Pas is dr. Werner Emslie (55) en sy vrou Mariëtte (ook 'n mediese dokter) op die stoep van hul plaas Goede Hoop in die Afguns-omgewing in die Ellisras-distrik (nou bekend as Lephalale) deur aanvallers oorval en Werner doodgeskiet met Mariëtte ernstig gewond. Die gewonde Mariëtte, wat ook verskeie meswonde opgedoen het, is vermoedelik deur die huis gesleep op soek na waardevolle items.
In die proses het die drie aanvallers ook op die egpaar se dogter Barbara (18) afgekom. Hoewel sy erg rondgestamp is, is sy nie ernstig beseer nie. Barbara was verlede jaar die hoofmeisie van Hoërskool Ellisras en met 8 A’s een van die top presteerders in Limpopo.
Voorkoms en aard van plaasaanvalle vanjaar toon dat die stroom in hierdie opsig besig is om toe te neem, bv. volgens TLU SA was daar vanjaar reeds 246 aanvalle waarin 47 mense vermoor is. In een van die jongste aanvalle is Bob Gawler (88) en sy 74-jarige vrou op hul plaas by Glendale Heights ongeveer 30 km vanaf Ballito deur drie inbrekers oorval. Sy is met kabelbinders vasgebind, terwyl Gawler gedwing is om die kluis oop te sluit. Daarop is 'n haelgeweer en rewolwer geroof, Gawler doodgeskiet en die aanvallers met hul bakkie ontvlug het. Mev. Gawler het deur die nag vasgebind gelê en is eers die volgende oggend omstreeks 09:00 gekry.
In 'n aanval op die plaas Belito van Johan Botha in die Clocolan-distrik in die Oos-Vrystaat het ses aanvallers vanuit Lesotho plaaswerkers oorval, hulle vasgebind en toe die plaashuis gestroop. Nadat hulle vir hulself kos gemaak het, het hulle hul buit op 'n trekker en sleepwa gelaai en tot by die Caledonrivier daarmee gery. Botha was besig om mielies te stroop en het blykbaar sodoende die aanval vrygespring. Voordat die aanvallers die grens oorgesteek het, het hulle die veld van die plaas aan die brand gesteek.
Met haar deelname aan die projek The Freedom Challenge vestig Lize Winckler aandag op die toenemende verskynsel van mensehandel in die wêreld sowel as in Suid-Afrika. Dit blyk dat daar tans nagenoeg 46 miljoen mense wêreldwyd vasgevang is in mensehandel as die moderne vorm van slawerny.
Sowat 80% hiervan is vroue, terwyl nagenoeg 50% van hierdie mense tussen 5 en 15 jaar oud is, met die meeste meisies tussen 12 en 15 jaar. Van hierdie totaal word slegs 2% ooit gered, terwyl navorsing ook die jammerlike feit toon dat tot 96% van persone in mensehandel weer daarna terugkeer omdat hulle nie beter vooruitsigte sien nie.
In Suid-Afrika is daar ongeveer 248 000 mense vasgevang in een of ander vorm van mensehandel. Winckler doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om absoluut wakker en paraat te wees teen enige manifestasie van mensehandel wat t.o.v. jou kinders mag kop uitsteek, bv. bedenklike verhoudinge, kontak met vreemdelinge, Internet-verhoudings, gedrag te midde van verbrokkelde gesinne, die effek van vaderlose huishoudings, ens. Sy sê effektiewe tweerigting kommunikasie tussen ouers en tienerkinders is 'n voorvereiste.
In Bloemfontein was bv. onlangs die geval van 'n tienermeisie wat deur 'n groep Nigeriese dwelmsmouse verkrag is omdat sy nie die koste van haar dwelms betyds kon betaal nie. Hulle het haar ook gevange gehou en ‘n losprys van haar pa geëis. Laasgenoemde het die Polisie gekontak, wat op die sindikaat toegeslaan het en die meisie bevry het.
Vir meer besonderhede oor mensehandel, besoek www.thefreedomchallengeafrica.com of besoek die Facebookblad van Traffick Wise. Winckler kan gekontak word by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..
In onophoudelike rooftogte het talle blankes die afgelope tyd gesterf / is blatant vermoor. Die grootste tragedie is dat die voorvalle so alledaags geword het dat talle daarvan nie meer in die media gerapporteer word nie. Van die waaroor wel in die jongste verlede berig is, is die volgende enkele gevalle: