►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Waarskuwing teen reg in eie hande

In ‘n mediaverklaring waarsku adv. Anton Alberts van die VF Plus teen 'n situasie van 'n falende regstelsel waar die publiek gedwing word om geen ander opsie te hê as om self die reg in eie hande te neem nie. Hy sê: “Die effektiewe en ewewigtige administrasie van justisie is ‘n belangrike onderdeel van enige moderne demokrasie en daarsonder kan die staat nie die reg opeis om orde te handhaaf nie. Dit kan die staat se monopolie op geweld in reaksie op misdadige optrede in die gedrang bring.

“Daar word tans in hierdie verband met kommer kennis geneem van ʼn groeiende afstand tussen die groter samelewing en die staat en is daar toenemend wantroue in die strafregstelsel, soos ook blyk uit die lae skuldigbevindingsyfer in strafsake. Navorsing wat die ekonoom Mike Schüssler gedoen het aan die hand van president Cyril Ramaphosa se ontwikkelingsaanwysers, toon dat die veroordelingsyfer van alle misdade die afgelope 10 jaar net 6% is. Terselfdertyd word misdaad al hoe minder aangemeld.

“Volgens Schüssler vorder net die helfte van aangemelde misdade tot op die hofrol. Dit beteken dat die gehalte van ondersoeke ook afneem. Gegewe hierdie situasie kan ʼn mens verstaan waarom vigilante-geregtigheid – alhoewel dit in beginsel verkeerd is – toenemend voorkom en waarom private sekuriteitsfirmas so sterk in die middelklas groei.

“Dit is ironies dat die private sektor 'n rol in die gemeenskap oorneem wat die staat se plig is. Dit skep ʼn gevaarlike omgewing en moet dringende aandag kry. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moet ook dringend reggeruk word. Daar is 'n geldige siening dat die NVG selektief vervolg en dat sommige mense immuun is teen vervolging. Waarom het dit byvoorbeeld so lank geneem om op te tree op verskillende aanklagte van korrupsie teen oud-president Jacob Zuma en die EFF-leier Julius Malema?

“Nog ʼn kwessie wat dringend aandag verdien is die hantering van al die amptelike tale in howe. Ons verstaan dat die hoër howe Afrikaans as taal uitfaseer. Die probleem is egter nie beperk tot Afrikaans nie, maar raak al die ander amptelike tale buiten Engels.

“Die vraag is hoe ‘n persoon wat Engels glad nie, of net gedeeltelik magtig is, hom- of haarself kan handhaaf in die howe? Daar is geen rede waarom vertalingstegnologie, benewens tolke, nie ingespan kan word om te sorg dat justisie oop is vir alle amptelike taalsprekers nie. Daar bestaan ook geen rede waarom uitsprake nie in alle tale beskikbaar gestel kan word nie. Tegnologie laat dit toe. Daar is dus geen rede om nie die reg te laat geskied in al ons land se amptelike tale nie.

“Wat haatspraak-wetgewing aanbetref wil die VF Plus die minister waarsku om toe te sien dat dit ewewigtig toegepas moet word. Dit gaan tot groot polarisasie tussen rasse lei indien daar selektief hieroor vervolg word.”

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top