Aletheim 1

Rassediskriminasie (57)

Nadat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) vroeër vanjaar in ʼn historiese uitspraak aan Solidariteit toestemming gegee het om te staak weens uitsluiting van blanke werknemers uit die Khanyisa bemagtigingskema van Sasol, het die uitvoerende hoof van Sasol, Stephen Cornell, gesê dat hy nie sy insluitingsmaatreëls rakende Khanyisa gaan wysig nie.

Gevolglik het Solidariteit aangekondig dat hulle voortgaan met hul stakingsplanne. Hulle sê dat dit eenvoudig nie reg is om iemand bloot op grond van sy velkleur, selfs al was hy al vir 35 jaar ʼn getroue werker by Sasol, uit te sluit nie.

Die vakbond Solidariteit het 'n deurbraak-hofbeslissing in sy guns gekry toe die Grondwethof in die uitgerekte SARIPA-saak beslis het dat die lukrake toepassing van regstellende aksie tot ʼn end moet kom. Die hofgeding was die gevolg van ʼn beleid wat die Minister van Justisie en die Meester van die Hooggeregshof ingestel het vir die aanstelling van likwidateurs uitsluitlik op grond van ras.

Volgens die omstrede aanstellingsbeleid moes 40% van alle aanstellings aan swart, bruin, Indiër- en Chinese vroue toegeken word; gevolg deur 30% aan swart, bruin, Indiër- en Chinese mans; 20% aan wit vroue, terwyl slegs 10% van alle aanstellings vir wit mans gereseveer is. As sulks is volgens Solidariteit die beleid in teenstelling met ʼn meer omvattende en genuanseerde benadering wat gegrond is op meriete en opleiding.

In hul kommentaar ná die saak sê Solidariteit: “Met dié saak is ʼn streep in die sand getrek en gesê genoeg is genoeg! Dié rasbehepte benadering in plaas van ʼn meer omvattende en genuanseerde benadering gegrond op meriete en opleiding, is nie goed vir die land en sy burgers nie.” Vir meer besonderhede, kontak Anton van der Bijl van Solidariteit Arbeidsreg by 083 291 6855.

'n Wetsontwerp word in die Parlement ter tafel gelê wat daarop gemik is om die eiendomsagentskapsbedryf ingrypend te “transformeer” ten einde die sowat 95% blanke gesigte in die bedryf om te swaai na 'n bedryf feitlik totaal in swart hande. Dit volg op 'n vroeëre bevinding van die Grondwethof dat sekere dele van die bestaande Wet op Eiendomsagentskapsaangeleenthede van 1976 ongrondwetlik is.

Die wetsontwerp het ook ten doel om die Raad op Eiendomsagentskappe te vervang met 'n nuwe entiteit, die Regulatoriese Owerheid vir Eiendomspraktisyns. Verreikende magte word ook vir laasgenoemde voorsien, terwyl 'n transformasiefonds en programme om swart toetreders tot die bedryf te ondersteun, ook in die vooruitsig gestel word.

Daar word gesê dat die feit dat slegs sowat 5% van eiendomsagente in die land swart of bruin is, is totaal onaanvaarbaar en moet omgekeer word. Na skatting is die eiendomsektor in die land ongeveer R6 000 miljard werd.

Hierdie drastiese wetsontwerp behoort gesien te word binne die konteks van die huidige dryf vir eiendomsonteiening sonder vergoeding en is sonder twyfel daarop gemik om blanke Suid-Afrikaners in hul eie land sover moontlik te ontheem.

Die afgelope twee weke was waarskynlik die bloedigste nog in die toenemende terroristiese aanslag teen blankes in SA sedert 1994, met vier wreedaardige plaasmoorde en verskeie ander blankes in dorpe en stede in hul huise en werkplekke vermoor. Voorverlede Saterdag is Jeffrey Zetler (62), eienaar van Mooiberg Strawberry Farms naby Stellenbosch, verskaffers van aarbeie landswyd en aan uitvoermark, in sy kantoor met ‘n mes doodgesteek. Sy maatskappy het 1 000 werknemers in diens en is een van die mees vooraanstaande landboubedrywe in die Wes-Kaap en selfs in die land.

Dieselfde naweek is by Hartbeespoort Peter Dawson (65) in sy huis om middernag deur drie aanvallers summier doodgeskiet toe hy, volgens hulle, te veel gepraat het. Sy dogter, wat 'n ooggetuie was, het daarin geslaag om te ontsnap en ver gehardloop om hulp te gaan ontbied.

