sowel as buite die munisipaliteit was ook betrokke en is kriminele klagte teen o.a. Leeto en Malakoane gelê.

Ná verstryking van hul termyne is Leeto en Malakoane deur Magashule as Lede van die Uitvoerende Raad in die Vrystaat aangestel en het hulle in verskeie portefeuljes gedien, Malakoane o.a. as LUR vir Gesondheid, waar hy die departement in die grootste krisis van sy bestaan gedompel het. Intussen het die korrupsie-aanklagte in die hooggeregshof deur die jare voortgesleep en is dit telkens om verskillende redes uitgestel. Tans dien Malakoane as die LUR vie Landbou en Landelike Ontwikkeling en Leeto as LUR vir Sport, Kuns, Kultuur en Rekreasie.

Pas is egter in die Vrystaatse hooggeregshof bevind dat die saak van die staat so swak en onvoldoende is teen Leeto en Malakoane en die ander sewe beskuldigdes dat daar geen geloofwaardige vooruitsig op suksesvolle vervolging is nie, dat die saak gekanselleer word en dat al die beskuldigdes vrygespreek word.

Een van die ergste korrupsiegevalle in 'n feitlik-geruïneerde SA het in die Noordwes provinsie plaasgevind onder die premierskap van Supra Mahumapelo vanaf. 21 Mei 2014 tot 23 Mei 2018. In hierdie vier jaar het hy volgens alle aanduidings die provinsie misbruik as sy persoonlike vassaalstaat en was al sy beplanning en aksies gemik slegs op persoonlike verryking en dié van sy meelopers.

In die proses het hy skade aan die provinsiale ekonomie berokken wat volgens die Nasionale Tesourie sowat R15,3 miljard beloop het. Onder sy bewind het onreëlmatige uitgawes gemiddeld R1,2 miljard per jaar beloop. 'n Bedrag van R10 miljoen wat begroot was vir maatskaplike dienste, is gesteel om 'n korrupte patronaatnetwerk te finansier.

Geen wonder dus dat dit gebeur het dat die Verenigde Nasies pas op 'n wyse wat nog nie duidelik is nie, die administrasie van Noordwes oorgeneem het in oorleg met die aangewese opvolger van Mahumapelo, nl. Job Makgoro – die eerste keer in die geskiedenis dat die VN beheer neem oor 'n gedeelte van die grondgebied van SA.

Die geval van Mahumapelo en Noordwes staan ongelukkig nie geïsoleerd in die land nie – wat voormalige premier Ace Magashule in die Vrystaat aangevang het om daardie provinsie gedurende sy ampstermyn 2009 tot 2017 d.m.v. korrupsie en nepotisme feitlik eiehandig te vernietig het. In geeneen van die twee provinsies is daar 'n munisipaliteit wat behoorlik funksioneer nie en wat nie bankrot is nie.

Die African News Agency (ANA) berig dat nege kiste van 25 kg plofstof elk die nag van 6 Junie 2018 gesteel is by die Zululand Anthracite Colliery (ZAC) in KZN en dat hierdie plofstof daarna gebruik is om verskeie transito rooftogte uit te voer en die gepantserde voertuie op te blaas.

ZAC, geleë 45 km noordoos van Ulundi, is in 2016 deur Rio Tinto aan Menar Holdings verkoop en is skynbaar die enigste produsent van prima antrasiet in SA. ‘n Woordvoerder van die myn sê dat dit die eerste keer is dat plofstof by hulle gesteel is.

Intussen was daar verlede jaar 370 transitorooftogte in die land, met die syfer vanjaar reeds op sowat 160, d.w.s. gemiddeld minstens een per dag.

Plundery op dorpe slaan landswyd uit, met die skilderagtige dorpie Riebeeck-Kasteel naby Kaapstad wat Maandag deurgeloop het toe duisende swart betogers, skynbaar ontevrede oor behuising en munisipale dienslewering, huise en winkels geplunder en aan die brand gesteek het. Hoewel nuusdekking in hoofstroommedia skraal was, is op sosiale media berig dat wit en bruin inwoners vir hul lewens moes vlug en in hul huise skuil, terwyl beweer word dat van die betogers met busse van elders aangery is.

Gister was Secunda in Mpumalanga aan die beurt en is die kantore van Murray & Roberts en die Greenfield Lodge aan die brand gesteek. 'n Uur nadat die Polisie en brandweer in kennis gestel is van die bedreiginge, was hulle nog nie op die toneel nie. Vreesbevange inwoners het ook inderhaas hul huise ontruim. Die situasie is steeds nog nie onder beheer nie.

