Van Niekerkshof Kennels

► Roemenië sluit aan by Hongarye, Pole Slowakye en Tsjeggiese Republiek om Moslem-migrante te verbied ► OB Busisiwe Mkhwebane gaan twee top ANC’s en voormalige Vrystaatse politici Ace Magashule en Mosebenzi Zwane ondersoek oor Vrede suiwelskandaal ► Inbraak by Valke-kantoor in Kaapstad – baie vrae daaroor ► Wreedaardige aanval op Mike Bonnette, boer van Chrissiesfontein, Midvaal-distrik – wonderbaarlik oorleef ► Mangaung Metro burgemeester weier openbare vergadering oor waterkrisis in die metro ► Britse regering skenk R858 miljoen aan pres. Cyril Ramaphosa ondanks of danksy sy voorneme om grond in SA te onteien sonder vergoeding ► Minister van Polisie Bheki Cele weier dat spesiale eenhede vir plaasveiligheid ingestel word ► Statebondsberaad in Londen met 53 staatshoofde; Brittanje nuwe bande vir Brexit ► Meer nuus op www.ditsem,net en Ditsem Facebook; teken in op DitsemBlits

burgerlike journalistiek banier  Photo and Frame Banier 2018

Moord en Verkragting (24)

Nog 'n terroriste-aanval op 'n plaas het op 19 Maart 2018 plaasgevind toe 'n plaasbestuurder (40) op die plaas Brandenburg sowat 5km vanaf Ladybrand aangeval en met messe doodgesteek is en sy vrou (39) verkrag is. Die aanvallers het met die motor en selfone van die egpaar gevlug, maar na 'n ongeluk met die motor te voet verder gevlug, vermoedelik na Lesotho toe.

Die vrou, wat vasgebind was, het daarin geslaag om los te kom en 4 km deur sonneblomlande gehardloop om hulp te ontbied. Die egpaar het drie kinders, ʼn dogter van 14 en twee seuns van 11 en 7 onderskeidelik.

Die name van die egpaar word weerhou hangende die ondersoek na die seksuele misdaad wat gepleeg is.

Volgens statistiek van die Transvaalse Landbou Unie (TLU) was daar einde Februarie 2018, 42 aanvalle en ses moorde op plase. Op 14 Februarie is Athol Harvey (80) en sy vrou Colleen (78) op hul plaas Weltevrede naby Spitskopdam in die Noord-Kaap aangeval, aangerand en beroof. Drie weke later het Athol aan sy beserings beswyk.

Net in die laaste week van Februarie is twee bejaardes wreed vermoor - die 72-jarige me. Hentie van der Vyver wat in haar plaashuis naby Ermelo oorval en verwurg is en die 68-jarige Hannes Christie van Coligny wat met vermoedelik ʼn byl doodgekap is.

Tot dusver in Maart is die land geruk deur die teregstelling van die 72-jarige Dirk Steenkamp net buite sy plaashuis by Vredefort op Sondagoggend 4 Maart. Steenkamp was 'n gerekende leierboer en gemeenskapsleier.

Verlede jaar was daar 423 plaasaanvalle in SA waarin 82 mense vermoor is en talle in aanvalle ernstig beseer is en 'n aantal vroue verkrag is. Dit kom neer op 35,25 aanvalle per maand – meer as een per dag oftewel elke 4,3 dae 'n plaasmoord.

Die bekende wyn- en kaasmaker, Charles Back van die Fairview Landgoed in die distrik Paarl is een van die talle onskuldige blanke burgerlikes wat in die jongste tyd slagoffers was van wreedaardige aanvalle in hul wonings, meesal in die middel van die nag. Back, wat die 2017 SA Boer van die Jaar is, is egter een van die gelukkiges wat met sy lewe daarvan afgekom het. Hy is erg beseer, maar het na hospitaalbehandeling teruggekeer na sy plaas om sy getraumatiseerde gesin en werknemers moed in te praat.

Talle van die ander slagoffers landswyd is bejaardes, sommige waarvan met knopkieries voos geslaan word, met messe gesteek word, met strykysters gebrand word en vir ure gemartel word. Ander slagoffers is mense in die fleur van hul lewe, soos Riane du Toit (44) by Sutherland en Liezel Nel (41) by Nelspruit. Die jongste plaasboerslagoffer is die 73-jarige Hans Meyer wat ondanks sy siektetoestand koelbloedig op sy plaas in die Secunda-distrik tereggestel is.

Die res is te veel om hier te noem, maar sosiale media gons van al die voorvalle, wat deesdae slegs by uitsondering die hoofstroommedia haal. Nietemin, om 'n idee in beeld te kry wat aangaan, sien meegaande foto-samestelling van enkele slagoffers.