Naby Rustenburg is Kallie Schoonraad (47) en sy gesin op 23 Junie om 20:00 in hul plaashuis naby Shylock, deur vyf gewapendes oorval en is Kallie doodgeskiet en sy gesinslede aangerand. Op die plaas Leeuwfontein, Roodeplaat, Gauteng is

Jonty Jacobs (28) twee keer geskiet in 'n nagaanval en is hy in ‘n kritieke toestand in die hospitaal oopgeneem.

By Vanstadensrus in die suidoos-Vrystaat is Choppie Bruwer (78) en sy vrou Marian (68) dood met kopskote en vasgebind op stoele in hul plaashuis aangetref. Hulle was net 'n jaar getroud.

Die afgelope sowat 120 uur is nog sewe plaasaanvalle aangemeld, nie een waarvan sover bekend noodlottig was nie. Betroubare inligting vanaf een of enkele bronne is egter skaars en derhalwe moet na inligting uit verskillende oorde gekyk word en moet dit ook eers geverifieer word.

Hierdie berig fokus ook net op plaasaanvalle, terwyl bekend is dat daar in dorpe en stede deurlopend aanvalle op blankes in hul huise en werkplekke is. So bv. is in die afgelope tyd te Parys Pierre Lotz (77), oud-direkteur van onderwys in Gauteng, in die nag in sy huis só deur drie aanvallers geslaan dat hy gesterf het.

Groot ontevredenheid heers in blanke geledere omdat nóg pres. Cyril Ramaphosa nog enige ander regeringsleier enige simpatie of ongelukkigheid met hierdie moorde uitgespreek het nie. Op sosiale media word wyd die gevolgtrekking gemaak dat hierdie stilte beteken stilswyende goedkeuring van die situasie wat nie anders beskou kan word as terrorisme en uiterse rassisme teen blankes nie.

Die twee veroordeelde mans in die sg. doodskissaak, Willem Oosthuizen en Theo Jackson, het ook in die Appèlhof 'n bloutjie geloop om te appelleer teen hul tronkstraf van onderskeidelik 14 en 11 jaar. Die twee is verlede jaar in die Hooggeregshof skuldig bevind aan aanranding, poging tot moord, menseroof en intimidasie en die regter het hul optrede bestempel as “vernederend, walglik en teen die gees van die Grondwet”.

Die Hooggeregshof het ook beslis dat hulle mag nie appelleer nie, 'n beslissing wat deur die Appèlhof gehandhaaf is, met die bevinding dat daar “geen redelike vooruitsigte op sukses is nie en ook geen dwingende rede hoekom hulle mag appelleer nie. Intussen loop die man wat hulle in die doodskis wou indwing, Victor Mlotshwa, vry en sonder 'n sigbare skeet rond.

Volgens 'n skriftelike antwoord van Minister van Staatsdiens en Administrasie, Ayanda Dlodlo op 'n Parlementêre vraag van die VF Plus, blyk dit dat daar nog geen afplatting in sg. regstellende aksie is ondanks die feit dat demografiese teikens in die staatsdiens lank reeds bereik is.

Blankes met 7,5% in die staatsdiens is tans 1,4% onderverteenwoordig, waar dit vier jaar 8,8% was. Bruines is met 0,3% onderverteenwoordig alhoewel hul situasie effe verbeter het oor die laaste vier jaar, en Indiërs met 2,5% is presies reg.

Daarenteen is die verteenwoordiging van swartes wat 79,2% van die bevolking uitmaak, tans met 2,2% oorverteenwoordig in die staatsdiens op 81,4%.

Vodacom het bekendgemaak dat dit sy aandeelhouding i.t.v. swart ekonomiese bemagtiging in SA met 20% gaan uitbrei, wat beteken dat R17,5 miljard beskikbaar gestel word vir nuwe swart aandeelhouers. Dit word beplan om dit te doen deur die aandeelhouding van Vodacom YeboYethu dienooreenkomstig uit te brei.

Volgens die HUB van Vodacom Shameel Joosub sal die uitbreiding geskied deur Royal Bafokeng Holdings (RBH), Thebe Investment Corporation en Yebo Yethu in 'n groter SEB groepering saam te voeg vir 'n nuwe 10-jaar termyn. As sulks sal dit die vorige Yebo Yethu aandeelhouding t.w.v. R7,5 miljard vervang en waardeur 102 000 swart beleggers en 8 500 huidige en voormalige Vodacom SA werknemers begunstig is.