In die Jugomaro Predator Park buite Vaalwater is Vrydag 1 Junie drie leeus, waarvan een 'n wit leeu was, asook 'n skaars goue tier vergiftig aangetref, vermoedelik nadat hulle vleis met die gifstof Temik oftewel Two-step gevoer is. Die wildpark behoort aan die Fernandes-gesin.

Die gesin sê die roofdiere was soos hul eie kinders en dat hulle die wildpark die afgelope drie jaar geleidelik opgebou het nadat hulle hul plaas in Groblersdal verloor het. Hulle het die vergiftigde diere Vrydagoggend om 02:00 in groot pyn aangetref, maar voordat die veearts vanaf Bela-Bela by hulle uit kon kom, het hulle gevrek.

Die goue tier was een van die laaste 30 Golden Tabby Tigers in die wêreld, waarvan daar dus nou net 29 oor is. Die plaas waarop die wildpark is, grens aan die township Lefoka en spoorsnyers het 'n verdagte spoor gevolg tot in die township, waar vermoedelik die verdagtes deur 'n motor opgelaai is. Die Polisie ondersoek die saak.

Volgens Maroela Media was Carrie Esterhuizen en haar twee jong kinders verlede Vrydagmiddag in ‘n koshuis langs die Cremona kaasfabriek in Tshepisong, wes van Johannesburg toe ‘n groep grondbesetters die gebou aan die brand gesteek het. Carrie se eggenoot Frederik werk as veiligheidsbestuurder by die fabriek en die gesin bewoon 'n gedeelte van die koshuis.

Die persele is oorkant die EbuMnandini plakkerskamp, die inwoners waarvan al lank dreig om die perseel te betrek omdat dit volgens hulle leegstaan. Die eienaar van die grond, Antonio Cremona, het in April 'n uitsettingsbevel vir die terrein verkry geldig tot September 2018.

Carrie sê sy en haar kinders was in die koshuis toe plakkers petrolbomme deur die venster geslinger het en die gebou aan die brand geslaan het. Sy het haar man gebel, wat oor gehardloop het en hulle gehelp het om vinnig uit die gebou te kom en na veiligheid in die fabriek te vlug. Die koshuis met hul besittings in het verbrand en hulle het alles, insluitende hul ID dokumente en die skoolgoedere van die kinders, verloor. Volgens die SAPD is ses mense in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld en brandstigting.

In 'n mediaverklaring onder die opskrif Die oorlog teen die kinders gee Christian Liberty Books van Kaapstad 'n kykie in die verskriklike oorlog wat d.m.v. die elektroniese media teen kinders gevoer word. Hulle begin dit met die volgende Skrifaanhaling: Toe... staan daar ‘n ander geslag ná hulle op wat die Here en ook die werk wat Hy vir Israel gedoen het, nie geken nie... hulle het die Baäls gedien... en die Here geterg. (Rigters 2:10-12)

Geredigeerde uittreksels uit die mediaverklaring, wat gedeeltes van 'n artikel deur dr. Peter Hammond weergee, lui verder soos volg:

“Wie maak jou kind groot? Het die TV jou gesin se altaar en elektroniese babawagter geword? Herken jy die bedreiging wat die uitbuitende pornografie bedryf vir jou kind inhou? Het jy toegelaat dat die Departement van Onderwys, Beplande Ouerskap en LoveLife jou kind gebruik as speelklei in hulle eksperimente van sosiale manipulasie?

“ ‘n Pamflet Talk about Children at risk geskryf deur die SAPD Kinderbeskermingseenheid, het onthul dat Suid-Afrika vinnig bekend begin raak as die primêre sekstoerisme bestemming van die wêreld, veral omdat kinderliggame volop en goedkoop is. Dit is ook algemene kennis dat hierdie land ‘n wêreldleier is in die verspreiding van MIV-VIGS. In 1996 is die Wet op Films en Publikasies goedgekeur, waarvolgens pornografie vir die eerste keer in die geskiedenis van die land gewettig is. Dit het dit moontlik gemaak vir kindermishandelaars, verkragters en pedofiele om al die materiaal wat hulle nodig het, in die hande te kry.

 

“Statistieke vertel die storie waar SA Polisierekords wys dat kinderverkragting toegeneem het ... met meer as 400%! Ondersoeke onder oortreders wat kinders seksueel misbruik het, onthul dat almal kinderpornografie gebruik het.

