Print this page

Verkragtings skiet hoogte in

Die syfers wat stuksgewys oor verkragtings in SA na vore kom, is ontstellend, veral dié oor kinders in die berig hierbo in die nuusbrief. Daarby moet kennis geneem word dat na berig word, het 37% van mans in die land wat nie in die tronk is nie, in 'n opname erken dat hulle al iemand verkrag het. Voorts is daar 'n goeie kans dat 1 uit elke 4 vroue in die land verkrag gaan word.

Nog 'n syfer is dat beraam word dat daar tans in SA minstens 300 reeksverkragters is, verreweg die meeste waarvan buite die tronk is. Getuienis is dat die SAPD nie oor die forensiese kapasiteit beskik om behoorlike vervolging in verkragtingsake in te stel nie.

Verkragtings is natuurlik die simptome van 'n uiters siek gemeenskap. Word egter gelet op die vrye beskikbaarheid van pornografie in die land, veral op TV en op die Internet, dan kom die ontstellende toename en werklikheid van verkragtings nie as 'n verrassing nie.

Voorts moet die fout – en remedie – ook gesoek word by 'n toenemende gesekulariseerde samelewing wat al meer ankerloos wegdryf van Christelike waardes. Tesame daarmee loop gesinsverbrokkeling, sedeloosheid, vaderlose gesinne, dwelms, ens.

Ons sê, terug na die Woord van God en Sy beginsels is die enigste oplossing vir 'n beskaafde, vrye en vooruitstrewende samelewing.

Gradeer die artikel
(0 stemme)