► Die koste van SA regering om sy skuld te diens het toegeneem van R89,4 miljard in 2012 tot R202,2 miljard in 2019, wat beteken dat tans meer geld bestee word om regeringskuld te diens, as wat in totaal in een jaar bestee word aan die polisiediens (R104,2 miljard), staatssekuriteit en weermag (R50 miljard) en howe en gevangenisse (R48,4 miljard) ► Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum (SFS) administreer tans meer as 240 studiefondse ter waarde van R164 miljoen, waardeur meer as 4 000 studente se studies moontlik gemaak word ► Volgens statistiek van TLU SA gister vrygestel, is 1 125 plaasaanvalle tussen 1990 en 1999 aangemeld, 1 407 plaasaanvalle in 2000 – 2009 (styging van 22%) en 2 616 plaasaanvalle vanaf 2010 – 2 019 (toename van 60%) ► Volgens pasvrygestelde syfers van TLU SA het 637 plaasmoorde vanaf 1990 tot 1999 plaasgevind, 799 plaasmoorde tussen 2000 tot 2009, terwyl 2010 tot 2019 die syfer afgeplat het na 586 plaasmoorde ► In mediaverklaring wys VF Plus daarop dat in SA R8 uit elke R10 wat deur die staat bestee word vir salarisse gaan; salarisrekening van staat beloop R587 miljard per jaar; “staatsdiens is werkskeppingsagentskap vir ANC-kaders” ► Verslag van Transparency International getiteld Global Corruption Barometer (GCB) gedoen ná ondersoek in 35 Afrika lande toon dat 59% van mense reken dat korrupsie toeneem, terwyl in Suid-Afrika 70% van mense meen dat korrupsie toeneem ► Verslag van Transparancy International toon ook dat een uit vier mense in Afrika wat verlede jaar van openbare dienste gebruik gemaak het, omkoopgeld moes betaal het ► Kabinet gee goedkeuring dat wetsontwerp oor Nasionale Gesondheidsorgversekering (NGV) in Parlement te tafel gelê word; geen aanduiding van koste nie, maar vorige minister dr. Aaron Motsoaledi het geraai sowat R259 miljard ► Minister van Omgewingssake, Bosbou en Visserye Barbara Creecy sê in Parlement Suid-Afrika is een van die 30 vuilste en mees omgewingsbesoedelende lande ter wêreld ► Rowers kaap graafmasjien van 60 ton by sandmyn naby Hobhouse en ry daarmee deur Caledonrivier en verdwyn in Lesotho ► MetroRail onderneem tans slegs 40% van treinritte in voorstedelike gebiede as 4 jaar gelede ► Netbal Wêreldbekertoernooi begin vandag in Liverpool, Engeland, met Proteas agt blankes uit span van 12 wat kans gegun word om goud in te oes ►

Nuwe Wet op Haatspraak en Rassisme

Die sluitingsdatum vir openbare kommentaar op die Konsepwet op Haatspraak en Rassisme het verlede week verstryk. Die wetsontwerp, wat op 29 Maart 2018 gepubliseer is, het nou feitlik die hele grondwetlike roete geloop en gaan nou na die Parlement en die staatspresident vir finalisering en waarskynlik inwerkingstelling.

Hierdie is ʼn uiters gevaarlike verwikkeling, want dit kan die Jagseisoen op sg. haatspraak deur blankes oopmaak. In ʼn media verklaring wys Front Nasionaal op die volgende enkele aspekte omtrent die wet: Artikel 4(1)(a) bepaal dat jy die wet oortree as jy doelbewus iets publiseer, propageer of argumenteer of aan een of meer mense kommunikeer en dit wat jy doen of sê kan beskou word as met die doel om haat aan te hits. Artikel 4(1)(b) bepaal verder dat as jy so-iets verder versprei, m.a.w. slegs die Share funksie gebruik op Facebook om iets wat as haatspraak beskou kan word verder te stuur, het jy ook die wet oortree.

Wat word dan beskou as haatspraak? Artikel 3. (1) bepaal 17 dinge waaroor jy nie mag kritiek lewer nie, anders word dit as haatspraak beskou: Ouderdom / Albinisme / Geboorte / Velkleur / Kultuur / Gestremdheid / Etniese of maatskaplike agtergrond / Geslag of geslagsidentifikasie / HIV status / Taal / Nasionaliteit, immigrasie- of vlugtelingstatus / Beroep of vakmanskap / Politieke oortuiging / Ras / Geloof / Seks / Seksuele oriëntasie.

Volgens Front Nasionaal kom dit kortliks saamgevat daarop neer: “Grappies oor blondines, ou ooms en jong blare, Van der Merwe en Gatiepie grappies, skelm prokureurs, en Skotte wat suinig is terwyl Iere “dom” is, kan nou alles haatspraak word. As die dominee van die kansel af sê: ‘Christus is die weg en die waarheid en die lewe, niemand gaan na die Vader behalwe deur Hom nie,’ dan kan hy dalk haatspraak pleeg, want Mohammed en die voorvadergees sou aanstoot gegee word.

“En die dae wanneer ʼn man met ʼn bolla op die kop of ʼn poniestert voor jou loop en jy sê: ‘Hmmm, lyk soos mamma en piepie soos papa’ kan ook verby wees. Maak ʼn grappie oor hoeveel mense in ʼn minibus taxi kan pas, pleeg jy dalk haatspraak op grond van ras en kultuur. En daardie gewilde grappies oor wat die Hollanders 'n kat noem... nee, moontlik haatspraak!

“En so kan jy dit verder gaan meet teen elkeen van die 17 kategorieë van ‘slagoffers’ wat gelys word.”

Dit kan voorts beteken dat die sing van Die Stem en die vertoon van die ou landsvlag verbied word, terwyl dit ʼn kriminele oortreding kan word om te sê dit het voor 1994 beter gegaan in die land as tans. So ʼn mens sal jou sit en staan op Facebook of op ʼn WhatsApp groepie moet ken, of anders kan jy in die warm water beland.

Dus inderdaad ʼn uiters gevaarlike verwikkeling wat basiese mensevryheid kan verkrag en wat dus teen alle koste verhoed moet word om geïmplementeer te word.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top