Die bekende sakeman en boer Piet Els (86) en sy lewensmaat, Rikkie Alsemgeest (66), is op 23 Januarie 2018 op Els se plaas buite Kimberley deur vier aanvallers oorval en wreed aangerand en gemartel. Albei slagoffers is met ʼn strykyster gebrand en geslaan waarna hulle vasgebind en beroof is.

In sy reaksie op die aanval, sê dr. Wynand Boshoff, Noord-Kaapse VF Plus leier: “Die vraag kom altyd na vore of ons met ‘gewone’ of politieke misdaad te doen het. In hierdie verband moet mnr. Els se status as prominente grondeienaar rondom Kimberley in ag geneem word. Politici in die Sol Plaatje Munisipale Raad het oor die afgelope maande dikwels in verband met mnr. Els na onteiening sonder vergoeding verwys, as 'n manier om grond vir goedkoop residensiële ontwikkeling beskikbaar te verkry.”

Gister is Koos Benadie (66) op die plaas Puntlyf by Bronkhorstspruit deur aanvallers doodgesteek, terwyl sy seun Allewyn in die kop gewond is. Die kluis in die huis is met 'n hoeksnyer oopgesny en leeggemaak, terwyl die yskas en vrieskas met alles daarin ook saamgeneem is. Die moordenaars het die huis geplunder en selfs vonkelwyn gedrink voordat hulle met voertuie weg is.

In wat na raming die 4 001ste plaasaanval in Suid-Afrika is sedert 1994, is mnr. IW van der Merwe op sy plaas in die distrik Ceres in die Koue Bokkeveld aangeval en 20 keer met 'n mes gesteek, sy hare afgeknip, 'n plastieksak oor sy kop getrek, sy hande en voete met kabelbinders vasgemaak en hom vir dood gelos. Hy het wonderbaarlik oorleef, maar is in 'n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem.

Die vermoede bestaan dat Van der Merwe deur ʼn groep seisoenale werkers van Lesotho aangeval is en dat hulle na die aanval gevlug het. Die Polisie is nog besig met opsporing en ondersoek.

Sedertdien die afgelope naweek is 'n 69-jarige boer naby Vyfhoek in die Potchefstroom distrik Vrydagnag in 'n worsteling met aanvallers met 'n haelgeweer in die bors doodgeskiet, terwyl dieselfde nag die pa van twee dogtertjies in sy plaashuis naby Philadelphia, noordoos van Melkbosstrand in die Wes-Kaap deur vier aanvallers doodgeskiet is. Ten tye van die uitgawe van hierdie nuusbrief was die name van die slagoffers nog nie bekend nie.

Inmiddels het Minister van Polisie Fikile Mbalula gesê die huidige stappe om boere op plase te beskerm, is voldoende en dat geen spesialiseenhede vir landelike beveiliging beplan word nie.

 

Plaasaanvalle met hul kenmerkende doodslag, ernstige beserings en diep trauma duur onverpoosd voort met in die Vrystaat die 53ste plaasaanval vanjaar toe Johnny Muller van die plaas Kimberley in die Frankfort distrik Sondagnag, 24 September 2017, in die kop en in die nek geskiet is en ernstig verwond is. Hy en sy vrou en twee kinders het teruggekom nadat hulle by vriende op die dorp geëet het en hy buite die huis deur twee aanvallers oorval is.

Nadat die gesin aangehou is en van 'n vuurwapen en ander besitting beroof is, het die aanvallers met Muller se bakkie ontvlug. Laasgenoemde is steeds in die intensiewe eenheid van 'n hospitaal in Bloemfontein.

Intussen is twee verdagtes aangekeer i.v.m. die gru-aanval verlede maand op die bejaarde Cooks-egpaar naby Potchefstroom, wat in die aanval kaal uitgetrek en aangerand is en met kookwater en warm olie gebrand is. Twee selfone, 'n rewolwer, 'n diamant- en pêrelring en ongeveer R300 kontant is tydens die voorval geroof.

Cyril Cooks, seun van die egpaar vertel: “Die aanvallers het water gekook, olie op die stoof warm gemaak en my pa daarmee gebrand. Hulle het o.m. die olie op sy gesig en rug uitgegiet en dit het diep blase gebrand. Hulle het ook plastiek gesmelt en dit oor my ma se borste en maag gedrup.” Cooks snr. is later in die hospitaal aan sy beserings oorlede.

