► OB Busisiwe Mkhwebane ondersoek nou ook pres. Cyril Ramaphosa vir bedrog voor Parlement en geldwassery met skenking ► Nuwe Minister van Gesondheid dr. Zweli Mkhize sê Nasionale Gesondheid Versekering (NGV) plan gaan geïmplementeer word – “Apartheid het gesê waaraan jy sal doodgaan, maar ANC regering gaan mediese behandeling bekostigbaar en toeganklik maak vir alle Suid-Afrikaners” ► Jongste verslag oor terreur op plase ► 27 Mei Joekie Nortje (80) en haar seun Johan (62) op plaas Nooitgedacht, Soutpansberg deur 5 aanvallers erg aangerand, o.a. met panga, Johan moet breinskandering ondergaan en Joekie fisio vir haar hande ► 5 Junie by Louis-Trichardt plaasbestuurder Ferdi Jacobs (35) deur 2 aanvallers met mes gesteek en oor kop geslaan, veg terug en aanvallers vlug ► Mediese Fakulteit van UV staak opleiding van studente van Pelonomi Hospitaal weens misdadige aanvalle deur inbrekers op dokters en mediese personeel ► Capitec nou grootste bank in SA volgens takke (840); Absa egter die meeste kitsbanke (8 961), met Standard Bank 2de meeste kitsbanke (7 140), Capitec 5 000 kitsbanke ► Gerda Steyn eerste vrou in Comrades Marathon oor 68,83 km in rekordtyd van 5:58:53 en algeheel 17de uit totaal van 21 625 atlete wat begin het ► Rafael Nadal wen Franse Tennis Ope vir rekord 12de keer – eerste keer dat tennisspeler dieselfde grand slam titel 12 keer wen ► Groot betogings in Hong Kong omdat Chinese regering op vasteland uitleweringswet wil implementeer vir Chinese in Hong Kong wat hulle soek vir “misdade” ► Krieket Proteas in Wêreldbeker vandag in reg of weg wedstryd teen Wes-Indië ►

Die sg. welvaarttaks wat emeritus aartsbiskop Desmund Tutu geopper het en wat Allan Boesak entoesiasties steun, is ooglopend teen blankes gemik – net nog 'n sweep om mee te slaan vir sg. onregmatige voordeel getrek uit die “apartheidsera” voor 1994.

Oor die verwagte faktuur wat Tutu en kie in hierdie verband aan blankes wil stuur, word in die briewekolom van Volksblad interessante punte genoem.

Ingevolge hierdie punte, bygewerk, kan blankes aan die hand van die volgende feiteself 'n faktuur voorlê:

Vir wat blankes ingesit het op elke lewensterrein om Suid-Afrika vanaf 1652 – 1994 te help opgebou het tot die voorste geïndustrialiseerde staat op die vasteland van Afrika.

Vir wit mense wat ná 1994 op 'n ongemaklike ouderdom van 45+ uit diens gestel is om plek te maak vir regstellende optrede.

Vir 'n generasie jonger mense wat hul loopbaanvooruitsigte en lewensverwagtinge verloor het weens regstellende aksie.

Vir 'n vergete groep betalers op die grens, wit en swart, wat daartoe bygedra het dat die ANC in 1994 'n bruidskat ontvang het in die vorm van 'n eerstewêreldland.

Vir ouers en grootouers wat tans 'n hoë prys betaal deur eensaam oud te word sonder hul kinders en kleinkinders in die buiteland.

Vir jong egpare wat vertroue in die toekoms van die land verloor het en eerder elders na 'n heenkome soek vir hulle en hul kinders.

Vir alle verliese gely weens 2 617 gedokumenteerde plaasmoorde sedert 1994.

Enkele ander items wat ook by die faktuur van blankes ingesluit kan word, is:

Vanaf 1955 – 1984 het die getal swart skoliere in SA 31 keer vermeerder, vanaf 35 000 tot 1 096 000 – hoofsaaklik gefinansieer deur blanke belastingbetalergeld.

Reeds in die sestigerjare het die lewenstandaard van swartmense gemiddeld met 5,4% per jaar gestyg, teenoor die syfer van 3,9% vir blankes. In 1965 was die ekonomiese groeikoers van SA 7,9%, een van die hoogste ter wêreld.

In 1978 het Soweto o.a. 115 sokkervelde gehad, 47 tennisbane, 81 netbalbane, 39 kinderspeelparke, 365 skole, 300 kerke, 2 tegniese kolleges, 8 klinieke, 63 dagsorgsentrums, 11 poskantore, 2 300 besighede geregistreer in die naam van swarters, ongeveer 1 000 private taxi-ondernemings, ens.

In 1987 was Baragwanath Hospitaal, feitlik uitsluitlik vir swartmense, die grootste hospitaal in die wêreld, met 3 200 beddens, 23 operasieteaters, 8 000 personeel insluitend 450 dokters, 112 000 pasiënte en 1,62 miljoen buite-pasiënte.

Hierdie syfers is teen die agtergrond daarvan dat in 1990 blankes ongeveer 77% van belastings in SA betaal het en swartes 15%.

So, daar kan vir Tutu & kie gesê word dat bewyse voorgelê kan word dat die rekening reeds betaal is, terwyl blankes self 'n faktuur het om voor te lê.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top