►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Dag Zero vir Kaapstad onbepaald uitgestel

Luidens 'n aankondiging deur DA-leier Mmusi Maimane is Dag Zero vir die Kaapstadse waterkrisis onbepaald uitgestel, nadat voorheen eers hierdie datum op 22 April 2018 gestel is, maar daarna verander is na 12 April. Dit is later geskuif na 16 April en daarna weer na onderskeidelik 11 Mei, 4 Junie en 9 Julie.

Dit blyk Kaapstad het nou omvattende gebeurlikheidsplanne in plek rondom die mobilisering van hulpbronne om 25-liter drinkbare water per persoon per dag te voorsien. Reëlings is getref vir die water om by sekere aangewese punte oral in die stad afgehaal te word.

Die Kaapstadse waterkrisis is hoogs omstrede, met o.a. beweringe wat op sosiale media gemaak word dat die stad vanaf sterk fonteine teen die hange van Tafelberg oor voldoende water beskik vir menslike gebruik. Daar is ook kontroversie oor ontsouting, die jongste waarvan is oor gevorderde Israeli-tegnologie wat die DA ondersoek, maar waarteen die ANC en radikales heftig gekant is.

Hoe dit ook al sy, oor die kwessie van Dag Zero sê Agri SA veelbetekend in 'n mediaverklaring: “Boere moes sedert 12 Januarie 2018 in baie gevalle sonder hul regmatige watertoedeling klaarkom as gevolg van nasionaal-ingestelde en streng toegepaste waterbeperkings. Dit het aanleiding gegee tot geweldige verliese en ontbering vir die landbougemeenskap, insluitend werksverliese vir seisoenale plaaswerkers.

“Hoewel dit klaarblyklik gewone Kapenaars se aandag op die erns van die huidige droogte gevestig het, is dit moontlik dat hierdie scenario toevallig ook sy eie onvoorsiene waterbestuurskrisis geskep het. Paniekbevange inwoners (wat dit kon bekostig) het begin om rou- sowel as behandelde water op te berg in afwagting van Dag Zero. Hierdie ontwrigting van normale verbruikspatrone het geweldige probleme vir die stad se waterbeplanners asook die Dept. van Water en Sanitasie geskep.

Terwyl Dag Zero blykbaar afgeweer is, sleep die droogte in die provinsie en die stad voort. Die Nasionale Waterbeperkings van 12 Januarie 2018, sowel as die stad se Vlak 6b Waterbeperkings, is steeds in plek en mense word gevra om te voldoen aan die voorskrifte, o.a. ‘n beperking op hul persoonlike waterverbruik van hoogstens 50 liter per persoon per dag.”

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top