Print this page

Wydverspreide korrupsie in SAPD

Met verwysing na die tragiese insident van n jong boer wat doodgeskiet is in die omgewing van Hoopstad en die teenwoordigheid van SAPD uniforms op die toneel vat dit my na n insident op 18 Oktober 2018.

Ek ontvang 'n oproep wat sê ek moet gaan kyk daar is pensmis langs die kamp waar beeste van ons loop. Op die toneel aangekom vind ek dat die heining deur 'n vragmotor platgery is. Die identifikasie plaatjie van die voertuig wat moontlik die heining plat gery het, het ek op die toneel opgetel.

Ek merk toe dat daar 4 hope pensmis langs die pad lê en besef dat hier minstens 4 beeste betrokke moes gewees het. By verdere ondersoek is gevind dat daar ongeveer 23:00 die nag tevore 'n ongeluk was waar die voertuig soos op foto 'n bees gestamp het.

Dit was maklik om die voertuig en die eienaar van die voertuig op te spoor deurdat ek gewoon kontak gemaak het met die insleepdienste. Die foto van die voertuig is dan ook op hulle werf geneem.

Tydens ondervraging van die eienaar en die insleepdienste het dit aan die lig gekom dat daar 'n ambulans en verskeie SAPD voertuie op die toneel was terwyl beide die insleepdiens en die eienaar van die voertuig wat in die ongeluk betrokke was nog op die toneel was.

Ek is toe na die SAPD kantoor op Hennenman en het gevra of hulle bewus was van 'n ongeluk op die bepaalde pad. Almal in uniform was bewus van die voorval. Aangesien my pad in diens van my land ook deur die aanklagkantore gegaan het is ek nog effe op hoogte van wat daar behoort te gebeur. Daarom neem ek toe die Ongelukverslagboek af daardie foto spreek vanself.

Dit word toe duidelik dat hier groot fout is. Die aanklag kantoor weier of versuim om die voertuie wat op die toneel was aan my bekend te maak asook wie die drywers was. Ek besef toe dat hier 'n doodloopstraat is en skakel direk met Veediefstal op Odendaalsrus. Die reaksie nadat ek die persoon wie die telefoon geantwoord het ingelig het dat ek vermoed dat lede van die SAPD 4 beeste gesteel het was "Mnr gaan maak 'n saak by jou polisiekantoor, ek is gatvol vir almal wat altyd die polisie beskuldig van alles". So gesê so gemaak en saak nommer 76/10/2018 word geopen. Ek skryf my verklaring in Afrikaans en teken dit in die teenwoordigheid van 'n baie hulpvaardige lid.

Later die aand ontvang ek 'n oproep wat meedeel dat ek na die aanklag kantoor moet gaan. Daar gekom toe moet my verklaring wat nou in Engels geskryf is deur die lid aan diens onderteken word en die Afrikaanse weergawe word aan my teruggegee. Dit is die nag van 18 Oktober 2018.

Intussen loop ek op 'n walglike spoor ten einde die eienaar van die voertuig wat nou die identifikasie plaatjie ontbreek op te spoor. Dit bring my in die kantoor van 'n vervoer onderneming in 'n ander dorp en die opvolg eienaar in 'n ander provinsie. Die diensbestuurder van VOLVO te Bloemfontein verloor sy humeur vir my oor die ellendige plaatjie wat aan een voertuig behoort wat nie naby die toneel kon wees nie terwyl die wat wel naby die toneel kon gewees het wat moontlik die plaatjie gedra het nou deur VOLVO beskerm word aangesien hulle kwansuis kliente se inligting vertroulik hanteer.

Daar gebeur niks met die saak nie en ek word ingelig om met Generaal Modise oor die saak te praat, sy is glo die "cluster" bestuurder (wat dit ookal mag beteken}. Na die eerste oproep begin daar iets gebeur en ek word soos 'n skoolkind opgeroep na die kantoor van die Veediefstaleenheid se kantoor. Daar geland word die leviete my voorgelees oor die feit dat hulp elders gesoek word. Steeds talm die saak en skielik weier die insleepdiens man om 'n verklaring af te lê uit vrees dat hy nie weer werk sou kry wanneer daar ongelukke is nie. Die ambulansman swyg soos die graf.

Daar kom 'n anonieme aanbeveling dat ek die Vrystaatse bevel van Veediefstal moet kontak en wohalla daar begin goed gebeur. Die man wat die saak ondersoek het kry bevordering en die saak word oorgeneem deur die volgende ondersoek beampte wat redelik gereeld met my kontak maak. Die saak vorder tot waar daar oog getuies was wat gesien het hoe die ambulans een kalf (sonder sy pensmis) in laai en die ander in "vangwaens" gelaai is.

Toe skielik op 15 Maart 2019 kry ek 'n "whatsapp" boodskap wat sê. " Hi dr. Prosecuter declined prosecution ...."

Wat opmerklik was op die toneel was. 1. daar was net 3 druppels bloed op die pad niks verder nie. 2. Geen doppies op die toneel. 3. die Voertuie wat gelaai het is deur ervare mense bestuur aangesien die bande op elke foto getol het wat bevestiging van die spore onmoontlik gemaak het. 4. Die Tracker sisteem is volgens inligting nie betaal deur SAPD dus kon die voertuie nie positief met die toneel verbind word nie. 5. Die bevelstruktuue van die nooddienste te Winburg weier samewerking. 6. Ongeag die feit dat elke dier wat vermis is onmiddellik geidentifiseer is en 'n DNA profiel beskikbaar is is die verdagtes nooit ondersoek ten einde 'n stukkie weefsel te bekom wat die dier en die verdagtes kan verbind nie. 7. Die veediefstal eenheid het nooit die eienaar van die voertuig wat die heining vernietig het ondersoek nie aangesien dit nie hulle werk is nie.

Ek is in my hart jammer vir die jongman wat in koelen bloed moes sterf aan die hand van die wie hy vertrou het. Ek is soos Boetman de bliksem in oor elke insident waar burgers van hierdie land versaak word in lewe en in huis en haard deur hulle wat ons moet veilig hou. Deur hulle wat ons eiendom moet beskerm.

Ek sou graag die regering blatant wou uitdaag om Boedelbelasting van vermoorde mense af te skryf, om alle vervanging agv diefstal se BTW af te skryf om hulle rekeninge te betaal sodat monitering behoorlik gedoen kan word. Om die mediese kostes te dra van die burgers wat beseer en verwond word tydens aanvalle of rooftogte. Ek wil die regering daag om ons as belastingbetalende burgers te beskerm teen die korruptes binne die organe van die staat.

Miskien moet ons meer sê oor DIE LAND

Gradeer die artikel
(3 stemme)