Voorts is dr. Mariëtte Emslie, wat verlede week saam met haar man en dogter op 'n plaas naby Ellisras oorval is, steeds in die hospitaal met veelvuldige wonde. Haar lewer het geskeur toe die aanvallers haar geskiet het. Haar man, dr. Werner Emslie is in die aanval doodgeskiet. Hul dogter Barbara, wat agt onderskeidings in Matriek gehad het, is so in die aanval getraumatiseer dat sy sukkel met haar studies op universiteit.

Pas is dr. Werner Emslie (55) en sy vrou Mariëtte (ook 'n mediese dokter) op die stoep van hul plaas Goede Hoop in die Afguns-omgewing in die Ellisras-distrik (nou bekend as Lephalale) deur aanvallers oorval en Werner doodgeskiet met Mariëtte ernstig gewond. Die gewonde Mariëtte, wat ook verskeie meswonde opgedoen het, is vermoedelik deur die huis gesleep op soek na waardevolle items.

In die proses het die drie aanvallers ook op die egpaar se dogter Barbara (18) afgekom. Hoewel sy erg rondgestamp is, is sy nie ernstig beseer nie. Barbara was verlede jaar die hoofmeisie van Hoërskool Ellisras en met 8 A’s een van die top presteerders in Limpopo.

Met die vlaag van landswye plaasmoorde en -aanvalle, veral die afgelope paar weke, wys die statistiek dat vanjaar die bloedigste nog vir plaasmoorde is. Luidens statistiek van TLU SA was daar vandeesmaand al 23 aanvalle waarin ses mense gesterf het, terwyl in 277 aanvalle tot dusver vanjaar 55 mense vermoor is. Binne 48 uur is Piet en Tilla van Zyl naby Immerpan in Limpopo vermoor, Arno Niehaus naby Maanhaarrand in Noordwes en Anton Smuts by Kinross in Mpumalanga. Sedertdien is verdere berigte ontvang van plaasaanvalle soos Richard Lemmer van Bergville in KZN wat in die rug geskiet is en per helikopter na 'n hospitaal in Pietermaritzburg afgevoer is. In reaksie het die uitvoerende hoof van Agri Limpopo Willem van Jaarsveld o.m. gesê: “'n Nuwe strategie is te bespeur onder die aanvallers. Is dit moordbendes wat aan die werk is? Ons sien deesdae dat aanvallers bestaan uit sowel plaaslike mense as sg. gehuurde mense wat van elders kom, soos uit die stede.”
Op 17 Augustus 2017 is Vic (75) en Gwen (74) Cooks op hul hoewe in die Haaskraal omgewing naby Potchefstroom oorval, kaal uitgetrek, gemartel en verhitte water en olie oor hulle uitgegooi. Albei het ernstige brandwonde opgedoen, terwyl Vic ook met 'n mes in die hand gesteek is. Die aanvallers was twee jong mans wat 'n rewolwer en vermoedelik 'n selfoon gesteel het en toe op die vlug geslaan het. Die egpaar is in die hospitaal op Potchefstroom opgeneem. Hulle word beskryf as rustige mense wat meer as 40 jaar op die hoewe gewoon het. Geen woord wat betref rassisme word êrens omtrent die voorval gerep nie.

Voorkoms en aard van plaasaanvalle vanjaar toon dat die stroom in hierdie opsig besig is om toe te neem, bv. volgens TLU SA was daar vanjaar reeds 246 aanvalle waarin 47 mense vermoor is. In een van die jongste aanvalle is Bob Gawler (88) en sy 74-jarige vrou op hul plaas by Glendale Heights ongeveer 30 km vanaf Ballito deur drie inbrekers oorval. Sy is met kabelbinders vasgebind, terwyl Gawler gedwing is om die kluis oop te sluit. Daarop is 'n haelgeweer en rewolwer geroof, Gawler doodgeskiet en die aanvallers met hul bakkie ontvlug het. Mev. Gawler het deur die nag vasgebind gelê en is eers die volgende oggend omstreeks 09:00 gekry.

In 'n aanval op die plaas Belito van Johan Botha in die Clocolan-distrik in die Oos-Vrystaat het ses aanvallers vanuit Lesotho plaaswerkers oorval, hulle vasgebind en toe die plaashuis gestroop. Nadat hulle vir hulself kos gemaak het, het hulle hul buit op 'n trekker en sleepwa gelaai en tot by die Caledonrivier daarmee gery. Botha was besig om mielies te stroop en het blykbaar sodoende die aanval vrygespring. Voordat die aanvallers die grens oorgesteek het, het hulle die veld van die plaas aan die brand gesteek.

Bladsy 1 van 2

VVK2 banier