Groot ontsteltenis heers oor die Haatspraak-wetsontwerp wat deur die Kabinet goedgekeur is en tans in die Parlement ter tafel is. Wyd word gemeen dat die wetsontwerp in wese daarop gemik is om kritiek teen swartmense te keer en dit te kriminaliseer met die dreigement van tronkstraf, asook dat dit dieselfde effek kan hê t.o.v. bv. teenkanting teen homoseksualisme.

In 'n mediaverklaring veroordeel die vakbond Solidariteit die wetsontwerp ten sterkste en sê dat die toepassing daarvan kan lei tot ʼn onderdrukking van grondwetlike regte en die vermoë van burgers om hul politici aanspreeklik te hou vir wangedrag. “Die wetsontwerp is eenvoudig hopeloos te breed geformuleer en sal noodwendig tot arbitrêre en onregmatige toepassing lei, terwyl dit denkbaar is dat dié wet, sou dit aanvaar word, enige individu tronkstraf kan oplê bloot omdat die persoon afwyk van die heersende party se ideologie,” aldus Solidariteit.

Die vakbond Solidariteit het ʼn deurbraak behaal in sy dispuut by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) teen Sasol oor blankes wat uitgesluit is van sy nuwe bemagtigingskema, Khanyisa, toe die KVBA bevind het dat werknemers wel mag staak oor rasuitsluiting. Dit volg nadat Sasol aan die einde van verlede jaar bekendgemaak het dat sy bestaande werknemerbemagtigingskema, Inzalo, wat op 18 Mei 2018 ten einde loop, vervang gaan word met ʼn nuwe bemagtigingskema, Khanyisa, wat egter glad nie voorsiening maak vir blanke werknemers nie.

Die nuwe skema bestaan uit twee fases waarvan die tweede fase slegs vir werknemers van die aangewese groep geld. Sasol het egter gesê dat om blankes deel van Khanyisa te maak, indruis teen die wese van betekenisvolle transformasie. Solidariteit het daarenteen in sy dispuut by die KVBA aangevoer dat blanke werknemers wel mag staak om soortgelyke voordele te bekom.


Die kommissaris het egter bevind dat Solidariteit se dispuut as ʼn saak van gemeenskaplike belang geklassifiseer moet word en dus verder deur die KVBA ondersoek moet word. Hierdie bemiddelingsproses moet nog plaasvind, maar minstens het die KVBA beslis dat ras tot dusver in die dispuut nie 'n rol mag speel nie. Vir meer besonderhede, skakel Deon Reyneke by 082 772 1926.

Die Wetsontwerp vir Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak word steeds deur die regering en sy meelopers in die Parlement met 'n passie gedryf. Die eerste weergawe van die wetsontwerp is in 2016 gepubliseer en is wyd en eenstemmig in openbare kommentaar gekritiseer. Daar is o.a. gesê dat die wetsontwerp kan die einde van vryheid van spraak in SA beteken.

Die wetsontwerp het o.m. bepaal dat negatiewe kommentaar of kritiek op die staatspresident gekriminaliseer word en wat by skuldigbevinding kan lei tot tronkstraf vir tot en met 10 jaar. Genadiglik het die oorweldigende openbare kommentaar impak gehad en is 'n tweede weergawe van die wetsontwerp gepubliseer met aansienlik sagter bepalings, maar nogtans bevat dit kriminalisering van kritiek ongekend in SA. So bv. wys die Vryemark Stigting daarop dat in die Grondwet vier gronde diskriminasie of te wel haatspraak vervat is, nl. ras, etnisiteit, geslag en godsdiens, maar in die nuutste wetsontwerp word 15 gronde gestel, insluitende ouderdom, kultuur en godsdiens.

Die wetsontwerp maak darem heelwat voorsiening vir uitsonderings of vrystellings, maar dat dit is steeds 'n drakoniese wetsontwerp is, is gewis. Derhalwe behoort dit met alle mag beveg te word ten einde te keer dat SA in 'n Kommunistiese bestel omskep word.

Vir die publiek om kommentaar teen die wetsontwerp te lewer, stuur epos aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. Besoek ook www.justice.gov.za

Bladsy 1 van 5

VVK2 banier