“Dit is natuurlik presies waarteen Africa Christian Action gewaarsku het: Pornografie is die teorie – verkragting is die praktyk. Pornografie is ‘n handboek vir verkragting en kindermishandeling.

“Die tragiese gevolg van die regering se wettiging van die uitbuitende pornografie bedryf word gelys deur die SAPD Kinderbeskermingseenheid: Die kommersiële eksploitasie van kinders sluit in ... verkragting, moord, ontvoering, omkopery, vals huwelike ... slawearbeid, bruide per posbestelling... Een uit elke twaalf prostitute is jonger as 17...

“Die Nasionale Instituut vir Misdaadvoorkoming en Rehabilitasie van Oortreders (NIMRO) skat dat daar 380 000 verkragtingsake per jaar in Suid-Afrika is. Tog soos die beraming van verkragting syfers gestyg het, het die syfers vir skuldigbevindings van verkragters gedaal - minder as 7% van aangemelde verkragters word skuldig bevind! Die misdaadsituasie het so drasties agteruitgegaan, dat die regering die polisie nou al jare lank verbied om enige aktuele statistieke oor die voorkoms van misdaad bekend te maak.”

Vir meer besonderhede, besoek www.christianlibertybooks.co.za of skakel 021 689 7478.

In ‘n mediaverklaring waarsku adv. Anton Alberts van die VF Plus teen 'n situasie van 'n falende regstelsel waar die publiek gedwing word om geen ander opsie te hê as om self die reg in eie hande te neem nie. Hy sê: “Die effektiewe en ewewigtige administrasie van justisie is ‘n belangrike onderdeel van enige moderne demokrasie en daarsonder kan die staat nie die reg opeis om orde te handhaaf nie. Dit kan die staat se monopolie op geweld in reaksie op misdadige optrede in die gedrang bring.

“Daar word tans in hierdie verband met kommer kennis geneem van ʼn groeiende afstand tussen die groter samelewing en die staat en is daar toenemend wantroue in die strafregstelsel, soos ook blyk uit die lae skuldigbevindingsyfer in strafsake. Navorsing wat die ekonoom Mike Schüssler gedoen het aan die hand van president Cyril Ramaphosa se ontwikkelingsaanwysers, toon dat die veroordelingsyfer van alle misdade die afgelope 10 jaar net 6% is. Terselfdertyd word misdaad al hoe minder aangemeld.

“Volgens Schüssler vorder net die helfte van aangemelde misdade tot op die hofrol. Dit beteken dat die gehalte van ondersoeke ook afneem. Gegewe hierdie situasie kan ʼn mens verstaan waarom vigilante-geregtigheid – alhoewel dit in beginsel verkeerd is – toenemend voorkom en waarom private sekuriteitsfirmas so sterk in die middelklas groei.

“Dit is ironies dat die private sektor 'n rol in die gemeenskap oorneem wat die staat se plig is. Dit skep ʼn gevaarlike omgewing en moet dringende aandag kry. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moet ook dringend reggeruk word. Daar is 'n geldige siening dat die NVG selektief vervolg en dat sommige mense immuun is teen vervolging. Waarom het dit byvoorbeeld so lank geneem om op te tree op verskillende aanklagte van korrupsie teen oud-president Jacob Zuma en die EFF-leier Julius Malema?

“Nog ʼn kwessie wat dringend aandag verdien is die hantering van al die amptelike tale in howe. Ons verstaan dat die hoër howe Afrikaans as taal uitfaseer. Die probleem is egter nie beperk tot Afrikaans nie, maar raak al die ander amptelike tale buiten Engels.

“Die vraag is hoe ‘n persoon wat Engels glad nie, of net gedeeltelik magtig is, hom- of haarself kan handhaaf in die howe? Daar is geen rede waarom vertalingstegnologie, benewens tolke, nie ingespan kan word om te sorg dat justisie oop is vir alle amptelike taalsprekers nie. Daar bestaan ook geen rede waarom uitsprake nie in alle tale beskikbaar gestel kan word nie. Tegnologie laat dit toe. Daar is dus geen rede om nie die reg te laat geskied in al ons land se amptelike tale nie.

“Wat haatspraak-wetgewing aanbetref wil die VF Plus die minister waarsku om toe te sien dat dit ewewigtig toegepas moet word. Dit gaan tot groot polarisasie tussen rasse lei indien daar selektief hieroor vervolg word.”

Bladsy 2 van 5
Go to top