► Pres. Cyril Ramaphosa vra nasionale dialoog oor moontlikheid om pensioenfondse in bankrot staatsondernemings te belê – “Ons finansiële bronne is uitgeput, terwyl ons ontwikkelingsbehoeftes enorm is” ► Vraag op sosiale media: Hoekom kry regering nie die miljarde staatsgeld wat gesteel is terug nie, maar wil nou die pensioengeld vat van mense wat hard gewerk het daarvoor en toegewyd gespaar het? ► Menseregtekommissie oorweeg stappe teen Ernst Roets van AfriForum oor vertoon van vorige landsvlag op sosiale media, word as “verdelend” beskou ► Petroljoggies landswyd dreig om volgende week te staak oor salarisse, eis verhoging van 12%, maar werkgewers bied slegs 5% ► Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, moes gister meer as R10 miljoen aan Eskom pensioenfonds terugbetaal as onwettig ontvang, maar nog geen teken daarvan nie ► Veldbrand wat versprei tot in St. Francisbaai verwoes 12 huise tot die grond toe ► Storm oor aanranding van blanke kleuters deur swart personeel by Myne Maatjies Dagsorg Sentrum in Randfontein, ouers woedend, drie persone gearresteer, MRK swyg soos graf ► Lastereis van oud-minister Derek Hanekom van R500 000 teen oud-pres. Jacob Zuma, vandag in hooggeregshof in Durban aangehoor, eis omdat Zuma Hanekom “apartheidspioen” genoem het ► Curriebekerreeks word hierdie naweek voortgesit, met slegs Griekwas wat verseker is van plek in halfeindstryd ►

Een gevang ná aanval op toerbus

Nog net een verdagte is in hegtenis geneem na die aanval van 'n groep betogende jeugdiges Maandagnag verlede week op 'n luukse Greyhound toerbus met 46 passasiers en bagasiewa tussen Welkom en Allanridge. In die voorval is die bus tot stilstand gedwing, die passasiers aangerand en beroof en toe die bus en wa aan die brand gesteek dat dit uitgebrand het. Gelukkig kon die passasiers die bus betyds ontruim, maar baie is beseer, hoewel daar geen ongevalle was nie.

Welkom, soos die res van die Vrystaatse Goudvelde, is in die slegste sosio-ekonomiese toestand in sy geskiedenis, met die Matjhabeng Munisipaliteit wat bankrot is en alle infrastruktuur vervalle is. Werkloosheid vier hoogty.

Die betrokke nag moes die bus om 23:00 noodgedwonge weens groot klippe in die pad stilhou en is dit toe deur sowat 300 jillende jeugdiges met klippe toegetakel. Die deure van die dubbeldekker bus is oopgeruk en die passasiers op die onderste vlak eerste aangeval. Selfone, beursies geld, baadjies, handbagasie en padkos is met geweld by passasiers afgeneem. Passasiers is geslaan en geskop en selfs van hul skoene beroof.

Die passasiers was angsbevange, maar genadiglik het hulle met hul lewens daarvan afgekom. Die bagasiewa is met pikke en grawe oopgebreek en die bagasie gesteel, voordat die twee voertuie met 'n petrolbom aan die brand gesteek is.

Die getraumatiseerde passasiers is daarna met verskillende geleenthede na hul bestemmings geneem. Oorsee sou die aanval as terroristies van aard beskryf gewees het, maar in SA word dit as net nog 'n roof afgemaak.

Inmiddels is Welkom feitlik in 'n staat van beleg, met bykans alle toevoerroetes na die stad wat deur oproeriges geblokkeer word, soos bv. die paaie na Odendaalsrus-Allanridge-Bothaville, na Theunissen en na Kroonstad. Die plofbare situasie ontvang opvallend min mediadekking.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top